Goeie gesondheid vir almal—’n Bereikbare doelwit?
WIL jy graag beter gesondheid vir jouself en jou gesin hê? Natuurlik wil jy. Maar hoewel die meeste van ons net af en toe siek is, leef miljoene mense hulle hele lewe lank met pynlike siektes saam.
Tog word daar baie gedoen om siekte te bestry. Neem byvoorbeeld die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), ’n agentskap van die Verenigde Nasies. By ’n konferensie in 1978 wat deur die WGO gereël is, het afgevaardigdes van 134 lande en 67 VN-organisasies saamgestem dat gesondheid nie net vryheid van siekte beteken nie. Gesondheid, het hulle gesê, is “’n toestand van volkome liggaamlike, verstandelike en maatskaplike welsyn”. Die afgevaardigdes het toe die moedige besluit geneem om gesondheid ’n “fundamentele mensereg” te verklaar! Die WGO het dus die doelwit gestel om “’n aanvaarbare vlak van gesondheid vir die hele wêreldbevolking” te bereik.
Hierdie doelwit is bewonderenswaardig, selfs edel. Maar wat is die moontlikheid dat dit ooit bereik sal word? Van al die gebiede waarop die mens hom toelê, het die geneeskunde beslis een van dié geword wat die meeste vertrou en bewonder word. Volgens die Britse koerant The European het mense in Westerse lande gewoond geraak aan “die tradisionele mediese konsep van die wonderkuur: een pil om een probleem op te los”. Met ander woorde, ons verwag dat die mediese veld ’n eenvoudige en maklike behandeling vir elke siekte moet hê. Kan die mediese professie werklik aan hierdie hoë verwagting voldoen?