Wat Jesus nou is
HOEWEL mense in Jesus se voorkoms belangstel, is dit baie belangriker om vas te stel wat hy nou is en waar hy is. Watter rol speel hy in God se voorneme met die mensdom?
Die sekulêre geskiedenis kan ons nie die antwoorde gee nie. Dit kan net gevind word in die dokument wat God geskryf het tot nut van waarheidsoekers. En dit is die Heilige Bybel, of die Heilige Geskrifte, die boek met die grootste verspreiding in die geskiedenis van die wêreld.
Die Bybel is nie net nog ’n boek wat deur mense geskryf is nie. Hoewel God mense as sy skrywers gebruik het, was hy die ware outeur: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”—2 Timoteus 3:16, 17.
Die apostel Paulus het erken wat die Skrif is, want hy het geskryf: “Toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God.”—1 Tessalonisense 2:13.
God is die almagtige Skepper van die heelal met sy miljarde sterrestelsels en miljarde sterre in elke sterrestelsel. Watter ontsagwekkende krag moet hy tog hê om al hierdie dinge te skep! Die Almagtige, wat die ongelooflike heelal gemaak het, het sekerlik die vermoë om ’n boek te skryf wat ’n betroubare gids is vir enigiemand wat na waarheid soek.
Wat die Bybel sê
God se Woord onthul die waarheid ondanks die eindelose teorieë en spekulasies oor Jesus. Hier is van die besonderhede wat dit ons omtrent hom gee:
• Jesus was die eerste en enigste regstreekse skepping van God in die hemel tallose eeue gelede, voor die engele en die fisiese heelal daar was. Daarom word hy God se “enigverwekte Seun” genoem. Alle ander skeppingswerke is gemaak deur middel van hierdie Seun, God se “meesterwerker”, in sy voormenslike bestaan.—Johannes 3:16; 6:38; 8:58; Spreuke 8:30, NW; Kolossense 1:16.
• Ongeveer 2000 jaar gelede het God die lewe van Jesus na die baarmoeder van ’n Joodse maagd oorgeplaas sodat hy as ’n mens gebore kon word. Selfs nou, deur middel van die kunsmatige bevrugtingsproses, kan mense iets doen wat in sekere opsigte daarmee vergelykbaar is.—Matteus 1:18; Johannes 1:14.
• Jesus was baie meer as net ’n goeie man. As ’n volwassene het hy die liefdevolle, medelydende, regverdige persoonlikheid van sy hemelse Vader, Jehovah God, volmaak weerspieël.—Johannes 14:9, 10; Hebreërs 1:3; 1 Johannes 4:7-11, 20, 21.
• As God se verteenwoordiger op die aarde het Jesus omgesien na die behoeftes van die armes en die onderdruktes, tog het hy nie teen die rykes gediskrimineer nie. Met die ondersteuning van God se kragtige heilige gees het Jesus op wonderdadige wyse die siekes genees en selfs die dooies opgewek. Deur sulke wonderlike werke te doen, het hy op ’n klein skaal getoon wat hy regoor die aarde sal doen nadat hy uit die dood tot hemelse lewe opgewek is en Koning van God se hemelse Koninkryk geword het.—Matteus 11:4-6; Lukas 7:11-17; Johannes 11:5-45.
• Jesus het sy volgelinge geleer om vir hierdie hemelse Koninkryk van God te bid en dit eerste in hulle lewe te stel. Wanneer dit ten volle gevestig is, “sal [dit] al daardie koninkryke [wat vandag bestaan] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”. Dan sal die Koninkryk die aarde se enigste regering wees. Dit is die enigste hoop vir die geteisterde mensdom.—Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10.
• God is Jesus se Vader, en Jesus was getrou aan God. Toe Jesus dus doodgemaak is, was hy ’n volmaakte man. Hy het gewillig sy volmaakte lewe as ’n losprysofferande aan God opgeoffer om terug te win wat Adam verloor het toe hy teen God in opstand gekom het. Jesus het sodoende die weg tot ewige lewe gebaan vir almal wat geloof in hom beoefen.—Johannes 3:16; Romeine 3:23, 24; 1 Johannes 2:2.
• As God se aangestelde hemelse Koning sal Jesus God se voorneme uitvoer deur goddeloosheid van die aarde af te verwyder en die gehoorsame mensdom tot verstandelike en liggaamlike volmaaktheid op te hef. Die mensdom sal dan in vrede en geluk op ’n paradysaarde lewe, met goeie behuising en volop voedsel vir almal. Siekte, droefheid en die dood sal dan vir ewig tot die verlede behoort. Selfs die dooies sal opgewek word en die geleentheid hê om vir ewig op die aarde te woon.—Genesis 1:26-28; 2:8; Psalm 37:10, 11, 29; Spreuke 2:21, 22; Jesaja 25:6; 65:21-23; Lukas 23:43; Handelinge 24:15; Openbaring 21:3, 4.
Die Bybel sê dus duidelik vir ons dat Jesus die sleutelfiguur in God se voorneme is om ’n nuwe wêreld van regverdigheid hier op die aarde tot stand te bring. As gevolg van die uiters belangrike rol wat Jesus speel, kon hy tereg sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”—Johannes 14:6; 2 Petrus 3:13.
’n Heerser wat medelye het
Nederige mense wil hê dat Jesus hulle heerser in die nuwe wêreld moet wees, en hoe sal hy tog van wêreldheersers verskil omdat hy ’n wonderlike heerser sal wees! Een manier waarop hy dit getoon het, was deur die wonderlike genesingsdade wat hy gedoen het terwyl hy op die aarde was (Matteus 15:30, 31). Maar let ook op watter soort heerser hy sal wees.
Beskou ten eerste die geskiedenis van hierdie wêreld se heersers. Die geskiedenis toon dat hulle deur die eeue heen dikwels wreed en gevoelloos was en mense in tallose oorloë, gruweldade, inkwisisies en slagtings ingelei het. In hierdie 20ste eeu alleen is ver oor die 100 miljoen mense in oorloë uitgemoor.
Vergelyk die gesindheid en geskiedenis van hierdie wêreld se heersers met die gesindheid en geskiedenis van Jesus in sy handelinge met die armes, die verdruktes, die magteloses: “Toe hy die skare sien, het hy medelye vir hulle gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder.” Hy het gevolglik vir hulle gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 9:36; 11:28-30.
Hoeveel medelye het Jesus tog teenoor mense betoon! Hierin het hy sy hemelse Vader nagevolg. Jesus was die verpersoonliking van liefde, en hy het sy dissipels geleer om ware, beginselvaste liefde vir mekaar te hê. Hulle sou dus nie toelaat dat ras, nasionaliteit, ekonomiese posisie, vorige godsdiens of enigiets anders hulle internasionale eenheid belemmer nie (Johannes 13:34, 35;Handelinge 10:34, 35). Trouens, Jesus het mense so liefgehad dat hy sy lewe vir hulle oorgegee het (Efesiërs 5:25). Hy is die soort heerser wat hierdie wêreld nodig het en sal kry.
Jesus nou ’n Koning
God se profetiese Woord help ons verstaan dat Jesus nou ’n magtige hemelse Koning is. Van hom het die psalmis geprofeteer: “U is veel skoner as die mensekinders; . . . Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid . . . U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.”—Psalm 45:3, 5, 8.
As ’n hemelse Koning wat deur God gesalf is, is Jesus beveel om tot die daad oor te gaan en sy liefde vir geregtigheid en sy haat vir goddeloosheid te openbaar. Gevolglik word hy in die Bybel beskryf as ’n onsterflike veroweraar, die “Koning van die konings”, wat binnekort al God se vyande sal teregstel. Daarbenewens sal hy die aarde tot ’n paradystoestand herstel en die loskoopbare mensdom tot volmaaktheid ophef.—Openbaring 19:11-16.
Jesus se nuwe rol sal nie dié wees van ’n ‘lydende Messias’ wat deur teenstanders bespot, geslaan en doodgemaak word nie. Sy nuwe rol is eerder dié van ’n “Sterke God”, die heerser van die aarde (Jesaja 9:5). Dit is nie goeie nuus vir die meeste menseheersers nie, want hulle koninkryke sal binnekort verbrysel word, soos Daniël 2:44 voorspel. God sal Christus as sy skerpregter gebruik en “konings [verbrysel] op die dag van sy toorn. Hy sal ’n strafgerig hou onder die nasies.”—Psalm 110:5, 6.
Jesaja het voorspel dat Christus deur dit te doen “baie nasies [sal] laat opspring, konings sal hulle monde oor Hom toehou”. Waarom? “Want wat aan hulle nie [deur hulle godsdiensvertrouelinge] vertel is nie, sien hulle; en wat hulle nie gehoor het nie, word hulle gewaar.”—Jesaja 52:15.
“Hulle sal storm maai”
Jesaja het voorspel dat die godsdiensleiers hulle plig sou versaak. Hulle leer byvoorbeeld nie Bybelwaarheid nie, maar leer hulle kuddes onskriftuurlike leerstellings aangaande ewige foltering in ’n brandende hel, ’n drie-eenheid van drie gode in een en die onsterflikheid van die siel—wat alles van heidense oorsprong is. En die geestelikes het alle oorloë van hulle nasies ondersteun, selfs wanneer dit beteken het dat mense van hulle eie godsdiens doodgemaak sou word. Dit is ’n regstreekse skending van God se gebooie.—1 Johannes 2:3, 4; 3:10-12; 4:8, 20, 21.
Daarbenewens bied die geestelikes hulle kuddes pragtige godsdiensbeelde, kerklike gewade, duur katedrale en skilderye wat versier is met heidense begrippe, onder andere die stralekrans van die songod, maar wat in God se oë betekenisloos is. Dit is ten spyte van God se bevel aan sy knegte: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; . . . draers van die heilige voorwerpe van die HERE!”—Jesaja 52:11; 2 Korintiërs 6:14-18.
Diegene wat beweer dat hulle God verteenwoordig, maar wat sy gebooie breek en ander leer om dieselfde te doen, sal maai wat hulle gesaai het. Hulle sal ongunstig geoordeel word en sal boet wanneer hierdie stelsel van dinge vernietig word. Soos die profeet Hosea gesê het, “saai [hulle] wind, maar hulle sal storm maai”.—Hosea 8:7; sien ook Openbaring 17:1-3, 15, 16.
Opregtes van hart leer die waarheid
Die geestelikes se wanvoorstelling van God en van Jesus sal opregtes van hart nie verhinder om die waarheid aangaande Jesus te leer nie. Dit het nie in die eerste eeu gebeur nie, want soos Paul Barnett in The Two Faces of Jesus skryf, “het Christus nie sonder aankondiging soos ’n valskermspringer uit die lug in die geskiedenis geval nie”. Ja, destyds het Bybelprofesieë die Messias se verskyning akkuraat ‘aangekondig’, en sodoende vir sy lojale dissipels sy koms bevestig. Vandag is daar baie meer getuienis wat die feit aankondig dat Jesus die mag van God ontvang het om as die glorieryke hemelse “Koning van konings” te heers.—Matteus 24:3-13;2 Timoteus 3:1-5, 13.
Ja, “hierdie goeie nuus van die koninkryk [van God met Christus as heerser] sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Dit word deur Jehovah se Getuies gedoen, waarvan daar vandag ver oor die vyfmiljoen regoor die hele wêreld is. Diegene wat dus die ware Jesus wil ken, kan dit vir seker doen (Johannes 10:14; 1 Johannes 5:20). Kennis van hom sowel as gehoorsaamheid aan hom is noodsaaklik as ’n mens “die groot verdrukking” wil oorleef wat die aarde binnekort gaan tref.—Openbaring 7:9-14;Johannes 17:3; 2 Tessalonisense 1:6-10.
Jehovah se Getuies sal jou dus met graagte help om die Bybel se aantreklike voorstelling van die Seun van God te ondersoek.
[Prent op bladsy 9]
Christus sal in Koninkryksmag goddeloosheid uitwis
[Prent op bladsy 10]
Onder die liefdevolle heerskappy van Christus sal hierdie aarde ’n paradys word