Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 12/8 bl. 24-27
  • Die wysheid en voordele van boedelbeplanning

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wysheid en voordele van boedelbeplanning
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is boedelbeplanning?
  • Stappe
  • Wie kan help?
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—2012
  • Hulle doen wat hulle kan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Dien God met ‘een hart en siel’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hoe party tot die Koninkrykspredikingswerk bydra
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 12/8 bl. 24-27

Die wysheid en voordele van boedelbeplanning

DIE Petersons was teleurgesteld.a Hulle het gereken op die inkomste wat hulle sou kry toe hulle hulle eiendomme verkoop het om vir hulle aftrede te help voorsien en om genoeg te hê om eindelik ook ’n groot geskenk aan hulle kinders te gee. Daardie verwagtinge is verydel deur die hoë belasting wat hulle moes betaal toe die eiendomme verkoop is.

Die Smiths het ook eiendomme gehad waarvan die waarde deur die jare heen aansienlik toegeneem het. Deur ’n spesiale ooreenkoms aan te gaan toe hulle daardie eiendomme verkoop het, het hulle genoeg gehad vir ’n inkomste vir hulle aftrede, ’n groot geskenk aan hulle kinders en boonop iets vir hulle geliefkoosde liefdadigheidsorganisasie.

Rose Jones het nie meer geweet watter kant toe nie. Kort ná haar man se ontydige dood het sy dokumente van die staats- en federale regering af begin ontvang wat sy nie verstaan het nie. Haar man, John, het altyd na die finansies omgesien, waaronder die belasting, lewensversekering en dies meer. Hy het altyd vir haar gesê dat sy haar nie moet bekommer nie—“alles is onder beheer”. Maar aangesien hy gesterf het sonder om ’n testament na te laat, is party van die bates waarop sy staatgemaak het vir ’n inkomste bevries. Sy is in kennis gestel dat sy nou ’n prokureur moes kry om haar te help uitvind watter bates haar man agtergelaat het en wat sy sou moes doen om dit op haar naam oor te dra. Daar is ook vir haar gesê dat ’n sekere gedeelte van hierdie bates, volgens die wet, aan haar man se kinders uit ’n vorige huwelik oorgedra sal word, selfs al het sy geweet dat hy dit nie so wou gehad het nie. Die las van weduweeskap is net vererger deur die feit dat sy nie geweet het wat om te doen nie en die bekommernis oor hoeveel dit sou kos om sake weer in orde te kry.

Mary Brown het ook haar man op tragiese wyse ontydig verloor. Sy het ’n mate van vertroosting gevind in die wete dat haar man voldoende voorsorg getref het vir lewensversekering sodat sy en haar kinders ’n inkomste sou hê. Sy het ook verstaan watter bates onmiddellik hare geword het toe haar man gesterf het en watter bates in haar man se testament aan haar bemaak is. Alhoewel sy haar by die uitdagings van weduweeskap moes aanpas, was sy baie dankbaar oor haar man se bedagsaamheid omdat hy sy sake georganiseer het sodat sy dood feitlik geen finansiële uitwerking op haar en die kinders gehad het nie.

Wat het vir die Smiths en Mary Brown die verskil gemaak? Boedelbeplanning.

Wat is boedelbeplanning?

Boedelbeplanning behels bloot dat jy besluit hoe jou bates ná jou dood verdeel sal word en dat jy dan stappe doen om jou besluite doeltreffend en ekonomies uit te voer. Sulke stappe sluit moontlik in dat jy sorg dat die eiendomsbewyse van jou bates in orde is, begunstigdes benoem word en dokumente soos testamente en trusts opgestel word. In ingewikkelde situasies sal dit baie meer behels.

Hoewel die meeste mense ongetwyfeld saamstem dat dit wys is om sulke reëlings te tref, het betreklik min dit al gedoen. ’n Verbasende 70 persent van die volwassenes in die Verenigde State het nie ’n testament nie! Die volgende is tipiese verskonings: “Ek’s te besig; ek sal later daarby uitkom.” “Ek het nie baie geld of waardevolle goed om na te laat nie.” “Ek het nie ’n prokureur nie.” “Ek hou nie daarvan om aan my sterflikheid te dink nie.” “Ek weet nie waar om te begin nie.”

Dit kan weliswaar vreesaanjaend wees om aan boedelbeplanning te dink. Maar dit hoef nie te wees nie. Al wat dikwels nodig is om aan die gang te kom, is dat ’n mens georganiseerd raak en die besluite verstaan wat jy moet neem. Boedelbeplanning is, soos baie dinge, nie moeilik wanneer dit in stappe onderverdeel word en dan stap vir stap aangepak word nie.

Stappe

Die eerste stap is om ’n lys te maak van jou boedel. Jy moet nie net ’n lys maak van wat jy besit nie, maar ook van wat elke bate werd is en hoe jy dit besit of wie die titelhouer daarvan is. (Sien die venster “Nettowaarde-werkstaat”.) Die meeste bates kan geklassifiseer word as effekte (aandele, obligasies, effektetrusts), vaste eiendom (jou huis, verhuurde of beleggingseiendom), bankrekeninge (spaar-, tjek-, geldmarkfondse), persoonlike eiendom (versamelings, kunswerke, juwele, motors, meubels), lewensversekering, pensioenfondse en sakeondernemings. Nadat jy neergeskryf het wat jy besit, moet jy ’n lys maak van wat jy skuld, soos verbande, lenings, promesses en kredietkaartsaldo’s. As jy hierdie laste van die totaal van jou bates aftrek, sal jy weet wat jou netto waarde is. In baie lande word belasting gehef op dit wat met iemand se dood na ander oorgedra word. Die bedrag van die belasting hang af van die netto waarde van die bates wat oorgedra word, en daarom is dit belangrik om vas te stel wat jou netto waarde is.

Die tweede stap is om te besluit wat jou doel eintlik is—nie in terme van bedrae nie, maar in terme van wat jy vir jouself sowel as vir jou begunstigdes wil bereik. ’n Getroude persoon sal gewoonlik sekuriteit vir sy of haar huweliksmaat wil voorsien. ’n Ouer wil dalk ’n mate van finansiële beskerming vir sy of haar kinders voorsien. ’n Volwasse kind wil moontlik reël dat ’n bejaarde ouer versorg sal wees. Daarbenewens wil jy dalk ook sekere vriende en liefdadigheidsorganisasies in jou testament in gedagte hou. Dit is belangrik om neer te skryf wie in jou testament ingesluit moet word en wat jou wens vir elkeen is.

Moenie vergeet om die verskillende onvoorsiene gebeurlikhede in aanmerking te neem wat ’n uitwerking op jou testament kan hê nie. Gestel byvoorbeeld dat die begunstigde voor jou sterf. Sou jy dan wil hê dat daardie deel aan sy of haar huweliksmaat, kinders of miskien iemand anders bemaak word?

Die derde stap is om te besluit wie daarvoor verantwoordelik moet wees om jou wense uit te voer. In die meeste gevalle sal jy ’n eksekuteur en moontlik ’n voog en ’n trustee moet aanstel. Ongeag wie jy kies, jy moet ten minste een plaasvervanger hê, en jy moet seker maak dat elkeen wat jy benoem bereid is om die verantwoordelikheid te aanvaar. Die eksekuteur is die een wat jou bates ná jou dood bymekaar sal maak, enige wetlike of verifikasieprosedures sal hanteer en wat uiteindelik jou bates in ooreenstemming met jou wense sal verdeel. Dit is dikwels die beste om ’n familielid te kies om hierdie verantwoordelikheid te dra, alhoewel ’n instelling soos die trustafdeling van ’n bank moontlik verkieslik sal wees as jou situasie ingewikkeld is. Jy behoort ’n voog in jou testament te benoem wat jou kinders moet grootmaak ingeval jy en jou huweliksmaat sterf terwyl die kinders nog minderjarig is. As jou testament trusts vir die kinders insluit, kan die voog ook as die trustee benoem word, mits hy of sy bekwaam is om die fondse te behartig. As die voog nie finansiële kundigheid het nie, kan ’n instelling soos die trustafdeling van ’n bank as die enigste trustee of as medetrustee saam met die voog benoem word.

Die vierde stap is om te weet watter hulpmiddels beskikbaar is om jou jou doelwitte te help bereik. Wil jy ’n direkte skenking aan ’n begunstigde maak, of wil jy eerder eiendom tot voordeel van daardie persoon in trust laat? Daar is ’n groot verskil. Wanneer jy eiendom direk bemaak, verval jou aanspraak op daardie eiendom wanneer jy sterf. Maar wanneer jy eiendom in trust laat, oefen jy selfs ná jou dood nog steeds ’n mate van beheer daaroor uit. Die trustee wat jy benoem, sal bates tot voordeel van die begunstigdes volgens jou instruksies in die trust bestuur en gebruik. Met minderjarige kinders kan daar byvoorbeeld deur ’n trust gereël word dat hulle volgens hulle individuele behoeftes versorg word, en daar kan voorgeskryf word op watter ouderdom(me) ’n kind beheer oor die bates in die trust kan oorneem.

Wie kan help?

In byna alle gevalle behoort jy iemand wat in boedelbeplanning opgelei is te raadpleeg sodat hy aan jou kan verduidelik hoe die beskikbare hulpmiddels jou kan help om jou doel te bereik. Jou testament moet ontwerp word om by jou unieke doelwitte en omstandighede te pas. Jy het dalk die hulp van verskillende raadgewers nodig om jou testament op te stel, soos ’n rekenmeester, ’n finansiële beplanner en ’n versekeringsagent. As jou testament ’n liefdadigheidsorganisasie insluit, sal jy dalk gratis raad by die organisasie se beplande skenkingafdeling kan kry. Die Rekeningafdeling van die Wagtoringgenootskap voorsien byvoorbeeld hulp aan diegene wat daarin belangstel om die Genootskap in hulle testament in te sluit. Baie het al baat gevind by hierdie diens deur duidelike wenke te kry oor wat die beste manier is om sake te reël sodat belasting tot ’n minimum beperk word en die voordele vir hulle geliefdes en die Genootskap vergroot word.

Alhoewel baie mense dalk by die beplanning betrokke is, behoort jou finale testament en die nodige dokumente deur ’n prokureur opgestel te word wat in boedelbeplanning spesialiseer. Jy moet die vrymoedigheid hê om enige raadgewer oor sy agtergrond en ondervinding in boedelbeplanning uit te vra. As jy jou oor iets spesifieks bekommer, soos om ’n sakeonderneming aan jou familie na te laat of om vir ’n gestremde familielid te sorg, moet jy vra of die raadgewer al voorheen met so ’n situasie te doen gekry het. In alle gevalle moet jy ’n uiteensetting vra van wat die dienste gaan kos, en kry hierdie ooreenkoms op skrif.

Boedelbeplanning is ’n gebied waarop te min kennis gevaarlik kan wees. Ter toeligting kan ons die geval van ’n egpaar beskou wat ons Paul en Mary sal noem. Hulle wou al hulle besittings gelykop tussen hulle drie dogters verdeel. Aangesien hulle dogter Sarah langs hulle gewoon het, het hulle besluit om haar naam by hulle eie te voeg sodat hulle gesamentlik eiendomsreg op hulle bates gehad het. ‘Op hierdie manier’, het hulle gedink, ‘sal Sarah ons bates kan bestuur as ons invalides sou raak. Buitendien, as ons alles gesamentlik besit, beteken dit dat Sarah die enigste eienaar sal wees wanneer ons sterf, en ons sal nie ’n testament en verifikasie daarvan nodig hê nie. Sy kan net dit wat oorbly met haar susters deel nadat ons gesterf het.’

Maar dinge het nie uitgewerk soos Paul en Mary gedink het nie. Ná haar ouers se dood hét Sarah die boedel met haar susters gedeel, maar moes soveel belasting betaal om dit op hulle naam oor te dra dat dit haar deel baie kleiner gemaak het. Daarbenewens het die blote feit dat Sarah ’n mede-eienaar was nie vir haar die bestuursvermoë gegee wat haar ouers gehoop het sy sou hê nie. Paul en Mary het goeie bedoelings gehad. Hulle wou seker maak dat hulle versorg sou wees ingeval hulle invalides sou raak. Hulle wou ook hê dat die oordrag van hulle bates na hulle kinders probleemvry moes wees en dat dit nie te veel moes kos nie. Maar hulle het die verkeerde hulpmiddels gekies om daardie doelwitte te verwesenlik.

Boedelbeplanning behoort nie iets te wees waaraan jy net een keer in jou lewe dink nie. Dit is noodsaaklik om dit van tyd tot tyd te hersien omdat belastingwette verander, erfwette verander en lewensomstandighede verander. Die dood van ’n familielid, die geboorte van kleinkinders, die ontvangs van ’n erflating en die waardevermeerdering van ’n bate is alles gebeurtenisse wat ’n hersiening van jou testament kan noodsaak.

Ja, boedelbeplanning is ’n uitdaging. Dit vereis tyd, energie en toewyding. En dit behels dikwels dat jy ’n paar moeilike besluite moet neem. Om ’n testament op te stel, is ’n uiters emosionele proses. Die mense en sake waarvoor jy omgee asook jou wense vir die toekoms is daarby betrokke. Dit verg ernstige selfondersoek om te besluit wat jy met jou bates wil doen en om vas te stel wat die beste manier is om daardie doelwitte te bereik. Maar as ’n mens nie behoorlik aan boedelbeplanning aandag skenk nie, kan dit ernstige gevolge hê, soos deur die ondervindinge aan die begin van hierdie artikel toegelig is. Ja, die belonings sal die koste beslis die moeite werd maak. Die grootste beloning is gemoedsrus omdat jy weet dat jy ’n onlangse testament het waardeur jou geliefdes beskerm sal word.

[Voetnote]

a Die voorbeelde wat in hierdie artikel gebruik word, is denkbeeldig, maar is op werklike ondervindings gebaseer. Daarbenewens is die inligting in hierdie artikel hoofsaaklik op die Amerikaanse wet gebaseer, maar die beginsels wat bespreek word, geld in baie ander lande.

[Venster op bladsy 26]

Stappe om te doen

• Maak ’n lys van jou boedel deur neer te skryf wat jy besit en wat jy skuld

• Bepaal wat jou persoonlike doelwitte en behoeftes sowel as dié van jou familie is

• Kies die mense wat jou wense sal uitvoer as eksekuteur, trustee en voog vir jou kinders, en maak seker dat hulle bereid is om die verantwoordelikheid te aanvaar

• Vind uit watter boedelbeplanningsopsies beskikbaar is deur raad te vra by iemand wat ervare is in boedelbeplanning

[Tabel op bladsy 25]

Nettowaarde-werkstaat

Bates Op jou naam Op huweliksmaat Op albei se naam

se naam

Huis (huidige

markwaarde) R R R

Ander vaste eiendom R R R

Bankrekeninge

(tjek- en spaarrekening) R R R

Ander kontantrekeninge R R R

Aandele, obligasies,

en effektetrusts R R R

Lewensversekering

(sigwaarde) R R R

Aandeel in

sakevennooskappe R R R

Pensioenfondse R R R

Persoonlike eiendom R R R

Ander bates

(spesifiseer) R R R

Totale bates R R R

Laste

Verbande R R R

Ander lenings of skuld

(persoonlike lenings,

kredietkaarte, ens.) R R R

Totale laste

Netto boedel (bates

minus laste) R R R

[Prent op bladsy 25]

Boedelbeplanning behels beplanning vir jou geliefdes se toekoms

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel