“Jy kan ophou—Ons het!”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
Daar word gesê dat Europese skepe wat in die laat 16de eeu in Japan gedok het besoekers gehad het wat gerook het en gelyk het of hulle “vuur in hulle maag maak”. Verbasing is vervang deur nuuskierigheid, met die gevolg dat die tabakgewoonte teen die 1880’s algemeen in Japan was. Wie sou kon dink dat die afstammelinge van daardie verbaasde Japannese vandag onder die strafste tabakgebruikers in die wêreld sou tel?
“ONS wou soos grootmense voel, sodat ons kon leer watter emosies grootmense ervaar.”—Akio, Osamoe en Joko.
“Ek wou gewig verloor.”—Tsoeja.
“Dit was uit nuuskierigheid.”—Tosjihiro.
“Ons het nie gedink dat tabak ons sou benadeel nie.”— Riohei, Joenitsji en Jasoehiko.
“Ek wou gedurende my tweede swangerskap oggendsiekte verlig.”—Tsjieko.
“Ek het begin rook om die vervelige tye tydens sakevergaderinge om te kry.”—Tatsoehiko.
Dit is die redes wat gegee is toe ’n groep mense gevra is waarom hulle sigarette begin rook het. Hierdie verduidelikings is heel verstaanbaar in die lig van die feit dat party Japan ’n rokersparadys noem. Merkwaardig genoeg het die mense wat hierbo genoem word almal opgehou rook. Dit is nogal ’n prestasie as ’n mens aan die struikelblokke dink wat deur hulle omgewing geskep word. Wonder jy hoe hulle dit gedoen het? Kom ons kyk ten eerste hoe algemeen tabakgebruik vandag in Japan is.
Tabakgebruik
Ongeveer 56 persent van volwasse Japannese mans rook, teenoor net 28 persent van Amerikaanse mans wat 15 jaar of ouer is. Japan se 34 000 000 rokers sluit ongeveer 22 persent van hulle vroue in, van wie baie jonk is. Die voorbeeld wat volwassenes stel, asook slim reklame het grootliks tot die vinnige toename in jong rokers bygedra. Sigaretadvertensies oor die TV en radio, wat meer as twee dekades gelede in die Verenigde State verbied is, word nou ook in Japan verbied.
Daarbenewens is sigarette maklik bekombaar van talle muntoutomate wat op straathoeke in Japan staan. Sodra die pakkie in die hand is, slaan min ag op die flou en ongeërgde boodskappe wat daarop gedruk is. Die etiket sê dalk net: “Moenie te veel rook nie; dit kan skadelik wees.” En benewens die feit dat mense nie van die ernstige gevare van tabak bewus is nie, moedig die slegte voorbeeld van etlike bekendes Japannese ook aan om te rook omdat dit aan hulle ’n valse gevoel van veiligheid gee.
Dit is geen wonder dat teenstanders van rook die feit betreur dat Japan sy plig versuim deur nie meer van sy burgers te kry om op te hou rook nie. Maar opvoeders begin die belangrikheid daarvan sien om mense te waarsku dat rook hulle gesondheid en lewe bedreig. Ja, Japannese rokers ondervind dieselfde simptome as rokers elders—naarheid, kortasemigheid, ’n knaende gehoes, maagpyn, aptytverlies, vatbaarheid vir verkoues en miskien in die toekoms ’n ontydige dood weens longkanker, hartsiekte of ander probleme.
Van 1 April 1985 af is die Japannese tabakbedryf geprivatiseer, wat dekades van regeringsmonopolie beëindig het. Nietemin het dit nog steeds noue regeringsbande wat enige werklike vooruitgang in die stryd teen rokery belemmer. Dit verduidelik waarom antitabakgroepe Japan vandag as ’n rokersparadys beskou. En dit verduidelik waarom The Daily Yomiuri berig het dat dokters hier die feit betreur dat Japan “’n gemeenskap is wat rokery aanmoedig”.
Sien die venster “Hoe ons opgehou het” om te sien hoe party dit reggekry het om op te hou rook.
Hoe kan jy ophou?
Die raad van hierdie voormalige tabakliefhebbers, soos dié in die venster, kom hierop neer: Jy moet ’n duidelike beweegrede hê waarom jy wil ophou. Liefde vir God en ’n begeerte om hom te behaag, is die beste beweegrede. En liefde vir jou naaste is nog ’n goeie rede. Stel ’n doelwit, en bly daarby. Sê vir almal dat jy gaan ophou—vertel jou vriende, en vra jou gesin om jou te help. Hou eensklaps op, indien moontlik. En doen alles moontlik om ’n rokersomgewing te vermy.
Indien jy die Bybel bestudeer, kan jy meer met Jehovah se Getuies assosieer. As jy tussen hulle is, sal jy gou jou begeerte verloor om te rook. As jy daarenteen een van Jehovah se Getuies is wat die Bybel met ’n roker studeer, moet jy nie moed verloor nie. Help hom om Jehovah liewer te kry as sy slegte gewoonte.
[Venster/Prente op bladsy 16, 17]
“Hoe ons opgehou het”
Mieko: “Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, was ek seker dat ek nie kon ophou rook nie. My beweegrede vir die studie was om ten minste my kinders die weg na die lewe te leer. Maar ek het gou besef dat ’n ouer die voorbeeld moet stel, en ek het dus vurig tot Jehovah God om hulp begin bid. Dit het inspanning geverg om te werk aan dit waarvoor ek gebid het, en ek het ’n ruk lank ellendig gevoel. Maar ek sal nooit die goeie gevoel van ’n skoon gewete vergeet wat ek gekry het toe ek my uiteindelik van hierdie vuil gewoonte bevry het nie.”
Masajoeki: “Nadat ek ’n roker van drie pakkies per dag was, het ek ná baie probeerslae uiteindelik my laaste sigaret uitgedoof en tabak vaarwel gesê. My gesin, mede-Getuies en Jehovah God het my gehelp om op te hou rook. Niemand by die bank waar ek werk, het geglo dat ek opgehou het nie. Ek het voorgestel dat kantoorwerkers in die algemene bankarea as ’n blyk van beleefdheid teenoor ons kliënte nie gedurende werksure rook nie. My voorstel is aanvaar, al was 80 persent van die werkers rokers. Dit word nou in 260 takke van ons bank toegepas.”
Osamoe: “Toe ek die waarheid van God se Woord, die Bybel, geleer het, het ek geweet dat ek moet ophou rook. Dit het my amper ’n jaar geneem. Selfs nadat ek opgehou het, moes ek nog ses maande lank stry teen die begeerte om te rook. Ek het in my hart geweet dat ek die begeerte moes hê om op te hou.”
Tosjihiro: “Jesus se losprysofferande het so ’n diep indruk op my gemaak dat ek gevoel het ek kan ten minste die opoffering maak om op te hou rook.”
Jasoehiko: “My besluit om Jehovah God te gehoorsaam en op te hou rook, het my lewe gered. Eendag is die vertrek waar ek gewerk het weens ’n lekkasie met propaangas gevul. Gewoonlik sou ek ’n sigaret aangesteek het, wat tot ’n ontploffing sou gelei het. Maar aangesien ek toe reeds ’n paar dae opgehou rook het, is ek vandag hier om daaroor te praat.”
Akio: “Toe ek van tyd tot tyd naar geword het, het ek vermoed dat die rokery sleg vir my was. Maar ek het nie opgehou rook nie. Die eerste feitelike inligting wat ek oor die gevare van rokery gekry het, het van my vrou gekom, wat een van Jehovah se Getuies geword het. Mettertyd het ek die Bybel begin bestudeer, en ek het uit die Wagtoring-publikasies geleer dat ’n roker nie net homself benadeel nie, maar ook sy gesinslede. Ek het onmiddellik opgehou!”
Riohei: “My vrou het altyd my sigarette vir my gekoop—20 pakkies op ’n slag. Maar nadat sy die Bybel saam met die Getuies gestudeer het, het sy geweier om iets te koop wat sy geweet het vir my sleg is. Daarom het ek my eie tabakwinkel oopgemaak. Ek het drie en ’n half pakkies per dag gerook. Toe het ek die Bybel saam met die Getuies begin studeer. Kort voor lank wou ek ’n bekwame spreker oor Bybelonderwerpe word. Ek het dus opgehou rook sodat ek kon kwalifiseer om hierdie opleiding in die Teokratiese Bedieningskool te ontvang.”
Joenitsji: “My dogtertjie, wat ’n Getuie is, was bekommerd oor my lewe. Sy het my laat belowe dat ek sal ophou rook, en ek het.”
Tsoeja: “Toe ek vir die eerste keer na ’n Koninkryksaal toe gegaan het, het ek ’n asbakkie en ’n vuurhoutjie gevra toe ek ingeloop het. Tot my verbasing is daar vir my gesê dat niemand daar rook nie. Ek het geweet dat ek moes ophou rook. Agt ellendige dae in die hospitaal het my oortuig dat ek nooit weer deur die onttrekkingspyne wil gaan nie.”
Joko: “Ek het die onderwerp in die tydskrifte en ander publikasies van Jehovah se Getuies bestudeer en het nagedink hoe Jesus die verdowingsmiddels geweier het wat hom aangebied is kort voordat hy aan die folterpaal genael is. Ek het tot Jehovah God gebid en vir hom gesê dat ek ’n rein lower van sy naam wou wees. Daarna het ek nooit weer gerook nie. Wanneer mense om my gerook het, het ek amper weer lus geword om hulle rook in te asem, maar ek het vinnig padgegee, aangesien ek nie wou hê dat die begeerte om te rook weer moes opvlam nie.”
Hierdie voormalige rokers is almal vasbeslote om nooit weer te rook nie. Is jy ’n roker wat met hierdie gewoonte wil breek?
Mieko
Osamoe
Jasoehiko
Akio en sy vrou, Sasjiko
Joenitsji en sy dogter Meri
Joko