Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/22 bl. 9-12
  • Die opsie om te skei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die opsie om te skei
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • As daar kinders is
  • Finansies en geregtelike stappe
  • Veranderde verhoudings
  • Werk daaraan om te herstel
  • Moenie moed opgee nie
  • Egskeiding het wel slagoffers
    Ontwaak!—1991
  • Vier dinge wat jy omtrent egskeiding moet weet
    Ontwaak!—2010
  • Watter soort egskeiding haat God?
    Ontwaak!—1994
  • Egskeiding—die wrange vrugte
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/22 bl. 9-12

Die opsie om te skei

“As jou huweliksmaat sterf, verstaan mense jou, selfs al was jy nie die beste huweliksmaat nie. Maar as jou man jou verlaat—wel, party dink dat jy nie hard genoeg probeer het nie. HELP tog, asseblief!”—’n Ontwaak!-leser in Suid-Afrika.

ONTROUHEID en egskeiding kan baie traumaties wees. Al het baie mense redes gevind om met hulle maat versoen te raak en hulle huwelik te red, het ander grondige redes om die godgegewe opsie te kies om van ’n owerspelige maat te skei (Matteus 5:32; 19:9). Die veiligheid, geestelikheid en algemene welstand van ’n getroue vrou en haar kinders kan byvoorbeeld in gevaar wees. Sy is dalk ook bang dat sy ’n seksueel oordraagbare siekte kan kry. Of miskien het sy haar maat vir sy egbreuk vergewe, maar daar is min rede om te hoop dat opregte vertroue herstel kan word en dat sy kan voortgaan om by hom te bly as haar man.

“Dit was die moeilikste besluit van my lewe”, erken ’n ontstelde vrou. Dit is beslis ’n moeilike besluit—nie net omdat die ontrouheid soveel pyn veroorsaak nie, maar ook omdat ’n egskeiding verreikende gevolge het wat haar hele lewe sal beïnvloed. Daarom is dit ’n persoonlike besluit vir ’n vrou om van haar ontroue maat te skei of nie. Die Bybelse reg van die onskuldige huweliksmaat om daardie besluit te neem, behoort deur ander gerespekteer te word.

Maar ongelukkig skei baie mense oorhaastig sonder om die koste behoorlik te bereken. (Vergelyk Lukas 14:28.) Wat is sommige van die faktore wat by die opsie om te skei betrokke is?

As daar kinders is

“Die kinders se behoeftes word dikwels vergeet of geïgnoreer deur ouers wat te verdiep is in hulle eie probleme”, sê die boek Couples in Crisis. Wanneer jy dus aan ’n egskeiding dink, moet jy die geestelikheid en welsyn van jou kinders in gedagte hou. Baie navorsers sê dat die kinders waarskynlik minder sal ly as die egskeidingsproses so vriendskaplik moontlik gehou word. Sagmoedigheid sal ’n mens help om selfs onder moeilike omstandighede ‘nie te baklei nie, maar om teer te wees teenoor almal en jou onder die kwaad in bedwang te hou’.—2 Timoteus 2:24, 25.a

As ’n mens kies om te skei, moet jy in gedagte hou dat dit die man en vrou is wat skei—nie die kinders nie. Die kinders het nog steeds hulle ma en pa nodig. Daar is natuurlik dalk uiterste omstandighede, soos wanneer die kind die gevaar loop om mishandel te word. Maar godsdiens- of persoonlike verskille moet nie gebruik word om kinders die voordeel van twee ouers te ontneem nie.

Die kwetsbare emosies van jong kinders en hulle behoefte aan oorvloedige gerusstelling, liefde en geneentheid moet ook in aanmerking geneem word. “Hierdie onafgebrokenheid van liefde”, sê een boek, “sal ’n agtergrond en ’n basis vir hulle voorsien om die nuwe situasie te verwerk.” As jy boonop aan hulle daaglikse geestelike behoeftes aandag gee, kan dit hulle help om stabiel te bly.—Deuteronomium 6:6, 7; Matteus 4:4.

Finansies en geregtelike stappe

Dit is onvermydelik dat ’n egskeiding albei huweliksmaats iets gaan kos in inkomste en eiendom, sommige geriewe, moontlik selfs ’n geliefde tuiste. Aangesien ’n mens dalk groter uitgawes met ’n kleiner inkomste sal moet dek, is dit wys om ’n realistiese begroting volgens jou finansiële prioriteite op te stel. ’n Mens moet die drang weerstaan om vir verliese en gekwetste gevoelens te vergoed deur meer geld uit te gee of skuld te maak.

As jy besluit om te skei, is dit ook nodig om saam met jou huweliksmaat te besluit wat met gesamentlike rekenings moet gebeur. Om byvoorbeeld misbruik van geld in ’n gesamentlike bankrekening te voorkom, sal dit moontlik wys wees om die bankbestuurder te vra om albei huweliksmaats se handtekening vir onttrekkings te vereis totdat elkeen sy eie rekening het.

Dit is ook verstandig om akkuraat boek te hou van inkomstes en uitgawes ter voorbereiding vir onderhandelings oor ’n onderhoudstoelae. In baie lande is dit ook ’n wetlike vereiste dat mense die belastingowerheid van hulle veranderde omstandighede in kennis stel.

Daarbenewens vind baie mense dit nuttig om ’n regsgeleerde te raadpleeg—iemand wat spesifieke ondervinding op die gebied van egskeidingsake het. In party lande word daar toegelaat dat tussengangers of bemiddelaars egpare help om saam ’n wedersyds aanvaarbare en vreedsame ooreenkoms te bereik, wat dan deur ’n geregshof bekragtig word. Veral waar kinders betrokke is, verkies baie ouers om van die dienste van ’n professionele persoon gebruik te maak wat onpartydig is. Pleks dat ouers ten alle koste probeer wen, probeer hulle die konflik en hartseer tot die minimum beperk. Sekere materiële voordele is eenvoudig nie die emosionele en finansiële koste daarvan werd nie.

Veranderde verhoudings

“Ons moet nie die ongemaklikheid en onsekerheid onderskat wat baie mense omtrent hulle geskeide vriende voel nie”, sê ’n navorser. Selfs as die getroue huweliksmaat binne haar wetlike, sedelike en skriftuurlike regte optree, sal daar moontlik ’n paar mense wees wat dink dat sy die oorsaak van die verbrokkeling van die huwelik is. Hulle reaksie wissel dalk van ’n koel groet tot openlike vermyding. Nog erger, mense wat vroeër intieme vriende was, kan openlik vyandig word.

Baie besef eenvoudig nie hoeveel ondersteuning iemand nodig het wanneer sy besig is om te skei nie; hulle is dalk onder die indruk dat ’n kort briefie of ’n kaartjie genoeg is. Maar daar is gewoonlik vriende wat “net die regte aanslag het”, sê die boek Divorce and Separation, “en wat sal kom kyk of jy iemand nodig het om saam met jou êrens heen te gaan, of jy iets gedoen wil hê en of jy net lus voel om te gesels”. Trouens, op so ’n tydstip in ’n mens se lewe het jy, soos die Bybel sê, “’n vriend [nodig] wat sterker aanhang as ’n broer”.—Spreuke 18:24.

Werk daaraan om te herstel

Sestien jaar ná haar egskeiding erken ’n moeder: “Daar is nog steeds tye wanneer daar ’n ongelooflike eensaamheid is—selfs wanneer ek tussen mense is.” Hoe bied sy dit die hoof? “Ek het ’n soort verdedigingsmeganisme ontwikkel”, sê sy, “deur myself by die werk besig te hou, vir my seun te sorg en my huiswerk te doen. Ek het ook begin om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, my bure van my oortuiging te vertel en dinge vir ander te doen. Dit het baie gehelp.”

Sekere datums en tye van die jaar laat dalk pynlike herinneringe en gevoelens by jou opkom: die dag waarop jy van die ontrouheid uitgevind het, die tyd toe hy die huis verlaat het, die datum van die hofsaak. Gelukkige tye wat die egpaar gewoonlik saam deurgebring het—soos vakansies en huweliksherdenkings—kan moeilike emosionele ondervindings wees om te verwerk. “Ek kom deur sulke dae deur te reël om tyd deur te bring saam met my familie of saam met intieme vriende wat my omstandighede ken”, sê Pat. “Ons doen dinge wat gedagtes aan die verlede sal verdring en wat nuwe herinneringe sal skep. Maar my verhouding met Jehovah help my die meeste—om te weet dat hy verstaan hoe ek voel.”

Moenie moed opgee nie

Onskuldige maats wat Bybelbeginsels toepas en kies om gebruik te maak van die godgegewe reg om van ’n owerspelige huweliksmaat te skei, moet nie skuldig voel of bang wees dat Jehovah hulle verlaat het nie. Die verraderlike optrede van die owerspelige maat—wat “geween en versugting” veroorsaak het—dít is wat God haat (Maleagi 2:13-16). Selfs Jehovah, die God van “tere medelye”, weet hoe dit voel om deur ’n geliefde verwerp te word (Lukas 1:78; Jeremia 3:1; 31:31, 32). Jy kan dus verseker wees dat ‘Jehovah geregtigheid liefhet en dat hy sy lojales nie sal verlaat nie’.—Psalm 37:28, NW.

Dit sal natuurlik baie beter wees as huweliksontrou en die tragiese gevolge daarvan in die eerste plek vermy kon gewees het. Die geheim van gesinsgeluk,b ’n praktiese gids vir die gesin, help baie mense regoor die wêreld om gelukkige huwelike op te bou en om huweliksontrou te vermy. Dit bevat hoofstukke oor hoe om ’n gelukkige huwelik op te bou, kinders op te voed en huweliksprobleme die hoof te bied. Jehovah se Getuies in jou omgewing of die uitgewers van hierdie tydskrif sal met graagte verdere inligting oor hierdie onderwerp voorsien.

[Voetnote]

a Verdere inligting kan gevind word in die reeks “Toesig oor kinders—Wat is die gebalanseerde beskouing?” en in die artikel “Hulp vir die kinders van geskeide ouers” in die Ontwaak! van 8 Desember 1997 en 22 April 1991.

b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Venster op bladsy 10]

KINDERS VERDIEN NIE ’N EGSKEIDING NIE

In 1988 het wyle Diana, die Prinses van Wallis, gesê dat tot 420 kinders in Brittanje alleen elke dag die egskeiding van hulle ouers deurmaak. ’n Derde van daardie kinders is jonger as vyf. Ongelukkig verloor tot 40 persent van kinders kontak met een van hulle ouers ná ’n egskeiding.

In teenstelling met wat baie mense dink, “is baie min kinders ten gunste van hulle ouers se egskeiding”, sê ’n gerespekteerde gesondheids- en mediese skrywer. “Die oorgrote meerderheid van kinders sou dit verkies as hulle ouers bymekaar bly, selfs al is daar ’n gespanne atmosfeer in die gesin.” Al het ’n egpaar baie baklei toe die een ontrou was, moet hulle nie oorhaastig tot die gevolgtrekking kom dat dit beter vir die kinders sou wees as hulle die huwelik beëindig nie. As hulle hulle gesindhede en gedrag verander, sal hulle moontlik ter wille van die hele gesin bymekaar kan bly.

“Mans wat promisku is”, sê die skryfster Pamela Winfield, “moet dink aan die pyn in hulle kinders se oë wanneer die gesin as gevolg van hulle dwaasheid verbrokkel.”

[Venster op bladsy 11]

HAAT GOD ALLE EGSKEIDINGS?

“Iets wat my baie gepla het”, erken Pat, “was die gedagte dat ‘Jehovah egskeiding haat’. Ek het die hele tyd oor die volgende vraag gewonder: ‘Doen ek wat Jehovah behaag?’”

Laat ons na die konteks van Maleagi 2:16 kyk om die antwoord op hierdie vraag te kry. In Maleagi se tyd het baie Israelitiese mans van hulle vrouens geskei, moontlik om met jonger, heidense vroue te trou. God het hierdie bedrieglike, verraderlike optrede veroordeel (Maleagi 2:13-16). Wat God haat, is dus as iemand om nietige redes van een maat skei sodat hy met ’n ander een kan trou. Iemand wat so bedrieglik optree deur egbreuk te pleeg en dan van sy maat te skei of haar dwing om van hom te skei, het ’n verraderlike, haatlike sonde gepleeg.

Maar hierdie verse veroordeel nie alle egskeidings nie. Dit kan bevestig word deur Jesus se woorde: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, pleeg egbreuk’ (Matteus 19:9). Jesus het hier erken dat hoerery ’n aanvaarbare rede vir ’n skriftuurlike egskeiding is—trouens, dit is die enigste aanvaarbare rede wat ’n mens vry laat om weer te trou. ’n Onskuldige huweliksmaat kan besluit om die sondige huweliksmaat te vergewe. Maar iemand wat kies om Jesus se woorde as ’n rede te gebruik om van ’n owerspelige maat te skei, doen nie iets wat Jehovah haat nie. Dit is die ontroue huweliksmaat se bedrieglike optrede wat God haat.

[Prente op bladsy 10]

Onskuldige maats en hulle kinders vind baat by liefdevolle ondersteuning

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel