Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/8 bl. 12-15
  • Katedrale—Monumente vir God of mense?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Katedrale—Monumente vir God of mense?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n katedraal?
  • “Die eeu van katedrale”
  • “Ons sal ’n katedraal bou wat so groot is . . . ”
  • Duur gister, duur vandag
  • Hoe hulle gebou is
  • “Verkeerde prioriteite”
  • ’n “Onuitspreeklike naam”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Gebrandskilderde glas—van die Middeleeuse tot die moderne
    Ontwaak!—1991
  • Die Anglikaanse Kerk—’n verdeelde huis
    Ontwaak!—2001
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/8 bl. 12-15

Katedrale—Monumente vir God of mense?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

IN Moskou het ’n soort herlewing plaasgevind. Die Christus die Verlosser-katedraal, wat in 1931 deur Stalin verwoes is, is herbou, met sy goue koepels wat in die Russiese lug glinster. In die stad Évry, naby Parys, het werkers die laaste afrondingswerk gedoen aan die enigste katedraal wat gedurende die 20ste eeu in Frankryk gebou is. Dit kom net ’n paar jaar ná die inwyding van die katedraal van Almudena in Madrid. Die stad New York het ook nie agtergebly nie en het die katedraal met die naam St. Johannes die Goddelike. Aangesien dit meer as 100 jaar in aanbou is, is dit al dikwels St. Johannes die Onvoltooide genoem. Dit is nietemin een van die wêreld se grootste katedrale en beslaan ’n gebied van 11 000 vierkante meter.

Dwarsdeur die Christendom is groot katedrale prominent in baie stede. Vir gelowiges is dit monumente vir geloof in God. Selfs ongelowiges bewonder dit as kunswerke of as voorbeelde van briljante argitektuur. Die bestaan van hierdie ryk versierde huise van aanbidding wat dikwels buitensporig duur is, laat ernstige vrae ontstaan: Waarom en hoe is hulle gebou? Watter doel dien hulle?

Wat is ’n katedraal?

Ná Christus se dood het sy dissipels hulle in gemeentes georganiseer, waarvan talle in huise bymekaargekom het (Filemon 2). Dekades lank het geestelike “ouer manne” na hierdie gemeentes omgesien (Handelinge 20:17, 28; Hebreërs 13:17). Maar ná die dood van die apostels het mense van die ware Christelike godsdiens afvallig geword (Handelinge 20:29, 30). Mettertyd het ’n aantal ouer manne hulle bo die ander verhef en is hulle as biskoppe beskou wat oor ’n aantal gemeentes toesig hou—iets waarteen Jesus gewaarsku het (Matteus 23:9-12). Die woord “kerk”, wat oorspronklik op Christene self van toepassing was, is toe ook vir hulle plekke van aanbidding—die gebou self—gebruik. Dit was nie lank voor party biskoppe kerke wou hê wat by hulle posisie gepas het nie. ’n Nuwe woord is dus geskep om die biskop se kerk te beskryf—die katedraal.

Hierdie woord kom van die Griekse woord kathedra, wat “stoel” beteken. Die katedraal was dus die biskop se troon, die simbool van sy aardse gesag. Van sy katedraal het die biskop gesag uitgeoefen oor ’n ampsgebied, die bisdom.

“Die eeu van katedrale”

In 325 G.J. het die Konsilie van Nicea die aanstelling van biskoppe in stede amptelik erken. Aangesien die biskoppe nou deur die Romeinse Staat ondersteun is, het hulle dikwels groot stukke grond as geskenke van die owerheid gekry. Hulle het ook talle heidense plekke van aanbidding oorgeneem. Toe die Romeinse Ryk geval het, het die kerklike bestel voortbestaan en voortgegaan om ’n oorheersende rol in die Middeleeue te speel. Daardie tydperk het spoedig “die eeu van katedrale” geword, soos die Franse geskiedkundige Georges Duby dit noem.

Van die 7de eeu tot die 14de eeu het Europa se bevolking verdriedubbel. Hierdie demografiese omwenteling het hoofsaaklik die stede bevoordeel, wat groter welvaart geniet het. Gevolglik was die rykste biskoplike stede die beste plekke waar reusagtige katedrale gebou kon word. Waarom? Want hierdie reuseprojekte kon slegs suksesvol wees waar geld voortdurend ingevloei het!

Nog ’n faktor wat bygedra het tot die bou van katedrale, was die gewilde gebruik om die Maagd Maria en godsdiensrelieke te vereer. Dit het in die 11de en 12de eeu ’n hoogtepunt bereik. Biskoppe het hierdie aanbidding uitgebrei en so hulle katedrale gewilder gemaak. Die titel Notre-Dame (Ons Liewe Vrou) het in hierdie tyd op katedrale in Frankryk begin pryk. “Watter dorp het nie ’n kerk en dikwels sy katedraal aan haar gewy nie?” vra die Katolieke ensiklopedie Théo. Gevolglik is die Sint Étienne-katedraal in Parys aan Notre-Dame gewy. Die Notre-Dame-katedraal in Chartres, Frankryk, het noordelike Europa se belangrikste heiligdom geword. “Geen enkele persoon—nie eers Christus self nie—het die lewe en denke van die katedraalbouers so geheel en al oorheers soos die Maagd Maria nie”, sê The Horizon Book of Great Cathedrals.

“Ons sal ’n katedraal bou wat so groot is . . . ”

Maar waarom was baie van hierdie geboue so groot? Reeds in die vierde eeu was die katedrale van Trier, Duitsland, en Genève, Switserland, baie groot, al was daar betreklik min aanbidders. In die 11de eeu kon die bevolking van Speyer, Duitsland, nie sy enorme katedraal vul nie. The Horizon Book of Great Cathedrals kom dus tot die gevolgtrekking dat die “grootte en weelderigheid [van katedrale] heelwat onheilige motiewe verraai het”. Onder andere “die verwaande trots van die biskop of ab onder wie se beskermheerskap die gebou opgerig moes word”.

Gedurende die 12de en 13de eeu was die katedrale gemiddeld 100 meter hoog en het hulle probeer om dit so hoog te bou as wat dit lank was. Die Winchester-katedraal, in Engeland, wat 169 meter lank is, en Milaan se Duomo, in Italië, wat 145 meter lank is, is uitsonderlik. “Ons sal ’n katedraal bou wat so groot is, dat diegene wat dit sien, sal dink dat ons mal is”, het ’n Spaanse kerkamptenaar in 1402 in Sevilla gesê. Trouens, die katedraal van Sevilla is glo die wêreld se tweede grootste, met ’n gewelf wat 53 meter hoog is. Die kerktoring van die Straatsburg-katedraal in Frankryk is 142 meter hoog, so hoog soos ’n gebou met 40 verdiepings. In die 19de eeu is die toring van die Gotiese Münster-katedraal in Ulm, Duitsland, 161 meter hoog gebou, wat dit die hoogste kliptoring in die wêreld gemaak het. “Daar is geen Goddelike voorskrif wat sulke groot en uitspattige geboue regverdig nie”, hou die geskiedkundige Pierre du Colombier vol.

Gedurende die 12de en 13de eeu het die voorstanders van katedrale uit nog ’n ‘onheilige motief’ voordeel getrek—stedelike patriotisme. Die Encyclopædia Britannica sê: “Dorpe het teen mekaar meegeding om die indrukwekkendste katedraal te bou.” Stadsraadslede, burgers en gildes het katedrale in simbole van hulle stad omskep.

Duur gister, duur vandag

Een skrywer beskryf hierdie bouprojekte as “bodemlose finansiële putte”. Hoe is hierdie geboue—wat selfs vandag al hoe duurder word om in stand te hou—in die verlede gefinansier? In party gevalle het kerkvorste, soos Maurice de Sully in Parys, self daarvoor betaal. Partykeer het politieke heersers, soos koning Jakobus I van Aragon vir die koste ingestaan. Maar oor die algemeen was dit die inkomste van die bisdom wat die katedrale gefinansier het. Hierdie geld het bestaan uit feodale belastings en inkomste van eiendom. Trouens, die Biskop van Bologna in Italië het 2 000 landgoedere besit! Hierby is die kerkinkomste van kollektes, aflate en boetes vir sondes gevoeg. In Rouen, Frankryk, het diegene wat die reg gekoop het om gedurende die Vastyd suiwelprodukte te eet, vir die katedraal se sogenaamde Bottertoring betaal.

Party individuele skenkers was buitengewoon vrygewig, en hulle is vereer deurdat afbeeldings van hulle in die kerk se kleurvensters en beeldhouwerk gemaak is. Die beginsel van anonieme Christelike vrygewigheid is klaarblyklik vergeet (Matteus 6:2). Daar was ’n voortdurende behoefte aan geld, aangesien die uitgawes gewoonlik die begroting oorskry het. Daarom is dit nie verbasend dat die ywer waarmee geld ingesamel is dikwels tot wanbesteding en afpersing gelei het nie. As iemand byvoorbeeld van kettery beskuldig is, is sy eiendom dikwels gekonfiskeer. Gevolglik kon die sogenaamde ketters, soos die Katare, geplunder word, en verskeie kerkbouprojekte is so gefinansier.a

Die kerk moes natuurlik voortdurend druk op mense uitoefen om geld te kry. In teenstelling met wat party geskiedkundiges al beweer het, het die massas nie uit hulle eie sulke geboue opgerig nie. Die geskiedkundige Henry Kraus sê: “Hoewel die Middeleeue ’n baie godsdienstige tydperk was, was die bou van kerke nie mense se eerste prioriteit nie.” Baie geskiedkundiges het dus die kerk gekritiseer weens hulle uitspattigheid. The Horizon Book of Great Cathedrals erken: “Die geld wat die kerk aan bouwerk uitgegee het, kon gebruik geword het om honger mense te voed . . . of om hospitale en skole in stand te hou. Gevolglik kan daar gesê word dat die katedrale honderdduisende menselewens geëis het.”

Hoe hulle gebou is

Katedrale getuig van die mens se vernuf. Dit is werklik ongelooflik dat sulke enorme geboue met primitiewe tegnologie gebou is. Eerstens is gedetailleerde planne van die gebou opgetrek. By die steengroef is patrone gebruik om seker te maak dat die versierings dieselfde lyk en dat die stene die regte grootte is. Die stene is versigtig gemerk om hulle presiese plek in die gebou aan te dui. Vervoer was verskriklik stadig en duur, maar ten spyte hiervan ‘het Frankryk tussen 1050 en 1350 meer klip as die antieke Egiptenare uitgekap’, sê die Franse geskiedkundige Jean Gimpel.

Op die bouterrein self het werkers ongelooflike werk gedoen met die primitiewe hystoestelle van daardie tyd—katrolle en hysers, wat dikwels aangedryf is deur mans wat op houttrapmeule geloop het. Die wiskundige formules wat vandag deur ingenieurs gebruik word, was destyds onbekend. Bouers moes op hulle instink en ondervinding staatmaak. Dit verbaas ons nie dat daar wel talle ernstige ongelukke was nie. Byvoorbeeld, in 1284 was die gewelf van die Beauvais-katedraal, in Frankryk, te groot en het dit ineengestort. Maar nuwe kenmerke soos muurstutte, steunboë, ribgewelwe en toringspitse het bouers gehelp om nuwe hoogtes te bereik.

Die bouwerk het van 40 jaar, vir die vinnigste (Salisbury, Engeland), tot etlike eeue geduur. Party, soos die katedrale in Beauvais en Straatsburg, Frankryk, is nooit voltooi nie.

“Verkeerde prioriteite”

Hierdie ‘pragtige en gevolglik duur geboue’, soos pous Honorius III dit gestel het, was van die begin af ’n twispunt. In die kerk het stemme opgegaan teen die werk en die astronomiese bedrae wat betrokke was. Pierre le Chantre, ’n 13de-eeuse kerkvors van die Notre-Dame de Paris, het gesê: “Dit is ’n sonde om kerke te bou soos dit tans gedoen word.”

Selfs vandag lok die katedraal in Évry, om maar een te noem, kwaai kritiek uit. Soos die Franse koerant Le Monde berig, voel baie mense dat katedrale “verkeerde prioriteite” weerspieël en dat die kerk “eerder in mense en in evangelisasiewerk moet belê as in stene en versiering”.

Baie wat hierdie ontsaglike geboue help oprig het, het ongetwyfeld ’n opregte liefde vir God gehad. Hierdie mense het duidelik “’n ywer vir God” gehad, maar dit was “nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). Jesus Christus het nooit gesê dat sy volgelinge uitspattige huise van aanbidding moet bou nie. Hy het sy ware aanbidders aangespoor om ‘met gees en waarheid te aanbid’ (Johannes 4:21-24). Ten spyte van hulle prag, weerspreek die Christendom se indrukwekkende katedrale hierdie beginsel. Hulle is dalk monumente vir die mense wat hulle gebou het, maar hulle verheerlik nie God nie.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Die Katare—Was hulle Christenmartelaars?” in Die Wagtoring van 1 September 1995, bladsye 27-30, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is.

[Prent op bladsy 13]

Die katedraal van Santiago de Compostela, Spanje

[Prente op bladsy 15]

Heel bo: Die Notre-Dame se roosvenster, Chartres, Frankryk

Bo: ’n Afbeelding van ’n klipkapper, Notre-Dame, Parys

[Prent op bladsy 15]

Die 12de-eeuse Notre-Dame-katedraal, Parys

[Prent op bladsy 15]

Binnekant van die Notre-Dame-katedraal, Amiens. Dit is Frankryk se grootste kerkgebou, met gewelwe wat 43 meter hoog is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel