Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 4/22 bl. 8-12
  • Hoe godsdiens voortbestaan het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe godsdiens voortbestaan het
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Baie waardevol vir die KGB”
  • ’n Handlanger van die Sowjetstaat
  • Hoe die Getuies voortbestaan het
  • Hoe omstandighede verander het
  • Die Sowjetaanval op godsdiens
    Ontwaak!—2001
  • Die vernaamste teiken van die Sowjetaanval
    Ontwaak!—2001
  • Wat hou die toekoms vir godsdiens in?
    Ontwaak!—2001
  • Dramatiese Groei
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 4/22 bl. 8-12

Hoe godsdiens voortbestaan het

TEEN die tyd dat Nazi-Duitsland Rusland in Junie 1941 ingeval het, het die Sowjets die Russies-Ortodokse Kerk so te sê vernietig. Maar ná die Nazi-inval het die Sowjets hulle gesindheid teenoor godsdiens begin verander. Wat het daartoe gelei?

Richard Overy, professor van moderne geskiedenis aan King’s College, Londen, het in sy boek Russia’s War—Blood Upon the Snow verduidelik: “Die metropolitaan Sergei [Sergius], hoof van die Kerk, het op die dag van die Duitse inval ’n beroep op die gelowiges gedoen om alles vir ’n oorwinning te doen. Gedurende die volgende twee jaar het hy niks minder nie as drie-en-twintig sendbriewe uitgereik, waarin hy sy kudde versoek het om te veg vir die godlose staat waarin hulle woon.” Daarom, soos Overy voorts gesê het, ‘het Stalin godsdiens weer laat floreer’.

In 1943 het Stalin uiteindelik ingestem om die Ortodokse Kerk te erken deur Sergius as die nuwe patriarg daarvan aan te stel. “Die Kerkowerheid het hierop gereageer deur geld van die gelowiges in te samel vir ’n Russiese gepantserde kolonne”, het Overy gesê. “Priesters en biskoppe het hulle gemeentes aangespoor om getrou te wees aan die leer, van God en van Stalin.”

Die Russiese godsdiensgeleerde Sergei Iwanenko het hierdie tydperk in die Russiese geskiedenis so beskryf: ‘Die amptelike publikasie van die Russies-Ortodokse Kerk, The Journal of the Moscow Patriarchate, het Stalin geloof as die grootste leier en onderrigter van alle tye en volke, wat deur God gestuur is om die volk van onderdrukking, landeienaars en kapitaliste te red. Dit het ’n beroep op gelowiges gedoen om hulle laaste druppel bloed te gee om die USSR teen sy vyande te verdedig en alles ter wille van die opbou van Kommunisme op te offer.’

“Baie waardevol vir die KGB”

Selfs ná die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, was die Ortodokse Kerk nog steeds ’n nuttige instrument vir die Kommuniste. The Soviet Union: The Fifty Years, wat deur Harrison Salisbury geskryf is, het verduidelik waarom dit so was: “Ná die oorlog het kerkleiers saamgegaan met die eise van Stalin se buitelandse beleid tydens die Koue Oorlog.”

Die onlangse boek The Sword and the Shield beskryf hoe kerkleiers Sowjetbelange bevorder het. Dit verduidelik dat patriarg Aleksis I, wat Sergius in 1945 as patriarg opgevolg het, “aangesluit het by die Wêreldvredesraad, die Sowjetfrontorganisasie wat in 1949 gestig is”. Die boek sê ook dat hy en die metropolitaan Nikolai “baie waardevol vir die KGB [die Russiese Staatsveiligheidskomitee] was as instrumente waardeur hulle invloed verkry het”.

In 1955 het patriarg Aleksis I die volgende merkwaardige verklaring gedoen: “Die Russies-Ortodokse Kerk ondersteun die geheel en al vreedsame buitelandse beleid van ons regering, nie omdat die Kerk geen vryheid het soos beweer word nie, maar omdat die Sowjetbeleid regverdig is en met die Christelike ideale ooreenstem wat die Kerk verkondig.”

In The Guardian van Londen, Engeland, se nommer van 22 Januarie 2000, word die andersdenkende Ortodokse priester Georgi Edelshtein soos volg aangehaal: “Al die biskoppe is versigtig gekies sodat hulle saam met die sowjetregering sou werk. Hulle was almal KGB-agente. Dit is ’n welbekende feit dat patriarg Aleksis deur die KGB gewerf is, onder die kodenaam Drozdof. Vandag beoefen hulle nog steeds dieselfde politiek as wat hulle 20 of 30 jaar gelede gedoen het.”

’n Handlanger van die Sowjetstaat

Die tydskrif Life van 14 September 1959 het aangaande die verhouding tussen die Ortodokse Kerk en die Sowjets gesê: “Stalin het sekere toegewings vir godsdiens gedoen, en die kerk het hom soos ’n tsaar behandel. Die samewerking van die Ortodokse Kerk word verseker deur ’n spesiale staatsdepartement, en die Kommuniste het die kerk sedertdien as ’n instrument van die Sowjetstaat gebruik.”

Matthew Spinka, ’n gesaghebbende op die gebied van Russiese kerksake, het in sy boek The Church in Soviet Russia wat in 1956 verskyn het, die bestaan van ’n hegte verhouding tussen die Kerk en Staat bevestig. “Die huidige patriarg Aleksis”, het hy geskryf, “het sy Kerk doelbewus ’n instrument van die regering gemaak.” Trouens, die Ortodokse Kerk het in werklikheid bly voortbestaan deur ’n handlanger van die Staat te word. ‘Maar is dit so afkeurenswaardig?’ vra jy dalk. Wel, dink aan hoe God en Christus die saak beskou.

Jesus Christus het van sy ware dissipels gesê: ‘Julle is geen deel van die wêreld nie, maar ek het julle uit die wêreld uitgekies.’ En God se Woord vra reguit: “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie?” (Johannes 15:19; Jakobus 4:4). Soos die Bybel dit dus stel, het die kerk ’n godsdienshoer geword waarmee “die konings van die aarde hoerery gepleeg het”. Dit het bewys dat dit deel is van wat die Bybel “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglike dinge van die aarde” noem.—Openbaring 17:1-6.

Hoe die Getuies voortbestaan het

In teenstelling hiermee het Jesus Christus geopenbaar hoe sy ware volgelinge uitgeken sou word toe hy gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Hierdie liefde was ’n vername rede waarom die Getuies in die voormalige Sowjetunie voortbestaan het, soos getoon word deur die volgende verslag in The Sword and the Shield. “Die Jehoviste het medegelowiges wat in die [straf]kampe of in interne ballingskap was, op allerhande maniere gehelp en hulle van geld, voedsel en klere voorsien.”

Die “voedsel” wat vir diegene in die gevangeniskampe voorsien is, het ook geestelike voedsel ingesluit—Bybels en Bybellektuur. Die Bybel bevat ‘uitinge van God’, wat Jesus gesê het ons nodig het om ons geestelik aan die lewe te hou (Matteus 4:4). Die lektuur is in die kampe ingesmokkel ondanks groot persoonlike gevaar, aangesien enigiemand wat gevang is, swaar gestraf is.

Helene Celmina, ’n Letlander, is van 1962 tot 1966 in die Potma-strafkamp in Rusland gevange gehou. Sy het ’n boek geskryf met die titel Women in Soviet Prisons, waarin sy verduidelik het: “Baie van Jehovah se Getuies word tien jaar dwangarbeid opgelê bloot omdat hulle ’n paar Wagtoring-tydskrifte in hulle huise het. Aangesien mense in hegtenis geneem word as hulle hierdie tydskrifte besit, is dit te verstane dat die administrasie bekommerd en hoogs ontevrede is oor die teenwoordigheid van hierdie lektuur in die kamp.”

Dit was beslis ’n blyk van Christelike liefde om persoonlike vryheid en veiligheid in gevaar te stel deur geestelike hulp aan ander te verleen! Maar hoewel dit grootliks bygedra het tot die voortbestaan van die Getuies, was daar iets wat selfs belangriker was. “Niemand kon verstaan”, het Helene Celmina geskryf, “hoe verbode lektuur in hierdie land van doringdraad en beperkte menslike kontak ingesmokkel kon word nie.” Dit het onmoontlik gelyk, want almal wat in die gevangenis ingekom het, is deeglik deursoek. “Dit was asof engeltjies snags oorgevlieg en dit afgegooi het”, het hierdie skryfster geskryf.

God het inderdaad belowe dat hy nie sy volk sou verlaat, of in die steek sou laat, nie. Jehovah se Getuies in die voormalige Sowjetunie erken dus openlik, soos die Bybelpsalmis: “Kyk! God is my helper” (Psalm 54:6; Josua 1:5). Sy hulp was waarlik belangrik vir die voortbestaan van die Getuies in die voormalige Sowjetunie!

Hoe omstandighede verander het

Op 27 Maart 1991 het Jehovah se Getuies ’n wetlik erkende organisasie in die Sowjetunie geword met die ondertekening van ’n wetlike handves wat die volgende verklaring insluit: “Die doel van die Godsdiensorganisasie is om voort te gaan met die godsdienstige werk, naamlik die verkondiging van Jehovah God se naam en sy liefdevolle voorsienings vir die mensdom deur sy hemelse Koninkryk in die hande van Jesus Christus.”

Van die maniere wat in die handves genoem word om met hierdie godsdienstige werk voort te gaan, is om in die openbaar te getuig en die huise van mense te besoek, Bybelwaarhede vir diegene te leer wat wil luister, gratis Bybelstudies met behulp van Bybelstudiepublikasies te hou en Bybels te versprei.

Sedert daardie dokument meer as tien jaar gelede onderteken is, is die Sowjetunie ontbind en het die godsdienssituasie in die 15 voormalige Sowjetrepublieke aansienlik verander. Wat kan gesê word oor die toekoms van godsdiens daar sowel as regoor die res van die wêreld?

[Venster op bladsy 11]

Die Kerk se samewerking met die Sowjets

Edmund Stevens het in sy boek Russia Is No Riddle, wat in 1945 verskyn het, geskryf: “Die Kerk was baie versigtig om nie die guns te verloor van diegene van wie dit nou afhanklik was nie. Die Kerk het ten volle besef dat die Staat van hulle verwag het om in ruil vir die gunste wat aan hulle toegestaan is die stelsel ten volle te ondersteun en binne sekere grense te funksioneer.”

Stevens het verder verduidelik: “Die eeue-oue tradisie dat dit die amptelike Staatsgodsdiens was, was diepgewortel in die Ortodokse Kerk, en daarom het dit baie maklik die nuwe rol aangeneem om ten nouste met die Sowjetregering saam te werk.”

Die Keston-instituut het die destydse verbintenis tussen die Sowjets en Aleksis II, die huidige patriarg van die Russies-Ortodokse Kerk, deeglik ondersoek. Die verslag het tot die slotsom gekom: “Aleksis se samewerking was niks buitengewoons nie—omtrent alle senior leiers van alle amptelik erkende godsdienste—insluitende die Katolieke, Baptiste, Adventiste, Moslems en Boeddhiste—is as KGB-agente gewerf. Trouens, die jaarlikse verslag wat Aleksis se werwing beskryf, dek ook verskeie ander agente, waarvan party in die Estlandse Lutherse Kerk is.”

[Venster/Prent op bladsy 12]

Hoe diegene in die kampe bereik is

Viktors Kalnins, ’n Letlandse joernalis, het die grootste deel van sy vonnis van tien jaar (1962-72) in die Mordowiese kampkompleks, ongeveer 400 kilometer suidoos van Moskou, deurgebring. In ’n onderhoud met ’n Ontwaak!-medewerker in Maart 1979 is Kalnins gevra: “Weet die Getuies wat gevange gehou word, wat hier in die Verenigde State of in ander lande aangaan wat die organisasie betref?”

“Hulle weet”, het Kalnins geantwoord, “en dit is deur middel van die lektuur wat hulle ontvang. . . . Hulle het selfs vir my hulle tydskrifte gewys. Ek het nooit geweet waar die lektuur versteek is nie; dit het van tyd tot tyd verander. Maar almal het geweet die lektuur is in die kamp. . . . Die wagte en Jehovah se Getuies was soos Tom en Jerry; die een groep probeer die lektuur wegsteek en die ander probeer die lektuur vind!”

Op die vraag: “Het Jehovah se Getuies met jou oor hulle oortuigings probeer praat?” het Kalnins geantwoord: “O, ja! Hulle is baie bekend. Ons weet van Armageddon . . . Hulle het baie oor die einde van siekte gepraat.”

[Prent op bladsy 12]

Getuies in die kampe in Mordowië het Bybelwaarhede moedig verkondig

[Prent op bladsy 8, 9]

Die Woftjsoeks is in 1951 na Irkoetsk, Siberië, gedeporteer en dien vandag nog as getroue Christene

[Prent op bladsy 10]

As gevolg van die kerk se ondersteuning gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Stalin godsdiens toegelaat om tydelik te floreer

[Erkenning]

U.S. Army photo

[Prent op bladsy 10]

Patriarg Aleksis I (1945-70) het gesê: ‘Die Sowjetbeleid stem ooreen met die Christelike ideale wat die Kerk verkondig’

[Erkenning]

Central State Archive regarding the film/photo/phono documents of Saint-Petersburg

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel