Die oliepalm—’n meerdoelige boom
Deur Ontwaak!-medewerker op die Salomon-eilande
GUADALCANAL—vir baie mense is die naam van die eiland sinoniem met van die wreedste veldslae van die Tweede Wêreldoorlog. Maar vandag sal enigiemand wat terugkeer na hierdie voormalige slagveld op die Salomon-eilande ’n heel ander toneel vind—skynbaar eindelose rye, nie van soldate nie, maar van statige oliepalms.
Die grond onder hierdie welige en majestueuse oliepalms het vroeër tonne ou bomme en ander gevaarlike krygstuig bedek. Maar hierdie krygstuig is verwyder om vir die oliepalm plek te maak. Hoe is daar met die aanplanting van hierdie boom begin? En waarom kan ons sê dat hierdie pragtige hoë boom meerdoelig is?
’n Ryk geskiedenis
Die eerste beskrywing in die moderne tyd van ’n boom wat met die oliepalm ooreenstem, is in die middel van die vyftiende eeu opgeteken deur die Venesiër Alvise Ca’da Mosto, wat die weskus van Afrika verken het. Toe, byna 500 jaar gelede, het slawe uit Afrika die vrugte daarvan met hulle saamgeneem na lande aan die oorkant van die Atlantiese Oseaan. Gevolglik is palmolie vandag dié plantolie wat die meeste in die wêreld gebruik word. Oliepalms lewer meer olie per hektaar as enige ander olieproduserende plant. Daarbenewens is die oliepalm ’n meerjarige plant wat 25 tot 30 jaar lank vrugte en olie lewer.
’n Belangrike faktor in die vervaardiging van palmolie, veral in party lande in die Verre-Ooste, is ’n ontdekking wat in die laat sewentigerjare gedoen is. Voorheen is daar geglo dat oliepalms hoofsaaklik deur die wind bestuif word. Gevolglik is ’n slegte oes toegeskryf aan ongunstige klimaatstoestande. Maar onlangse navorsing het getoon dat bestuiwing hoofsaaklik deur insekte gedoen word! Dit was dus voordelig dat insekte wat die bome kon bestuif uit Wes-Afrika na die Verre-Ooste ingevoer is.
Die oliepalm se rooi-oranje vrug lewer twee soorte olies. Albei word in verskeie produkte gebruik, waarvan jy party waarskynlik gebruik. Voordat ons dit bespreek, laat ons eers ’n palmoliemeule besoek en sien hoe die olie uitgepers word.
Die verwerking van die goue vloeistof
Wanneer ons by die meule kom, groet ons toergids ons en neem hy ons binnetoe. Oral om ons is daar swaar masjinerie aan die werk. Die eerste stap in die verwerking van die oliepalmvrugte, verduidelik hy, is om dit in ’n groot silindervormige stoomoond te plaas. Elke tros vrugte het ongeveer 200 dadelgrootte vruggies wat styf teen mekaar gepak is. Die stoomoond steriliseer die vrugte en help om die vruggies los van die tros te maak.
Die volgende stap is om die vruggies van die tros af te haal deur ’n masjien te gebruik wat ’n stroper genoem word. Die los vruggies word dan na ’n groot menger gestuur, waar die vlesige buitenste deel van die neut geskei word. Hierdie veselagtige buitenste vleis word dan in ’n groot uitpersmasjien gepers om onbewerkte palmolie te kry. Nadat die palmolie skoongemaak en gesuiwer is, is dit gereed om verskeep te word.
Daar is egter ’n tweede soort olie. Dit kom van die neut. Die oliepalm se neut moet eers oopgebreek word om by die pit uit te kom. Daarna word die pitte gepers om hulle kosbare vloeistof vry te stel. Hierdie olie word palmpitolie genoem.
Die pitreste word gebruik om ’n voedsame veevoer te maak. Nadat die vruggies afgestroop is, word die oorblyfsels van die vrugtetrosse eweneens na die plantasies teruggestuur om as ’n deklaag te dien. Die vrug se vesel en doppe word ook herbenut en gebruik om die meul se stoomketels te stook. ’n Baie doeltreffende onderneming!
Van roomys tot gesigsroom
Palmolie is naas sojaolie die plantolie wat die meeste in die wêreld gebruik word. The World Book Encyclopedia sê: “Die Engelse het gedurende die agtiende eeu palmolie as ’n geneesmiddel en handeroom gebruik.” Vandag kan dit egter in roomys, margarien, bakvet en kookolies gevind word, sowel as in nievoedselprodukte soos seep en skoonheidsmiddels.
Palmpitolie word ook gebruik in die vervaardiging van margarien, asook sjokolade en ander lekkergoed. Maar dit is nie die enigste gebruike van die olies nie. Ná verdere verwerking word bestanddele van palm- en palmpitolie gebruik om farmaseutiese produkte, seep, reinigingsmiddels, kerse en selfs plofstof te maak!
Die oliepalm het inderdaad ’n welkome tuiste in die Salomon-eilande gevind. Die invloed van die oliepalm op die ekonomie word beklemtoon deur die feit dat 13 persent van die land se uitvoere van hierdie boom afkomstig is.
Wanneer ons na ’n oliepalm opkyk, is dit komies om te dink dat ’n produk van hierdie helder oranje vrug dalk van ’n laggende kind se mond drup in die vorm van roomys en dat dit dalk op sy ma se gesig is, in haar grimering. Ja, die oliepalm is ’n veelsydige boom, en ons kan dankbaar wees vir sy oorvloed van vrugte.
[Venster/Prent op bladsy 27]
Twee ton per dag met die hand
Doef . . . doef. Doef . . . doef! Die lug word gevul met die klank van vallende vrugtetrosse terwyl werkers in die plantasie die oliepalms oes. Hoe kom hulle by die vrugte uit as dit so hoog in die bome sit?
Die plukkers gebruik ’n skerp geboë lem wat aan die punt van ’n verlengbare paal vas is om die vrugte van bome af te sny wat soms so hoog soos ’n vierverdiepinggebou is. Op ’n gemiddelde dag sal elke werker tussen 80 en 100 vrugtetrosse afsny en na die pad dra waar dit opgetel word. Omdat elke vrugtetros byna 25 kilogram weeg, is dit nogal heelwat gewig wat gedra word! Vier en ’n half ton vrugte is nodig om een ton palmolie te lewer.