Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 8/8 bl. 11-14
  • Van ’n brullende leeu tot ’n sagmoedige lammetjie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van ’n brullende leeu tot ’n sagmoedige lammetjie
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Slegte invloede
  • My pa se rol in my lewe
  • Ek wend my tot God
  • Ek bestudeer die Bybel in die tronk
  • Finaal verlos van die duisternis
  • Ek sien uit na die Paradys
  • My ontvlugting na die waarheid
    Ontwaak!—1994
  • “Julle het my indruk van Jehovah Se Getuies verander”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ek was ’n voortvlugtige
    Ontwaak!—1996
  • “Ek het ’n vurige humeur gehad”
    Die Bybel verander lewens
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 8/8 bl. 11-14

Van ’n brullende leeu tot ’n sagmoedige lammetjie

SOOS VERTEL DEUR ENRIQUE TORRES JR.

EK IS in 1941 gebore op die Karibiese eiland Puerto Rico, waar Spaans die omgangstaal is. My nederige ouers was Rooms-Katoliek, maar nie hulle of my susters en broer (wat as kind gesterf het) of ek is ooit enige godsdiensonderrig gegee nie, en ons het selde kerk toe gegaan.

Ons gesin het Puerto Rico in 1949 verlaat om na die Verenigde State te gaan. Ons het ons in New York-stad gevestig in East Harlem, wat as El Barrio bekend staan. Ons het tot 1953 daar gebly. Dit was moeilik vir my om Engels te leer. Hierdie probleem het my minderwaardig laat voel.

Slegte invloede

Toe het ons gesin na Brooklyn se Prospect Heights-gebied verhuis. Dit was gedurende hierdie tyd dat ek deur my vriende beïnvloed is om deel van ’n straatbende te word. Later het ek die bendeleier geword. Daarna het ek die leier van ’n ander bende geword wat motors gesteel het. Ek het ook ’n loper (iemand wat onwettige dobbelskuld invorder) vir die buurt se beroepswedders geword. Toe het ek inbrake begin pleeg, en ek is etlike kere in hegtenis geneem voordat ek 15 was. Teen daardie tyd het ek al skool verlaat.

Toe ek 16 was, het die owerheid my vyf jaar lank na Puerto Rico verban as deel van ’n strafverminderingsooreenkoms. Ek is na my oupa en sy familie gestuur. Hy was ’n welbekende en gerespekteerde afgetrede polisieman. Maar ’n jaar later het my oupa my teruggestuur Brooklyn toe omdat ek gedrink het en dan by dronkmansbakleiery betrokke geraak het, slegte vriende gehad het en inbrake gepleeg het.

My pa se rol in my lewe

Toe ek van Puerto Rico na New York-stad teruggekeer het, het ek uitgevind dat my pa die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Maar my lewe het ’n heeltemal ander koers ingeslaan. Ek het volgehou met my goddelose lewenswyse en dwelms en alkohol begin misbruik. Ek het deel geword van ’n bende wat inbrake en gewapende roof gepleeg het, en dit het in 1960 tot my inhegtenisname gelei. Ek is skuldig bevind en tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

In 1963 is ek op parool vrygelaat. Dit was egter nie lank nie of ek is weer weens diefstal in hegtenis geneem en het toe twee jaar in die tronk op Rikers-eiland, in New York-stad, deurgebring. Ek is in 1965 vrygelaat. Maar daardie selfde jaar is ek weens moord in hegtenis geneem. Wat ’n wrede, leeuagtige geaardheid het ek tog ontwikkel!

Die hof het my tot 20 jaar in Dannemora, in die noorde van New York, gevonnis. Daar het ek deel geword van die tronk se subkultuur.

My pa het egter, soos ek vroeër genoem het, die Skrif saam met Jehovah se Getuies studeer. Hy is later gedoop en het as ’n ouer man in ’n gemeente in Harlem gedien. Hy het my dikwels besoek terwyl ek opgesluit was, en hy het altyd met my oor God, Sy naam en Sy voorneme gepraat.

Maar terwyl ek in die tronk in Dannemora was, het ek deel geword van ’n groep genadelose woekeraars, wat geld teen buitensporig hoë rentekoerse uitgeleen het. Gedurende hierdie tyd, in 1971, het ’n opstand by die Attica-gevangenis, ’n ander tronk in die staat New York, uitgebreek. Hierdie opstand was voorbladnuus en het wêreldwyd radio- en televisiedekking gekry. Ná hierdie opstand het die hoofbewaarder gevoel dat hy die gevangenes wat dalk ’n slegte invloed op ander kon hê, moes uitkies om ’n herhaling daarvan by Dannemora te verhoed. Hy het hulle in spesiale wooneenhede afgesonder.

Van die 2 200 gevangenes, is ongeveer 200 van ons afgesonder. Ná verdere sifting is party uitgekies en wreed geslaan. Verder is verdowingsmiddels in ons kos gesit as deel van wat “gedragswysigingsbehandeling” genoem is.

Dit was nie die eerste keer wat ek na die afsonderingseenheid gegaan het weens swak gedrag nie. Maar dit was die eerste keer wat ek ’n slagoffer van sulke wreedheid was, en dit het my diep geraak. Ek is geboei, my bene is vasgeketting en ek is op verskillende tye wreed deur die wagte geslaan. Ek moes ook weens my nasionaliteit voortdurend rassistiese beledigings verduur. As gevolg van die vernedering en slae het ek op ’n beperkte eetstaking gegaan vir die res van my verblyf in afsondering, wat ongeveer drie maande was. Dit het daartoe gelei dat ek omtrent 23 kilogram verloor het.

My pa het navraag gedoen oor my verswakkende gesondheid, maar die gevangenisamptenare het dit geïgnoreer. Dit het my wanhopig gemaak, en ek het aan politici begin skryf vir hulp in verband met die onregverdige behandeling wat ek ontvang het.

My pa het herhaaldelik na koerante gegaan oor die slae, die vernedering en die verdowingsmiddels wat hulle in die kos van die gevangenes in die spesiale wooneenheid gesit het. Net een koerant, die Amsterdam News, het ’n artikel oor die haglike toestande gepubliseer. My pa het ook by verskeie geleenthede na die Kommissaris van Korrektiewe Dienste in Albany, New York, gegaan, en daar is altyd vir hom gesê dat ek in ’n gewone wooneenheid was. My briewe aan politici oor die toestande in die tronk is geïgnoreer. Ek het al hoe wanhopiger begin voel, aangesien dit gelyk het of ek nêrens anders kon gaan vir hulp nie.

Dit was toe dat ek van die dinge onthou het waaroor my pa met my gepraat het. Ek het besluit om tot God te bid vir hulp.

Ek wend my tot God

Voor ek gebid het, het ek onthou dat my pa my altyd aangemoedig het om nie tot Jesus te bid nie, maar tot Jesus se Vader, wie se naam Jehovah is. Ek het neergekniel op die selvloer en my diepe berou uitgespreek oor die lewenswyse wat ek gekies het en wat daartoe gelei het dat ek meer as die helfte van my lewe in die tronk deurgebring het. Ek het Jehovah opreg gesmeek om my te help om uit hierdie situasie te kom omdat ek nou besef het dat net hy die mag gehad het om my uit hierdie verknorsing te red.

Ek weet nie hoe lank ek gebid het nie, maar ek het teruggekyk op my verlede en Jehovah berouvol gesmeek om my te vergewe. Ek het belowe dat ek sou probeer om meer oor hom te leer. Nie lank daarna nie is ek uit daardie kerkeragtige alleenopsluiting vrygelaat en kon ek weer saam met die gewone gevangenes bly. Ek het toe my eetstaking beëindig.

Ek het my belofte gehou om meer oor Jehovah te leer en het die New World Translation of the Holy Scriptures begin lees. Een van die dinge wat my belangstelling geprikkel het omtrent hierdie vertaling van die Bybel was sy groen omslag. Ek het hiervan gehou omdat die tronkklere sowel as die selle, mure en gange alles grys, ’n neerdrukkende grys, was. Tot my verbasing is dit alles later woudgroen geverf. Die Departement van Korrektiewe Dienste het hierdie kleur gekies ná die opstand by die Attica-gevangenis.

Ek het ook artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! begin lees, wat my pa vir my laat aflewer het. Dit het ’n groot indruk op my gemaak om van die ondervindinge te lees van soveel Getuies van Jehovah wat in die tronk was omdat hulle getrou gebly het aan hulle geloof en wat baie meer beproewinge as ek verduur het. Hier was mense wat geen misdaad gepleeg het nie, maar wat ten onregte gely het omdat hulle aan God getrou was. Ek het daarenteen my verdiende loon gekry. Hierdie ondervindinge het my hart geraak, en ek is aangemoedig om meer oor Jehovah en sy volk te leer.

Een jaar later het ek uiteindelik voor die paroolraad verskyn. My saak is hersien, asook die slegte behandeling wat ek in die spesiale wooneenheid ontvang het. Ek was verheug toe ek hoor dat ek in 1972 op parool vrygelaat sou word.

Twee weke nadat ek vrygelaat is, het ek die vergadering by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies, in die Spaanse deel van Harlem, bygewoon. Maar ek het nog steeds onwaardig gevoel om met Jehovah se volk om te gaan. En ek het nog baie gehad om oor Jehovah, sy organisasie en sy volk te leer. Ek het ook tyd nodig gehad om weer by die gemeenskap aan te pas ná ek so lank in die tronk was.

Ongelukkig kon ek nie my ou weë aflê nie. Ek het weer dwelms begin gebruik en tot misdaad en ’n goddelose lewenswyse teruggekeer. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat ek ’n bykomende tronkstraf van 15 jaar gekry het. Maar ek voel dat Jehovah iets goeds in my hart moes gesien het, want hy het nooit moed opgegee met my nie. Of jy nou in die tronk is of nie, ek kan net sê dat Jehovah nooit diegene wat graag meer oor hom wil leer, verlaat of moed opgee met hulle nie.

Ek bestudeer die Bybel in die tronk

Toe ek hierdie keer terug was in die tronk in Dannemora, het ek gebruik gemaak van die geleentheid om ’n weeklikse Bybelstudie met ’n bedienaar van Jehovah se Getuies te hê. Later is ek na die Mid-Orange-gevangenis, ’n mediumsekuriteitsgevangenis in die noorde van New York, verskuif. Dit was ’n verandering van die maksimumsekuriteitsgevangenis in Dannemora.

Ná twee jaar in die Mid-Orange-gevangenis het ek begin deelneem aan ’n Bybelstudie wat met ’n ander gevangene gehou is en wat deur die gevangenisowerheid goedgekeur is. Sy ma, wat een van Jehovah se Getuies is, het hierdie studie vir hom gereël. Ek het aangehou om kennis in te neem en het mettertyd Bybelbeginsels begin toepas, sodat ek uiteindelik geestelike vooruitgang begin maak het.

Nadat ek sewe keer parool geweier is, is ek die agtste keer teësinnig op parool vrygelaat. Die rede waarom hulle my vorige paroolaansoeke verwerp het, was my “geneigdheid tot misdadigheid”. Ek is vrygelaat nadat ek 8 jaar van die vonnis van 15 jaar uitgedien het.

Finaal verlos van die duisternis

Toe ek vrygelaat is, het ek weer eens die pad byster geraak, en ek het vir ’n kort tydjie weer dwelms gebruik. Ek het ook saam met ’n vrou gewoon met wie ek nie getroud was nie. Dit het in 1972 begin. Maar in 1983 het ek weer die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hierdie keer het ek Christelike vergaderinge gereeld bygewoon. Voordat ek begin studeer en die vergaderinge begin bywoon het, het ek egter opgehou om dwelms te gebruik en te rook.

Ek het nietemin, in stryd met God se wette oor die huwelik, nog steeds saam met hierdie vrou gewoon. Dit het my gewete gepla, en gevolglik het ek haar probeer oorreed om ’n Bybelstudie te aanvaar en ons verhouding te wettig deur te trou. Maar sy het gesê dat die Bybel ’n man se boek is wat deur mans geskryf is om vroue te onderdruk en dat dit nie nodig was om te trou nie.

Ek het besef dat ek nie langer in ’n onsedelike verhouding saam met ’n vrou kon woon wat nie God se wette oor die huwelik eerbiedig nie. Ek het gevolglik ons verhouding beëindig en na Brooklyn verhuis. Ek het geweet dat ek nie met ander oor God en sy voornemens kon praat as ek nie volgens sy wette lewe nie.

Nadat ek my van alle onskriftuurlike gewoontes bevry het en die Bybel drie jaar lank bestudeer het, het ek met ’n skoon gewete my lewe toegewy om God se wil te doen en dit gesimboliseer deur my by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies te laat doop. My belofte om die God te leer ken wie se naam my pa altyd genoem het, is iets waaroor ek nog nooit spyt was nie. En totdat Jehovah die talle seëninge bring wat hy in sy Woord beloof het, sal ek hard werk om my belofte aan hom te hou wat ek in die tronk in Dannemora gemaak het.

Ek sien uit na die Paradys

Ek sien baie uit na die tyd wanneer Jehovah hierdie hele aarde in ’n pragtige paradys gaan omskep (Psalm 37:11, 29; Lukas 23:43). En ek sien ook uit na nog ’n belofte van God—die opstanding van die dooies met die geleentheid om vir ewig op die aarde te lewe (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Wat ’n wonderlike tyd sal dit tog wees wanneer ek my afgestorwe dierbares, met inbegrip van my pa, my jonger broer en ander wat ontydig gesterf het, uit die graf sal kan terugverwelkom! Ek dink dikwels na oor hierdie hoop, en dit vul my met vreugde. Nog ’n rede tot vreugde wat ek nou het, is dat my twee susters en van hulle kinders hulle lewe aan Jehovah toegewy het en gedoop is.

Wanneer ek nou vir ander vertel van my lewe en wat ek glo, gee dit my groot bevrediging om vir hulle die bemoedigende woorde van die psalmis in Psalm 72:12-14 te wys: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”

Jehovah se geduld met my het my hart met waardering gevul en het my in staat gestel om die eienskappe aan te kweek en te openbaar wat hy van sy knegte verwag—nie wreedaardige eienskappe soos dié van ’n leeu nie, maar eerder vreedsame, goedhartige en saggeaarde eienskappe soos van ’n lammetjie. Dit is nodig, want soos God se Woord sê: “Aan die sagmoediges sal hy guns betoon.”—Spreuke 3:34, NW.

[Lokteks op bladsy 12]

“Ek is weer weens diefstal in hegtenis geneem, en ek het twee jaar in die tronk op Rikers-eiland, in New York-stad, deurgebring. Ek is in 1965 vrygelaat. Maar daardie selfde jaar is ek weens moord in hegtenis geneem. Wat ’n wrede, leeuagtige geaardheid het ek tog ontwikkel!”

[Prent op bladsy 13]

Die dag toe ek gedoop is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel