Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 11/22 bl. 5-8
  • Stel die verslae op die proef

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stel die verslae op die proef
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Engele is nie wat baie glo hulle is nie
  • Engele stel belang in ons geestelike welstand
  • Getroue engele weerspreek nie God se Woord nie
  • “Aandag alle engele!”
  • In die naam van engele
  • Hoe engele jou kan help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Engele—Beïnvloed hulle jou lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wie of wat is engele?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die engele—“Geeste vir openbare diens”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 11/22 bl. 5-8

Stel die verslae op die proef

MENSE reageer op verskeie maniere op hedendaagse verslae van ontmoetings met engele. Eerstens is daar dié wat dit glo. Hulle redeneer dat sulke verslae waar moet wees, aangesien daar so baie van hulle is en dit so wydverspreid voorkom. Tweedens is daar die skeptici. Hulle wys daarop dat daar geen gegronde bewyse is om die bewerings te staaf nie. Volgens hulle is iets nie waar net omdat baie mense dit glo nie. Mense het immers vroeër aan meerminne geglo. Derdens is daar dié wat neutraal bly. Die boek Angels—Opposing Viewpoints druk hierdie neutrale beskouing só uit: “Baie mense sê dat hulle engele gesien het. Hierdie waarnemings kan nie bewys word nie; mense glo dit op grond van geloof. Maar skeptici kan dit ook nie verkeerd bewys nie, en min probeer om dit te doen.”

Baie mense stem saam dat die Bybel ’n betroubare bron van inligting oor die geesteryk is.a Dit kan ons help om hedendaagse verslae oor engele te beoordeel. Soos jy waarskynlik weet, verseker die Bybel ons dat engele werklike, magtige, glorieryke geesskepsele is. Die Bybel bevat verslae van engele wat boodskappe oorgedra het en wat God se knegte uit gevaar gered het.—Psalm 104:1, 4, NW; Lukas 1:26-33; Handelinge 12:6-11.

Die Bybel sê ook dat daar bose engele is. Hierdie geesskepsele bedrieg en mislei mense en keer hulle van God af weg (2 Korintiërs 11:14). Die Bybel waarsku heel tereg: “Moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het” (1 Johannes 4:1). Voordat ons byvoorbeeld die voorspellings sal glo van iemand wat homself ’n profeet noem, sal dit verstandig wees as ons sy woorde opweeg teen God se Woord, wat hy moontlik sê hy verteenwoordig. Ons moet beslis verwag dat die hedendaagse verslae van engeleverskynings dieselfde toets sal moet deurstaan. Hoe vergelyk verslae van hedendaagse ontmoetings met engele dus met wat in die Skrif opgeteken is?

Engele is nie wat baie glo hulle is nie

Laat ons begin deur twee algemene wanopvattings oor engele op te klaar. In teenstelling met die algemene opvatting het engele nie hulle lewe as mense begin nie. Hulle het lank voor God lewe op aarde geskep het in die hemel bestaan. Die Bybel sê dat “al die [engele]seuns van God gejuig het” toe hy “die aarde gegrond het”.—Job 38:4-7.

’n Ander hedendaagse wanopvatting is dat engele toegeeflik en verdraagsaam is wat oortreding betref. Getroue engele handhaaf eerder God se regverdige standaarde en tree volgens sy riglyne op. Hulle dien God, nie mense nie.—Psalm 103:20.

Engele stel belang in ons geestelike welstand

Hedendaagse verhale oor engele sluit talle verslae van reddingspogings in. In een trefferboek lees ons van ’n jong meisie wat sagkens deur ’n onsigbare hand uit ’n brandende huis gelei word. ’n Ander boek vertel van twee universiteitstudente wat in ’n sneeustorm gestrand was. Skielik verskyn ’n vragmotor en sleep hulle motor na veiligheid, maar dit laat geen spore nie! Elders word ’n ander verhaal vertel van Ann, wat kanker het. Drie dae voordat sy vir ’n operasie hospitaal toe sou gaan, kom ’n lang vreemdeling na haar huis toe. Hy stel homself as Thomas voor en sê dat hy deur God gestuur is. Thomas lig sy hand op, en Ann voel ’n warm, wit lig deur haar liggaam gaan. Wanneer sy vir haar operasie gaan, is die dokters stomgeslaan. Haar kanker is weg!

Hierdie verslae laat ’n voor die hand liggende vraag ontstaan: As almal ’n beskermengel het, waarom word party mense dan gered en baie nie? Miljoene der miljoene het al gesterf weens siekte, oorloë, hongersnode en natuurrampe. Baie het ongetwyfeld ernstig om hulp gebid. Waarom het ’n beskermengel hulle nie gered nie?

Die Bybel kan ons help om hierdie vraag te beantwoord. Dit wys daarop dat God nie partydig is nie (Handelinge 10:34). Wat meer is, al stel God se lojale engele in ons fisiese welstand belang, stel hulle meer in ons geestelike welstand belang. Die apostel Paulus het dit in die vorm van ’n vraag te kenne gegee: “Is [engele] nie almal geeste vir openbare diens, wat uitgestuur word om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf nie?” (Hebreërs 1:14). Fisiese hulp hou tydelike voordele in, maar geestelike hulp kan ewige voordele inhou.

Baie verslae oor engele klink ligsinnig. Daar word beweer dat engele ’n moeë moeder help om ’n bed oor te trek, iemand wat inkopies doen daaraan herinner om vuurhoutjies te koop en dat hulle motorbestuurders help om ’n parkeerplek te vind. ’n Jong vrou in Skotland sê giggelend: “Ek parkeer my motor al die afgelope drie weke op ’n geel streep in St. Mary-straat, en ek het my engel gevra om dit met liefde en medelye te omring. As enige verkeerskonstabel wel daar aankom, sal hy so oorweldig word deur gevoelens van liefde dat hy my motor sal uitlos. Ek het tot nou toe nog nie ’n kaartjie gekry nie.” Dit is geen wonder dat party die hedendaagse beskermengel met ’n goeie feetjie of ’n Vader Kersfees vir grootmense vergelyk nie.

Getroue engele weerspreek nie God se Woord nie

Boeke oor engele is vol spreekwoorde en raad wat kwansuis uit die geesteryk kom. Byvoorbeeld, een boek bevat glo leringe wat die aartsengel Migael aan ’n vrou in Colorado, VSA, oorgedra het. Die volgende is van Migael se “woorde”: “Alle weë lei na God. Alle opvattings, alle waarhede van lig lei na God.” In teenstelling hiermee het Jesus gesê dat daar net twee godsdiensweë is en dat net een daarvan na God se guns en die ewige lewe lei. Die ander lei na afkeuring en ewige vernietiging (Matteus 7:13, 14). Dit is duidelik dat hierdie stellings nie albei waar kan wees nie.

Wat is die “engele” van “die nuwe geestelikheid” se beskouing oor die huwelik en sedelikheid? In een boek lees ’n mens van Roseann, wie se “engel” vir haar gesê het: “Jy moet baie mense bereik, en jou lewensweg is nie meer om by [jou man] te wees nie. Jy is lief vir hom, en hy is lief vir jou, maar dit is tyd om uitmekaar te gaan.” Sy het ’n egskeiding gekry. Maar die Bybel toon dat God dit haat wanneer mense sonder grondige redes skei (Maleagi 2:16). ’n Ander verslag vertel van ’n paartjie wat egbreuk pleeg en vas glo dat die engele dit met vreugde aanskou en hulle met ’n aura omring. Maar die Bybel sê: “Jy mag nie egbreek nie.”—Exodus 20:14.

Kan dit wees dat hierdie hedendaagse boodskappe die Bybel op datum bring? Nee, God se Woord verander nie. Die apostel Paulus het in die eerste eeu aan sommige geskryf: “Ek verwonder my dat julle so gou verwyder word van die Een wat julle met Christus se onverdiende goedhartigheid geroep het, na ’n ander soort goeie nuus toe. Maar dit is nie ’n ander nie; dit is net dat daar sommige is wat julle verontrus en die goeie nuus oor die Christus wil verdraai. Maar selfs al sou ons of ’n engel uit die hemel aan julle iets as goeie nuus bekend maak benewens dit wat ons aan julle as goeie nuus bekend gemaak het, laat hom vervloek wees.”—Galasiërs 1:6-8.

“Aandag alle engele!”

Moet ons engele om hulp vra wanneer ons met probleme of gevare in die lewe te kampe het? Baie boeke handel hieroor. Hier is twee voorbeelde. Die boek Ask Your Angels leer lesers blykbaar ‘hoe hulle van engele se mag gebruik kan maak om weer met hulle verlore innerlike in voeling te kom en hulle doelwitte te bereik’. Nog so ’n boek is Calling All Angels!: 57 Ways to Invite an Angel Into Your Life.

Die Bybel moedig ons egter nooit aan om engele aan te roep nie. In die modelgebed het Jesus hierdie punt baie duidelik gestel. Hy het gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele . . . ’” (Matteus 6:9). Die apostel Paulus het eweneens geskryf: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.”—Filippense 4:6.

In die naam van engele

“Die nuwe geestelikheid” beskou dit as baie belangrik om engele se name te leer ken. Gewilde boeke gee die veronderstelde name van duisende engele aan. Waarom? Nie om blote nuuskierigheid te bevredig nie, maar om hulle te roep. Dit hou baie nou met toorkuns verband. Die Encyclopedia of Angels sê dat “die gebruik van ‘name van mag’, oftewel spesifieke geeste se name”, tesame met rituele, magiese voorwerpe en aanroepings, “kragtige vibrasies veroorsaak wat die deur tussen die fisiese ryk en die ryk van die geeste laat oopgaan, wat die towenaar in staat stel om . . . met geeste te kommunikeer”. Maar die Bybel sê onomwonde: “Julle mag geen toorkuns beoefen nie.”—Levitikus 19:26, NW.

Die Bybel self openbaar die name van net twee getroue engele, Migael en Gabriël (Daniël 12:1; Lukas 1:26). Deur hierdie name te gee, toon die Bybel dat elke engel ’n unieke geespersoon is. Waarom is daar nie meer name gegee nie? Die rede was heel waarskynlik om te voorkom dat mense engele tot ’n posisie van oormatige eer verhef—iets wat die engele hulleself nie eers aanmatig om na te streef nie. Toe Jakob ’n engel gevra het wat sy naam is, het die engel dus geweier om te sê wat dit is (Genesis 32:29). Later het die engel wat aan Josua verskyn het, nie gesê wat sy naam is nie, maar homself die “leërowerste van die HERE” genoem (Josua 5:14). Toe Simson se vader ’n engel gevra het wat sy naam is, het hy eweneens vir hom gesê: “Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is?” (Rigters 13:17, 18). God se getroue engele wil hê dat ons God moet eer en hom moet aanroep, nie hulle nie.

[Voetnoot]

a Sien die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir inligting wat toon waarom die Bybel ’n betroubare bron is.

[Lokteks op bladsy 6]

“Vir diegene wat te swaar sluk aan God en sy reëls, . . . is [New Age-]engele ’n goeie alternatief . . . vriendelik, nieveroordelend. En hulle is, soos aspirien, vir almal beskikbaar.”—Die tydskrif Time

[Venster op bladsy 5]

Hedendaagse “ontmoetings” met engele en buiteaardse wesens

Baie mense sê vandag dat hulle engele gesien het en met hulle gepraat het. Ander sê dat hulle buiteaardse wesens ontmoet het. Die boek Angels—An Endangered Species noem die ooreenkomste tussen hierdie verslae en sê dat hulle moontlik ’n gemeenskaplike verduideliking het.b Hieronder volg ’n opsomming van ’n paar ooreenkomste wat in die boek genoem word.

1. Engele sowel as buiteaardse wesens kom uit ander wêrelde.

2. Albei groepe is gevorderde lewensvorme, hetsy in geestelike of tegnologiese sin.

3. Die vriendelike soort lyk jonk en aantreklik, en hulle is goedhartig en vol medelye.

4. Albei groepe is goed met tale en praat duidelik in die taal van die luisteraar.

5. Albei groepe kan baie goed vlieg.

6. Verskynings van engele sowel as van buiteaardse wesens gaan gepaard met helder lig.

7. Hulle verskyn ten volle geklee, gewoonlik in mantels of noupassende tunieke. Wit of blou is gewilde kleure.

8. Hulle is gewoonlik net so lank soos mense.

9. Albei groepe sê dat hulle besorg is oor die benarde toestand van die mens en die planeet.

10. Die bewyse van ontmoetings met buiteaardse wesens sowel as engele is die getuienis van dié wat dit beleef het.

[Voetnoot]

b Albei verskynsels kan verduidelik word deur die feit dat bose geeste, oftewel demone, klaarblyklik agter baie van hierdie “ontmoetings” sit. Soos die Bybel sê: “Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander” (2 Korintiërs 11:14).—Sien die Ontwaak! van 8 Julie 1996, bladsy 26.

[Prent op bladsy 7]

Die Bybel bevat ware verslae van engele wat aan mense verskyn het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel