Vredemakers of oorlogstokers?
“’N CHRISTEN moenie aan oorlogsdade deelneem nie.” Hierdie stelling som die vroeë Christene se beskouing van oorlog op, sê Thoko en Malusi Mpulwana in Echoes, ’n tydskrif wat deur die Wêreldraad van Kerke (WRK) uitgegee word. Dit was eers “nadat die Christelike Kerk ’n bondgenootskap met die politieke gesagstruktuur gesluit het”, sê hulle voorts, dat die kerk die idee begin voorstaan het dat “oorlog as noodsaaklik aanvaar word”. Die gevolg? Die Christendom se ondersteuning van oorloë deur die eeue heen het so opvallend geword dat die Verenigde Kerk van Christus in Japan ná die Tweede Wêreldoorlog selfs gemeen het dat dit nodig is om ’n amptelike “Belydenis van Verantwoordelikheid vir die Tweede Wêreldoorlog” uit te vaardig.
Vandag, sowat 50 jaar ná die oorlog, het die Christendom se strydlustige reputasie nie juis verander nie. “As ons vra of ons as Christene wel ferm en oortuigend Nee gesê het vir die argumente ten gunste van oorlog en Ja vir die liefde van Christus”, erken dr. Roger Williamson, wat vir die Anglikaanse Kerk werk, “is dit duidelik dat ons . . . nog baie het om te bely.” Alhoewel die WRK in 1948 gesê het dat “oorlog as ’n metode om geskille te besleg onverenigbaar is met die lering en voorbeeld van ons Here Jesus Christus”, het die Christendom se kerke, volgens Williamson, dikwels bygedra tot “bekrompenheid, onverdraagsaamheid, die beperking van mense se vryheid en die toename in konflikte”. Dit is geen wonder nie dat hy tot die gevolgtrekking kom dat “godsdiens . . . dikwels konflikte vererger in plaas van dit te beëindig”.
Die oorlog wat die voormalige Joego-Slawië in twee geskeur het, is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ten spyte van die onregverdighede en wreedhede wat al jare lank plaasvind, het die kerke dit baie moeilik gevind om ’n verenigde standpunt in die konflik in daardie land in te neem. Waarom? Dr. Williamson sê dat Serwiese en Kroatiese geestelikes, ten spyte van hulle veronderstelde Christelike verbintenis, net so verdeeld is as die politieke leiers van hulle land. Daar en elders tree die Christendom se geestelikes, of hulle nou Katoliek, Ortodoks of Protestants is, nie as vredemakers op nie, maar as “kapelane vir hulle eie kant”. Hoewel meer as 300 kerke nou aan die WRK behoort, erken dr. Williamson dat dit “verbasend moeilik [is] om voorbeelde te vind van kerke wat inderdaad vrede . . . maak”.
Moeilik, ja. Maar anders as die WRK se lidkerke, wat bloot oor versoening praat, bestaan daar een godsdiens wat alreeds daarin geslaag het om voormalige lidmate van verskillende godsdienste met mekaar te versoen en hulle te help om ware Christene te word. Vandag weier die meer as 5,8 miljoen Getuies van Jehovah in 233 lande, wat beweeg word deur hulle liefde vir God en hulle begeerte om “vrede met alle mense” na te streef, om aan die oorloë van die nasies deel te neem—ongeag of dit in plekke soos Asië, Latyns-Amerika, die Midde-Ooste, Noord-Ierland, Rwanda of die voormalige Joego-Slawië geveg word (Hebreërs 12:14; Matteus 22:36-38). Hulle is eerder besig om Bybelprofesieë te vervul deur “van hul swaarde pikke [te] smee” en “nie meer [te] leer om oorlog te voer nie”.—Miga 4:3.
[Prente op bladsy 31]
Sommige van Jehovah se Getuies in Afrika is erg geslaan weens hulle neutraliteit of hulle het vlugtelinge geword