Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/22 bl. 12-14
  • Hoe kan ek vir hom nee sê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek vir hom nee sê?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer jy nie romanties aangetrokke voel nie
  • Waarom dit moeilik is om nee te sê
  • Wees versigtig
  • Hoe moet ek ’n meisie behandel wat in my belangstel?
    Ontwaak!—2005
  • Hoe kan ek vir hom sê hoe ek voel?
    Ontwaak!—2004
  • Sê nou hy sê nee?
    Ontwaak!—2004
  • Sê nou hy beantwoord nie my liefde nie?
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/22 bl. 12-14

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek vir hom nee sê?

“Hierdie somer het ’n broer in ons gemeente op my verlief geraak. Ek het nooit regtig van hom gehou nie. Die probleem is dat ek nie geweet het hoe om nee te sê sonder om sy gevoelens seer te maak nie.”—Erna.a

“KAN ek jou beter leer ken?” Het ’n jong man jou al ooit hierdie vraag gevra? As ’n jong vroub het jy dalk gelukkig en gevlei gevoel—selfs opgewonde! Daarenteen het jy dalk so verward gevoel dat jy nie geweet het wat om te sê nie.

Wanneer iemand romantiese belangstelling in jou toon, kan dit ’n groot verskeidenheid van emosies laat ontstaan. Dit is veral waar as jy oud genoeg is om te trou en dus in staat is om op sulke aandag te reageer!c Hoe jy reageer, sal nietemin baie afhang van wie die vraag vra. As hy ’n emosioneel volwasse persoon is en jy vind dat jy tot hom aangetrokke voel, is jou antwoord dalk eenvoudig. Maar gestel hy het beslis nie die eienskappe om ’n geskikte maat te wees nie. Of sê nou jy stel eenvoudig net nie in hom belang nie, selfs al het hy goeie eienskappe?

Dink byvoorbeeld ook aan die situasie van ’n jong vrou wat al ’n geruime tyd met iemand uitgaan, maar wat nou besef dat sy nie die res van haar lewe saam met hom wil deurbring nie. Pleks van die verhouding te verbreek, gaan sy nog steeds met hom uit. “Hoe kan ek vir hom nee sê”, vra sy.

Wanneer jy nie romanties aangetrokke voel nie

In die tyd van die aartsvaders het mense blykbaar met persone getrou wat deur hulle ouers gekies is (Genesis 24:2-4, 8). In Westerse lande kan die meeste Christene hulle eie huweliksmaat kies. Die Bybel het een vereiste—dat ’n Christen “net in die Here” trou.—1 Korintiërs 7:39.

Beteken dit dat jy met enige medegelowige moet trou wat in jou belangstel of met wie jy ’n kort rukkie uitgegaan het? Wel, beskou die Bybelse voorbeeld van ’n jong plattelandse meisie in die Midde-Oosterse dorpie Sunem. Salomo, haar koning, het haar gesien en baie verlief op haar geraak. Maar toe hy belangstelling in haar begin toon het, het die jong meisie dit nie net verwerp nie, maar sy het ook by die hofdames gesmeek wat die koning bedien het: “[Moenie] die liefde in my probeer wakker maak of opwek voordat dit daartoe geneig voel nie” (Hooglied 2:7, NW). Hierdie verstandige meisie wou nie hê dat ander druk op haar moes probeer uitoefen om haar deur haar emosies te laat lei nie. Sy het eenvoudig nie romanties in Salomo belanggestel nie omdat sy op ’n nederige herder verlief was.

Dit leer diegene wat dit vandag oorweeg om te trou ’n belangrike les: Jy kan nie romantiese liefde vir sommer enigiemand hê nie. So, selfs nadat ’n jong vrou al ’n rukkie met iemand uitgegaan het, vind sy dalk dat sy nie romantiese belangstelling in hom het nie. Miskien is haar gevoelens gebaseer op die een of ander waarneembare swakheid in die ander persoon se geaardheid. Of miskien voel sy nie tot hom aangetrokke nie. Dit sou dwaas wees om hierdie gevoelens te ignoreer. Die gevoelens sal nie weggaan as jy dit bloot ignoreer nie.d “Ek het soveel twyfelgedagtes oor hom gehad”, het Tamara gesê van die jong man met wie sy uitgegaan het. “Dit was nie net geringe twyfelgedagtes nie, maar gedagtes wat my regtig so gepla het dat ek naderhand gespanne en senuweeagtig gevoel het wanneer ek by hom was.” Sy het later besef dat dit beter sou wees om die verhouding te beëindig weens hierdie twyfelgedagtes.

Waarom dit moeilik is om nee te sê

Om vir ’n jong man nee te sê, is nogtans makliker gesê as gedaan. Soos Erna, wat in die begin genoem is, is jy dalk bang jy maak hom seer. Ons moet wel ander se gevoelens in ag neem. Die Bybel spoor Christene aan om ‘hulleself met tere geneenthede van medelye te beklee’ en om ander te behandel soos hulle graag self behandel wil word (Kolossense 3:12; Matteus 7:12). Beteken dit egter dat jy moet voorgee alles is in orde bloot sodat jy nie hierdie jong man teleurstel of seermaak nie? Hy sal vroeër of later ongetwyfeld uitvind hoe jy regtig voel, en dit sal net tot die pyn bydra as jy oneerlik is en uitstel om dit vir hom te vertel. Dit sal selfs erger wees as jy met die jong man trou bloot omdat jy vir hom jammer voel. ’n Jammergevoel is ’n swak grondslag om ’n huwelik op te bou.

Maar miskien worstel jy met die gedagte: ‘As ek nie met hom trou nie, kry ek dalk nie weer ’n geleentheid nie.’ Soos ’n artikel in die tydskrif Teen sê, redeneer ’n meisie dalk: “Hy is nie ‘dié een’ nie, maar ten minste is hy iemand—en ek wil regtig nie alleen wees nie.” Trouens, die verlange na kameraadskap is sterk. Om hierdie begeerte te bevredig, beteken egter meer as om net iemand aan jou sy te hê. Dit behels dat jy iemand vind vir wie jy werklik lief kan wees en wat in staat is om die skriftuurlike verantwoordelikhede van die huwelik na te kom (Efesiërs 5:33). Moet dus nie ’n maat oorhaastig kies nie! Baie was al spyt omdat hulle oorhaastig getrou het.

Laastens gaan party meisies nog steeds met iemand uit selfs al is dit duidelik dat die jong man ernstige tekortkominge het. ‘As ek hom ’n bietjie meer tyd gee’, redeneer hulle, ‘verander hy dalk.’ Is dit werklik verstandig? Slegte gewoontes en gedragspatrone is per slot van rekening dikwels diepgewortel en verskriklik moeilik om te verander. En selfs al maak hy ’n paar skielike en opvallende veranderinge, kan jy dan regtig seker wees dat hierdie veranderinge permanent is? In een geval het ’n jong vrou met die naam Karen wyslik besluit om met ’n jong man uit te maak toe sy besef dat hulle nie dieselfde doelwitte het nie. “Dit was moeilik”, erken sy, “want ek het fisies tot hom aangetrokke gevoel. Maar ek het geweet dat dit die regte ding was om te doen.”

Wees versigtig

Dit is nou wel nie maklik om vir iemand nee te sê nie. Soos ’n pakkie met iets breekbaars daarin, moet die situasie versigtig hanteer word. Hier is ’n paar wenke wat dalk nuttig kan wees.

Bespreek die saak met jou ouers of met ’n ryp Christen in die gemeente. Hulle kan jou dalk help om vas te stel of jou verwagtinge miskien so ’n bietjie onrealisties is.

Wees duidelik en reguit. Laat hom sonder enige twyfel weet hoe jy voel. Jy sal die meeste voornemende kêrels afskrik as jy bloot “nee dankie” sê. As dit nodig is, moet jy jou saak sterker stel, soos byvoorbeeld: “Ek is jammer, maar ek stel regtig nie belang nie.” Wees versigtig om nie die indruk te skep dat jy dalk van besluit sal verander as hy ’n bietjie harder probeer nie. As jy duidelik vir hom sê dat jy geen romantiese gevoelens vir hom het nie, sal dit verhoed dat hy enigsins onseker is en sal dit vir hom makliker wees om sy teleurstelling te verwerk.

Bewaar die ewewig tussen eerlikheid en takt. Spreuke 12:18 sê: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke.” Hoewel dit belangrik is om openhartig te wees, sê die Bybel dat ons woorde “aangenaam [moet] wees, smaaklik gemaak met sout”.—Kolossense 4:6.

Bly by jou besluit. Welmenende vriende, wat waarskynlik min weet omtrent die redes vir jou besluit, oefen dalk druk op jou uit om die verhouding ’n tweede kans te gee. Maar uiteindelik moet jy met jou besluit saamleef—nie jou welmenende vriende nie.

Tree op in ooreenstemming met jou woorde. Vroeër was die twee van julle dalk goeie vriende, en dit is net normaal om te wens dat dinge weer soos vroeër kan wees. Maar dit is gewoonlik nie prakties of moontlik nie. Sy gevoelens vir jou het romanties begin word. Is dit realisties om te dink dat hy eenvoudig daardie gevoelens kan ignoreer en maak asof niks gebeur het nie? Hoewel dit vir julle klaarblyklik beter is om mekaar vriendelik te behandel, sal dit net sy ellende vererger as julle gereeld oor die telefoon gesels of baie tyd saam by gesellighede deurbring. Dit kan daarop neerkom dat jy met sy emosies speel, en dit sal nie bedagsaam van jou wees nie.

Die apostel Paulus het Christene aangespoor om met mekaar ‘die waarheid te spreek’ (Efesiërs 4:25). Dit is dalk nie maklik nie, maar dit kan julle albei help om met julle lewe voort te gaan.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Hoewel hierdie artikel aan jong vroue gerig word, is die beginsels ook op jong mans van toepassing.

c Die gevare om afsprake te maak terwyl jy te jonk is, is in ons nommer van 22 Januarie 2001 bespreek.

d Sien die artikel “Jongmense vra . . . Moet ons die verhouding verbreek?” wat in die Ontwaak! van 22 Julie 1988 verskyn het.

[Lokteks op bladsy 13]

Jy kan nie romantiese liefde vir sommer enigiemand hê nie

[Prent op bladsy 14]

Wees duidelik en reguit wanneer jy jou gevoelens uitspreek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel