Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 9/8 bl. 3
  • Gene, DNS en jy

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gene, DNS en jy
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe die geheim ontrafel is
  • Waarom jy “jy” is
    Ontwaak!—1995
  • Wat sit agter die geheim van die lewe?
    Ontwaak!—1999
  • ’n Kykie deur die mikroskoop
    Ontwaak!—1999
  • Jou selle​—⁠Lewende biblioteke!
    Ontwaak!—2015
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 9/8 bl. 3

Gene, DNS en jy

KYK goed na jouself in die spieël. Kyk na die kleur van jou oë, die tekstuur van jou hare, jou velkleur en jou liggaamsbou. Dink aan die talente wat jy het. Waarom lyk jy soos jy lyk? Waarom het jy sekere eienskappe en talente? Vandag word daar lig gewerp op die geheim danksy ’n begrip van genetika—die studie van erflikheid—en die invloed van die omgewing.

‘Genetika?’ ag nee. ‘Daardie onderwerp klink te wetenskaplik en te moeilik om te verstaan!’ Maar het jy al ooit vir iemand gesê dat sy haar pa se groen oë en haar ma se rooi hare en sproete het? Dan ken jy alreeds ’n basiese feit van genetika—fisiese eienskappe word van ouers na kinders oorgedra. Hierdie feit kan jou ook help om te verstaan hoe die mens hier gekom het—deur evolusie of deur die skepping. Kom ons kyk eerstens hoe elkeen van ons die oorerflike eienskappe van baie geslagte saam met ons dra.

Jou liggaam bestaan uit klein lewende eenhede wat selle genoem word—ongeveer 100 biljoen selle volgens een skatting. Binne-in die kern van elke sel is daar duisende gene. Hulle is individuele eenhede van oorerwing wat die sel beheer en gevolglik sommige van jou eienskappe bepaal. Baie van die gene sal moontlik jou bloedgroep bepaal; ander die tekstuur van jou hare, die kleur van jou oë, ensovoorts. Elke sel bevat dus ’n miniatuurbloudruk of -kodeboek wat uit gene bestaan, waarin al die instruksies is om jou liggaam te bou, te herstel en aan die gang te hou. (Sien diagram, bladsy 5.) Kon dit alles toevallig gebeur het?

Hoe die geheim ontrafel is

Die teorie dat eienskappe deur die bloed oorgeërf word, is in die vierde eeu v.G.J. deur Aristoteles uitgedink en is meer as duisend jaar lank algemeen aanvaar. Dit het die denke van die tyd só beïnvloed dat mense selfs vandag van bloedlyne en bloedfamilie praat.

In die 17de eeu is eierselle en spermselle ontdek, maar hulle ware rol is verkeerd verstaan. Party het gedink dat daar ’n klein, ten volle ontwikkelde wese in die eier of die sperm was. Teen die 18de eeu het navorsers egter tereg besef dat ’n eier en ’n sperm versmelt om ’n embrio te vorm. Maar ’n korrekte verduideliking van erflikheid sou eers later kom.

Dit was eers in 1866 dat ’n Oostenrykse monnik, Gregor Mendel, die eerste korrekte teorie oor erflikheid gepubliseer het. Na aanleiding van sy eksperimente met tuinertjies het Mendel ontdek wat hy “afsonderlike oorerflike elemente” genoem het wat in saadselle voorkom, en hy het aangevoer dat dit verantwoordelik is vir die oordrag van eienskappe. Ons noem hierdie “afsonderlike oorerflike elemente” nou gene.

In omstreeks 1910 is daar ontdek dat gene op selstrukture gevind word wat chromosome genoem word. Chromosome bestaan hoofsaaklik uit proteïen en DNS (deoksiribonukleïensuur). Aangesien wetenskaplikes alreeds bewus was van die belangrike rol van proteïene in ander selfunksies, het hulle baie jare lank aangeneem dat chromosoomproteïene genetiese inligting dra. Toe, in 1944, het navorsers die eerste bewyse voorsien dat gene uit DNS bestaan, en nie proteïen nie.

In 1953, toe James Watson en Francis Crick die chemiese struktuur van DNS, opgedraaide draadagtige molekules, ontdek het, was daar ’n groot deurbraak in die ontrafeling van die geheim van die lewe.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel