Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 9/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kunsmatige insek-oë
  • Moordvisse deur dialekte aangetrek
  • Op die spoor van die witdoodshaai
  • Oorvol klinieke weens ekonomiese probleme
  • Vinnigste tuimeltrein
  • Rookverwante hartkwale in Indië
  • Hoë geboue nog steeds in aanvraag
  • Omgewingsgeraas en gehoorprobleme
  • Beskerm jou gehoor!
    Ontwaak!—2002
  • Die haai—’n vis in krisis
    Ontwaak!—2007
  • Die witdoodshaai—in gevaar
    Ontwaak!—2000
  • Geraas—Wat jy daaromtrent kan doen
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 9/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Kunsmatige insek-oë

“NASA het meganiese insek-oë wat deur Australiese wetenskaplikes ontwerp is, gekoop om op ’n verkenningstuig te gebruik wat na Mars gestuur gaan word”, berig die koerant The Australian. Navorsers by die Australiese Nasionale Universiteit het die ontwerp van die kunsmatige sensors op sprinkaanoë gebaseer. Die verslag sê dat “die universiteit se biorobotiese siglaboratorium jare lank waargeneem het hoe sprinkane, bye en naaldekokers hulle vlug deur sig beheer. Hulle het die wette afgelei waarvolgens hulle vlug beheer word en wiskundige algoritmes geskep wat dit repliseer.” NASA wil die kunsmatige sprinkaanoë in ’n klein verkenningstuig inbou wat “laag bokant die ruwe terrein van Mars sal vlieg en net soos ’n insek nie sal neerstort of teen iets sal vasvlieg nie”. As hulle suksesvol is, sal die verkenningstuig “die rotsstrata ondersoek van die grootste canyon in die sonnestelsel—die Valles Marineris, wat 4 000 km lank en 7 km diep is, in ’n poging om meer oor die geologiese geskiedenis van die rooi planeet te leer”.

Moordvisse deur dialekte aangetrek

“Hoe kry moordvisse dit reg om inteling te vermy as hulle hulle hele lewe in dieselfde klein skole deurbring?” vra The Vancouver Sun van Kanada. “Senior wetenskaplike by die Vancouver-akwarium Lance Barrett-Lennard het op grond van sewe jaar van genetiese navorsing en 340 DNS-monsters van moordvisse in B.C. [Brits-Columbië] en Alaska gevind dat wyfies alleenlik met mannetjies uit ander skole paar”, maar nie buite die plaaslike bevolking of groep skole nie. “Daar is geen bewyse van inteling nie”, sê Barrett-Lennard. “Omtrent alle paring vind plaas tussen skole met dialekte wat baie van mekaar verskil.” Die artikel voeg by dat “moordvisse ’n maat kies wat so verlangs as moontlik aan hulle verwant is, wat waarskynlik gedoen word deur te luister na die vokalisering, of dialek, van ander moordvisse en dié te vind wat die meeste van hulle s’n verskil”.

Op die spoor van die witdoodshaai

“Die grootste roofvis, die witdoodshaai, is met behulp van satelliete gevolg, en daar is gevind dat hulle duisende myle oor die oop see migreer”, sê The Daily Telegraph van Londen. Hierdie bevinding, wat in die tydskrif Nature gepubliseer is, het vroeëre menings oor witdoodshaaie verkeerd bewys. Hoewel die haai wêreldwyd aangetref word, was die heersende mening dat hulle naby die kus bly, waar hulle robbe en seeleeus jag, en dat hulle nooit ver uit hulle gebied gevind word nie. Maar toe navorsers in Kalifornië onlangs vier mannetjies en twee wyfies gemerk het, het hulle gevind dat een haai tot by die Hawaii-eilande, 3 700 kilometer van die Kaliforniese kus af, geswem het en ten minste 70 kilometer per dag afgelê het. Die studie het ook getoon dat witdoodshaaie soms in die oop see baie diep duik terwyl hulle naby die kus selde meer as 30 meter diep duik.

Oorvol klinieke weens ekonomiese probleme

Ekonomiese probleme weens die skerp devaluasie van Argentinië se geldeenheid laat soveel Argentyne met stresverwante gesondheidsprobleme na hospitale en klinieke stroom dat hierdie fasiliteite nie kan voorbly om dienste te voorsien nie, berig die koerant Clarín. Gesondheidsprobleme sluit “hoofpyne, hipertensie, maagsere, maagvliesontsteking, slaaploosheid en angstigheid” in. Party mense word flou “sonder neurologiese oorsake”, het een mediese beampte gesê. Konsultasies vir stres, depressie en vrees het in net ’n paar dae by een kliniek met 300 persent toegeneem. Buiten dat die spreekkamers oorvol is, het dokters en verpleegsters ook te kampe met pasiënte wat kwaad is oor die finansiële krisis. Party pasiënte het dokters en verpleegsters selfs aangeval. Iemand het een verpleegster oor die kop geslaan.

Vinnigste tuimeltrein

“Die vinnigste tuimeltrein ter wêreld is by die Foedjikjoe-hoogland-pretpark in gebruik geneem”, berig die Japannese koerant IHT Asahi Sjimboen. “Die tuimeltrein, wat binne twee sekondes vanuit ’n staande posisie 172 kilometer per uur (106 myl per uur) kan bereik, is nie vir sissies nie. Dit is asof ’n mens soos ’n vuurpyl uitgeskiet word. Passasiers kan die gravitasietrek voel wat gewoonlik slegs vir vegvlieëniers beskore is.” Heith Robertson, die projekdirekteur van die maatskappy wat die tuimeltrein gebou het, het gesê: “Wanneer ’n vliegtuig opstyg, kan dit ’n krag van 2,5 g [2,5 keer sterker as gravitasiekrag] hê. Hier het jy 3,6 g.” Die tuimeltrein ry op “klein vliegtuigwiele” en word aangedryf deur drie lugkompressors wat 37 300 kilowatt opwek, wat “met ’n klein vuurpyl vergelyk kan word”.

Rookverwante hartkwale in Indië

“Senior kardioloë [in Indië] sê dat die voorkoms van koronêre hartvatsiekte toeneem”, sê Mumbai Newsline. “Volgens dr. Ashwin Mehta, direkteur van kardiologie by die Jaslok-hospitaal, is Indiërs geneties vatbaar vir hartkwale.” Dit is besonder kommerwekkend dat meer jongmense “hartprobleme [het] omdat hulle meer rook”. Dr. P. L. Tiwari, ’n konsulterende kardioloog by die Bombaai-hospitaal, is van mening dat Indië eendag die meeste hartpasiënte ter wêreld sal hê as drastiese stappe nie gedoen word nie. In die naburige Bangladesj rook meer as 70 persent van die 35- tot 49-jarige mans, sê The Times of India, en “namate inkomste afneem, word daar meer gerook”. Gemiddeld bestee elke roker “meer as twee maal soveel aan sigarette as wat daar per capita aan klere, behuising, gesondheid en opvoeding saam bestee word”. Daar word geskat dat 10,5 miljoen ondervoede mense in hierdie arm land genoeg kos sou hê as die geld wat aan tabak bestee word, vir kos gebruik word.

Hoë geboue nog steeds in aanvraag

“Die ineenstorting van die tweelingtorings het argitekte en ingenieurs van iets nuuts en skrikwekkends bewus gemaak”, sê die U.S.News and World Report. “Ondanks mense se tydelike skrikkerigheid, wil hulle nog altyd wolkekrabbers hê.” Een rede hiervoor is dat grond in party gebiede skaars en baie duur is. Daarbenewens wil stede iets hê om oor te spog. Ultrahoë geboue “gee ’n sekere status aan ’n plek, skep ’n beeld van moderniteit, ensovoorts”, sê William Mitchell, die dekaan van die argitektuur- en beplanningsfakulteit by die Massachusetts se Instituut vir Tegnologie. Maar argitekte redeneer oor hoe hulle hulle geboue veiliger kan maak. Geboue kan teen aanvalle beveilig word deur ontploffingsbestande mure en vensters, maar dit maak die gebou swaarder en is te duur. In China vereis bouregulasies dat daar elke 15 verdiepings ’n opelug, leë “toevlugsvloer” is. In ander plekke vereis bouregulasies ’n hyser wat tot heel bo gaan en spesiaal vir brandweermanne bedoel is sowel as trappe met drukreëling wat rook sal uithou. Die ontwerpers van die Shanghai World Financial Center, wat moontlik die hoogste gebou ter wêreld sal wees, sluit reeds ekstra voorsorgmaatreëls by hulle ontwerp in.

Omgewingsgeraas en gehoorprobleme

“Elke vyfde skoolgaande kind en elke derde volwassene in Pole het gehoorprobleme”, sê die Poolse weekblad Polityka. Opnames toon dat die grootste geraas deur verkeer sowel as oudio-, video- en ander huishoudelike toerusting veroorsaak word. ’n Verslag oor die toestand van die omgewing het gesê dat die toename in verkeer in Warskou die geraasvlak op een van die hoofstrate reeds tot 100 desibel laat styg het. Die geskree van kinders wat speel, bereik dieselfde vlak. Klankversterkingstoerusting by disko’s kan geraasvlakke van tot 120 desibel veroorsaak, wat net-net onder die pyndrumpel van 130 tot 140 desibel is. Hierdie harde geraas, sê spesialiste, is ’n direkte oorsaak van gehoorprobleme. Professor Henryk Skarżyński, ’n oor-neus-en-keel-spesialis aan die Instituut vir die Fisiologie en Patologie van Gehoor, sê: “Gehoorprobleme veroorsaak ernstige sosiale probleme. Mense wat daardeur aangetas word, raak makliker geïrriteerd, het leerprobleme [en] vind dit moeiliker om vreemde tale te leer.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel