Welkom by die “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkoms!
MILJOENE MENSE sal dit by honderde plekke regoor die wêreld bywoon. In Suid-Afrika word daar reëlings getref om 50 byeenkomste te hou. Die eerste byeenkomste sal van 23-25 November af gehou word en die laaste byeenkoms op 4-6 Januarie 2002. Een van hierdie driedaagse byeenkomste—Vrydag tot Sondag—sal heel waarskynlik in ’n stad nie ver van jou huis af gehou word nie.
Op die meeste plekke sal die program elke dag om 9:30 vm. met musiek begin. Die verwelkomingstoespraak op Vrydag sal gevolg word deur toesprake oor die Bybelonderwerpe “Koninkryksonderrigting bring goeie vrugte voort”, “Beweeg deur ‘die luisterryke dinge van God’” en “Skep behae in Jehovah se regverdigheid”. Die oggendsessie sal afgesluit word met die programrede “Ten volle toegerus as onderrigters van God se woord”.
Die eerste toespraak van die middag, “Gereinig as ’n volk om voortreflike werke te doen”, sal gevolg word deur die driedelige simposium “Leer onsself terwyl ons ander leer”. Dit sal beklemtoon hoe belangrik dit is om toe te pas wat ons ander leer in verband met sedelikheid, persoonlike Bybelstudie en die noodsaaklikheid daarvan om die Duiwel se pogings te weerstaan om ons te mislei. Die toespraak “Verafsku die wêreldse plaag van pornografie” sal daarna volg. Die dag se program sal dan afsluit met ’n bespreking van Jesaja hoofstuk 60, met die tema “Jehovah versier sy volk met lig”.
Saterdag se toesprake “Vind verkwikking onder Christus se juk”, “Volg die Groot Onderrigter na” en “Is jy gewillig om ander te dien?” sal beklemtoon waarom dit belangrik is om Christus se voorbeeld te volg. Twee simposiums van ’n uur elk met die tema “Bedienaars deur wie ander gelowiges word” en “Vind meer baat by Teokratiese opleiding” sal ook op Saterdag gehou word. Die simposium in die oggend sal wenke gee oor hoe om dissipels te maak, en die middagprogram sal beklemtoon hoe ons meer baat kan vind deur Bybelstudie en die bywoning van Christelike vergaderinge. Die oggendprogram sal afgesluit word met ’n bespreking van doop, waarna daar ’n geleentheid sal wees vir persone wat aan die vereistes voldoen, om gedoop te word. Baie sal gretig wees om Saterdagmiddag se slottoespraak, “Nuwe voorsienings vir ons geestelike vooruitgang”, te hoor.
Die program Sondagoggend sluit ’n driedelige simposium in wat die boek Maleagi bespreek en die praktiese toepassing van situasies in ons dag gee. Dit sal gevolg word deur ’n gekostumeerde drama oor die opstand van Korag, Datan en Abiram teen die godgegewe gesag van Moses. Daarna sal ’n toespraak die boodskap beklemtoon wat in die drama oorgedra is. Die middagprogram sal die aandag vestig op die openbare toespraak “Wie leer alle nasies die waarheid?”
Jy sal beslis geestelik verryk word as jy al drie dae bywoon. Tree gerus met Jehovah se Getuies by die Koninkryksaal in jou omgewing in verbinding of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif vir inligting oor waar die byeenkoms naaste aan jou gehou sal word.