Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 4/22 bl. 19-23
  • Doof en blind, maar ek het veiligheid gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Doof en blind, maar ek het veiligheid gevind
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek word na ’n spesiale skool gestuur
  • Terug by die huis, maar probleme duik op
  • Pogings om my lewe te verbeter
  • Ek verhuis na Washington, DC
  • My soeke na die ware godsdiens
  • Ek het dadelik tuis gevoel
  • Die veiligheid waarna ek gesoek het
  • ’n Tyd van beproewing
  • Geseënd deur ons liefdevolle Vader
  • Waardeer jou dowe broers en susters!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • ’n Taal wat jy sien!
    Ontwaak!—1998
  • Luister met jou oë
    Ontwaak!—1998
  • ‘Jehovah het sy aangesig teenoor hulle laat skyn’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 4/22 bl. 19-23

Doof en blind, maar ek het veiligheid gevind

SOOS VERTEL DEUR JANICE ADAMS

Ek is van geboorte af so te sê doof, maar ek het geleer om oor die weg te kom in ’n wêreld waar mense kan hoor. Toe, terwyl ek op universiteit was, is ek geskok toe ek moes hoor dat ek blind sou word. My welmenende studenteraadgewer het my ’n artikel gegee oor hoe om sonder sig en gehoor te leef. My oë het dadelik die frase gesien wat gesê het dat diegene wat doof sowel as blind is, die eensaamste mense in die wêreld is. Ek het in trane uitgebars.

EK IS op 11 Julie 1954 in Des Moines, Iowa, VSA, gebore, die enigste kind van Dale en Phyllis Den Hartog. Min het my ouers besef dat hulle albei draers van ’n genetiese toestand was wat as Usher se sindroom bekend staan en wat gekenmerk word deur aangebore doofheid met progressiewe gesigsverlies.

My ouers het in die begin nie vermoed dat daar enigiets met my verkeerd is nie. Miskien was dit omdat ek nog lae klankfrekwensies kon hoor en soms op klanke kon reageer. Maar toe ek nie begin praat nie, het hulle geweet dat iets ernstig fout was. Die dokter het uiteindelik vasgestel dat ek doof is toe ek omtrent drie jaar oud was.

Die nuus het my ouers verpletter. Maar hulle was vasbeslote dat ek die beste opvoeding moontlik moes kry. Ek is in ’n uitstekende kleuterskool vir hardhorendes gesit. Maar omdat ek byna doof was, kon ek glad nie die mas opkom nie. Ek het soms my frustrasie getoon deur my kop teen die muur te stamp.

Ek word na ’n spesiale skool gestuur

My ouers het besluit om my by die Sentrale Instituut vir die Dowes (SID) in St. Louis, Missouri, in te skryf. Ten spyte van die groot finansiële uitgawes en die hartseer om my op die ouderdom van vyf weg te stuur, het my ouers gedink dat dit my die beste geleentheid bied om ’n suksesvolle, gelukkige lewe te hê. Ek en my ouers kon werklik nie op daardie tydstip met mekaar kommunikeer nie.

Ek het gekyk hoe my ma my klere in ’n koffer pak. Die motorrit het oneindig lank gevoel. Ek onthou hoe ek by SID die ander dogtertjies sonder hulle ma’s gesien en gedink het: ‘O, ek hoef nie hier te bly nie, want ek het ’n mammie en ’n pappie.’ Toe dit tyd geword het vir my ouers om te gaan, het hulle probeer verduidelik dat hulle oor ’n paar maande sou terugkom. Ek het gehuil en gehuil en hulle styf vasgehou, maar die huismoeder het my weggetrek sodat hulle kon gaan.

Ek het verlate gevoel. Alleen saam met die ander meisies gedurende ons eerste nag by die skool, het ek ’n meisie wat gehuil het probeer troos deur kamstig met haar te praat, hoewel ek nie eintlik op daardie stadium kon praat nie. Die huismoeder het met my geraas en ’n afskorting tussen ons gesit sodat ons nie kon probeer kommunikeer nie. Die muur het van toe af daar gebly. Die afsondering was verpletterend.

Ek het geleidelik besef dat ons almal daar was omdat ons nie kon hoor nie. Miskien was my ouers tog lief vir my, maar ek het geredeneer dat dit my skuld is dat ek op kleuterskool nie die mas kon opkom nie. Ek was vasbeslote om hierdie keer te slaag en om eendag na my gesin toe terug te keer.

Die onderrig by SID was uitstekend. Hoewel ons nie toegelaat is om gebaretaal te gebruik nie, het ons individueel baie onderrig in liplees en spraak ontvang. Al die vakke wat in gewone skole geleer word, is ook beklemtoon. Hoewel ek meen dat die benadering om net te liplees die meeste dowe kinders nie help nie, het dit my wel gehelp, en ek het gevoel dat ek welslae behaal. Met my gehoortoestel het ek geleer hoe om die mondbewegings en gedempte klanke van ander se spraak te verstaan. Die meeste mense wat kan hoor, het my verbeterde spraak begin verstaan, al was dit nog onduidelik. My ouers en die skool was hoogs tevrede met my vordering. Ek het nogtans verlang om terug huis toe te gaan.

Elke somervakansie het ek my ouers gesoebat om my by die huis te laat bly en my in Iowa te laat skoolgaan, maar daar was nog steeds geen plaaslike programme nie. Nadat ek terug skool toe is, het my ma elke dag vir my ’n brief en ’n stafie kougom gestuur. Weens die liefde wat daardie kougom voorgestel het, was dit vir my so kosbaar! Ek het dit nie geëet nie, maar eerder elke stafie gehou, en ek het dit veral gekoester wanneer ek terneergedruk gevoel het.

Terug by die huis, maar probleme duik op

Toe ek tien was, het my ouers my uiteindelik huis toe gebring. Ek was so gelukkig en het so veilig gevoel om saam met my gesin te wees! Ek is by ’n plaaslike spesiale skool in Des Moines vir kinders met gehoorgebreke ingeskryf. Ek is uiteindelik in die gewone klasse gesit omdat ek ’n redelik goeie lipleser was en duidelik kon praat. Tog was daar talle uitdagings in my nuwe omstandighede.

In die slaapsaal by SID het ek gevoel dat ek deur my dowe portuurs aanvaar is. Maar nou, wanneer ek met meer as een persoon op ’n slag moes praat, kon ek weens die vinnige gesprekvoering nie hulle lippe lees nie. Ek is derhalwe uitgesluit. Ek wou so graag aanvaar word!

Dit het daartoe gelei dat ek die goedkeuring van tienerseuns begin soek het, wat my in gevaarlike situasies laat beland het. En ek het nie geweet hoe om nee te sê nie. Ek is verkrag toe ek 14 was; maar ek het vir niemand vertel nie. Hoewel my ouers altyd besorg en liefdevol was, het ek afgesonderd en verlore gevoel.

Met behulp van my gehoortoestel kon ek ’n bietjie musiek geniet, maar my keuse van musiek was nie goed nie. Ek het na harde acid rock geluister. Ek het ook begin om dagga gereeld te gebruik en al hoe meer teruggetrokke geraak. Ek voel nog steeds innig spyt wanneer ek terugkyk na wat ek gedurende daardie onstuimige jare gedoen het en die pyn wat dit my en my gesin veroorsaak het.

Pogings om my lewe te verbeter

Gedurende hierdie tydperk het ek nog steeds ’n begeerte gehad om te leer en om my skeppingsvermoë te verbeter. Ek het gedurig gelees, en ook geskilder, naaldwerk gedoen en geborduur. Ek wou meer uit my lewe hê as wat die toekoms ingehou het vir my vriende wat net dwelms gebruik het. Daarom het ek by ’n gewone universiteit naby ons huis geregistreer om my belangstelling in die kunste verder te voer. Om en by hierdie tyd het ek besluit om gebaretaal te leer omdat dit my gefrustreer het om sosiaal uitgesluit te word.

Ek is uiteindelik na die Nasionale Tegniese Instituut vir die Dowes in Rochester, New York, om pottebakkerskuns as hoofvak te volg. Hoewel my sig stelselmatig verswak het—’n feit wat ek op die een of ander manier nie wou erken nie—het ek gevoel asof my lewe in die regte rigting beweeg. Maar toe het my studenteraadgewer my die werklikheid onder die oë laat sien deur vir my te sê dat ek binnekort sou blind word.

Die instituut was nie eintlik goed toegerus om na my behoeftes om te sien nie, en ek moes daar weggaan. Wat sou ek nou doen? Hoewel ek hartseer was oor die vooruitsig dat ek binnekort sou blind word, was ek vasbeslote om onafhanklik te lewe en om nie, soos in die woorde van die artikel wat die raadgewer my gegee het, ‘een van die eensaamste mense in die wêreld’ te word nie. Ek het na ons huis in Iowa teruggekeer om te leer hoe om braille te lees en hoe om ’n kierie te gebruik om mee rond te beweeg.

Ek verhuis na Washington, DC

Gallaudet-universiteit in Washington, DC, die wêreld se enigste universiteit wat die vrye kunste vir die dowes aanbied, het gespesialiseerde dienste vir studente wat doof sowel as blind is. Ek het soontoe gegaan en in 1979 met lof geslaag. Ek het weer eens goed gevoel om op akademiese gebied welslae te behaal.

Maar ek het nog steeds sosiaal afgesonder van my portuurs gevoel. Hoewel ek my sig verloor het, het ek gebaretaal net betyds geleer om te begin voel dat ek aan ’n groep, die Dowegemeenskap, behoort het. Die gebaretaal wat ek gebruik, is dieselfde as wat ander dowes gebruik. Maar omdat ek my hande op hulle s’n moet sit om hulle te verstaan, het party dowes my vermy omdat hulle ongemaklik gevoel het. Ek het begin wonder of ek werklik ooit weer deur enige groep mense aanvaar sou word.

My soeke na die ware godsdiens

Ek het geen vertroosting uit godsdiens gekry terwyl ek grootgeword het nie. En al het ek op universiteit ’n godsdienskursus gevolg, het ek op baie van my vrae nooit enige antwoorde gekry nie. Nadat ek aan die universiteit gegradueer het, het ek na antwoorde bly soek. Gedurende hierdie tyd was ek ongelukkig oor my menseverhoudinge, en daarom het ek tot God vir sy leiding gebid.

In 1981 het ek na Gallaudet-universiteit teruggegaan om my meestersgraad in berading te verwerf. Ek het bly bid vir hulp om die regte kerk te vind. Verskeie mense het aangebied om my na hulle kerk toe te neem, maar om die een of ander rede het hulle dit nooit gedoen nie. Toe het ek Bill ontmoet, wat normaal kon hoor en wat ook op universiteit was. Hy het heel toevallig uitgevind dat ek ook in die Bybel belangstel, en hy het vir my vertel dat hy allerhande verbasende dinge by Jehovah se Getuies leer.

My eerste indruk was dat Jehovah se Getuies die een of ander Joodse kultus was, ’n sienswyse wat ek nogal algemeen onder die dowes gevind het. Bill het my verseker dat dit nie so is nie, en hy het gesê dat dit beter sal wees as ek een van hulle vergaderinge bywoon om meer omtrent hulle uit te vind. Ek wou regtig nie gaan nie, maar ek het my gebed onthou. Ek het teësinnig ingestem op voorwaarde dat ons in die agterste ry sit sodat ons kon gaan as hulle enige druk op ons uitoefen.

Ek het dadelik tuis gevoel

Ek was baie senuweeagtig terwyl ons na die vergadering toe gery het. Ons het albei jeans en wolhemde gedra. Ek was bly toe ons ’n bietjie laat daar opdaag, want toe was dit nie nodig om voor die vergadering met enigiemand te gesels nie. Bill het alles wat ek nie kon sien of hoor nie, aan my oorgedra. Hoewel ek nie ten volle verstaan het wat aangaan nie, is ek beïndruk deur twee dinge: Die spreker se gereelde gebruik van die Bybel, en die kinders, wat saam met hulle ouers gesit het en gretig aan die vergaderinge deelgeneem het. Ná die vergadering is daar geen druk op ons uitgeoefen nie, maar ons is eerder hartlik verwelkom, ten spyte van ons kleredrag en ons ras.

Ons was die enigste twee witmense in die Koninkryksaal. Hoewel ek nie daarvan bewus was dat ek enigsins bevooroordeeld teenoor swartes was nie, het ek aanvanklik ongemaklik gevoel om daar te wees. Maar die boodskap van Bybelwaarheid was te aanloklik om toe te laat dat die ongemaklike situasie my keer om te luister. Ons het die vergaderinge gereeld begin bywoon. Maar wat wel vir my ’n groot uitdaging was, was die feit dat daar geen dowes in daardie gemeente was nie. Toe ons dus van ’n ander gemeente hoor waarheen party dowes gaan, het ons soontoe begin gaan. Ons was weer eens die enigste witmense in hierdie nuwe gemeente. Hulle het ons nogtans heeltemal tuis laat voel.

Ons het tot ’n Bybelstudie ingestem. Uiteindelik het ek antwoorde op my vrae begin kry. Ek het nie altyd die antwoorde dadelik verstaan nie, maar dit was op die Bybel gebaseer. Met meer navorsing en bepeinsing het ek die Bybelwaarhede uiteindelik begin verstaan. Ek het vir die eerste keer in my lewe na aan Jehovah as die ware God begin voel. Ek en Bill het terselfdertyd goeie vriende geword. Ek het geweet dat hy van my hou, maar ek was verbaas toe hy my vra om met hom te trou. Ek was verheug en het ja gesê. Bill is kort ná ons troue gedoop, en ek ’n paar maande na hom, op 26 Februarie 1983.

Die veiligheid waarna ek gesoek het

Aanvanklik was ek bang dat ek afgesonderd sou wees omdat ons gemeente net twee ander dowes gehad het en hulle nie in staat was om met iemand te kommunikeer wat beide doof en blind is nie. Ek het geweet dat ons gemeente liefdevol en hartlik is, maar ek kon in die begin nie direk met hulle kommunikeer nie. Dit het my hartseer gemaak. Ek het baie keer mismoedig en eensaam gevoel. Maar die goedhartigheid van ’n geestelike broer of suster het gewoonlik my hart geraak en my opgebeur. Bill het my ook aangemoedig om in my bediening te volhard en tot Jehovah te bid sodat meer dowes met die gemeente sou begin assosieer.

Ek het besluit om ’n gidshond te kry sodat ek onafhankliker kon wees. Die hond het ook gehelp om my gevoelens van eensaamheid te verdryf. Wanneer Bill by die werk was, kon ek na die Koninkryksaal toe stap om by die groep aan te sluit wat bymekaargekom het om in die Christelike bediening uit te gaan. Deur die jare heen het ek vier gidshonde gehad, en elkeen was soos ’n deel van die gesin.

Hoewel ’n gidshond gehelp het, wou ek graag meer kontak met mense hê. Mettertyd het Jehovah ons pogings geseën om belangstelling in Bybelstudie onder die dowes te kweek. Die belangstelling het so gegroei dat ’n gebaretaalgemeente in Washington, DC, gestig is. Uiteindelik kon ek met elke lid van die gemeente kommunikeer!

Bill het aan die vereistes voldoen om as ’n ouer man te dien en is as die presiderende opsiener van die gebaretaalgemeente aangestel. Ek het dit baie geniet om Bybelstudies met ander dowes te hou, asook met diegene wat doof sowel as blind is, en ’n hele paar van hulle dien Jehovah nou getrou. Ek het ook horende susters gebaretaal geleer sodat hulle meer welslae onder die dowes in die bediening kon behaal.

’n Tyd van beproewing

In 1992 het ek aan ernstige depressie begin ly wat verband gehou het met die mishandeling wat ek as kind verduur het. Ek kon ’n hele paar jaar beswaarlik met my lewe voortgaan. Ek het beperk gevoel—nie weens my doofheid of blindheid nie—maar weens my geweldige emosionele pyn. Baie keer het ek gedink dat ek dit nie sal kan verdra om na die vergadering toe te gaan of om in die bediening uit te gaan nie, en ek het Jehovah gesmeek om my die krag te gee om my onkreukbaarheid te handhaaf. Gevolglik het ek selde ’n vergadering gemis, en ek het gereeld gedurende daardie donker jare in die bediening uitgegaan.—Matteus 6:33.

In 1994 het ons na Vancouver, Brits-Columbië, Kanada, verhuis om met die stigting van ’n ander gebaretaalgemeente te help. Die verandering was nie maklik nie. Ek het ’n bekende stad met talle dierbare vriende agtergelaat. Selfs al was ek nog steeds nie van die depressie en angs ontslae nie, het die vreugde wat ons gesmaak het toe ons sien hoe ’n nuwe gemeente in Vancouver gevorm word, al die opofferings die moeite werd gemaak. Ek het goeie vriende in die nuwe gemeente gemaak sodat ek ook hier tuis gevoel het.

Geseënd deur ons liefdevolle Vader

In 1999 het ek en my man en twee ander Getuies ses weke lank Haïti besoek om met die bediening onder die dowes te help. Ons het, in samewerking met die takkantoor van Jehovah se Getuies daar, ’n gebaretaalklas vir die gemeentelede aangebied en saam met hulle in die betreklik onaangeraakte dowegebied gewerk. Binne ’n paar weke is meer as 30 Bybelstudies met belangstellende dowes begin! Ek het met hernieude geestelike krag huis toe gegaan en in September 1999 as ’n pionier in die voltydse bediening begin. Met die hulp van Jehovah, my liefdevolle man en ’n ondersteunende gemeente het vlae van depressie my nie van my vreugde beroof nie.

Deur die jare heen het ek ervaar hoe teer Jehovah in geneentheid is (Jakobus 5:11). Hy sorg vir al sy knegte—maar veral vir diegene met spesiale behoeftes. Deur sy organisasie het ek die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif saam met baie ander Bybelstudiehulpe in braille ontvang. Ek geniet byeenkomste wat in gebaretaal gehou word. Die gemeente help my liefdevol deur in my hande te tolk sodat ek ten volle by al die vergaderinge betrokke is. Ten spyte van ’n dubbele gebrek het ek veiligheid onder Jehovah se volk gevind. Ek ontvang nie net nie, maar ek kan ook gee, en dit verskaf my groot vreugde.—Handelinge 20:35.

Ek sien uit daarna om beide my gehoor en my sig in Jehovah se nuwe wêreld terug te kry. Intussen is ek nie een van die eensaamste mense in die wêreld nie, maar ek het ’n wêreldwye familie van miljoene geestelike broers en susters. Dit is alles te danke aan Jehovah wat belowe het dat hy my hoegenaamd nie in die steek sal laat of my ooit sal verlaat nie. Ja, ek kan ten spyte van al die uitdagings sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie.”—Hebreërs 13:5, 6.

[Prent op bladsy 23]

Gebaretaal word in my hand getolk

[Prent op bladsy 23]

Vandag saam met my man, Bill

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel