Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 8/22 bl. 12-14
  • Hou karakterspeletjies enige gevaar in?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou karakterspeletjies enige gevaar in?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geweld en die okkulte
  • Ander faktore
  • Illusie of werklikheid?
  • Moet ek elektroniese speletjies speel?
    Ontwaak!—2008
  • Moet ek elektroniese speletjies speel?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Moet ek rekenaar- of videospeletjies speel?
    Ontwaak!—1996
  • Is spelers in gevaar?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 8/22 bl. 12-14

Jongmense vra . . .

Hou karakterspeletjies enige gevaar in?

“Dis alles net verbeelding. Eenkeer is jy ’n towenaar. ’n Ander keer is jy ’n kryger. Jy kan enige karakter word wat jy graag wil wees. Daar is geen grense nie.”—Christophe.

“WEES alles wat jy nie kan wees nie.” Een tydskrif het hierdie slagspreuk aangehaal toe dit ’n gewilde verbeeldingspeletjie beskryf het. Vir miljoene jongmense het dit ’n ontsaglike aantrekkingskrag om na die fantasiewêreld van karakterspeletjies te ontvlug. Maar presies wat is karakterspeletjies?

Volgens die boek Jeux de rôle (Karakterspeletjies) “verpersoonlik elke speler ’n legendariese karakter op ’n sending of ’n soektog en berei hy hom voor om ’n avontuur in ’n denkbeeldige wêreld te beleef”. Die doel van die speletjie is om hierdie denkbeeldige karakter te ontwikkel deur die ondervinding op te doen en die geld, wapens of towerkragte te bekom wat nodig is om die sending te voltooi.

Karakterspeletjies het in die sewentigerjare met die speletjie Dungeons and Dragons gewild geword.a Sedertdien het dit ’n bedryf met ’n omset van miljoene rande geword, wat dinge insluit soos bordspeletjies, ruilkaarte, interaktiewe boeke, rekenaarspeletjies en selfs speletjies waarin deelnemers fisies aan avonture deelneem. Daar is blykbaar meer as sesmiljoen gereelde spelers in die Verenigde State en honderdduisende in Europa. In Frankryk het baie hoërskole karakterspeletjieklubs, terwyl dit in Japan die gewildste soort videospeletjie is.

Voorstanders van hierdie speletjies beweer dat dit die verbeelding stimuleer, die vermoë ontwikkel om probleme op te los en interaksie in ’n groep bevorder. Maar teenstanders het hierdie speletjies al met selfmoorde, moorde, verkragtings, grafskendings en Satanisme verbind. In Madrid, Spanje, is twee jeugdiges gearresteer omdat hulle daarvan verdink is dat hulle ’n 52-jarige man doodgemaak het terwyl hulle die scenario van ’n karakterspeletjie uitgevoer het. In Japan het ’n tiener sy ouers doodgemaak en sy polse gesny as die einde van ’n soortgelyke speletjie. Dít is weliswaar uitsonderings—die meeste spelers is intelligent en aangenaam. Maar dit sal goed wees as jong Christene hulle afvra: ‘Is karakterspeletjies vir my? Is daar enige rede om versigtig te wees?’

Geweld en die okkulte

Karakterspeletjies verskil grootliks, wat soort sowel as inhoud betref. Geweld kom nietemin in baie van hierdie speletjies voor, indien nie die meeste nie. Trouens, in die denkbeeldige wêrelde wat hierdie speletjies skep, is geweld dikwels ’n onontbeerlike deel van vooruitgang—of oorlewing. Hoe versoen ’n mens dan deelname aan sulke speletjies met Bybelraad? Spreuke 3:31 sê: “Moenie afgunstig wees op die man van geweld nie, en moet nooit jou gedrag volgens syne vorm nie” (New Jerusalem Bible). Die Bybel spoor ons ook aan om ‘vrede te soek en na te streef’—nie geweld nie.—1 Petrus 3:11.

’n Ander rede tot kommer is die feit dat toorkuns dikwels ’n belangrike rol in baie van die speletjies speel. Spelers kan dikwels towenaars of ander persoonlikhede met towerkragte word. Struikelblokke of vyande word dan dikwels deur okkulte middele uit die weg geruim. Volgens berig “laat [een gewilde speletjie] spelers toe om die rol van Engele of van Demone in die diens van Aartsengele of Demoonprinse aan te neem . . . ’n Heiligskennende ondertoon maak dit vermaaklik.” Een rekenaarspeletjie laat die speler selfs toe om almagtig te word deur eenvoudig die woord “Satan” te tik.

Sommige jong Christene het al geredeneer dat daar niks verkeerd is met karakterspeletjies nie, solank ’n mens nie te veel tyd daaraan bestee nie. “Dis net ’n speletjie”, sê een jong persoon. Miskien wel. Maar God het die Israeliete gewaarsku om nie by die okkulte betrokke te raak nie. Die Wet wat aan Moses gegee is, het bepaal dat ‘iemand wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê vir die HERE ’n gruwel is’.—Deuteronomium 18:10-12.

Sal dit dus wys wees om enige speletjie te speel wat die okkulte bevorder? Kan dit nie daarop neerkom dat ’n mens “die diep dinge van Satan” ondersoek as jy rolle speel van mense met towerkragte nie? (Openbaring 2:24). Een jong persoon erken: “Nadat ek die heeldag lank ’n karakterspeletjie gespeel het, was ek bang om uit die huis uit te gaan. Dit het gevoel of iemand my gaan aanval.” Kan enigiets wat sulke verlammende vrees veroorsaak goed wees?

Ander faktore

“Die oorblywende tyd is kort”, sê 1 Korintiërs 7:29. Gevolglik is ’n ander groot rede tot kommer wat karakterspeletjies betref die tyd wat hierdie speletjies dikwels vereis. Sommige speletjies neem ure, dae of selfs weke om te speel. Daarbenewens kan die rol so boeiend, selfs verslawend, wees dat enigiets anders ondergeskik daaraan word. “Namate ek elke stadium voltooi het”, erken ’n jong persoon, “wou ek moeiliker uitdagings hê wat nader aan die werklikheid is. Ek het werklik daaraan verslaaf geraak.” Watter uitwerking kan so ’n verslawing op ’n jong persoon se skoolwerk en geestelike bedrywighede hê?—Efesiërs 5:15-17.

’n Jong man van Japan vertel: “Ek was altyd besig om te dink aan wat om volgende in die speletjie te doen, selfs wanneer ek nie besig was om te speel nie. By die skool en by vergaderinge het ek net aan die speletjie gedink. Dit het die punt bereik waar ek aan niks anders kon dink nie. My geestelikheid het ’n laagtepunt bereik.” Christophe, wat aan die begin gemeld is, sê dat hy “voeling met die werklikheid” verloor het. Daar is weliswaar ‘’n tyd om te lag en ’n tyd om van vreugde rond te spring’, maar moet ons toelaat dat ontspanning geestelike bedrywighede verdring?—Prediker 3:4.

Dink ook aan die soort gees wat die speletjie bevorder. ’n Tydskrif in Frankryk prys ’n karakterspeletjie met die volgende woorde: “Jy sal ’n verskeidenheid van dekadente, skadelike en verdorwe ondervindinge kan beleef, wat georganiseer en bereken is om jou bloed te laat stol en jou uitkyk op die wêreld vir altyd te verander.” Is so ’n gees in ooreenstemming met die Bybel se raad om “klein kindertjies ten opsigte van slegtheid” te wees? (1 Korintiërs 14:20). Christophe het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat die speletjies wat hy gespeel het “nie met Christelike gedrag verenigbaar is nie”. Hy voeg by: “Ek kon nie aan die bediening deelneem, vergaderinge bywoon en van goeie dinge, soos Christelike liefde, leer terwyl ek ’n rol speel wat niks met Christelikheid te doen het nie. Dit was net nie logies nie.”

Illusie of werklikheid?

Baie jongmense word na hierdie speletjies aangetrek omdat hulle van die werklikheid kan ontvlug. Maar is dit goed om jou in ’n fantasiewêreld te verdiep? Die Franse sosioloog Laurent Trémel sê: “Die regte wêreld, wat deur onsekerheid oor die toekoms oorheers word, . . . vorm ’n groot teenstelling met hierdie virtuele maar uiters realistiese wêrelde, waar jy uiteindelik die reëls bemeester en waar jy ’n karakter kan vorm om soos jy te wees of soos wat jy graag wil wees.” Die geestesgesondheidsdeskundige Etty Buzyn sê verder: “Wanneer jongmense speel, verkeer hulle onder die indruk dat hulle ’n gevaarlike lewe lei, dat hulle die wêreld verander, maar in werklikheid is hulle nie opgewasse teen enige werklike gevaar nie. Hulle ontvlug die samelewing en sy beperkings.”

Sulke ontvlugting kan op die lange duur net tot frustrasie lei, aangesien hulle weer met die werklikhede van die lewe te doen kry sodra die speletjie verby is. Hierdie werklikhede moet uiteindelik die hoof gebied word. Ongeag hoe suksesvol jy is of hoe opwindend die lewe in ’n denkbeeldige rol is, dit sal nooit vir mislukkings of middelmatigheid in die werklike lewe kan vergoed nie. Die wyse ding om te doen, is om die werklikhede van die lewe vierkantig in die oë te kyk! Verskerp jou waarnemingsvermoëns deur werklike situasies die hoof te bied (Hebreërs 5:14). Ontwikkel die geestelike eienskappe wat jou in staat sal stel om jou probleme baas te raak (Galasiërs 5:22, 23). Om dit te doen, is baie bevredigender en lonender as om enige speletjie te speel.

Dit is nie te sê dat alle speletjies waarby rolspel betrokke is skadelik is nie. Reeds in Bybeltye het klein kindertjies speletjies gespeel wat ’n mate van fantasie en rolspel ingesluit het, soos Jesus self gesê het (Lukas 7:32). En Jesus het nie onskuldige ontspanning veroordeel nie. Maar jong Christene, saam met hulle ouers, moet “[aanhou] om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is” (Efesiërs 5:10). Wanneer jy dit oorweeg om ’n speletjie te speel, moet jy jou afvra: ‘Weerspieël dit “die werke van die vlees”? Sal dit my verhouding met God benadeel?’ (Galasiërs 5:19-21). Deur sulke faktore te oorweeg, kan jy ’n wyse besluit oor karakterspeletjies neem.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 Julie 1982, bladsye 26-7.

[Prente op bladsy 13]

Watter soort gees bevorder sommige karakterspeletjies?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel