Bestaan God?—Party wetenskaplikes se antwoord
ULRICH J. BECKER, ’n fisikaprofessor aan Massachusetts se Instituut vir Tegnologie, het oor die bestaan van God gesê: “Hoe kan ek sonder ’n skepper bestaan? Ek dra nie kennis van enige oortuigende antwoord wat al hierop gegee is nie.”
Was dit strydig met sy wetenskaplike opvattings? Die professor se gedagteprikkelende antwoord was: “As jy uitvind hoe een rat in die ‘horlosie’ draai—kan jy spekuleer oor hoe die ander beweeg, maar jy het nie die reg om dit wetenskaplik te noem nie, en dit is beter om nie eers te gis oor wie die veer opgewen het nie.”
In teenstelling met die mening van sommige sluit talle geëerde wetenskaplikes nie die gedagte dat daar ’n God is uit nie—’n Groot Meesterbrein wat agter die skepping van die heelal en die mens is.
Beskou nog twee voorbeelde wat hierdie punt toelig. Toe die wiskundeprofessor John E. Fornaess, van Princeton-universiteit, gevra is om sy gedagtes oor die bestaan van God te gee, het hy geantwoord: “Ek glo dat daar ’n God is en dat God die heelal op alle vlakke saamgestel het, van elementêre deeltjies tot lewende wesens tot galaktiese superswerms.”
Die fisikaprofessor Henry Margenau, van Yale-universiteit, het gesê dat hy oortuig is dat die natuurwette deur God geskep is en het bygevoeg: “God het die heelal uit niks geskep deur ’n daad wat ook aan tyd ontstaan gegee het.” Hy het toe genoem dat drie wetenskaplikes in die boek The Mystery of Life’s Origin verduidelik dat ’n Skepper ’n aanneemlike verduideliking vir die oorsprong van die lewe is. Die sterrekundige Fred Hoyle ondersteun hierdie beskouing en sê dat geloof in die toevallige ontstaan van die eerste sel dieselfde is as om te glo dat ’n tornado wat deur ’n rommelwerf vol Boeing 747-vliegtuigonderdele trek ’n 747 kan voortbring.
By hierdie antwoorde kan die woorde van die Bybelskrywer Paulus gevoeg word: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid.”—Romeine 1:20.
Ja, God bestaan werklik! Maar waarom laat hy dan die droewige toestande toe wat daar tans in die wêreld heers? Wat is sy voorneme met die aarde? Kan ons presies te wete kom wie die ware God is?
[Lokteks op bladsy 3]
“As jy uitvind hoe een rat in die ‘horlosie’ draai—kan jy spekuleer oor hoe die ander beweeg, maar . . . dit is beter om nie eers te gis oor wie die veer opgewen het nie”