Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 6/8 bl. 6-8
  • ’n Produktiewe lewe sonder ’n ledemaat

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Produktiewe lewe sonder ’n ledemaat
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geestesgesindheid is belangrik
  • “’n Tyd om te ween”
  • ’n Produktiewe lewe, sonder ’n ledemaat
  • ’n Besoek aan ’n kunsledematesentrum
    Ontwaak!—2006
  • Die verlies van ’n ledemaat—Kan dit met jou gebeur?
    Ontwaak!—1999
  • Wanneer alle gebreke sal verdwyn
    Ontwaak!—1999
  • Liggaamsgebreke—’n Probleem sonder perke
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 6/8 bl. 6-8

’n Produktiewe lewe sonder ’n ledemaat

“KLIMMER is weer op die kruin.” Dit is wat ’n koerant gesê het toe Tom Whittaker die kruin van Mount Everest bereik het. Baie het al vantevore daardie hoë berg geklim, maar Tom Whittaker was die eerste persoon wat dit sonder een van sy ledemate gedoen het! Whittaker het sy voet in ’n motorongeluk verloor. Maar ’n kunsvoet, ’n prostese, het dit vir hom moontlik gemaak om sy sport te hervat. Soortgelyke toestelle laat duisende ander mense wat ledemate verloor het toe om ’n vol, produktiewe lewe te geniet. Trouens, dit is nie meer ongewoon om mense sonder ledemate te sien wat hardloop, basketbal speel of fietsry nie.

Vroeë weergawes van kunsbene en -hande was primitiewe houtstompe en ysterhake. Maar verbeteringe is aangebring namate oorloë duisende vermink gelaat het. Dit is nie verbasend nie dat ’n militêre dokter—die 16de-eeuse Fransman Ambroise Paré—die eer gegee is vir die ontwerp van die eerste geslag ware prosteses. Hedendaagse prosteses maak van hidroulika, gesofistikeerde kniegewrigte, buigsame voete van koolstofvesel, silikon, plastiek en ander hipertegnologiese produkte gebruik wat baie mense in staat stel om te loop en om natuurliker en gemakliker te beweeg as wat hulle ooit gedink het moontlik is. Weens vooruitgang in mikro-elektronika is dit nou moontlik om kunsarms en -hande natuurliker te laat beweeg. Prosteses lyk vandag ook beter. Moderne kunsledemate het vingers en tone, en party lyk selfs of hulle are het. Trouens, ’n vroulike model wat ’n been weens kanker verloor het, het ’n prostese gekry wat so natuurlik lyk dat sy kon voortgaan met haar loopbaan as model.

Geestesgesindheid is belangrik

Die geestesgesondheidsdeskundige, Ellen Winchell, waarsku nietemin: “Wanneer jy ’n persoonlike krisis soos ’n amputasie deurmaak, word jy deur en deur in elke aspek van jou wese beproef—liggaamlik, emosioneel, verstandelik en geestelik.” Dink aan William, wat ná ’n besering ’n been weens gangreen verloor het. Hy sê: “Een van die sleutels om enige uitdaging in die lewe te oorkom, is ons geestesgesindheid. Ek het my gestremdheid nooit as ’n nadeel beskou nie. Ek het eerder ’n positiewe beskouing behou van enige terugslae wat ek sedert my ongeluk gehad het.” Ellen Winchell, wat self ’n ledemaat verloor het, stem saam en sê dat mense met ’n positiewe gesindheid waarskynlik beter by die lewe sonder ’n ledemaat sal aanpas as pessimistiese mense. Soos die Bybel sê: “’n Vrolike hart bevorder die genesing.”—Spreuke 17:22.

Ontwaak! het met ’n hele paar Christene gepraat wat goed aangepas het nadat hulle ’n ledemaat verloor het. Die meeste het voorgestel dat mense wat ’n ledemaat verloor het nie uitermate selfbewus of geheimsinnig oor hulle gebreke moet wees nie. “Dit sou my meer gepla het as ander gevoel het dat dit een van daardie verbode onderwerpe was”, het Dell gesê, wie se linkerbeen onder die knie afgesit is. “Ek dink dit laat almal net ongemaklik voel.” Indien jy jou regterhand verloor het, beveel sommige deskundiges aan dat jy die inisiatief moet neem as jy aan iemand voorgestel word en jou linkerhand moet uitsteek om hom te groet. En as iemand jou oor jou prostese uitvra, vertel hom daarvan. As jý op jou gemak is, sal dit die ander persoon help ontspan. In die meeste gevalle sal julle kort voor lank oor ander dinge begin gesels.

Daar is “’n tyd om te lag” (Prediker 3:4b). ’n Vrou wat ’n hand verloor het, sê: ‘Dit is die heel belangrikste dat jy ’n goeie sin vir humor behou! Ons moet altyd onthou dat die wêreld se beskouing oor ons grootliks afhang van hoe ons oor onsself voel.’

“’n Tyd om te ween”

Nadat Dell sy been verloor het, het hy aanvanklik gedink: “Dis hopeloos. My lewe is verby.” Florindo en Floriano het albei weens die landmyne in Angola ledemate verloor. Florindo sê dat hy drie dae en nagte lank gehuil het. Floriano het eweneens met sy emosies geworstel. “Ek was net 25”, skryf hy. “Die een dag kon ek alles doen, en die volgende dag kon ek nie eens opstaan nie. Ek was terneergedruk en moedeloos.”

Daar is “’n tyd om te ween” (Prediker 3:4a). En dit is net normaal om ’n tyd lank te treur wanneer jy ’n ernstige verlies gely het. (Vergelyk Rigters 11:37; Prediker 7:1-3.) “Die enigste manier om op te hou treur, is om jouself toe te laat om te treur”, skryf Ellen Winchell. Dit help dikwels om met ’n simpatieke luisteraar oor jou gevoelens te praat (Spreuke 12:25). Maar ’n mens treur nie vir ewig nie. Party mense word dalk ’n tyd lank emosioneel onbestendig, krities, angstig of teruggetrokke ná die trauma wat met die verlies van ’n ledemaat gepaardgaan. Maar hierdie gevoelens neem gewoonlik af. As dit nie die geval is nie, ly die persoon heel moontlik aan kliniese depressie—’n siekte wat gewoonlik mediese behandeling vereis. Gesinslede en vriende moet op die uitkyk wees na enige tekens dat hulle geliefde sulke hulp nodig het.a

W. Mitchell, wat in albei bene verlam is, skryf: “Ons het almal mense nodig wat vir ons omgee. ’n Mens kan byna enigiets verduur as jy voel dat jy omring is deur vriende en familie, terwyl ’n geringe terugslag iemand wat alleen deur die lewe worstel, kan onderkry. En vriendskap is nie iets wat sommer vanself kom nie, dit moet aktief begin en aktief onderhou word, anders loop dit dood.”—Vergelyk Spreuke 18:24.

’n Produktiewe lewe, sonder ’n ledemaat

Baie mense wat ’n ledemaat verloor het, lei ’n produktiewe lewe ten spyte van hulle gebrek. Russell is byvoorbeeld met net die boonste deel van sy linkerbeen gebore. Op 78-jarige ouderdom oefen hy steeds gereeld en lei hy ’n vol lewe, al gebruik hy nou ’n kierie. Russell het ’n opgeruimde geaardheid, en hy het gesê dat sy bynaam al jare lank Happy is.

Douglas, wat in die Tweede Wêreldoorlog ’n been verloor het, loop met behulp van ’n moderne prostese. As een van Jehovah se Getuies is hy nou al ses jaar lank ’n gewone pionier, oftewel ’n voltydse evangeliedienaar. En onthou jy nog vir Dell, wat gedink het sy lewe is verby toe hy sy been verloor het? Hy lei ook nou ’n bevredigende lewe as ’n pionier, en hy kan homself onderhou.

Maar hoe vaar slagoffers wat ’n ledemaat verloor het in arm of oorloggeteisterde lande? Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê: “Die werklikheid vandag is dat net ’n klein persentasie gestremdes gehelp word.” Baie moet kieries en primitiewe krukke gebruik om oor die weg te kom. Soms is daar nietemin hulp beskikbaar. Floriano en Florindo, die Angolese landmynslagoffers, het albei deur die Internasionale Rooi Kruis en die Switserse regering ’n prostese gekry. Floriano is gelukkig in sy diens as ’n bedieningskneg in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies, en Florindo dien as ’n ouer man en ’n voltydse evangeliedienaar.

’n Vereniging wat na gestremdes omsien, het dit baie goed gestel: “Die enigste gestremdes is diegene wat moed verloor het!” Dit is interessant dat die Bybel ’n groot rol daarin gespeel het om gestremdes weer moed te gee. “Dit het my geweldig baie gehelp om Bybelwaarheid te leer terwyl ek gesond geword het”, sê Dell. Russell sê eweneens: “My Bybelse hoop het my altyd deur moeilike tye gehelp.” Presies watter hoop bied die Bybel vir gestremdes?

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Help terneergedruktes om hul vreugde te herwin” in Die Wagtoring van 15 Maart 1990.

[Venster op bladsy 8]

Skynpyn

Skynledemaatsensasie verwys na die uiters werklike gevoel dat die verlore ledemaat nog steeds daar is. Dit is die normale gevoel wat amputasiepasiënte ná die operasie ervaar, en dit is so werklik dat ’n boekie vir amputasiepasiënte sê: “Wees bewus van skynsensasie wanneer jy sonder jou prostese uit ’n bed of stoel opstaan. Kyk altyd af om jouself daaraan te herinner dat jou voet nie meer daar is nie.” Een pasiënt wat albei haar bene verloor het, wou opstaan om haar dokter se hand te skud, maar val toe op die vloer!

’n Ander probleem is skynledemaatpyn. Dit is die werklike pyn wat ervaar word asof dit van die ledemaat af kom wat afgesit is. Die intensiteit, soort en duur van skynpyn verskil van persoon tot persoon. Gelukkig raak skynsensasie sowel as skynpyn gewoonlik minder met verloop van tyd.

[Prent op bladsy 6]

Moderne kunsledemate laat talle gestremdes hulle lewe baie meer geniet

[Erkenning]

Foto met vergunning van: RGP Prosthetics

[Prent op bladsy 7]

Dit is normaal om te treur ná ’n ernstige verlies

[Prent op bladsy 8]

Baie gestremdes lei ’n produktiewe lewe

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel