Koffie, tee of guarana?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
“WAT kan ek vir julle gee om te drink?” vra die vriendelike gasvrou. “Koffie, tee of guarana?” Hierdie vraag word gewoonlik by gesellighede in Brasilië gevra. Maar dit lyk of die vraag haar buitelandse gaste verwar. Die gasvrou wys dus vir haar gaste ’n bottel met drie rooi bessieagtige vrugte op die etiket. Tot hulle verligting besef die gaste dat guarana nie die een of ander eksotiese amfibiese dier is nie, maar dat dit ’n refrigerante, oftewel ’n koeldrank, is.
Jy het dalk ook nog nooit van guarana gehoor nie. Hoewel koffie en tee regoor die wêreld gunstelingdrankies is, is guarana veral in Brasilië gewild. Al drie drankies het nietemin iets in gemeen: Hulle bevat kafeïen. Trouens, guarana het moontlik drie keer soveel kafeïen as dieselfde hoeveelheid koffie! Uit nuuskierigheid vra die gaste vir guarana. Terwyl hulle die verfrissende drankie drink en die pikante vrugtesmaak daarvan geniet, luister hulle geïnteresseerd na die verhaal van guarana.
Hulle vind uit dat die guarana ’n houtagtige klimplant inheems aan die Amasonebekken is. Dit groei wild naby die dorpe Maues en Parintins en in ander dele van die staat Amazonas. Maar guarana word ook in ander Brasiliaanse state, soos Para, Goias en Mato Grosso, gekweek.
Die plant kan tot tien meter hoog rank. Sy donker takke dra ovaalvormige blare met getande rande en trosse blomme met kort stele. Wanneer die struik drie jaar oud is, begin hy gedurende Januarie of Februarie vrugte dra. ’n Vyfjarige struik kan ongeveer drie kilogram vrugte lewer.
Die guaranavrug, wat omtrent so groot soos ’n druiwekorrel is, bevat een of twee gladde, ovaalvormige sade. Die vrugte is helderrooi aan die bokant en geel aan die onderkant. Wanneer guaranamoes voorberei word, word die vrugte geweek. Dít skei die sagte doppe van die sade. Dan word die sade gewas, gedroog, gerooster en tot ’n fyn poeier gemaal. Later word die poeier, wat kafeïen bevat, met water gemeng en moontlik ook met kakao en kassawe.
Lank voordat Brasilië se koloniste guarana leer ken het, het die Indiane alreeds waarde aan hierdie vrugte geheg. Om ’n drankie van puik gehalte te maak, het die Indiane gesorg dat hulle net die ryp vrugte uitsoek, en dat hulle nie die ryp vrugte met groen of verrotte vrugte meng nie. Dan is die sade fyngemaak en met water gemeng om ’n deeg te vorm. Die deeg is in stafies gedeel wat ongeveer 15 sentimeter lank en 2,5 sentimeter in deursnee was. Die stafies is gedroog totdat hulle kliphard was—’n vroeë vorm van voedselbewaring in warm en vogtige klimate. Later is die gedroogde guaranastafies gerasper op die verhemeltebeen van ’n groot vis wat ’n pirarucu genoem word. Die poeier is dan by water of vrugtesap gevoeg.
Brasiliaanse Indiane het weens die geneeskragtige eienskappe van die drankie groot waarde daaraan geheg. Toordokters het die guaranadrankie gewoonlik in verskillende vorme vir siekes voorgeskryf. En wanneer werk lank en veeleisend was, het die Indiane guarana as ’n raat vir moegheid gebruik.
Omstreeks 1816 het guarana in Frankryk aangekom. Later, in 1826, het die Duitse plantkundige Karl von Martius sy broer, Theodore, die eerste chemiese ontleding van die vrugte laat doen. Maar die Europeërs het guarana nog steeds net in beperkte mate gebruik omdat dokters daar gemeen het dat goedkoper produkte in die plek daarvan gebruik kon word.
Maar in Brasilië het al hoe meer mense guarana as ’n wondermiddel beskou. Luís Pereira Barreto, ’n Brasiliaanse dokter, het in 1905 die persoon wat guarana vir die eerste keer geproe en die goeie uitwerking daarvan opgemerk het as een van die grootste weldoeners van die mensdom vereer.
Voorstanders van die guaranadrankie dink nog steeds dat dit baie waardevol is. Sommige beweer dat dit nie bloot ’n versterkende tonikum is nie, maar dat dit ook ’n kalmeermiddel vir die hart is sowel as ’n doeltreffende medisyne teen arteriosklerose, of verharding van die slagare. Daar word ook gesê dat guarana help om diarree, disenterie en migraine sowel as neuralgie, of senuweepyn, te genees. Of hierdie bewerings deur mediese navorsing bevestig sal word, moet nog gesien word. In elk geval, guarana is al sedert 1929 ’n gewilde koeldrank in Brasilië.
Hierdie bespreking was vir die gaste heel insiggewend. “Wil julle nog guarana hê?” vra die gasvrou. Asof uit een mond sê hulle ja. Wat van jou? Wil jy ook ’n bietjie guarana hê?
[Prente op bladsy 23]
Guarana—voordat koeldrank daarvan gemaak word