Die Edik van Nantes—’n Handves vir verdraagsaamheid?
“DIT pynig my”, het pous Klemens VIII, in 1598, uitgeroep toe hy hoor dat Hendrik IV, koning van Frankryk, die Edik van Nantes onderteken het. Vierhonderd jaar later wek die edik nie gegriefdheid en teenstand nie, maar word dit eerder herdenk as ’n daad van verdraagsaamheid en as een van die belangrike stappe tot die versekering van godsdiensregte vir almal. Wat was die Edik van Nantes? Was dit werklik ’n handves vir verdraagsaamheid? En wat kan ons vandag daaruit leer?
Oorloggeteisterde Europa
In die sestiende eeu is Europa gekenmerk deur onverdraagsaamheid en bloedige godsdiensoorloë. “Nog nooit voor die 16de eeu is die lering van Christus: ‘Julle moet liefde onder mekaar hê’, so belaglik gemaak deur sy volgelinge nie”, sê ’n geskiedskrywer. Party lande, soos Spanje en Engeland, het godsdiensminderhede wreed vervolg. Ander, soos Duitsland, het die beginsel “Cuius regio, eius religio” aangeneem, wat beteken dat die een wat ’n gebied regeer oor die godsdiens daarvan besluit. Enigeen wat nie met die heerser se keuse saamgestem het nie, is gedwing om die gebied te verlaat. Oorlog is vermy deur godsdienste apart te hou, met min of geen pogings tot godsdienstige samebestaan nie.
Frankryk het ’n ander weg gekies. Dit het tussen noordelike Europa, wat oorwegend Protestants was, en suidelike Europa, wat Katoliek was, gelê. Teen die middel van die sestiende eeu het Protestante ’n opvallende minderheid in hierdie Katolieke land geword. ’n Reeks godsdiensoorloë het hierdie verdeeldheid vererger.a Talle vredesverdrae, of ‘Edikte om die vrede te herstel’, soos dit genoem is, kon nie vreedsame godsdienstige samebestaan bewerkstellig nie. Waarom het Frankryk eerder ’n weg van verdraagsaamheid gekies as om sy Europese bure na te volg?
Politiek van vrede
Die idee dat vrede en godsdiensverdeeldheid nie noodwendig onverenigbaar was nie, het posgevat ten spyte van wydverspreide onverdraagsaamheid. Op daardie tydstip was die kwessie van kerkverband oor die algemeen onafskeidbaar van getrouheid aan die land. Was dit moontlik om Frans te wees en nie aan die Katolieke Kerk te behoort nie? Party het blykbaar so gedink. In 1562 het Michel de l’Hospital, ’n Franse staatsman, geskryf: “Selfs iemand wat geëkskommunikeer word, is nog steeds ’n burger.” ’n Katolieke groep wat as Les Politiques (Die Politieke groep) bekend gestaan het, het op ’n soortgelyke manier geredeneer.
Die onsuksesvolle vredesverdrae wat in Frankryk onderteken is, het van hierdie nuwe idees bewaar. Dit het ook die idee bevorder dat die toekoms gebou kan word deur die verlede te vergeet. Die Edik van Boulogne, van 1573, het byvoorbeeld gesê: “Laat alles wat plaasgevind het . . . in die vergetelheid verdwyn asof dit nie gebeur het nie.”
Frankryk het baie gehad om te vergeet. Voordat Hendrik IV in 1589 koning geword het, het die duursaamste vredesverdrag net agt jaar gehou. Frankryk het ekonomiese en maatskaplike probleme ondervind. Interne stabiliteit was dringend nodig. Hendrik IV het godsdiens en die politiek goed geken. Hy het ’n hele paar keer van Protestantisme na Katolisisme en terug verander. Nadat hy in 1597 vrede met Spanje gesluit het en uiteindelik in 1598 interne onenigheid onderdruk het, was hy in ’n posisie om die Protestante sowel as die Katolieke tot ’n vredesooreenkoms te verplig. In 1598, nadat Frankryk meer as 30 jaar lank godsdiensoorloë verduur het, het koning Hendrik IV die Edik van Nantes onderteken.
“’n Verklaring van regte à la Française”
Die Edik van Nantes wat deur Hendrik onderteken is, het bestaan uit vier basiese tekste, waaronder die hoofteks wat bestaan het uit 92 of 95 artikels en die 56 geheime, of “spesifieke”, artikels wat die regte en verpligtinge van Protestante behandel het. Vorige vredesverdrae het die grondslag van die ooreenkoms gevorm en twee derdes van die artikels uitgemaak. Maar anders as vorige verdrae het dit lank geneem om hierdie verdrag voor te berei. Die uitsonderlike lengte daarvan kan toegeskryf word aan die feit dat dit probleme een vir een uitgestryk het, wat dit na ’n amateuragtige kompromis laat lyk het. Wat was van die regte wat dit toegestaan het?
Die edik het Franse Protestante algehele gewetensvryheid verleen. Hulle is ook die status van ’n gerespekteerde minderheid met regte en voorregte gegee. Een van die geheime artikels het hulle selfs van beskerming teen die Inkwisisie verseker wanneer hulle in die buiteland gereis het. Daarbenewens is Protestante dieselfde burgerlike status as Katolieke gegee en kon hulle vir die Staat werk. Maar was die edik werklik ’n handves vir verdraagsaamheid?
Hoe verdraagsaam was die edik?
As ’n mens die behandeling van godsdiensminderhede in ander lande in aanmerking neem, was die Edik van Nantes “’n dokument van uitsonderlike politieke wysheid”, sê die geskiedskrywer Elisabeth Labrousse. Hendrik wou eintlik hê dat Protestante weer Katolieke word. Intussen was godsdienstige samebestaan ’n kompromis—die enigste manier “waarop al ons onderdane kan bid en God kan aanbid”, het Hendrik gesê.
Die edik het in werklikheid Katolisisme begunstig, wat as die oorheersende godsdiens verklaar is en regdeur die koninkryk herstel moes word. Protestante moes die Katolieke tiende betaal, Katolieke feesdae hou en beperkings aangaande die huwelik respekteer. Protestantse godsdiensvryheid is tot spesifieke geografiese gebiede beperk. Die edik het net aandag gegee aan die samebestaan tussen Protestante en Katolieke. Ander godsdiensminderhede is nie ingesluit nie. Moslems is byvoorbeeld in 1610 uit Frankryk verban. Waarom word die edik vandag herdenk, ten spyte van die beperkte vorm van verdraagsaamheid wat daardeur voorgestaan is?
Belangrike gevolge
Daar word nie in geskiedkundige geskrifte van daardie tyd baie na die edik verwys nie. Geskiedkundiges het dit beskryf as ’n gebeurtenis wat nie juis van belang was nie. Maar dit word nou as ’n meesterstuk van politieke diplomasie beskou. Die edik het Protestantisme ’n godsdiens genoem, en nie ’n kettery nie. Die feit dat ’n godsdiens buiten Katolisisme erken is, het die weg gebaan vir godsdienstige meervoudigheid. Volgens een geskiedskrywer het dit “tot gevolg gehad dat Franse gevoelens gesuiwer is van die fanatisme waaraan Protestante net so skuldig was as Katolieke”. Die edik het erken dat godsdiens nie die bepalende faktor was in lojaliteit teenoor die Staat of nasionale identiteit nie. Daarbenewens het kriminele bedrywigheid, nie godsdiens nie, die grondslag vir wetlike optrede geword. Hierdie idees het selfs groter veranderinge weerspieël.
Toe koning Hendrik die edik onderteken het, was hy hoofsaaklik besorg oor burgerlike eenheid. Om dit te verseker, het die edik burgerlike eenheid van godsdienseenheid geskei. “Dit het ’n proses van sekularisasie begin . . . , die erkenning dat nasie en belydenis nie meer sinoniem is nie”, sê een geskiedskrywer. Hoewel die Katolieke Kerk ’n mate van mag behou het, is die mag van die Staat baie vergroot. Die monarg sou in tye van konflik arbiter wees. Politieke of wetlike oplossings tot godsdiensprobleme het beteken dat die politiek die oorhand oor godsdiens gehad het. Dit is waarom een geskiedskrywer die edik “die oorwinning van politieke mag oor die Kerk se rol” noem. ’n Ander geskiedskrywer sê dat dit “’n beslissende oomblik in die verskyning van die moderne Staat was”.
Vandag van belang
Party van die gedagtes wat in die Edik van Nantes uiteengesit is, is later deur ander regerings aangeneem. Mettertyd het baie lande die verband tussen godsdiens en politiek gewysig en die Staat nuwe gesag gegee. In Frankryk is die weg wat uiteindelik (in 1905) gekies is algehele skeiding van Kerk en Staat. Volgens Jean Baubérot, ’n bekende professor van geskiedenis en sosiologie, is hierdie reëling “die beste beskerming vir minderhede” in ’n klimaat van toenemende onverdraagsaamheid. Ander lande wat wel aan ’n Staatsgodsdiens vashou, het verkies om godsdiensvryheid te waarborg en om gelyke behandeling vir almal in hulle grondwet te verseker.
Vandag dink baie mense egter nog dat daar vooruitgang gemaak kan word in die beskerming van godsdiensvryheid. “Die Edik van Nantes word een keer per eeu herdenk en die res van die tyd geskend”, sê die joernalis Alain Duhamel. Party ingeligte kommentators vestig byvoorbeeld die aandag op hoe onverdraagsaam dit is om ander uit te sluit deur alle minderheidsgodsdienste na willekeur as “sektes” te klassifiseer. Dit was beslis ’n uiters belangrike les wat 400 jaar gelede geleer moes word—om te leer om in vrede en sonder vooroordeel saam te lewe. Maar die les is vandag nog van belang.
Tersaaklike punte
Godsdiensvryheid bestaan nie wanneer owerhede party godsdienste na willekeur begunstig en ander nie. In Frankryk erken party administrasies Jehovah se Getuies se status as godsdiens, terwyl ander dit nie doen nie. Dit is ’n paradoks dat ’n sekulêre Staat bepaal wat ’n godsdiens is en wat nie ’n godsdiens is nie. Hierdie prosedure begin met diskriminasie en lei tot vervolging. Daarbenewens “kan dit ook ’n presedent skep wat verskeie lande en godsdiensorganisasies kan raak”, sê Raimo Ilaskivi, ’n lid van die Europese parlement. Dit is waarom ’n lektor in die regte, Jean-Marc Florand, dié gevolgtrekking maak: “Dit is ’n slegte slag vir Frankryk en vir die uitoefening van vryhede. As Katoliek bekommer dit my werklik.” Maar die geskiedenis bevat lesse vir diegene wat bereid is om te leer.
By ’n onlangse konferensie van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur het ’n spreker geredeneer dat “een van die maniere om die Edik van Nantes te herdenk, is om te dink oor die status van godsdienste in ons tyd”. Trouens, die beste manier waarop die Edik van Nantes herdenk kan word, is om seker te maak dat ware godsdiensvryheid vir almal beskerm word!
[Voetnote]
a Sien die Ontwaak! van 22 April 1997, bladsye 3-9.
[Venster/Prente op bladsy 20, 21]
Godsdiensvryheid in Hedendaagse Frankryk
Lesse uit die verlede word soms vergeet. Toe Hendrik IV argumente ten gunste van die Edik van Nantes aangevoer het, het hy gesê: “Daar moet nie meer ’n onderskeid tussen Katoliek en Hugenoot getref word nie.” Jean-Marc Florand, senior lektor in die regte aan die Parys-XII-universiteit, verduidelik in die Franse koerant Le Figaro dat die wet in Frankryk, sedert 1905, “alle godsdienste, opvattings en sektes op gelyke voet stel”. Diskriminasie en vooroordeel behoort iets van die verlede te wees.
Dit is ironies dat die les wat ons uit die Edik van Nantes leer—dat godsdiensvryheid en gelyke behandeling vir alle burgers gewaarborg moet word—in 1998, die jaar waarin die vierde eeufees daarvan gevier word, blykbaar vergeet is. Jehovah se Getuies, die derde grootste Christelike godsdiensgemeenskap in Frankryk, beoefen al byna honderd jaar lank hulle godsdiens daar. Nietemin het ’n Franse parlementêre verslag ontken dat Jehovah se Getuies ’n wettige godsdiens is. Gevolglik diskrimineer party Franse owerhede dikwels teen Jehovah se Getuies wanneer dit by hulle vryhede kom. In geskille oor die toesig en beheer oor kinders bevraagteken Franse regters dit byvoorbeeld dikwels of ouers wat Jehovah se Getuies is, toegelaat moet word om toesig en beheer oor hulle kinders te behou. Hierdie vrae word bloot weens die ouers se godsdiens geopper. Party pleegouers loop ook al hoe meer die gevaar om die kinders wat in hulle sorg is te verloor omdat hulle Jehovah se Getuies is.
Franse owerhede het onlangs gedreig om ’n arbitrêre belasting te hef op die bydraes wat Jehovah se Getuies aan hulle gemeentes maak. Volgens die nieregeringsorganisasie Menseregte Sonder Grense is dit ’n “gevaarlike presedent” wat resolusies skend wat deur die Europese Hof van Menseregte aangeneem is. Trouens, die Europese Unie waarborg godsdiensvryheid. Jehovah se Getuies is herhaaldelik deur die Europese Hof as ’n “bekende godsdiens” erken, wat die optrede deur party Franse owerhede selfs moeiliker maak om te verstaan.
Jehovah se Getuies is al byna honderd jaar lank in Frankryk bedrywig
Regs bo: Baie families in Frankryk is al etlike geslagte lank Jehovah se Getuies
Links bo: Roubaix-gemeente, 1913
Links onder: Getuies in noordelike Frankryk, 1922
[Prent op bladsy 19]
Hendrik IV, koning van Frankryk
[Erkenning]
© Cliché Bibliothèque Nationale de France, Paris