’n Einde aan die kernbedreiging?
MEER as 40 jaar lank is die wêreld deur ’n kernapokalips bedreig. Toe, in 1989, het die Berlynse Muur geval—’n voorspel tot die val van Sowjet-Kommunisme. Kort daarna het die supermoondhede ooreengekom om nie meer hulle missiele op mekaar te rig nie. Met die kern-“Armageddon” skynbaar afgestel, of ten minste uitgestel, het die wêreld ’n langverwagte sug van verligting geslaak.
Baie deskundiges meen egter dat daar nog glad nie genoeg rede is om fees te vier nie. In 1998 is die beroemde oordeelsdaghorlosie van The Bulletin of the Atomic Scientists vyf minute aangeskuif, tot nege minute voor middernag—’n duidelike teken dat die kernbedreiging nog nie verdwyn het nie.a Toegegee, die wêreldtoneel het verander. Daar is nou nie meer net twee groot kernmoondhede wat mekaar met kernwapens bedreig nie. Daar is nou etlike lande wat kernwapens het! Deskundiges vrees boonop dat dit net ’n kwessie van tyd is voor die een of ander terroristegroep radioaktiewe materiaal in die hande kry en ’n primitiewe atoombom bou.
Daarbenewens het die Verenigde State en Rusland, ten spyte van dramatiese besnoeiings, nog steeds ontsaglike arsenale kernplofkoppe. Volgens ’n navorsingsgroep wat die Komitee oor Kernbeleid genoem word, is sowat 5 000 kernwapens tans op ’n haarsneller-gereedheidsgrondslag. “Daarom”, sê hulle verslag, “sou 4 000 plofkoppe [van interkontinentale ballistiese missiele] (2 000 aan elke kant) binne ’n paar minute na hulle teikens op pad kan wees en nog 1 000 plofkoppe [van seegelanseerde ballistiese missiele] kort daarna op teikens kan afpyl indien ’n opdrag om te vuur onder huidige omstandighede gegee sou word.”
Die feit dat hierdie arsenaal bestaan, skep die moontlikheid dat ’n oorlog per ongeluk of selfs opsetlik ontketen kan word. “’n Rampspoedige ongeluk kan die wêreld in die chaos van ’n termonukleêre katastrofe dompel, al is dit strydig met die wense van politieke leiers”, het Wladimir Belous, ’n vername Russiese strateeg, gewaarsku. Met ander woorde, al is die Koue Oorlog dalk verby, het die bedreiging van ’n kernslagting nie werklik verdwyn nie. Maar presies hoe groot is hierdie bedreiging? Sal die aarde ooit ontslae wees van kernwapens? Die volgende artikels sal hierdie kwessies bespreek.
[Voetnoot]
a Die oordeelsdaghorlosie op die voorblad van The Bulletin of the Atomic Scientists is ’n voorstelling van hoe naby die wêreld kwansuis aan “middernag”, oftewel ’n kernoorlog, is. Deur die dekades heen is die horlosie se minuutwyser geskuif om ’n aanduiding te gee van die veranderinge in die wêreld se politieke klimaat.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Ontploffings op bladsye 2 en 3: U.S. National Archives photo