Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 12/8 bl. 7-10
  • Op soek na die lekker lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op soek na die lekker lewe
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Wat het julle vroeër jare gedoen . . . ?’
  • Najaging van plesier
  • Te veel vermaak
  • ‘Nie alles wat blink is . . . ’
  • ’n Merkwaardige verandering ten goede
    Ontwaak!—1999
  • ‘Die ingrypendste veranderinge’
    Ontwaak!—1999
  • Toerisme—’n wêreldwye bedryf
    Ontwaak!—2002
  • Te vroeg of te laat?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 12/8 bl. 7-10

Op soek na die lekker lewe

“Namate ons dieper in die twintigste eeu in beweeg het, is die daaglikse lewe van baie mense . . . deur wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang verander.”—The Oxford History of the Twentieth Century.

EEN van die groot veranderinge in hierdie era hou verband met bevolking. Nog nooit tevore was daar so ’n skerp toename in die wêreldbevolking nie. In die vroeë 1800’s het dit ongeveer eenmiljard bereik en ongeveer 1,6 miljard teen 1900. In 1999 het die wêreldbevolking sesmiljard bereik! En al hoe meer van hierdie groeiende bevolking wil die sogenaamde goeie dinge in die lewe hê.

Vooruitgang in die geneeskunde en die feit dat gesondheidsorg makliker beskikbaar is, het tot hierdie bevolkingsaanwas bygedra. Die gemiddelde lewensverwagting in plekke soos Australië, Duitsland, Japan en die Verenigde State het toegeneem—van onder 50 jaar aan die begin van die eeu tot ver oor die 70 jaar vandag. Maar hierdie positiewe verandering is nie so duidelik op ander plekke nie. Mense in ten minste 25 lande het nog steeds ’n lewensverwagting van 50 jaar of minder.

‘Wat het julle vroeër jare gedoen . . . ?’

Dit is soms moeilik vir jongmense om te verstaan hoe hulle voorouers klaargekom het sonder vliegtuie, rekenaars, televisies—dinge wat die meeste mense vandag as vanselfsprekend aanvaar en deur mense in ryker lande selfs as noodsaaklikhede beskou word. Dink byvoorbeeld hoe die motor ons lewe verander het. Dit is teen die einde van die 19de eeu uitgevind, maar Time het onlangs gesê: “Die motor is een van die uitvindsels wat die karakter van die 20ste eeu van begin tot einde bepaal het.”

In 1975 is daar geskat dat elke tiende persoon in die Europese arbeidsmark werkloos sal wees as motors skielik moes verdwyn. Benewens die uitwerking wat dit natuurlik op die motorbedryf self sal hê, sal banke, winkelsentrums, padkafees en ander instellings wat van kliënte met motors afhanklik is hulle deure moet sluit. As boere nie meer hulle produkte by die mark kan kry nie, sal voedselverspreidingstelsels uiteindelik tot stilstand kom. Stadswerkers wat in die voorstede woon, sal nie by hulle werk kan kom nie. Snelweë wat die landskap deurkruis, sal in onbruik raak.

Ten einde meer motors te vervaardig en koste te besnoei, is monteerbane, wat nou in die meeste bedrywe algemeen is, vroeg in hierdie eeu in gebruik geneem. (Monteerbane het die massaproduksie van ander produkte, soos kombuistoestelle, moontlik gemaak.) Teen die eeuwisseling was die perdlose rytuig ’n rykmanspeelding in net ’n paar lande, maar dit is nou in groot dele van die wêreld Jan Alleman se vervoermiddel. Soos een skrywer dit gestel het: “Dit is amper onmoontlik om jou die lewe in die laat 20ste eeu sonder motors voor te stel.”

Najaging van plesier

Mense het vroeër jare gereis omdat hulle na ’n sekere plek moes gaan. Maar gedurende die 20ste eeu het dinge verander—veral in ontwikkelde lande. Namate al hoe meer goed besoldigde betrekkings beskikbaar geword het en namate die werkweek na 40 uur of minder gekrimp het, het mense die geld en die tyd gehad om te reis. Mense kon nou gaan waar hulle wou gaan. Motors, busse en vliegtuie het dit makliker gemaak om in verafgeleë plekke te gaan vakansie hou. Massatoerisme het ’n groot bedryf geword.

Volgens The Times Atlas of the 20th Century het toerisme “’n dramatiese impak op die lande wat toeriste ontvang sowel as op hulle tuislande gehad”. Die impak was soms negatief. Toeriste het al te dikwels bygedra tot die vernietiging van die einste besienswaardighede waarna hulle kom kyk het.

Mense het nou ook meer tyd om aan sport deel te neem. Baie het deelnemers geword; ander was tevrede om entoesiastiese en soms lawaaierige ondersteuners van hulle gunstelingspanne en -atlete te word. Met die koms van televisie het sportgebeure vir byna almal toeganklik geword. Plaaslike sowel as internasionale sportgebeure het honderdmiljoene entoesiastiese televisiekykers gelok.

“Die sport- en rolprentbedryf het vorm gegee aan die massavermaaklikheidsbedryf, wat nou een van die wêreld se grootste werkverskaffers en winsgewendste bedrywe is”, sê The Times Atlas of the 20th Century. Mense spandeer elke jaar miljarde rande aan vermaak, insluitende dobbelary, ’n gunstelingvorm van vermaak vir baie mense. ’n Studie in 1991 het byvoorbeeld getoon dat dobbelary die Europese Gemeenskap se 12de grootste bedryf is, met ’n jaarlikse omset van ten minste R350 miljard.

Namate sulke vorme van ontspanning saai geword het, het mense op nuwe maniere opwinding begin soek. Soveel mense het byvoorbeeld teen die middelnegentigerjare met dwelms geëksperimenteer dat die dwelmbedryf ongeveer driebiljoen rand per jaar werd was, wat dit volgens een bron “die winsgewendste bedryf ter wêreld” maak.

Te veel vermaak

Tegnologie het gehelp om die wêreld in ’n globale dorp te verander. Politieke, ekonomiese en kulturele veranderinge beïnvloed mense nou amper oombliklik regoor die wêreld. “Daar was ongetwyfeld ander tydperke waarin daar sulke epogmakende omwentelinge was”, het professor Alvin Toffler, skrywer van Future Shock, in 1970 gesê. Hy het bygevoeg: “Maar hierdie skokke en omwentelinge was tot binne die grense van een of ’n groep aangrensende gemeenskappe beperk. Dit het geslagte, selfs eeue, geneem voordat die impak daarvan buite hierdie grense uitgebrei het. . . . Vandag is die netwerk van sosiale bande so nou verweef dat die gevolge van hedendaagse gebeure onmiddellik regoor die wêreld gevoel word.” Satelliettelevisie en die Internet het ook ’n rol daarin gespeel om mense regoor die wêreld te beïnvloed.

Party sê dat televisie die invloedrykste medium van die 20ste eeu was. ’n Skrywer het gesê: “Hoewel party mense die inhoud van televisie kritiseer, betwis niemand die krag daarvan nie.” Maar televisie is niks beter as die mense wat die programme maak nie. Saam met die krag om mense ten goede te beïnvloed, het dit dus ook die krag om mense ten kwade te beïnvloed. Oppervlakkige programme wat vol geweld en onsedelikheid is, het party mense gegee wat hulle wil sien, maar hierdie programme het nie menseverhoudinge verbeter nie en het dit alte dikwels laat agteruitgaan.

In sy boek Amusing Ourselves to Death noem Neil Postman nog ’n gevaar: “Die probleem is nie dat televisie ons vermaak aanbied nie, maar dat alles daarop as vermaak aangebied word . . . Ongeag wat uitgebeeld word of uit watter oogpunt dit benader word, die algemene veronderstelling is dat dit daar is vir ons vermaak en plesier.”

Namate plesier al hoe belangriker vir mense geword het, het geestelike waardes en sedes vinnig agteruitgegaan. “Gedurende die 20ste eeu het georganiseerde godsdiens in groot dele van die wêreld sy krag verloor”, sê The Times Atlas of the 20th Century. Terwyl mense se geestelikheid afgeneem het, het hulle baie groter waarde aan die najaging van plesier begin heg as wat dit eintlik verdien.

‘Nie alles wat blink is . . . ’

Die 20ste eeu word deur baie positiewe veranderinge gekenmerk, maar soos die spreekwoord lui: “Dis nie alles goud wat blink nie.” Hoewel mense by ’n verlengde lewensverwagting baat gevind het, het die toename in die wêreldbevolking ontsaglike nuwe probleme geskep. Die tydskrif National Geographic het onlangs gesê: “Die bevolkingsaanwas is met die aanbreek van die nuwe millennium moontlik die dringendste kwessie wat ons die hoof moet bied.”

Motors is nuttig en dit is lekker om een te hê, maar dit is ook dodelik, soos bewys word deur die nagenoeg kwartmiljoen mense wat elke jaar weens motorongelukke sterf. En motors veroorsaak ook baie besoedeling. Die skrywers van 5000 Days to Save the Planet sê dat besoedeling “nou wêreldwyd voorkom en die lewensvatbaarheid van ekosisteme van pool tot pool vernietig of ondermyn”. Hulle verduidelik: “Ons het nie net die ekosisteme beskadig nie, maar versteur nou ook die einste prosesse wat die Aarde ’n geskikte plek vir hoër lewensvorme maak.”

Gedurende die 20ste eeu het besoedeling ’n probleem geword wat in vorige eeue heeltemal ongekend was. “Tot onlangs nog het niemand gedink dat die optrede van mense die wêreld op ’n aardwye skaal kan beïnvloed nie”, sê National Geographic. “Nou glo party wetenskaplikes dat sulke veranderinge vir die eerste keer in die opgetekende geskiedenis plaasvind.” Dan waarsku dit: “Die gesamentlike impak van die mensdom [op die omgewing] is van so ’n aard dat grootskaalse uitsterwing binne een mensegeslag kan plaasvind.”

Die 20ste eeu was inderdaad uniek. Mense wat met ongeëwenaarde geleenthede geseën is om die lekker lewe te geniet, vind nou dat die lewe self bedreig word!

[Tabel/Prente op bladsy 8, 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

1901

Marconi stuur die eerste transatlantiese radiosein

1905

Einstein publiseer sy spesiale relatiwiteitsteorie

1913

Ford open sy Model-T-motormonteerbaan

1941

Kommersiële TV word gebore

1969

Die mens loop op die maan

Massatoerisme word ’n groot bedryf

Die Internet word al hoe gewilder

1999

Die wêreldbevolking bereik sesmiljard

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel