Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/22 bl. 6-9
  • Wat het van al die water geword?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat het van al die water geword?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarheen gaan al die water?
  • Die toename in die vraag na water
  • Gebruik en misbruik van grondwater
  • Vandag vermorsing, môre verknorsing
  • Raak die wêreld se water op?
    Ontwaak!—2001
  • Waar die krisis ernstiger is
    Ontwaak!—1997
  • Op soek na die water van die lewe
    Ontwaak!—2001
  • Wat sê die Bybel oor die wêreldwye waterkrisis?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/22 bl. 6-9

Wat het van al die water geword?

Tsjerrapoendsji, Indië, is een van die natste plekke op aarde. Gedurende die moesonseisoen val 9 000 millimeter reën op sy heuwels, wat aan die voet van die Himalajagebergte is. Dit klink dalk ongelooflik, maar Tsjerrapoendsji ondervind ook ’n watertekort.

AANGESIEN daar min plantegroei oor is om die water terug te hou, stroom dit amper net so vinnig weg as wat dit uit die lug val. Twee maande ná die moesonreën opgehou het, word water skaars. Robin Clarke het Tsjerrapoendsji jare gelede, in sy boek Water: The International Crisis, as “die natste woestyn op aarde” beskryf.a

Nie ver stroomaf van Tsjerrapoendsji nie is Bangladesj, ’n digbevolkte, laagliggende land wat die ergste getref word deur moesonreën wat in strome teen die kaal heuwelhange van Indië en Nepal neerkom. Party jare word twee derdes van Bangladesj oorstroom. Maar wanneer die vloedwaters gesak het, word die Ganges net ’n stroompie en verdor die land. Meer as 100 miljoen mense in Bangladesj word elke jaar deur hierdie wrede kringloop van oorstromings en droogte geraak. Die situasie word vererger deur die feit dat putwater daar met arseen besoedel is, wat dalk alreeds miljoene mense vergiftig het.

In Noekoes, Oesbekistan, wat nie ver van die Aral-meer is nie, is sout die probleem en nie arseen nie. Wit, korsagtige neerslae vorm op die grond om die katoenplante en belemmer hulle groei. In die deurweekte ondergrondse lae beweeg die sout na die oppervlak. Hierdie probleem, wat versouting genoem word, is niks nuuts nie. Die Mesopotamiese landbou het vierduisend jaar gelede om presies dieselfde rede begin agteruitgaan. Te veel besproeiing tesame met slegte dreinering veroorsaak dat soute in die grond op die oppervlak versamel. Al hoe meer vars water moet gebruik word om ’n redelike oes te kry. Maar uiteindelik word die grond geslagte lank nutteloos.

Waarheen gaan al die water?

Ongelukkig kom baie van die reënbuie voor in die vorm van stortreëns. Dit lei nie net tot oorstromings nie, maar veroorsaak ook dat water vinnig van die land af wegvloei in die see in. En party plekke kry baie reën, terwyl ander min kry. Tsjerrapoendsji het al meer as 26 000 millimeter reën in ’n tydperk van 12 maande opgeteken, terwyl die Atacama-woestyn in noordelike Chili jare lank geen noemenswaardige reën kry nie.

Daarbenewens woon die meeste mense op aarde waar water skaars is. Betreklik min mense woon byvoorbeeld in die tropiese gebiede van Afrika en Suid-Amerika waar volop reën val. Die magtige Amasonerivier stort 15 persent van die aarde se jaarlikse afloopwater in die Atlantiese Oseaan in, maar omdat daardie gebied yl bevolk is, is baie min water nodig vir menslike gebruik. Daarenteen woon ongeveer 60 miljoen mense in Egipte, waar die reënval baie laag is, en die uitgeputte Nylrivier moet in feitlik al hulle waterbehoeftes voorsien.

Jare gelede het sulke wanverhoudings in die watervoorraad nie ernstige probleme veroorsaak nie. Volgens ’n opname was daar in 1950 geen streek op aarde wat ’n baie lae of uiters lae watervoorraad gehad het nie. Maar daardie tye van ’n oorvloed water het verander. In droë streke van Noord-Afrika en Sentraal-Asië is die hoeveelheid water wat vir elke persoon beskikbaar is, ’n tiende van wat dit in 1950 was.

Afgesien van die bevolkingsaanwas en die lae reënval in talle digbevolkte gebiede het die vraag na water om ander redes toegeneem. In vandag se wêreld gaan vooruitgang en voorspoed hand aan hand met ’n betroubare watervoorraad.

Die toename in die vraag na water

As jy in ’n nywerheidsland woon, het jy ongetwyfeld opgelet dat fabrieke naby belangrike riviere opgerig word. Die rede is eenvoudig. Die nywerheid het water nodig om feitlik enigiets te vervaardig, van rekenaars tot skuifspelde. Voedselverwerking gebruik ook ’n verbasende hoeveelheid water. Kragstasies het ’n onversadigbare behoefte aan water en word langs mere of riviere gevind.

Die landbou het selfs meer water nodig. In baie plekke is die reënval of te min of te onbetroubaar om ’n goeie oes te waarborg, met die gevolg dat besproeiing na die ideale oplossing gelyk het om ’n honger planeet van voedsel te voorsien. Omdat die landbou afhanklik is van gewasse wat besproei word, verbruik dit ’n groot deel van die vars water op die aarde.

Daarbenewens het huishoudelike waterverbruik toegeneem. Gedurende die 1990’s het ’n ongelooflike 900 miljoen nuwe stadsbewoners behoorlike toiletgeriewe en veilige water nodig gehad. Die gewone bronne van water, soos riviere en putte, is nie meer voldoende vir groot stede nie. Mexikostad moet byvoorbeeld nou water 125 kilometer ver met ’n pypleiding vervoer en oor ’n bergreeks pomp wat 1 200 meter hoër as die stad is. Die situasie, sê Dieter Kraemer in sy verslag Water: The Life-Giving Source, laat jou dink aan “’n seekat; arms gaan van die stad af uit om water te probeer kry”.

Die nywerheid, landbou en stadsgebiede dring almal aan op meer water. En daar is voorlopig aan baie van hulle eise voldoen deur gebruik te maak van die aarde se reserwevoorraad—grondwater. Waterhoudende grondlae is een van die aarde se vernaamste stoorplekke van vars water. Maar dit is nie onuitputlik nie. Hierdie watervoorraad is soos geld in die bank. Jy kan dit nie bly onttrek as jy min inbetalings doen nie. Vroeër of later sal die dag van afrekening aanbreek.

Gebruik en misbruik van grondwater

Grondwater is die watervoorraad wat gevind word wanneer ons ’n put grawe. Die Verenigde Nasies-kinderfonds se verslag Groundwater: The Invisible and Endangered Resource toon dat die helfte van die water vir huishoudelike gebruik en vir die besproeiing van gewasse van hierdie bron kom. Aangesien grondwater gewoonlik minder besoedel is as oppervlakwater, voorsien dit ook baie van ons drinkwater, in stede sowel as op die platteland. As die grondwatervoorraad nie te veel opgetrek word nie, sou dit konstant bly, aangesien dit gereeld aangevul word deur reën wat stadig na hierdie ondergrondse reservoirs deursyfer. Maar die mensdom gebruik al dekades lank meer water daaruit as wat die natuurlike waterkringloop kan vervang.

Die gevolg is dat die grondwatervlak al hoe verder van die oppervlak af sak, en dit word óf onekonomies óf onprakties om diep genoeg te grawe om daarby uit te kom. Wanneer die put opdroog, lei dit tot ’n ekonomiese en menslike ramp. In Indië het sulke tragedies alreeds begin plaasvind. Aangesien die voedsel van ’n miljard mense wat in die sentrale vlaktes van China en Indië woon, van ondergrondse water afhanklik is, is die vooruitsigte kommerwekkend.

Die uitputting van die grondwatervoorraad word verder deur besoedeling vererger. Landboukunsmis, mense- en diereafval en industriële chemikalieë syfer alles af in die grondwater in. “As ’n waterhoudende grondlaag eers besoedel is, kan dit baie lank neem en baie duur wees om dit reg te stel, en dit kan selfs onmoontlik wees”, verduidelik ’n verslag wat deur die Wêreld- Meteorologiese Organisasie uitgegee is. “Die stadige afsyfering van besoedelstowwe is al ’n ‘chemiese tydbom’ genoem. Dit bedreig die mensdom.”

Die ironie van die saak is dat water wat uit die waterhoudende grondlae gepomp word, uiteindelik juis die grond kan bederf wat dit veronderstel is om te besproei. Baie van die besproeiingsplase in die dorre of halfdorre lande van die wêreld ondervind nou versouting. In Indië en die Verenigde State—twee van die wêreld se grootste voedselproduserende lande—is 25 persent van die besproeiingsplase alreeds ernstig beskadig.

Vandag vermorsing, môre verknorsing

Ondanks al hierdie probleme sou die situasie nie so sleg gewees het as die aarde se kosbare water spaarsamer gebruik is nie. Ondoeltreffende besproeiingsmetodes mors dikwels 60 persent van die water voor dit by die gewasse uitkom. Beter doeltreffendheid—met behulp van beskikbare tegnologie—kan die nywerheid se waterverbruik met die helfte verminder. En selfs stedelike waterverbruik kan met 30 persent verminder word as stukkende pype gou herstel word.

Waterbesparingsmaatreëls vereis ’n wil sowel as ’n weg. Is daar goeie redes om te glo dat ons aarde se kosbare water vir toekomstige geslagte bewaar sal word? Ons laaste artikel sal hierdie vraag bespreek.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Tsjerrapoendsji—Een van die natste plekke op aarde”, in die Ontwaak! van 8 Mei 2001.

[Venster/Prent op bladsy 7]

ALLES DRAAI OM WATER

Feitlik alle industriële prosesse verbruik groot hoeveelhede water.

◼ Die vervaardiging van een ton staal kan 280 ton water verbruik.

◼ Tot 700 kilogram water is nodig om een kilogram papier te vervaardig (as die fabriek nie die water hersirkuleer nie).

◼ Die vervaardiger van ’n tipiese Amerikaanse motor gebruik 50 keer die motor se gewig in water.

Die landbou gebruik ook baie water, veral as vee in halfdorre streke van die aarde geteel word.

◼ Om een kilogram biefstuk van Kaliforniese vleisbeeste te kry, is 20 500 liter water nodig.

◼ Ten minste 26 liter water word gebruik om net een bevrore hoender te verwerk.

[Grafiek/Prent op bladsy 8]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

WAAR WORD DIE WATER GEBRUIK?

Huishoudelike gebruik 10%

Nywerheid 25%

Landbou 65%

[Prente op bladsy 9]

Miljoene liter water word vermors as gevolg van stukkende waterpype en krane wat oopgelos word

[Erkenning]

AP Photo/Richard Drew

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel