Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 5/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorbereiding vir die jaar 2000
  • Slaapsiekte keer terug
  • Bly fiks
  • Rekenaargevaar in die lug
  • Nuwe keisersneemetode
  • Nie die gewenste uitwerking nie
  • Die wonderlike mosbeertjie
  • Passasiers word met klassieke musiek gekalmeer
  • Dit is almal se skuld
  • Die jaar 2000—Sal rekenaarineenstortings jou raak?
    Ontwaak!—1999
  • Wat is nodig om hulle in die lug te hou?
    Ontwaak!—1999
  • Die verkeer—Wat kan jy daaromtrent doen?
    Ontwaak!—2005
  • Waarom ek weer ná my ongeluk gevlieg het
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 5/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Voorbereiding vir die jaar 2000

“Die jaar 2000 sal dalk tegnologiese chaos meebring, maar die [Amerikaanse] Federale Reserweraad wil seker maak dat Amerikaners in die nuwe millennium kruideniersware sal kan koop, ongeag wat gebeur”, sê The Wall Street Journal. “Die sentrale bank het opdrag gegee dat ’n bykomende $50 miljard [R310 miljard] se nuwe banknote in omloop gebring moet word in geval daar ’n stormloop deur verbruikers op die banke en outomatiese tellermasjiene is.” Die ekstra geld behoort teen die einde van September 1999 gereed te wees. Ouer rekenaars wat net die laaste twee syfers gebruik om jare te identifiseer, kan die jaar 2000 as 1900 vertolk. Party deskundiges is bevrees dat party rekenaars weens hierdie fout, wat as die Y2K bekend staan, onklaar sal raak. Die probleem kan deur uitgebreide, tydrowende herprogrammering opgelos word, maar baie banke en maatskappye het onlangs eers met sulke programmering begin. “’n Mate van openbare besorgdheid oor die potensiële finansiële ineenstorting word vererger deur evangeliese godsdiensgroepe wat die einde van die millennium beskou as ’n teken van onheilspellende Bybelse profesieë” en ’n “potensiële verval van die samelewing”, sê die verslag.

Slaapsiekte keer terug

In 1974 is daar drie gevalle van slaapsiekte in Angola aangemeld. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het onlangs geskat dat daar ten minste 300 000 gevalle is. Duisende ander, dalk miljoene, is in gevaar. ’n Mens doen slaapsiekte op wanneer ’n tsetsevlieg jou steek. Nadat die vlieg die bloed gesuig het van iemand wat met die parasiet besmet is, vlieg hy verder om sy volgende slagoffer te besmet. Mense wat op landerye werk of klere in ’n rivier was—en, selfs nog meer, babas wat op hulle ma se rug vasgemaak is—is kwesbaar. Aanvanklik kry slagoffers hoofpyn en koors, en hulle gooi op. Omdat hulle nie snags kan slaap nie, dut hulle gewoonlik bedags. Die parasiet val die sentrale senuweestelsel en uiteindelik die brein aan, wat tot kranksinnigheid, bewusteloosheid en die dood lei. Dit is duur en moeilik om die siklus van besmetting te breek en die slagoffers te behandel—dit kos ongeveer R560 per behandeling, “amper ’n fortuin in Angola”, berig The Daily Telegraph van Londen.

Bly fiks

“Fisiese aktiwiteite hoef nie baie inspanning te verg om jou gesondheid te verbeter nie”, sê The Physical Activity Guide, wat onlangs deur die Kanadese Departement van Gesondheid vrygestel is. Volgens The Toronto Star “kan jy jou fiksheid en die toestand van jou hart verbeter deur 10 minute op ’n slag ligte oefeninge te doen en dan meer van hierdie sessies te doen totdat dit altesaam ’n uur per dag uitmaak”. Wat is ’n paar van die aktiwiteite wat aanbeveel word? Hulle sluit in dat jy loop, trappies klim, tuinwerk doen en strek. Huishoudelike take soos om te stofsuig of vloere te was is ook goed, en hulle verbeter ’n mens se soepelheid. Die gids sê dat die doel van 60 minute per dag “bereik kan word deur fisiese aktiwiteite ’n deel van jou daaglikse roetine te maak”. Dr. Francine Lemire, voorsitster van die Raad vir Huisdokters van Kanada, sê: “Studies toon dat die gesondheidsrisiko vir mense wat onaktief is moontlik net so groot is as vir mense wat rook.”

Rekenaargevaar in die lug

“Deskundiges meen dat ’n klein persoonlike elektroniese toestel (PET) soos ’n skootrekenaar, selfoon, CD-speler of rekenaarspeletjie nog eendag net so ’n groot tragedie op ’n vliegtuig sal veroorsaak as ’n terroris se bom”, sê The Daily Telegraph van Sydney, Australië. “’n Nuwe verslag noem 50 voorvalle waar kommersiële vliegtuie potensieel katastrofiese probleme tydens vlugte ondervind het omdat passasiers persoonlike elektroniese toestelle gebruik het.” ’n Voorbeeld wat genoem word, is dié van ’n vliegtuig wat gereedgemaak het om by die lughawe in Melbourne, Australië, te land. Die vliegtuig, wat deur die stuuroutomaat beheer is, het skielik na links geswenk en teen ’n hoek van sowat 30 grade gekantel. Maar niemand het aan die instrumente geraak nie. ’n Ondersoek het aan die lig gebring dat ’n passasier in die derde ry sy skootrekenaar gebruik het, ten spyte van die vlieënier se uitdruklike opdrag dat alle elektroniese toerusting afgeskakel moet word. Sulke toestelle het al veroorsaak dat vliegtuie klim, duik, van koers verander en selfs dat die lugdruk gedurende ’n vlug verlaag word. Die elektroniese seine van PET’s kan deur die vliegtuig se outomatiese navigasiestelsels ontvang word, en dit kan ’n uitwerking daarop hê. Passasiers wat in die voorste deel van die vliegtuig sit, veroorsaak die grootste probleem, aangesien hulle reg bokant die vliegtuig se elektroniese instrumente sit.

Nuwe keisersneemetode

“’n Nuwe metode om keisersneë te doen, kan lei tot vinniger en makliker bevallings”, berig die Duitse koerant Augsburger Allgemeine. “Wanneer die chirurg die Misgav-Ladach-metode gebruik, rek hy die vetweefsel, die buikwand en die spiere van die vrou wat geboorte gee met die hand in plaas van dit met die skalpel te sny soos daar tot nou toe gedoen is.” Aangesien hulle minder sny, word minder bloed verloor, en net drie lae vel en weefsel moet ná die tyd geheg word, in vergelyking met sewe lae wanneer die algemene metode gebruik word. Daarbenewens is die metode minder tydrowend, is die risiko van infeksie kleiner, is minder pynstillers nodig en kan die vroue ná drie tot vyf dae die hospitaal verlaat. Die metode is vernoem na die hospitaal in Israel waar dit die eerste keer getoets is.

Nie die gewenste uitwerking nie

Stadsverkeer beproef dikwels die geduld van ’n motoris tot die uiterste. ’n Studie wat deur sielkundiges by La Sapienza-universiteit in Rome gedoen is, het getoon dat mense, namate die verkeer toeneem, al hoe meer vloekwoorde gebruik wat met godsdiens te doen het. Volgens die koerant Corriere della Sera is “54 persent van die vloekwoorde en gedrag wat oneerbiedig teenoor godsdiens is” op plattelandse paaie deur verkeersverwante probleme uitgelok. Maar in stadsverkeer is daar ’n groter “neiging om heiliges en madonnas te blameer”. “In die groot stede word 78 persent van godslasterlike woorde, algemeen bekend as vloekwoorde, deesdae deur die verkeer veroorsaak”, het die koerant gesê. Verkeer het onlangs ’n groter probleem in Rome geword weens bouwerk ter voorbereiding vir die jaar 2000, wat tot ’n Katolieke Jubeljaar uitgeroep is waarin aflate aangebied sal word. “Dit is ’n paradoks, maar dit is waar”, sê die koördineerder van die Jubeljaarwaarnemer vir leke, “dat die eerste uitwerking van die Jubeljaar in Rome dalk die toename in vloekwoorde sal wees, nie in aflate nie.”

Die wonderlike mosbeertjie

Die mosbeertjie, ’n diertjie wat minder as ’n halwe millimeter lank is, is vermoedelik die taaiste lewensvorm op aarde, berig die tydskrif New Scientist. Gewoonlik word hy ’n mosbeertjie genoem omdat hy onder ’n mikroskoop so stewig gebou lyk. Hy het agt pote en lyk asof hy heeltemal gepantser is. Hy kan temperature van -270 grade Celsius tot 151 grade Celsius oorleef, asook blootstelling aan x-strale of aan ’n vakuum en druk wat ses keer hoër is as dié op die bodem van die diepste oseaan. Hy kan in dakgeute en tussen krake in plaveistene gevind word. Party van hierdie klein diertjies het selfs weer bygekom nadat hulle meer as 100 jaar lank sluimerend gelê het in museumversamelings van gedroogde mos! Wat maak dit moontlik? ’n Toestand van skyndood wanneer “die liggaamsvolume met 50 persent of meer afneem, tesame met byna algehele waterverlies”, sê professor Koenihiro Seki, van die Kanagawa-universiteit in Japan.

Passasiers word met klassieke musiek gekalmeer

Passasiers luister nou na klassieke musiek deur komponiste soos Strauss, Vivaldi, Chopin, Tsjaikowski, Mozart, Bach, Bizet, Schubert en Brahms terwyl hulle in 18 van die moltreinstasies van Rio de Janeiro vir treine wag. Sodoende hoop die moltreinowerheid om “passasiers te kalmeer wanneer hulle vir ’n volgende trein wag”, sê die koerant O Globo. Toe die musiek gekies is, “is komposisies gekies wat passasiers sal kalmeer en tog nie die indruk van ’n danssaal op die platforms sal skep nie”. “Die mense het dit gouer aanvaar as wat ons gedink het”, het Luiz Mário Miranda, die bemarkingsbestuurder van Rio de Janeiro se moltreinstelsel, gesê.

Dit is almal se skuld

“Sedert 1970 het mense meer as 30 persent van die natuur vernietig deur ernstige uitputting van die woud-, varswater- en mariene stelsels waarvan lewe afhanklik is”, sê ’n artikel in die koerant The Guardian Weekly. Die artikel, wat gegrond is op ’n onlangse verslag deur drie belanghebbende organisasies, waaronder die Wêreld-natuurfonds (WWF), sê dat ontwikkelende lande nou “hulle natuurlike hulpbronne teen ’n onrusbarende tempo uitput”, al was Westerse lande tradisioneel die grootste verbruikers van natuurlike hulpbronne. ’n Amptenaar van die WWF sê: “Ons het geweet dat dit ’n ernstige probleem is, maar totdat ons hierdie verslag opgestel het, het ons nie besef hoe ernstig dit is nie.” Hoewel die verslag regerings die skuld gee vir hulle onvermoë om die neiging stop te sit, sê dit dat “elke mens ’n deel van die verantwoordelikheid dra omdat hulle onverskillig met die wêreld se hulpbronne te werk gaan”, sê die koerant.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel