Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 1/8 bl. 10-13
  • Beskerm vryhede—Hoe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beskerm vryhede—Hoe?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die grondoorsake van onverdraagsaamheid?
  • Die beste manier om onverdraagsaamheid te bestry
  • Meer as net verdraagsaamheid
  • Behoorlike balans kan jou lewe aangenaam maak
    Ontwaak!—1997
  • Verdraagsaamheid—Van die een uiterste na die ander
    Ontwaak!—1997
  • Godsdiensonverdraagsaamheid vandag
    Ontwaak!—1999
  • “Leer die les van verdraagsaamheid”
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 1/8 bl. 10-13

Beskerm vryhede—Hoe?

IN DIE klein dorpie Rengasdengklok, Indonesië, het etniese groepe jare lank in vrede saamgelewe. Maar die oënskynlike verdraagsaamheid het op 30 Januarie 1997 tot ’n einde gekom. Geweld het kort voor drie-uur die oggend van ’n godsdiensfeesdag uitgebreek toe ’n gelowige op sy trom begin slaan het. ’n Man van ’n ander godsdiens het op die lawaai gereageer deur beledigings na sy buurman te slinger. Hulle het op mekaar geskreeu en mekaar met klippe begin bestook. Met dagbreek het die oproerigheid al hoe erger geraak namate ander by die geveg aangesluit het. Teen die einde van die dag is twee Boeddhistiese tempels en vier van die Christendom se kerke vernietig. Die koerant International Herald Tribune het verslag oor hierdie voorval gedoen onder die titel “Vonk van onverdraagsaamheid steek vuur van etniese oproerigheid aan die brand”.

In baie lande is etniese minderhede wie se regte deur die wet beskerm word dikwels die teiken van onverdraagsaamheid. Die waarborg van vryheid deur middel van wetgewing dring dus nie werklik tot die kern van onverdraagsaamheid deur nie. Die feit dat onverdraagsaamheid nie openlik waargeneem kan word nie, beteken nie dat dit nie bestaan nie. As omstandighede die een of ander tyd in die toekoms verander en moontlik tot ’n atmosfeer van vooroordeel lei, kan sluimerende onverdraagsaamheid maklik na vore kom. Selfs as mense nie direk vervolg word nie, kan hulle die teiken van vyandigheid wees of hulle idees kan onderdruk word. Hoe kan dit voorkom word?

Wat is die grondoorsake van onverdraagsaamheid?

Dit is ons natuurlike neiging om iets wat anders of ongewoon is te verwerp of met agterdog te bejeën, veral beskouings wat van ons s’n verskil. Beteken dit dan dat dit onmoontlik is om verdraagsaam te wees? Die VN-publikasie Elimination of All Forms of Intolerance and Discrimination Based on Religion or Belief sê dat onkunde en ’n gebrek aan begrip “van die vernaamste grondoorsake van onverdraagsaamheid en diskriminasie is wat godsdiens en oortuiging betref”. Maar onkunde, die oorsaak van onverdraagsaamheid, kan bestry word. Hoe? Deur gebalanseerde opvoeding. “Opvoeding is moontlik die vernaamste middel om diskriminasie en onverdraagsaamheid te bestry”, sê ’n verslag van die VN se Kommissie oor Menseregte.

Wat moet die doel van hierdie opvoeding wees? Die tydskrif UNESCO Courier moedig mense nie aan om godsdiensbewegings te verwerp nie, maar doen eerder aan die hand dat “opvoeding ten gunste van verdraagsaamheid daarop gemik moet wees om invloede teë te werk wat tot vrees en die uitsluiting van ander lei, en om jongmense te help om vermoëns te ontwikkel soos onafhanklike oordeel, kritiese denke en etiese redeneervermoë”.

Dit spreek vanself dat die media ’n belangrike rol kan speel in die bevordering van “kritiese denke en etiese redeneervermoë”. Baie internasionale organisasies erken die mag van die media om mense se denke te vorm en wedersydse begrip aan te moedig. Maar verantwoordelike, objektiewe verslaggewing is nodig as die media verdraagsaamheid wil bevorder in plaas van onverdraagsaamheid soos party doen. Joernaliste moet soms van die algemeen aanvaarde mening verskil. Hulle moet objektiewe ontleding en onpartydige waarnemings laat geld. Maar is dit genoeg?

Die beste manier om onverdraagsaamheid te bestry

Verdraagsaamheid beteken nie dat almal dieselfde idees moet hê nie. Mense sal met mekaar verskil. Sommige voel dalk sterk daaroor dat die opvattings van iemand anders heeltemal verkeerd is. Hulle praat dalk selfs openlik oor hulle verskille. Maar solank hulle nie leuens versprei om vooroordeel te probeer wek nie, is dit nie onverdraagsaamheid nie. Onverdraagsaamheid word gesien wanneer ’n groep vervolg word, die teiken van spesiale wette word, uitgesluit word of op die een of ander manier verhinder word om hulle oortuiging uit te leef. In die ergste vorm van onverdraagsaamheid pleeg sommige moord en ander moet sterf vir hulle oortuiging.

Hoe kan onverdraagsaamheid bestry word? Dit kan in die openbaar aan die kaak gestel word, soos die apostel Paulus die onverdraagsaamheid van die godsdiensleiers van sy dag aan die kaak gestel het (Handelinge 24:10-13). Maar die beste manier om onverdraagsaamheid te bestry, is deur, wanneer moontlik, proaktief te wees—om verdraagsaamheid te bevorder, met ander woorde, om mense te leer om ander beter te verstaan. Die VN-verslag oor die uitskakeling van onverdraagsaamheid waarna daar vroeër verwys is, sê: “Aangesien alle vorme van onverdraagsaamheid en diskriminasie op grond van godsdiens of oortuiging in die mens se verstand ontstaan, moet daar juis by die mens se verstand met verandering begin word.” Sulke opvoeding kan selfs daartoe lei dat individue hulle eie oortuigings ondersoek.

Federico Mayor, direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur, het geskryf: “Verdraagsaamheid is die deug van die persoon wat oortuiging het.” Die Dominikaanse priester Claude Geffré het die volgende in die tydskrif Réforme geskryf: “Ware verdraagsaamheid berus op sterk oortuiging.” Iemand wat tevrede is met sy eie oortuigings sal heel waarskynlik nie bedreig voel deur die oortuigings van ander nie.

Jehovah se Getuies het gevind dat ’n uitstekende manier om verdraagsaamheid te bevorder, is om met mense van verskillende gelowe te praat. Die Getuies neem Jesus se profesie ernstig op dat ‘hierdie goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde verkondig sal word tot ’n getuienis vir al die nasies’, en hulle is welbekend vir hulle openbare evangelisasiewerk (Matteus 24:14). In hierdie werk het hulle die geleentheid om te luister hoe mense van talle verskillende godsdienste—sowel as ateïste—hulle oortuigings verduidelik. Op hulle beurt is die Getuies bereid om hulle eie oortuigings te verduidelik aan diegene wat wil luister. Sodoende bevorder hulle ’n toename in kennis en begrip. Sulke kennis en begrip maak dit makliker vir mense om verdraagsamer te wees.

Meer as net verdraagsaamheid

Ten spyte van die goeie bedoelings van baie en die ywerige pogings van party, is godsdiensonverdraagsaamheid vandag beslis nog steeds ’n probleem. Vir ’n werklike verandering om plaas te vind, is meer nodig. Die Franse koerant Le Monde des débats het getoon wat die probleem is: “Die moderne samelewing ly te dikwels aan ’n emosionele en geestelike gebrek. Die wet kan vryheid waarborg teen diegene wat dit bedreig. Dit kan en moet regsgelykheid waarborg, sonder willekeurige diskriminasie.” Die boek Democracy and Tolerance erken: “Ons is nog ver van ons doelwit om wedersydse begrip en respek ’n universele gedragstandaard te maak.”

Die Bybel belowe dat die mensdom binnekort verenig sal wees in die aanbidding van die enigste ware God. Gevolglik sal die mensdom in ’n ware wêreldwye broederskap verenig wees waar respek vir ander sal seëvier. Mense sal nie meer deur onkunde geteister word nie, aangesien God se Koninkryk mense Jehovah se weë sal leer en sodoende hulle intellektuele, emosionele en geestelike behoeftes sal bevredig (Jesaja 11:9; 30:21; 54:13). Ware gelykheid en vryheid sal oor die hele aarde gevind word (2 Korintiërs 3:17). Deur ’n akkurate begrip van God se voornemens vir die mensdom te verkry, kan jy onkunde en onverdraagsaamheid teëwerk.

[Venster/Prent op bladsy 11]

Godsdiens word bedreig

In die laaste jare het die owerheid Jehovah se Getuies in Frankryk aan bande probeer lê deur hulle die voordele te ontsê wat ander godsdienste geniet. Swaar belasting is onlangs gehef op bydraes wat ter ondersteuning van die Getuies se godsdiensbedrywighede ontvang is. Franse owerhede het ten onregte ’n belasting van R313 miljoen (belasting en boetes) gehef met die voor die hand liggende doel om hierdie groep van 200 000 Christene in Frankryk, sowel as dié wat hulle goedgesind is, aan bande te lê. Dit is ’n skreiende daad van godsdiensvooroordeel wat teen al die beginsels van vryheid, broederskap en gelykheid indruis.

[Prent op bladsy 10]

Onverdraagsaamheid lei dikwels tot geweld

[Prente op bladsy 12]

Ten spyte van die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies beweer sommige Franse amptenare dat hulle nie ’n godsdiens is nie!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel