Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 1/8 bl. 23-25
  • Gesigsmerke—Nigerië se verdwynende ‘identiteitsbewys’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gesigsmerke—Nigerië se verdwynende ‘identiteitsbewys’
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verskillende beskouings
  • Hoe om bespotting te verduur
  • ’n Tradisie aan die verdwyn
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1999
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Staan vas in Christelike vryheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Is etniese haat geregverdig?
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 1/8 bl. 23-25

Gesigsmerke—Nigerië se verdwynende ‘identiteitsbewys’

Deur Ontwaak!-medewerker In Nigerië

EEN oggend in die laat sestigerjare het die sesjarige Danjuma na sy vader toe gegaan en daarop aangedring dat hy die snye kry wat Igala-inwoners met trots op hulle gesig gedra het. Danjuma het gevoel dat hy nie meer die bespotting van sy skoolmaats kon verduur wat hom geterg het omdat hy nie die gesigsmerke het nie. Hoewel die snye gewoonlik aangebring is toe die Igala-kinders nog te klein was om bang te wees vir die operasie, het die seuns die merke as ’n teken van dapperheid beskou. Hulle het diegene daarsonder as lafaards beskou wat te bang was vir die mes.

Danjuma se vader wou tot op daardie tydstip nie vir sy seun die gesigsmerke gee nie. Maar omdat sy seun so vasbeslote was om sy dapperheid te bewys, het hy daardie oggend ’n mes geneem en drie diep horisontale snye aan albei kante van die seun se gesig, net bokant sy mondhoeke, gemaak.

Danjuma se vader het geweet dat die ware betekenis van die snye nie veel met dapperheid te doen het nie. Die snye sou eerder kentekens word. Hulle sou ’n permanente ‘identiteitsbewys’ wees wat ’n mens nie kan verloor of vervals nie. Hulle sou maak dat sy seun onmiddellik deur sy stamgenote uitgeken kon word en kon kwalifiseer vir die regte en voorregte van ’n Igala-inwoner. Maar die merke sou hom ook onderskei van die meer as 250 ander etniese groepe in Nigerië.

Insnydings en littekens het ’n lang geskiedenis in Afrika, hoewel dit nie tot hierdie vasteland beperk is nie. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus het in die vyfde eeu v.G.J. oor Kariërs geskryf wat in Egipte gewoon het: “[Hulle] het hulle voorkoppe met messe gesny om te bewys dat hulle buitelanders is en nie Egiptenare nie.” Bronskoppe in Ife, Nigerië, wat sewehonderd jaar gelede gemaak is, het gesigslyne daarop wat volgens baie mense etniese snymerke kan wees. Gesigsmerke kan ook gesien word in die beeldhouwerke van die eertydse Nigeriese koninkryk van Benin.

Nie alle gesigsmerke word vir etniese identifisering gemaak nie. Party merke is en word nog steeds met spiritistiese en godsdiensgebruike geassosieer. Ander is statussimbole in tradisionele gemeenskappe. Nog ander is vir versiering.

Gesigsmerke verskil grootliks en word aangebring deur mense in die gemeenskap wat daarin spesialiseer. Party is oppervlakkige snytjies in die vel, terwyl ander diep kepe is wat deur die vingers wyer gemaak word. Soms word ’n plaaslike kleurstof op die wond gesit om die merke te kleur. Elke etniese groep het sy eie unieke patroon. Vertikale merke, een op elke wang, identifiseer byvoorbeeld Ondo-manne en -vroue. Drie horisontale merke op elke wang identifiseer die Oyo-stam. Mense met ’n goeie kennis van die merke hoef bloot na iemand se gesig te kyk om te weet van watter etniese groep, dorp of selfs familie daardie persoon afkomstig is.

Verskillende beskouings

Net soos die merke en die redes daarvoor grootliks verskil, so verskil die beskouings daaroor ook. Baie dra die merke met trots. ’n Redakteur van Nigerië se Daily Times het gesê: “Party beskou die merke as ’n simbool van patriotisme. Dit laat hulle soos ware seuns van hulle voorvaders voel.”

Dit is die beskouing van Jimoh, ’n Nigeriese man, wat sê: “Ek het nog nooit skaam gevoel oor my Oyo-merke nie omdat dit wys dat ek ’n ware Joroeba-inboorling van die dorp Alafin is.” Hy vertel verder hoe die merke in 1967 gedurende die Nigeriese Burgeroorlog sy lewe gered het: “Die huis waarin ek gewoon het, . . . is aangeval en al [die ander] is doodgemaak. Die moordenaars het niks aan my gedoen nie weens die merke op my gesig.”

Ander voel diep gegrief oor die merke. Tajudeen sê van die merke op sy gesig: “Ek haat dit, en ek vervloek die dag dat ek dit gekry het.” En ’n tienermeisie bedank haar moeder omdat sy nie toegelaat het dat hulle haar gesig as kind sny nie. Sy sê: “Ek sou selfmoord wou gepleeg het as ek die merke gekry het.”

Hoe om bespotting te verduur

Danjuma, wat in die inleiding gemeld word, is gespot omdat hy nie die merke gehad het nie. Gewoonlik gebeur die teenoorgestelde. Meer as 45 jaar gelede het G. T. Basden in sy boek Niger Ibos geskryf: “Insnydings in die vel en tatoeëring raak nou uit die mode. Baie van die jong mans . . . sal graag van [hulle merke] ontslae wil raak. Wat onder sy eie stamgenote ’n rede tot trots is, word ’n verleentheid omdat hy in ander dele van die land gespot en verag word.”

Daardie woorde is beslis waar vandag. Ajai, wat ’n graad in sielkunde aan die Universiteit van Lagos verwerf het, het onlangs in Nigerië ’n studie van gesigsmerke gemaak. Sy het gesê: “Mense met gesigsmerke is deesdae, ten minste in die stede soos Lagos, in die minderheid en kom in aanraking met mense wat hulle spot. Dit is byvoorbeeld algemeen om te hoor dat mense na iemand as kolonel verwys en dan uitvind dat hy nie in die weermag is nie, maar dat hy dieselfde aantal strepe op sy wange het as wat daar op die uniform van ’n kolonel in die leër is. Party word tier genoem weens die strepe op hulle wange of daar word na sommige verwys as ewigdurende trane. . . . Dink net wat dit aan die persoon se selfbeeld doen.”

Die grootste beproewinge word seker op skool verduur. Samuel was die enigste kind in sy klas met gesigsmerke. Hy sê: “Op skool het hulle my baie gespot. My skoolmaats het my ‘spoorlyn’ en ‘die seun met die spoorlyn’ genoem. Hulle het my altyd gespot en drie vingers vir my gewys. Dit het my minderwaardig laat voel.”

Hoe het hy dit die hoof gebied? Samuel sê verder: “Eendag was die spottery so erg dat ek na my biologie-onderwyser gegaan het en hom gevra het of ’n mens die merke sal kan verwyder. Hy het gesê dat dit deur middel van plastiese chirurgie gedoen kan word, maar dat dit my nie moet kwel nie, want duisende mense in Nigerië het merke. Hy het gesê dat my maats my spot omdat hulle onvolwasse is, maar dat al die spottery sou ophou as ons eendag groot is. Hy het ook gesê dat die merke nie bepaal het wie ek werklik is en watter soort persoon ek sou word nie.

“Dit het my baie beter laat voel, en ek het nie meer my merke gehaat nie. Mense verwys deesdae selde na my merke. Maar selfs wanneer hulle wel daarna verwys, glimlag ek net. Dit bederf nie my verhouding met ander nie. Mense respekteer my vir wat ek is, nie vir my merke nie.”

’n Tradisie aan die verdwyn

Aangesien mense gewoonlik die merke as kinders kry, het die meeste Nigeriërs wat etniese merke het nie veel van ’n keuse in die saak gehad nie. Maar wanneer hulle ouers word, moet hulle besluit of hulle dit aan hulle kinders gaan gee.

Party mense besluit om dit wel te doen. Volgens die Times International van Lagos is daar etlike redes vir hierdie besluit. Die tydskrif sê: “Party beskou dit nog steeds as versiering. Ander glo dat stammerke nuttig kan wees om die persoon se herkoms te bepaal, wat daartoe kan lei dat hy bevoordeel word. Ook word dit gebruik om te bepaal of ’n kind in die tradisionele konteks uit ’n wettige huwelik gebore is.”

Vandag beskou al hoe meer ouers hierdie redes egter nie as gebiedend nie. Selfs onder diegene wat trots op hulle merke is, is daar betreklik min wat hulle kinders aan die mes van die stam se snydokter wil onderwerp. Dit is veral die geval in die stede. Die pyn en die gevaar van infeksie, tesame met die bespotting en diskriminasie wat die kind later in sy lewe kan ondervind, is alles faktore wat maak dat ouers teen gesigsmerke besluit.

Dit is duidelik dat gesigsmerke vinnig hulle gewildheid en byval by mense verloor. Dit wil voorkom of mense in die Nigerië van die toekoms nie ’n ‘identiteitsbewys’ op hulle gesig sal dra nie, maar eerder in hulle sak.

[Prent op bladsy 23]

Gesigsmerke dui etniese groepe aan

[Prent op bladsy 24]

Gesigmerke is ’n tradisie wat aan die verdwyn is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel