Godsdiensonverdraagsaamheid vandag
“Elkeen het die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens; hierdie reg sluit die vryheid in om van godsdiens of opvattings te verander, en die vryheid om, hetsy alleen of in samewerking met ander en in die openbaar of privaat, aan sy godsdiens of opvattings uiting te gee in leringe, gebruike, aanbidding en vierings.” Artikel 18, Universele Verklaring Van Menseregte, 1948.
GENIET jy godsdiensvryheid in jou land? Die meeste lande in die wêreld onderskryf op die oog af hierdie edele beginsel, wat al baie keer in internasionale verklarings ingesluit is. Maar volgens skatting is daar vandag in tallose lande, waar onverdraagsaamheid en diskriminasie die harde werklikheid is, miljoene der miljoene mense wat nie godsdiensvryheid geniet nie. Aan die ander kant lewe baie mense in lande met verskillende rasse, etniese groepe of godsdienste waar vryheid deur die wet gewaarborg word en waar verdraagsaamheid skynbaar ’n deel van die land se kultuur is.
Maar selfs in hierdie plekke word die godsdiensvryheid van sommige mense bedreig. “Diskriminasie op grond van godsdiens of oortuiging bestaan in byna alle ekonomiese, maatskaplike en ideologiese stelsels en in alle wêrelddele”, het Angelo d’Almeida Ribeiro gesê, die voormalige Spesiale Referent wat deur die VN se Kommissie oor Menseregte aangestel is. Die redakteurs Kevin Boyle en Juliet Sheen sê die volgende in hulle boek Freedom of Religion and Belief—A World Report, wat in 1997 uitgegee is: “Godsdiensvervolging van minderheidsgelowe [en] die verwerping van opvattings sowel as alomteenwoordige diskriminasie . . . is aan die einde van die twintigste eeu daaglikse gebeurtenisse.”
Maar godsdiensdiskriminasie raak nie net godsdiensminderhede nie. Professor Abdelfattah Amor, Spesiale Referent oor Godsdiensonverdraagsaamheid, van die VN se Kommissie oor Menseregte, meen dat “geen godsdiens teen belastering gevrywaar is nie”. Dit is dus hoogs waarskynlik dat sommige godsdienste waar jy woon dikwels voor onverdraagsaamheid en vooroordeel te staan kom.
Verskillende vorme van diskriminasie
Godsdiensdiskriminasie kan baie vorme aanneem. Sommige lande sluit eenvoudig alle godsdienste uit, met uitsondering van een, en maak dit as ’t ware die Staatsgodsdiens. In ander lande word wette aangeneem wat die bedrywighede van sekere godsdienste beperk. Party lande het wette uitgevaardig wat al op ’n arbitrêre manier vertolk is. Beskou byvoorbeeld hoe maklik ’n voorgestelde wet in Israel misbruik kan word; daarvolgens is die invoer, druk, verspreiding of besit van brosjures of materiaal “waarin daar ’n aansporing tot godsdiensbekering is” strafbaar. Dit is geen wonder dat die koerant die International Herald Tribune die volgende berig nie: “Jehovah se Getuies in Israel is geteister en aangeval.” Daar is drie keer by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Lod ingebreek en dit is twee keer deur fanatiese ultraortodokse yweraars beskadig. Die polisie wou nie ingryp nie.
Die boek Freedom of Religion and Belief noem ander voorbeelde van onverdraagsaamheid: “Kettery en ketters is nie iets wat net tot die verlede behoort nie. . . . Verwerping, vervolging en diskriminasie teen diegene wat ’n ander weg inslaan, is steeds ’n vername oorsaak van onverdraagsaamheid. ’n Paar voorbeelde is die Ahmadijjas in Pakistan en die [Bahaïste] in Egipte, Iran en Maleisië sowel as Jehovah se Getuies in etlike lande in Oostelike Europa, in Griekeland en Singapoer.” Godsdiensvryheid word ongetwyfeld in baie dele van die wêreld bedreig.
In die lig hiervan het Federico Mayor, direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur, gesê dat die wêreld van môre ‘’n mens nie met groot entoesiasme vervul nie. . . . Die winde van vryheid het weer die vuurtjie van haat laat opvlam.’ Die direkteur van die Sentrum vir Menseregte van die Universiteit van Essex, Verenigde Koninkryk, het hierdie vrese beaam deur te sê: “Al die bewyse lei tot die gevolgtrekking dat godsdiensonverdraagsaamheid . . . in die moderne wêreld eerder aan die toeneem is as wat dit afneem.” Sulke toenemende onverdraagsaamheid is ’n bedreiging vir godsdiensvryheid, moontlik vir jóú godsdiensvryheid. Maar waarom is godsdiensvryheid so belangrik?
Wat is op die spel?
“Godsdiensvryheid is ’n fundamentele voorvereiste vir enige gemeenskap om as vry beskryf te kan word. . . . Sonder godsdiensvryheid en die reg om ’n mens se geloof te verkondig, kan daar geen vryheid van gewete en geen werklike demokrasie wees nie”, het die sosioloog Bryan Wilson in sy boek Human Values in a Changing World gesê. En, soos ’n Franse hof onlangs erken het, “vryheid van opvatting is een van die fundamentele elemente van openbare vryhede”. Hetsy jy dus godsdienstig is of nie, jy behoort in die beskerming van godsdiensvryheid belang te stel.
’n Land se gesindheid teenoor godsdiensvryheid het ook ’n groot invloed op sy reputasie en internasionale geloofwaardigheid. ’n Verslag wat in 1997 aan ’n vergadering van die 54 lidlande van die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa voorgelê is, het gesê: “Godsdiensvryheid is een van die hoogste waardes in die konstellasie van menseregte, dit dring deur tot die wese van menswaardigheid. Geen stelsel wat sulke regte skend of die sistematiese skending daarvan toelaat, kan aanspraak maak op lidmaatskap in die gemeenskap van regverdige en demokratiese state wat fundamentele menseregte respekteer nie.”
Godsdiensvryheid is soos ’n deel van die fondament van ’n gebou. Ander vryhede—burgerlike, politieke, kulturele en ekonomiese vryhede—word daarop gebou. As die fondament ondermyn word, ly die hele gebou daaronder. Professor Francesco Margiotta-Broglio stel dit kortweg: “Wanneer [godsdiens]vryheid ook al geskend word, is ander vryhede volgende aan die beurt.” As ons ander vryhede wil beskerm, moet ons eerstens godsdiensvryheid beskerm.
As ’n mens wil weet wat die beste manier is om iets te beskerm, is dit noodsaaklik dat jy verstaan wat dit behels. Waar het godsdiensvryheid sy ontstaan gehad? Hoe is dit gevestig, en teen watter prys?
[Prent op bladsy 4]
Godsdiensonverdraagsaamheid het ’n lang geskiedenis