VN-jeugprogramme—Hoe suksesvol?
ONGEVEER 15 jaar gelede het die VN die jaar 1985 as Internasionale Jeugjaar verklaar. Daarbenewens het die VN sowat vier jaar gelede die Wêreldaksieplan vir die Jeug tot die Jaar 2000 en Daarna aangeneem. Hulle het gehoop dat hierdie programme sou help om die probleme te verminder en die geleenthede te vermeerder vir die meer as eenmiljard jongmense in die wêreld. Het hierdie programme ’n verskil gemaak?
In sommige gebiede het hulle ongetwyfeld ’n mate van sukses gehad. Choices, ’n tydskrif wat deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram gepubliseer word, gee ’n paar voorbeelde: In 1982 was meer as die helfte van die voorskoolse kinders in Thailand ondervoed. Maar minder as tien jaar later is matige en ernstige ondervoeding byna uitgeskakel. In die land Oman was daar in 1970 net drie skole, en net 900 seuns het skoolgegaan. Maar in 1994 het byna 500 000 kinders in daardie land skoolgegaan, en 49 persent van hulle was meisies. Dit is ongetwyfeld suksesverhale.
Maar die VN-publikasie United Nations Action for Youth sê dat vooruitgang veral in die ontwikkelende wêreld oorskadu word deur hardnekkige probleme in verband met onderwys, werksgeleenthede en armoede, en dit is net ’n paar van die gebiede wat die Wêreldaksieplan beoog om te verbeter.
Baie ontwikkelende lande sal byvoorbeeld nie die doelwit van primêre onderwys vir alle kinders teen die jaar 2000 bereik nie. Ouers in hierdie lande kan hulle kinders dikwels nie skool toe stuur nie omdat skole nie beskikbaar of bekostigbaar is nie. Die gevolg is dat “die aantal ongeletterde mense steeds sal toeneem”, sê United Nations Action for Youth. Ongeletterdheid dra weer tot werkloosheid by, en werkloosheid lei tot ’n groot verskeidenheid maatskaplike probleme, soos “swak selfbeeld, verwaarlosing”, die vermorsing van jongmense se talente en volslae armoede. En alhoewel armoede oud en jonk sonder onderskeid tref, ly jongmense veral as gevolg daarvan. Dieselfde VN-bron kom tot die gevolgtrekking dat “honger en wanvoeding [ten spyte van alle pogings] nog steeds onder die ernstigste en mees onbeheerbare bedreigings vir die mensdom is”.
Hoewel goed bedoelde programme en hardwerkende beroepsmense ’n mate van verbetering teweegbring, kan hulle nie die oorsake van die samelewing se probleme uit die weg ruim nie. Meer is nodig om dit te bereik. Soos die boek Mensenrechten en de noodzaak van wereldbestuur sê, sal die wêreld se probleme net opgelos word ‘as ’n wêreldregering tot stand kom wat afdwingbare maatreëls kan neem’. Dit is dus nie verbasend nie dat Christene—jonk sowel as oud—uitsien na God se inkomende Koninkryk, die wêreldregering waarvoor Jesus gesê het sy volgelinge moet bid (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Daardie regering sal werklik ’n verskil maak!
[Prent op bladsy 31]
Opvoeding is ’n fundamentele reg en behoefte van alle kinders
[Erkenning]
WHO photo by J. Mohr
[Foto-erkennings op bladsy 31]
FAO photo/F. Mattioli
Logo: UN photo