Die raaisel van Brittanje se huismossies
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
DIE alomteenwoordige huismossie, met sy bekende getjirp, is al lank ’n algemene gesig in Brittanje. Maar nou verdwyn hulle—dikwels skielik—in stedelike gebiede, en niemand weet waarom nie. Die Londense koerant Independent het ’n prys van £5 000 (R53 000) uitgeloof vir die eerste wetenskaplike verhandeling deur enigiemand wat die raaisel kan oplos. Die Koninklike Genootskap vir die Beskerming van Voëls en die Britse Afdeling vir Voëlkunde sal die beoordelaars wees. Die projek sal na verwagting twee jaar duur.
Opnames toon dat dorpe en stede regoor die land ’n rampspoedige afname in die aantal huismossies ondervind het. In sommige gebiede het hulle heeltemal verdwyn. Mossies is nogtans volop in ander Europese stede, soos Parys en Madrid. Dr. Denis Summers-Smith, wêreldberoemde kenner van huismossies, sê: ‘Dit is seker een van die natuur se merkwaardigste raaisels die afgelope 50 jaar.’
Die 65 persent afname in mossiebevolkings in plattelandse gebiede is vermoedelik grotendeels te wyte aan intensiewe boerdery. Ander voëlsoorte het dieselfde ernstige afnames in plattelandse gebiede ondervind. Maar dit verduidelik nie waarom huismossies met 92 persent in stedelike gebiede afgeneem het nie. Die omgewingsdeskundige Michael McCarthy sê dat die drastiese afname in huismossies “beslis toon dat daar iets ernstigs in die mossie se ekosisteem verkeerd geloop het—en moontlik in ons s’n ook”. Ons sal nog moet sien wat presies verkeerd is en hoe ernstig dit is.