Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 8/8 bl. 13-15
  • Familiereünies in Korea—’n Nuwe begin?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Familiereünies in Korea—’n Nuwe begin?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Betekenisvolle reünie
  • Is dit die einde van ’n halfeeu van skeiding?
  • My lewe in Korea deur dramatiese veranderinge heen
    Ontwaak!—2008
  • Ek het die groei in Korea gesien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Uiteindelik het ek ware vryheid gevind!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Waarom hulle kerk toe gaan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 8/8 bl. 13-15

Familiereünies in Korea—’n Nuwe begin?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE REPUBLIEK VAN KOREA

DIT was ’n baie emosionele gebeurtenis. Dit het meer as 1 300 plaaslike verslaggewers en meer as 400 buitelandse korrespondente gelok. Die gebeurtenis was die hereniging van families van die noordelike en suidelike deel van Korea—families wat al ongeveer 50 jaar lank geskei is.

Baie Koreane het ongeveer ’n halfeeu lank geen kontak met hulle familielede gehad nie—hetsy deur middel van briewe, fakse of die telefoon. Die gedemilitariseerde gebied wat die land verdeel, het familielede lank van mekaar geskei. Wat het hierdie reünie moontlik gemaak?a

’n Betekenisvolle reünie

’n Vliegtuig met die vlag van die Demokratiese Volksrepubliek van Korea het op 15 Augustus 2000 by die Kimpo- Internasionale Lughawe in die Republiek van Korea geland. Passasiers van Noord-Korea, wat bewyse van die Internasionale Rooikruis ontvang het dat party van hulle familielede nog in Suid-Korea gelewe het, was op die vliegtuig. Hierdie selfde vliegtuig het toe 100 Koreane uit die suide opgelaai en na die noorde toe gevlieg, wat dit vir hulle moontlik gemaak het om hulle familielede daar te ontmoet. Stel jou voor dat jy ’n broer, ’n suster, ’n moeder, ’n vader, ’n seun of ’n dogter, of ’n huweliksmaat het wat jy meer as 50 jaar laas gesien het! Baie wat na hierdie reünie toe gekom het, was in hulle laat sestiger- en sewentigerjare, en hulle het hulle familielede laas gesien toe hulle tieners was!

Hierdie besoek sou net vier dae en drie nagte duur, waarna almal na hulle onderskeie lande toe moes terugkeer. Dit is ongetwyfeld waarom talle herenigde familielede byna onophoudelik gesels het! Dokters, verpleegsters en ambulanse was byderhand omdat die moontlikheid van trauma en skok bestaan het. Dit is nie verbasend dat daar wel van hulle dienste gebruik gemaak moes word nie.

Net ’n breukdeel van al die geskeide families was by die reünies betrokke. Party skat dat daar 690 000 mense bo 60 jaar en 260 000 bo 70 jaar is wat nog steeds van hulle geliefdes geskei is. Maar van die 76 000 van die Republiek van Korea wat aan sekere vereistes voldoen het en wat aansoek gedoen het om hulle familielede in die noorde te besoek, is net 100 vir hierdie reünie gekies.

Onder hulle was die 82-jarige Jang Djin-jeoel. Hy is deur die Rooi Kruis in kennis gestel dat Jang Won-jeoel, sy 70-jarige broer in die noorde, na sy familielede in die suide soek. Jang Djin-jeoel se jonger broer was in 1950 ’n student aan ’n universiteit in Seoel toe hy gedurende die Koreaanse Oorlog verdwyn het. Niks is daarna ooit weer van hom gehoor nie. Die twee van hulle, saam met hulle twee susters, is ná vyf dekades van skeiding herenig!

Lee Pok-jon, wat 73 jaar oud is, is met sy 70-jarige vrou en twee seuns herenig. Hy het sy gesin laas gesien toe die seuns onderskeidelik maar net twee en vyf jaar oud was. Hy het die huis eendag, gedurende die oorlog, verlaat en gesê dat hy ’n fiets gaan koop. Hy het verdwyn, en daar is nie weer van hom gehoor nie. Met hulle emosionele hereniging kon sy vrou, wat nou verlam is en suikersiekte het, hom die vraag vra waaroor sy dekades lank gewonder het: Waarom het dit hom so lank geneem om daardie fiets te koop?

Die 69-jarige Lee Tsjong-pil was ’n laerskoolleerling toe hy in 1950 van sy familie geskei en as vermis aangegee is. Hy is met Tsjo Won-ho, sy ma wat 99 is, sy twee broers en sy twee susters in die suide herenig. Ongelukkig kon sy bejaarde ma hom nie herken nie.

Dit is net ’n paar van die talle hartroerende reünies wat plaasgevind het. Die gebeurtenis is regstreeks oor verskeie plaaslike en oorsese TV-stasies uitgesaai. Kykers wat na hierdie reünies gekyk het, het ook van vreugde gehuil! Baie het gewonder of dit tot meer reünies sal lei. In elk geval, die reünies het gou tot ’n einde gekom, en hierdie skeiding was amper net so pynlik soos die eerste. Geliefdes het nie geweet of hulle mekaar ooit weer sal sien of wanneer dit sal gebeur nie.

Is dit die einde van ’n halfeeu van skeiding?

Op 15 Augustus 1945 is Korea ná 36 jaar van Japan se koloniale bewind bevry. Korea sou egter kort voor lank deur die politiek van daardie tyd verdeel word. Met die Japannese wat uit die Koreaanse skiereiland verdryf is, het die Amerikaanse magte beheer gekry oor die gebied suid van die 38ste breedtesirkel, en die Sowjet-magte het oor die gebied in die noorde regeer. Die oorlog wat kort daarna gevolg het, kon nie die geskille oplos nie. Daar was nou twee regerings in Korea. Duisende gesinne is van 1945 af en gedurende die Koreaanse Oorlog geskei. Toe die oorlog uiteindelik in 1953 geëindig het, het ’n gedemilitariseerde gebied vol landmyne die land in twee verdeel.

Daar was dekades lank nie veel sprake van versoening nie. Maar op 13 Junie 2000 het ’n vliegtuig met die president van die Republiek van Korea, Kim Dae-joeng, by die Soenan-lughawe in Pjongjang geland. Die staatshoof van die Demokratiese Volksrepubliek van Korea, Kim Jong-il, het op die aanloopbaan gewag om hom te verwelkom. Dit het gelyk of daar skielik en onverwags ’n grondslag vir hoop was. Hierdie twee leiers het nog nooit tevore ontmoet nie. Maar hulle het by hierdie geleentheid soos langverlore broers opgetree. ’n Driedaagse spitsberaad het gevolg waar die twee leiers plegtig belowe het om die halfeeu van vyandighede te probeer beëindig en versoening te bewerk. Die reünies van geskeide families was van die eerste resultate van daardie spitsberaad. Ander stappe is kort daarna geneem.

Die twee leiers het ook ooreengekom om weer die spoorlyn tussen die noorde en die suide te verbind. ’n Spoorlyn van ongeveer 12 kilometer in die suidelike deel van Korea en een van agt kilometer in die noordelike deel behoort teen September 2001 herstel te wees. Hierdie spoorlyn sal deur die grenslyn loop, wat die twee dele van Korea weer eens sal verbind. En wanneer die spoorlyn uiteindelik by die Transchinese Spoorlyn aangesluit het, sal dit van die Koreaanse skiereiland af deur China en tot in Europa strek. Dit sal waarlik soos “’n nuwe Chinese Syroete van yster” wees, soos president Kim Dae-joeng dit genoem het. ’n Ander spoorlyn sal uiteindelik deur die middel van die grenslyn loop en by die Russiese Transsiberiese Spoorlyn aansluit.

Ons sal nog moet sien of hierdie stappe werklik ’n nuwe begin inlui. Intussen is die pogings om families te herenig prysenswaardig. Dit is nietemin duidelik dat die mensdom ’n wêreldwye heerskappy deur God se Koninkryk nodig het (Matteus 6:9, 10). Jehovah se Getuies het reeds in 1912 stappe begin doen om hierdie boodskap van hoop in die Ooste te verkondig. Baie in die noordelike deel van die Koreaanse skiereiland het dit gehoor, en ’n hele paar het dit aangeneem. Talle mense is egter gedurende die Japannese bewind opgesluit omdat hulle geweier het om aan die oorlog deel te neem.

Hierdie Christene, Jehovah se Getuies, het met mekaar begin assosieer toe die Tweede Wêreldoorlog geëindig het en hulle uit die gevangenis vrygelaat is. Die meeste van hulle het na die suide toe gegaan waar hulle godsdiensvryheid kon geniet. In Junie 1949 is die eerste gemeente in Seoel gestig, en dit het vandag ’n groot organisasie geword met meer as 87 000 bedrywige Getuies in die Republiek van Korea. Dit sluit duisende in wat ook van hulle familielede in die noorde geskei is.

Miskien sal sake so verloop dat alle geskeide families in Korea herenig kan word. Nog belangriker, ’n einde aan hierdie skeiding kan dit vir die 22 miljoen inwoners van die Demokratiese Volksrepubliek van Korea moontlik maak om uiteindelik die geleentheid te hê om die Bybelboodskap te hoor.

[Voetnoot]

a ’n Staatsondersteunde reünie het ook in 1985 plaasgevind.

[Prente op bladsy 13]

’n Man en sy vrou (bo) en ’n ma en haar seun (onder) word herenig

[Prent op bladsy 14]

’n Man wat vooroueraanbidding beoefen, buig voor ’n portret van sy vader wat gesterf het voordat hulle herenig kon word

[Prent op bladsy 15]

Jang Djin-jeoel (ver links) word met sy broer (middel) uit die noorde herenig

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Foto’s op bladsye 13-15: The Korea Press Photojournalists Association

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel