Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 10/8 bl. 18-19
  • Hoe om ’n huweliksmaat te kies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om ’n huweliksmaat te kies
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kyk dieper as die uiterlike
  • ‘Trou net in die Here’
  • Gereëlde huwelike
  • Goddelike leiding om ’n huweliksmaat te kies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Die huwelik—’n gawe van ’n liefdevolle God
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Die huwelik – ’n Gawe van God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Die huwelik kan slaag in vandag se wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 10/8 bl. 18-19

Die Bybelse beskouing

Hoe om ’n huweliksmaat te kies

’N ONGETROUDE VROU IS GEVRA: “DINK JY OOIT DAARAAN OM TE TROU?” “DINK?” HET SY VINNIG GEANTWOORD. “EK BEKOMMER MY DAAROOR.”

HIERDIE vrou se bondige antwoord spreek boekdele oor party mense se begeerte na liefde en kameraadskap. Baie sê dat dit een van die belangrikste dinge in die lewe is om ’n huweliksmaat te vind. Gevolglik is daar regoor die wêreld ’n vinnige opbloei van dienste wat hulle daarop toelê om mense te help om ’n huweliksmaat te vind. Nogtans is die aantal mislukte huwelike in baie dele van die wêreld veel meer as die aantal wat suksesvol is.

In Westerse lande kies mense gewoonlik hulle eie huweliksmaat. Aan die ander kant is gereëlde huwelike nog steeds die tradisie in sommige dele van Asië en Afrika. In albei gevalle moet die proses nie ligtelik opgeneem word nie. Min ander besluite wat die mens in sy lewe neem, het soveel potensiaal om hom gelukkig of ongelukkig te maak. ’n Liefdevolle huwelik kan uiters verrykend en sinvol wees. In teenstelling hiermee kan ’n huwelik tussen twisgierige mense ’n voortdurende bron van pyn en spanning wees.—Spreuke 21:19; 26:21.

Ware Christene, soos ander, wil hê dat hulle huwelik ’n bron van vreugde en tevredenheid moet wees. Maar hulle wil God ook gelukkig maak en hom eer (Kolossense 3:23). God, wat die Skepper en die Insteller van die huwelik is, weet baie goed wat ons werklike behoeftes is en wat die beste vir ons is (Genesis 2:22-24; Jesaja 48:17-19). Buitendien, hy het gedurende die millenniums van die mens se bestaan al miljoene der miljoene huwelike gesien, goed en sleg. Hy weet wat werk en wat nie (Psalm 32:8). Deur sy Woord, die Bybel, sit hy duidelike, spesifieke beginsels uiteen wat enige Christen kan help om ’n ingeligte keuse te maak. Wat is van hierdie beginsels?

Kyk dieper as die uiterlike

Waar mense vry is om te kies met wie hulle wil trou, ontmoet hulle potensiële huweliksmaats dalk toevallig of word hulle deur vriende of familielede aan mekaar voorgestel. Fisiese aantrekkingskrag gee dikwels aanleiding tot romantiese belangstelling. Hoewel dit ongetwyfeld ’n natuurlike en sterk dryfveer is, moedig die Bybel ons aan om dieper as net die uiterlike te kyk wanneer ons daaraan dink om te trou.

“Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ’n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word”, sê Spreuke 31:30. Die apostel Petrus het gepraat van “die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees . . . , wat in die oë van God van groot waarde is” (1 Petrus 3:4). Ja, die geestelike eienskappe van ’n toekomstige maat—daardie persoon se toegewydheid aan God en liefde vir God sowel as sy of haar Christelike persoonlikheid—is baie belangriker as uiterlike aantreklikheid. Dit is noodsaaklik om tyd te neem om ’n objektiewe keuse te maak, om iemand te kies wat dieselfde geestelike doelwitte as jy het en wat ook probeer om die vrugte van God se gees te openbaar. Dit sal grootliks tot ’n gelukkige huwelik bydra.—Spreuke 19:2; Galasiërs 5:22, 23.

‘Trou net in die Here’

Dit is baie belangrik dat jy en die persoon met wie jy wil trou gemeenskaplike doelwitte en opvattings het. Die huwelik is ’n groot uitdaging, wat vereis dat albei partye baie aanpassings in hulle gedrag en gesindheid moet maak. Hoe meer jy en jou toekomstige huweliksmaat reeds in gemeen het, hoe makliker sal daardie aanpassings natuurlik wees.

Dit help ons om te sien waarom die apostel Paulus Christene gemaan het om nie “saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk” te kom nie (2 Korintiërs 6:14). Paulus het geweet dat dit tot konflik en onenigheid kan lei as ’n mens met iemand trou wat nie dieselfde geloof en begrip van Bybelbeginsels as jy het nie. Die vermaning om ‘net in die Here te trou’, is redelik (1 Korintiërs 7:39). Dit weerspieël God se beskouing. Diegene wat dit wyslik volg, vermy talle ernstige komplikasies en probleme.—Spreuke 2:1, 9.

Gereëlde huwelike

Wat van gebiede waar gereëlde huwelike nog steeds die tradisie is? In die suide van Indië het sommige byvoorbeeld geskat dat 80 persent van alle huwelike deur die ouers gereël word. Of Christenouers hierdie tradisie volg of nie, is ’n persoonlike besluit. In elk geval, die beste manier om sulke huwelike te reël, is om geestelike waardes eerste te stel.

Diegene ten gunste van gereëlde huwelike voel dat dit die besluit aan ervare en ryp mense oorlaat. “Sommige ouers voel dat dit nie aan hulle kinders oorgelaat kan word om die geestelike rypheid van ’n toekomstige huweliksmaat reg te beoordeel nie omdat hulle nog jonk en onervare is”, sê ’n Christen- ouer man in Afrika. “Jongmense het min lewensondervinding en neem dalk besluite op grond van hulle emosies”, voeg ’n reisende bedienaar van Indië by. Aangesien ouers hulle kinders se persoonlikheid beter as enigiemand anders ken, meen hulle dat hulle in ’n unieke posisie is om ’n wyse keuse namens hulle kinders te maak. Dit sal ook wys wees as hulle die jong man en vrou se mening in ag neem.

Maar wanneer ouers Bybelbeginsels ignoreer, sal hulle dalk op die ou end die gevolge moet dra as die huwelik later probleme ondervind. Omdat daar dikwels min tyd is vir die toekomstige huweliksmaats om mekaar voor die tyd goed te leer ken, kan probleme ontstaan. En wanneer dit wel gebeur, verduidelik ’n Christenvader in Indië, “is hulle geneig om die ouers daarvoor te blameer”.

Christenouers wat ’n huwelik reël, moet ook oor hulle beweegredes nadink. Probleme ontstaan wanneer materialistiese doelwitte of ’n begeerte na aansien die keuse van ’n huweliksmaat bepaal (1 Timoteus 6:9). Daarom moet diegene wat ’n huwelik reël hulle afvra: ‘Maak ek hierdie keuse om die geluk en geestelike gesondheid van die twee partye te verseker? Of is dit eerder om groter status of rykdom vir die gesin te verwerf of om op die een of ander manier finansieel daaruit voordeel te trek?’—Spreuke 20:21, NW.

Die Bybel se raad is duidelik en nuttig. Wanneer ’n huweliksmaat gekies word, moet die deugsaamheid en geestelikheid van die toekomstige maat altyd die belangrikste oorweging wees, ongeag hoe die keuse gemaak word. Wanneer dit gedoen word, word Jehovah God, die Insteller van die huweliksreëling, geëer en diegene wat trou, kan die huwelik op ’n vaste, geestelike fondament bou (Matteus 7:24, 25). Dit sal grootliks tot ’n gelukkige, verrykende huwelik bydra.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel