’n Wêreldwye krisis
DIE verskriklike moorde op straatkinders in Brasilië is nog ’n voorbeeld van die kwesbaarheid van ongewenste kinders. Verslae uit daardie land het gesê dat etlike honderde kinders elke jaar vermoor word.
Daar was wrede aanvalle op kinders in Dunblane, Skotland, en in Wolverhampton, Engeland, en in baie ander gebiede. Stel jou byvoorbeeld die lyding voor van die 12-jarige Maria, ’n Angolese weeskind wat verkrag is en swanger geword het. Later is sy gedwing om ongeveer 320 kilometer te loop, waarna sy geboorte gegee het aan ’n vroeggebore baba wat net twee weke gelewe het. Maria het ’n week later gesterf, siek en ondervoed.
In 1992 het ’n verslag van die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) gesê dat “‘oorlog teen kinders’ ’n uitvindsel van die 20ste eeu is”. Volgens ’n verslag van UNICEF in 1996 het party die beskouing dat ‘toekomstige geslagte van die vyand, dit wil sê die vyand se kinders, ook uitgewis moet word’. ’n Politieke kommentator het dit so gestel: “As jy die groot rotte wil doodmaak, móét jy die klein rotte doodmaak.”
Tweemiljoen kinders het in ’n onlangse periode van tien jaar ’n gewelddadige dood gesterf. Nog viermiljoen is vermink, is blind gelaat of het breinskade opgedoen weens landmyne, en hulle probeer so goed moontlik aan die lewe bly saam met die etlike miljoene wat hulle huise in oorloë verloor het. Geen wonder ’n verslag het hierdie opskrif gehad nie: “Nagmerrie-beelde van oorlogswreedhede teenoor kinders.”
Hierdie gruweldade teenoor kinders is ’n klad op die mens, ’n duidelike bewys dat kinders in ’n krisis is, nie net in ’n paar lande nie maar regoor die wêreld. En baie kinders wat mishandel is, is ook mislei.
Mislei deur diegene wat hulle vertrou het
Die skending van ’n kind se vertroue kan verskriklike letsels agterlaat. Dit is veral waar wanneer dit ’n ouer, vriend of mentor is wat die kind se vertroue skend. Die omvang van kindermishandeling deur ouers blyk uit die stortvloed telefoonoproepe wat deur ’n hulpdiens ontvang is ná die uitsending van ’n program met die titel: “Stom van vrees: Oopvlekking en beëindiging van kindermishandeling”, deur Oprah Winfrey, die aanbiedster van ’n geselsprogram in die Verenigde State. “Die skokkendste krisisoproepe was van jong kinders, wat uit vrees geskakel het omdat hulle van die pyn van fisiese en seksuele mishandeling verlos wil word”, het die uitvoerende produksieleier Arnold Shapiro gesê, soos aangehaal in die tydskrif Children Today.
Hierdie program het baie gehelp om die idee uit die weg te ruim dat kindermolesteerders groot, lelike vreemdelinge is. Feit is dat “die meeste molesterings deur ouers en ander familielede gepleeg word”, sê Shapiro. Ander navorsing bevestig hierdie bevinding en toon ook dat vertroude familievriende soms die kind en die gesin se vertroue probeer wen het vir latere, goedbeplande molestering van die kind. Bloedskande is die skokkendste skending van vertroue.
Seksuele molestering deur pedofiele is nog ’n bedreiging vir kinders regoor die wêreld. Trends & Issues in Crime and Criminal Justice gee hierdie definisie: “Pedofilie verwys na die seksuele voorkeur vir jong kindertjies. . . . Pedofilie behels sonder uitsondering misdade soos seksuele aanranding, onwelvoeglike gedrag en oortredings wat met kinderpornografie verband hou.”
Weersinwekkende verslae van pedofielsindikate wat kinders op ’n selfsugtige wyse seksueel uitbuit, stroom van regoor die wêreld in. (Sien die venster op bladsy 7.) Die slagoffers is seuntjies sowel as dogtertjies. Hulle word deur gewetenlose mans gelok wat hulle seksueel molesteer en hulle dan dreig of buitensporig bederf om hulle aan te moedig om by die “klub” te bly. Die mans wat hierdie walglike dade beplan en pleeg, is dikwels vername leiers in die gemeenskap, en soms doen hulle dit met die volle medewete en beskerming van die polisie en die regbank.
Die seksuele molestering van kinders deur geestelikes verwek ook opspraak. Nuusberigte van regoor die wêreld onthul die omvang van kindermolestering deur geestelikes, soms selfs in die naam van God. ’n Veroordeelde Anglikaanse priester het byvoorbeeld vir sy tienjarige slagoffer gesê dat “God deur hom [die geestelike] praat en dat enigiets wat hy doen of enigiets wat [die seuntjie] doen God behaag en gevolglik reg is”.
In Australië het ’n resensie van die boek The Battle and the Backlash: The Child Sexual Abuse War kommentaar gelewer op kindermolestering deur geestelikes en ander wat ’n vertrouenspos beklee. Dit het gesê dat die betrokke organisasies blykbaar meer daaroor besorg is om die skade aan hulle eie beeld te beperk en hulleself te beskerm as om weerlose kinders te beskerm.
Vernietigende gevolge
’n Kind stel gewoonlik sy volle vertroue in iemand, sonder voorbehoud. As daardie vertroue dus geskend word, het dit ’n vernietigende uitwerking op ’n niksvermoedende jong verstand. Die publikasie Child Abuse & Neglect sê: “Mense en plekke wat voorheen met veiligheid of ondersteuning vereenselwig is, word nou met gevaar en vrees geassosieer. Die kind se wêreld word minder voorspelbaar en beheerbaar.”
As gevolg van sulke molestering, wat grotendeels baie jare lank plaasgevind het, het party kinders later in hulle lewe en selfs as volwassenes sosiale en psigiatriese probleme ontwikkel. Hierdie skending van vertroue is so skadelik omdat ’n kind misbruik is bloot omdat hy of sy ’n kind is. Maar baie kinders wat gemolesteer word, vertel nooit vir iemand daarvan nie—’n feit waarop kindermolesteerders grootliks staatmaak.
In die laaste jare het bewyse van kindermolestering regoor die wêreld toegeneem, met die gevolg dat daar vandag ’n berg bewyse is wat nie meer ontken of geïgnoreer kan word nie. Maar die meeste mense stem saam dat die beëindiging van kindermolestering ’n gedugte taak is. Gevolglik ontstaan hierdie vrae: Is daar enigiemand wat ons kinders werklik kan beskerm? Hoe kan diegene van ons wat ouers is ons godgegewe erfenis beskerm en na die lewe van ons kwesbare jong kinders omsien? Tot wie kan ouers hulle wend om hulp?
[Venster/Prent op bladsy 7]
Internetklopjag
’n Paar maande gelede, in een van die grootste klopjagte tot nog toe op kinderpornografie op die Internet, het die polisie in 12 lande die huise van meer as 100 vermeende pedofiele deursoek. Van net een pedofielsindikaat in die Verenigde State het hulle op meer as 100 000 pornografiese prente van kinders beslag gelê.
Die Britse speurder wat aan die hoof was van die vyf maande lange Internetondersoek het gesê: “Die inhoud sou enige weldenkende persoon beslis walg.” Die kinders was van albei geslagte, en party was maar net twee jaar oud. Die Belgiese polisie het gesê dat die Internetprente “die afstootlikste afbeeldings van kinderpornografie was. . . . So erg was dit dat mense hulle eie kinders gemolesteer het sodat hulle die skokkendste materiaal kon aanbied.” Een man het foto’s gehou van hoe hy sy eie niggie verkrag en het dit in sy rekenaar ingevoer.
Onder die verdagtes was daar onderwysers, ’n wetenskaplike, ’n regstudent, ’n mediese student, ’n padvindersleier, ’n rekenmeester en ’n universiteitsprofessor.
[Prent op bladsy 6]
’n Ploftoestel het hierdie seuntjie se regterhand vermink
[Erkenning]
UN/DPI Photo by Armineh Johannes
[Foto-erkenning op bladsy 7]
Photo ILO/J. Maillard