Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 4/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Kermkrag”
  • Volwassenes eet babakos
  • ’n Mens kan gou aan rook verslaaf raak
  • Kerke erken dat hulle dwangarbeid gebruik het
  • Kan sinktablette verkoues kortknip?
  • Priesters word ingevoer
  • Gedroogde troeteldier-lekkernye kan jou siek maak
  • Kapsules wat sien
  • Depressie neem toe by die werk
  • Tempel se ongewone besoekers
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1995
  • Geteister deur stres!
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 4/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

“Kermkrag”

Brittanje se winkels “word oorval deur ’n nuwe geslag kooplustige, hoogs gesofistikeerde, modebewuste jongmense”, berig The Times van Londen. “Hulle is tussen 10 en 13 jaar oud en volwasse genoeg om onafhanklik te besluit wat om te koop, maar jonk genoeg om ‘kermkrag’ te gebruik sodat hulle ouers vir duur artikels betaal wat hulle wil hê”, voeg die koerant by. Piers Berezai van Datamonitor, ’n marknavorsingsmaatskappy, sê: “Weens die toename in egskeidings en meer vroue wat werk, speel ouerlike skuldgevoelens ’n groter rol en probeer hulle met geld daarvoor vergoed dat hulle nie tyd saam met hulle kinders kan deurbring nie. Kinders besef dat hulle gekerm ’n baie doeltreffende manier is om te kry wat hulle wil hê. Ouers, wat hulle kinders net van tyd tot tyd sien, is meer geneig om toe te gee en sal hulle kinders waarskynlik meer bederf.”

Volwassenes eet babakos

Al hoe meer babakos word deur volwassenes geëet, berig die Duitse nuusagentskap dpa-Basisdienst. Tien persent van die voorraad van ’n groot Duitse babakosvervaardiger word aan huisgesinne sonder kinders verkoop. Mense van alle ouderdomme en agtergronde hou baie van melkpoeding en gestoofde vrugte wat vir babas vervaardig word. Aangesien ’n porsie net 400 kilojoule bevat, verkies baie mense wat hulle gewig dophou, babakos as ’n versnapering. Vervaardigers voorsien in hierdie behoefte deur hulle produkte vir “jonk en oud” aan te beveel en resepte te gee waarin hulle produkte gebruik word. Die Duitse Voedingsvereniging is egter nie hiermee tevrede nie. Volgens hulle woordvoerster Anette Braun het volwassenes nie kos nodig wat so spesiaal voorberei is nie, tensy hulle siek is. Hulle moet hulle kos kan kou. “Dit is immers waarom ons tande het”, sê Braun.

’n Mens kan gou aan rook verslaaf raak

Navorsers by die Universiteit van Massachusetts het bevestig dat sommige mense “binne ’n paar dae ná hulle eerste sigaret” tekens van verslawing toon, sê ’n berig van Associated Press. Die studie het die rookgewoontes van 681 jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 13 ’n jaar lank gemonitor en simptome aangeteken wat op verslaafdheid dui. “Daar was ’n vermoede dat baie mense gou verslaaf raak”, sê dr. Richard Hurt, “maar hierdie is werklik die eerste oortuigende bewys wat ons het dat dit wel gebeur.” Dr. Joseph DiFranza, leier van die navorsingspan, sê: “’n Baie belangrike implikasie van hierdie studie is dat ons kinders moet waarsku dat ’n mens nie net . . . ’n paar weke lank met sigarette kan eksperimenteer en dit dan kan opgee nie.”

Kerke erken dat hulle dwangarbeid gebruik het

Die Duitse publiek was onlangs ontsteld om te hoor dat beide die Katolieke en die Evangeliese Kerk dwangarbeid gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebruik het. Volgens ’n woordvoerder van die Duitse Kongres van Katolieke Biskoppe “het arbeiders gewerk op landgoedere wat deur die kerk beheer is—in die landerye van kloosters sowel as in wingerde en hospitale”, berig die Frankfurter Allgemeine Zeitung. Die Evangeliese Kerk se grootste maatskaplike en welsynsorganisasies in Europa “het dwangarbeiders gedurende die hele Tweede Wêreldoorlog gebruik”, sê die Süddeutsche Zeitung. Beide die Katolieke en die Evangeliese Kerk het etlike miljoene Duitse mark beloof om dwangarbeiders wat nog lewe, te vergoed. Die meeste van hulle was burgers van Oos-Europese lande.

Kan sinktablette verkoues kortknip?

Navorsers debatteer al jare lank of sink mense help om verkoues af te weer. ’n Onlangse studie het gevind dat “[sink]tablette wat aan die begin van ’n verkoue elke paar uur geneem word, die gemiddelde duurte daarvan met byna die helfte verminder”, berig Science News. Daarbenewens het diegene wat aan die studie deelgeneem en sinktablette elke twee tot drie uur vir vier of vyf dae geneem het, “gesê dat hulle aansienlik minder gehoes en hulle neus minder geloop het” as diegene wat plasebos geneem het. Maar sommige mense wat sink inneem, ervaar newe-effekte soos hardlywigheid en ’n droë mond, sê die tydskrif.

Priesters word ingevoer

Omdat die Katolieke Kerk bekommerd is oor die tekort aan priesters in die ontwikkelde wêreld, het hulle priesters begin invoer om aan die behoefte te voldoen, berig die Italiaanse tydskrif L’Espresso. “In Italië, Europa en Noord-Amerika lewer kweekskole nie meer genoeg priesters op nie en kan die bisdomme nie meer hulle priesters vervang nie”, sê die tydskrif. Om leë gemeentes te vul, word priesters van Brasilië, Indië en die Filippyne ingevoer. “Die tendens begin nou maar eers”, berig L’Espresso, “maar dit is besig om die kerk te verander. . . . In Italië is daar alreeds 1 131 priesters van buite die Europese Unie wat vir die Konferensie van Biskoppe werk, dit is 3 persent van die totaal.” Italië is derhalwe besig om ‘sendinggebied’ te word, sê die tydskrif.

Gedroogde troeteldier-lekkernye kan jou siek maak

“Troeteldierlekkernye wat gemaak word van gedroogde ore, hoewe, longe en vark- en beesbene, het al Salmonella-vergiftiging by mense veroorsaak”, berig FDA Consumer. Volgens Kanadese gesondheidsbeamptes is meer as 35 Kanadese oor ’n tydperk van een jaar vir salmonella-vergiftiging behandel nadat hulle gedroogde varkore hanteer het. Gloria Dunnavan, direktrise van die Inspeksieafdeling vir die Voedsel- en Medisyneraad se Sentrum vir Veeartsenykunde, stel voor dat verbruikers gedroogde dele van diere net soos rou vleis moet hanteer. “Met ander woorde, was jou hande met seep en warm water nadat jy dit hanteer het, moenie die lekkernye op voedselkontakoppervlaktes (soos ’n kombuiswerksvlak) neersit nie en moenie dat kinders aan hulle mond vat nadat hulle [dit] hanteer het nie”, sê die tydskrif.

Kapsules wat sien

’n Maatskappy in Israel het ’n kapsule ontwikkel wat, nadat dit ingesluk is, soos ’n piepklein videokameratjie werk om siektes in die dunderm te ondersoek, berig die Mexikaanse koerant Excelsior. Die minikamera stuur seine na ’n spesiale gordel wat die pasiënt om sy heupe dra. Die beelde word dan deur ’n rekenaar verwerk en deur spesialiste bestudeer. Die klein kameratjie word uiteindelik deur die liggaam uitgeskei. Volgens dr. Blair Lewis is een van die voordele van hierdie ondersoekmetode dat dit pynloos is. Een van die kapsule se uitvinders, professor Paul Swain, sê dat “dit moontlik sal wees om ’n beeld van die laer deel van die dunderm te kry sonder dat die pasiënt verdoof hoef te word en selfs terwyl hy besig is om te loop”. Die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad het toestemming gegee dat die kapsule op 20 pasiënte in New York en Londen getoets kan word.

Depressie neem toe by die werk

“Stres, angs en depressie by die werk raak tot een uit elke 10 werkers wêreldwyd”, berig die Paryse dagblad International Herald Tribune. ’n Studie deur die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie het gevind dat werkverwante stres Europa en die Verenigde State jaarliks meer as R900 miljard kos. Die toename in werkverwante depressie is glo deels te wyte aan die tegnologiese revolusie, wat bykomende druk op werkers geplaas het. Die Tribune het berig dat daar in die Verenigde State ongeveer “200 miljoen werksdae jaarliks verlore gaan weens werkverwante geestesgesondheidsprobleme” en dat meer as die helfte van die arbeidsmag in Finland aan stresverwante probleme ly. Daarbenewens het ongeveer 30 persent van die werkers in Brittanje glo geestesgesondheidsprobleme, en 5 persent ly aan ernstige depressie.

Tempel se ongewone besoekers

’n Ou Boeddhistetempel in Japan lok meer as net aanbidders. Sedert die tempel in 1955 herstel is, het houtkappers daarheen gestroom. Die gaatjies wat hulle in die tempel gemaak het, “is so baie dat party toeriste dink dat dit deel van die ontwerp is—sodat lig kan insyfer om die binnekant helder te maak”, sê Asahi Evening News. Die hoofpriester kla dat alle pogings om die voëls van die tempel af weg te hou tot dusver misluk het. Die hoofsaal van Daizenji se Tempel in Jamanasji-prefektuur, wat in 1286 gebou is, is amptelik as ’n nasionale skat verklaar.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel