Waarom jy daaroor moet praat
“Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.”—Spreuke 27:17, die Bybel.
LEMME word nie geslyp as ’n mens hulle teen mekaar slaan nie. Om iets te slyp, verg groter sorg. Net so is daar regte en verkeerde maniere om die verstand deur gesprekke te slyp, veral wanneer dit by sensitiewe onderwerpe soos godsdiens kom.
In die eerste plek moet ons die waardigheid van die ander persoon respekteer en daardie respek deur ons woorde en gedrag wys. “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig”, sê die Bybel (Kolossense 4:6, NAV). Vriendelike woorde wat van goeie smaak getuig, klink nie dogmaties nie, selfs nie wanneer die spreker oortuig is dat hy reg is en dat die ander persoon verkeerd is nie.
Ons weerspieël ook vriendelikheid in die manier waarop ons luister. As ons die ander persoon in die rede val of as ons verstand nie ingestel is op wat hy sê nie omdat ons solank aan ons volgende argument dink, luister ons beslis nie op ’n vriendelike manier nie. Die een wat praat, sal heel waarskynlik aanvoel dat ons blykbaar nie in sy of haar standpunt belangstel nie en sal moontlik die gesprek beëindig. Ons moet ook nooit iemand anders dwing of intimideer om sy mening te verander nie. Dit is per slot van rekening ‘God wat die saadjies van waarheid laat groei’ in die hart van ’n ontvanklike luisteraar.—1 Korintiërs 3:6.
Ons het die goeie voorbeeld van die apostel Paulus, wat ‘redeneringsvermoë’ en “oorredingskrag” in sy bediening gebruik het (Handelinge 17:17; 28:23, 24). Waar Paulus ook al mense kon vind, soos op die markplein en in hulle huise, het hy met hulle oor godsdiens gepraat (Handelinge 17:2, 3; 20:20). Jehovah se Getuies probeer daardie voorbeeld navolg deur te gaan na waar daar ook al mense is en uit die Skrif met hulle te redeneer.
Vermy misverstande
Kort nadat die nasie Israel hulle in die Beloofde Land gevestig het, het ’n misverstand oor ’n altaar byna ’n burgeroorlog ontketen. Die mense wat hulle oos van die Jordaanrivier gevestig het, het ’n altaar gebou, maar die ander stamme het verkeerdelik gedink dat dit ’n altaar vir valse aanbidding was. Gevolglik het hulle hulle voorberei vir militêre optrede om hulle broers te dissiplineer. Maar wysheid het geseëvier. Die voornemende aanvallers het eers ’n afvaardiging gestuur om uit te vind waarom die altaar gebou is. Hulle was baie verlig om uit te vind dat dit maar net ’n monument was—“’n getuie”—om al die stamme aan hulle eenheid voor Jehovah God te herinner. Deur gesprekvoering is ’n konflik voorkom—asook ’n groot verlies van menselewens!—Josua 22:9-34.
Vandag loop misverstande eweneens dikwels op vervreemding en selfs vooroordeel uit. ’n Paar mense het Jehovah se Getuies byvoorbeeld as godsdiensdwepers beskou omdat hulle gehoor het dat hulle bloedoortappings weier. Maar diegene wat by die Getuies self hieroor navraag gedoen het, is dikwels aangenaam verras wanneer hulle uitvind dat daar ’n Bybelse grondslag vir hulle standpunt is en dat daar veilige, doeltreffende alternatiewe behandelingsmetodes bestaan (Levitikus 17:13, 14; Handelinge 15:28, 29). Trouens, weens probleme met die bloedvoorraad het ’n rubriekskrywer geskryf: “Dank die Vader dat die Jehovah se Getuies baanbrekerswerk in navorsing oor plaasvervangers vir bloed doen.”
Sommige het ook geweier om met die Getuies te praat omdat daar vir hulle gesê is dat Jehovah se Getuies nie in Jesus Christus glo nie. Hoe onwaar is dit tog! Die Getuies beklemtoon in werklikheid die rol wat Jesus in ons redding speel en verduidelik dat hy God se Seun is, die een wat deur God na die aarde toe gestuur is om mense van sonde en die dood los te koop. Deur met die Getuies oor hierdie saak te praat, is misverstande uit die weg geruim.—Matteus 16:16; 20:28; Johannes 3:16; 14:28; 1 Johannes 4:15.
Die waarheid—Gewild of ongewild?
Baie mense vind dit moontlik vreemd dat die gewilde weg, waar dit by godsdiens kom, dikwels die verkeerde weg is. Jesus Christus het self geleer: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min.”—Matteus 7:13, 14.
In Noag se dag het net agt mense in geestelike sin die waarheid gepraat—Noag, sy vrou, sy drie seuns en hulle vrouens. Hulle waarskuwingsboodskap en hulle bouwerk aan die ark het hulle ongetwyfeld voorwerpe van bespotting, selfs die skyf van beledigings, gemaak. Maar Noag en sy gesin is nie daardeur geïntimideer nie; hulle het aangehou om te preek en te bou (Genesis 6:13, 14; 7:21-24; 2 Petrus 2:5). Net so het slegs drie mense God se riglyne gehoorsaam en die vernietiging van Sodom en Gomorra oorleef.—Genesis 19:12-29; Lukas 17:28-30.
Wat van ons dag? “As Christus vandag as ’n mens sou terugkeer, sou mense hom heel waarskynlik weer doodmaak”, het ’n huisbewoner vir een van Jehovah se Getuies gesê. Hierdie persoon het gemeen dat Jesus se leringe en verhewe sedelike standaarde vandag net so ongewild sou wees as wat hulle 2 000 jaar gelede was. Stem jy hiermee saam?
Indien wel, is jy reg, want Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees”—’n voorspelling wat waar geword het (Matteus 24:9). Joodse leiers in Rome het vir die apostel Paulus die volgende oor die Christelike godsdiens gesê: “Wat hierdie sekte betref, . . . daar [word] oral daarteen gespreek” (Handelinge 28:22). Maar die ongewildheid van die Christelike godsdiens het nie Christus se volgelinge gekeer om hulle oortuigings aan ander te verkondig nie. En dit het ook nie opregtes van hart gekeer om met die Christene te praat nie.—Handelinge 13:43-49.
Jesus se boodskap is vandag belangriker as ooit. Waarom? Omdat wêreldtoestande toon dat ons nou in “die laaste dae” van hierdie stelsel lewe en dat hierdie dae ’n klimaks gaan bereik wanneer die aarde van onreg gereinig gaan word. Jesus het ons tyd met die dae van Noag vergelyk (2 Timoteus 3:1-5; Matteus 24:37-39). Dit is dus nie nou die tyd om ons oortuigings as vanselfsprekend aan te neem nie, want net diegene wat God ken en wat hom “met gees en waarheid aanbid”, sal die ewige lewe ontvang.—Johannes 4:24; 2 Tessalonisense 1:6-9.
Hoe om die regte pad te vind
Francis Bacon, ’n 17de-eeuse Engelse filosoof, essayis, regsgeleerde en staatsman, het waarheidsoekers aangeraai “om die saak te oorweeg en te oordink”. En ’n vroeë Amerikaanse president, Thomas Jefferson, het gesê: “Die rede en vrye ondersoek is die enigste doeltreffende middele om dwaling te voorkom. . . . Hulle is die natuurlike vyande van dwaling.” As ons dus opreg na die waarheid soek, sal ons ‘die saak oorweeg en oordink’ en “rede en vrye ondersoek” inspan.
Die Britse wetenskaplike sir Hermann Bondi het die volgende gesê oor die rede waarom so ’n benadering noodsaaklik is: “Aangesien daar hoogstens een ware geloof kan wees, volg dit daaruit dat mense op die gebied van geopenbaarde godsdiens baie maklik in alle opregtheid vas kan glo aan iets wat onwaar is. ’n Mens sou verwag dat hierdie voor die hand liggende feit mense nederiger sou maak, dat dit hulle sou laat besef dat ’n mens moontlik verkeerd kan wees ongeag hoe sterk jou geloof is.”
Hoe kan iemand dus vasstel of hy inderdaad op die ‘smal pad is wat na die lewe lei’? Jesus het geleer dat God ‘met waarheid’ aanbid moet word. Logieserwys volg dit dus dat twee leringe wat teenoorgesteldes van mekaar is nie albei waar kan wees nie. Die mens het byvoorbeeld ’n siel wat ná die dood voortleef of hy het nie. God gaan in menseaangeleenthede ingryp of hy gaan nie. God is ’n Drie-eenheid of hy is nie. Waarheidsoekers wil feitelike antwoorde op sulke belangrike vrae hê. Jehovah se Getuies glo dat God ons die antwoorde in sy Woord, die Bybel, gegee het.a
Aangesien ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is’, is die vernaamste manier waarop verskillende leringe getoets kan word om hulle aan die Bybel te meet (2 Timoteus 3:16). Wanneer ’n mens dit doen, ‘vergewis jy jou van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God’ (Romeine 12:2). Kan jy ‘jou daarvan vergewis’ dat jou oortuigings op die Bybel gegrond is? Dit is belangrik dat jy dit moet kan doen omdat God nie wil hê dat jy saam met “die hele bewoonde aarde” mislei moet word nie.—Openbaring 12:9.
Is onderrigters nodig?
Jesus het nie vir sy dissipels ’n paar boekrolle gegee en gesê: “Al die antwoorde op julle vrae is hierin. Gaan huis toe en soek self daarna.” Hy het hulle eerder geduldig en vriendelik God se woord geleer. Diegene wat sy leringe aangeneem het, het op hulle beurt sy metodes aangeneem wanneer hulle ander geleer het. Neem die voorbeeld van die dissipel Filippus. Hy het met ’n opregte Etiopiese amptenaar gepraat wat vroeër die Skrif leer ken het deur sy kontak met die Jode. Maar die man het hulp nodig gehad. Filippus—’n verteenwoordiger van die Christengemeente—is dus gerig om hom te help. As hierdie amptenaar onwillig was om oor godsdiens te praat, sou hy nie van Jesus se rol in God se voorneme geleer het nie. Wat ’n goeie voorbeeld is hierdie Etiopiër tog vir almal wat na die waarheid soek!—Handelinge 8:26-39.
Is jy bereid om oor jou oortuigings te praat en om vrae te vra soos hierdie Etiopiër gedoen het? Jy kan beslis baie baat daarby vind as jy dit doen. Jehovah se Getuies praat graag oor die Bybel met mense wat opreg wil weet wat dit sê. Die Getuies hou nie hulle persoonlike menings voor nie. Hulle probeer eerder vir mense wys wat die Bybel self sê.
Die Etiopiese amptenaar het ’n paar merkwaardige dinge oor Jesus Christus geleer, soos hoe God hom gaan gebruik wat ons redding betref. Vandag is die verwesenliking van God se voorneme baie nader. Vreesinboesemende, wonderlike dinge gaan binnekort hier op die aarde plaasvind. Die volgende artikel sal toon dat almal op die aarde daardeur geraak sal word. Hoe ons daardeur geraak sal word, sal natuurlik van ons gesindheid en ons dade afhang.
[Voetnoot]
a Sien gerus die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir bewyse dat die Bybel God se Woord is.
[Prent op bladsy 7]
’n Etiopiese amptenaar wou graag oor die Bybel praat