‘Ons lewe nie langer vir onsself nie’
SOOS VERTEL DEUR JACK JOHANSSON
Die Malawiese soldaat het my beveel om op die wal van die rivier in die lig van die Land Rover se kopligte te staan. Toe hy die geweer lig, het Lloyd Likhwide na die rivieroewer gehardloop en voor my kom staan. Hy het gepleit: “Skiet my! Skiet my eerder! Nie hierdie uitlander wat niks verkeerd gedoen het nie!” Waarom was ’n swart man bereid om sy lewe vir my, ’n wit man, op te offer? Kom ek verduidelik hoe ek byna 40 jaar gelede ’n sendeling in Afrika geword het.
IN 1942, toe ek net nege was, is my ma oorlede, en my pa het met vyf kinders agtergebly. Ek was die jongste. Vier maande later het my pa, wat een van die eerste Getuies van Jehovah in Finland was, verdrink. My oudste suster, Maja, het na die res van ons omgesien, en ons kon ons plaas behou. Maja het ook die leiding in geestelike sake geneem, en binne ’n jaar ná my pa se dood het sy en een van my broers hulle toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. ’n Jaar later is ek, op die ouderdom van 11, gedoop.
’n Belangrike besluit
Nadat ek in 1951 my skoolloopbaan in ’n handelskool voltooi het, het ek vir die Ford-motormaatskappy in Finland begin werk. Ses maande later het ’n wyse reisende bedienaar van Jehovah se Getuies my verras. Hy het my gevra om ’n toespraak by ’n byeenkoms te hou oor die seëninge van die pionierdiens, oftewel voltydse bediening. Ek het ongemaklik gevoel, aangesien ek ’n voltydse sekulêre werk gedoen het en gevoel het dat ek nooit met oortuiging sou kon praat nie. Ek het tot Jehovah gebid oor die saak. Ek het besef dat Christene “nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het”, en daarom het ek besluit om my prioriteite te verander sodat ek as ’n pionier kon dien.—2 Korintiërs 5:15.
My opsiener het belowe om my salaris te verdubbel as ek by die maatskappy bly werk het. Maar toe hy kon sien dat ek reeds besluit het, het hy gesê: “Jy het die regte besluit geneem. Ek het my hele lewe in hierdie kantoor deurgebring, en hoeveel het ek werklik vir mense gedoen?” Ek het dus in Mei 1952 ’n pionier geword. ’n Paar weke later kon ek die toespraak oor die pionierdiens vol vertroue hou.
Nadat ek ’n paar maande as ’n pionier gedien het, is ek weens my Christelike neutraliteit tot ses maande tronkstraf gevonnis. Dit is gevolg deur agt maande van gevangenskap saam met ander jong Getuies op die eiland Hästö Busö, in die Finse Golf. Ons het hierdie eiland Klein Gilead genoem weens die intensiewe Bybelstudieprogram wat ons vir onsself georganiseer het. Maar my doelwit was om na die ware Gilead, die Wagtoring-Bybelskool Gilead, naby South Lansing, New York, te gaan.
Terwyl ek nog in gevangenskap op die eiland was, het ek ’n brief van die Wagtoringgenootskap se takkantoor ontvang wat my gevra het om as ’n reisende bedienaar van Jehovah se Getuies te dien. Ná my vrylating moes ek gemeentes in die Sweedssprekende deel van Finland besoek. Toe was ek maar 20 jaar oud en ek het onbevoeg gevoel, maar ek het my vertroue in Jehovah gestel (Filippense 4:13). Die Getuies in die gemeentes wat ek bedien het, was wonderlik en het nooit op my neergesien omdat ek so “jonk” was nie.—Jeremia 1:7.
Terwyl ek die volgende jaar ’n gemeente besoek het, het ek Linda ontmoet, wat van die Verenigde State was en in Finland op vakansie was. Nadat sy na die Verenigde State teruggekeer het, het sy vinnig geestelike vordering gemaak. Kort voor lank is sy gedoop. Ons is in Junie 1957 getroud. Later is ons genooi na die 32ste klas van die Gileadskool, wat in September 1958 begin het. Nadat ons die daaropvolgende Februarie gegradueer het, is ons na Njassaland gestuur, wat nou Malawi genoem word, in Suidoos-Afrika.
Ons bediening in Afrika
Ons het dit baie geniet om aan die openbare bediening deel te neem saam met ons swart broers, wat toe meer as 14 000 was in Njassaland. Ons het soms met ’n Land Rover gereis en al ons benodigdhede saam met ons geneem. Ons het in dorpies gebly waar geen wit mens nog ooit was nie, en ons is altyd verwelkom. Met ons aankoms het die hele dorpie gewoonlik gekom om te kyk wie ons is. Nadat hulle ons hoflik gegroet het, het hulle in stilte op die grond gesit en ons bestudeer.
Die dorpenaars was dikwels so gaaf om ’n hut spesiaal vir ons te bou, wat soms van modder en andersins van olifantsgras gemaak is en net groot genoeg was vir ’n bed. Hiënas het gedurende die nag by die hut verbygehardloop en reg langs ons kop die skrikwekkendste tjankgeluide gemaak. Maar die Getuies in Njassaland sou binnekort voor gevaarliker magte as wilde diere te staan kom.
Nasionalisme word ’n kwessie
Regoor Afrika het onafhanklikheidsbewegings wortelgeskiet. In Njassaland is daar van almal verwag om by die een bestaande politieke party aan te sluit. Skielik het ons neutraliteit ’n brandende nasionale kwessie geword. Ek het op daardie stadium na die kantoorwerk omgesien terwyl ons takopsiener, Malcolm Vigo, weg was. Ek het gevra vir ’n ontmoeting met dr. Hastings Kamuzu Banda, wat destyds die eerste minister van Njassaland was. Ek en twee ander Christen- ouer manne het ons neutrale posisie aan hom verduidelik, en die ontmoeting het op vriendskaplike voet geëindig. Ten spyte hiervan het Elaton Mwachande ongeveer ’n maand later, in Februarie 1964, die eerste slagoffer van die vervolging geword—hy is deur ’n woedende skare met spiese doodgesteek. Die ander Getuies in sy dorpie moes vlug.
Ons het vir dr. Banda ’n telegram gestuur en ’n beroep op hom gedoen om sy gesag te gebruik om hierdie soort geweld stop te sit. Ek het kort daarna ’n oproep van die eerste minister se kantoor ontvang waarin ek daarheen ontbied is. Saam met ’n ander sendeling, met die naam Harold Guy, en ’n plaaslike Getuie, Alexander Mafambana, het ek dr. Banda gaan spreek. Twee regeringsministers was ook teenwoordig.
Net nadat ons gaan sit het, het dr. Banda, sonder om ’n woord te sê, die telegram heen en weer oor sy kop begin waai. Uiteindelik het hy die stilte verbreek en gesê: “Mnr. Johansson, wat het jy bedoel met hierdie telegram wat jy gestuur het?” Ons het weer eens aan hom verduidelik dat ons polities neutraal is, en ek het bygevoeg: “En met die moord op Elaton Mwachande is u die enigste persoon wat ons kan help.” Dit het dr. Banda blykbaar tevrede gestel, en hy het ietwat ontspan.
Maar een van die regeringsministers wat teenwoordig was, het beweer dat Getuies in ’n sekere afgeleë dorpie nie hulle samewerking aan die plaaslike owerheid wou gee nie. Die tweede minister het toe ’n ander afgeleë dorpie gemeld en gesê dat die Getuies daar sonder respek van dr. Banda gepraat het. Hulle kon ons egter nie die name gee van enigeen wat hom so gedra het nie. Ons het verduidelik dat Jehovah se Getuies geleer word om altyd die regeringsowerhede te respekteer. Ongelukkig was ons pogings om die verkeerde indrukke wat dr. Banda en sy ministers van ons gehad het reg te stel nie suksesvol nie.
Ons lewe was in gevaar
In 1964 het Njassaland onafhanklikheid verkry en later die Republiek van Malawi geword. Ons predikingswerk het in ’n mate normaal voortgegaan, maar onder toenemende druk. Gedurende hierdie tyd het Getuies in die suidelike deel van die land ons geskakel en gesê dat ’n politieke opstand daar uitgebreek het. Ons het besef dat iemand onmiddellik soontoe sou moes gaan om te sien hoe dit met die Getuies daar gaan en om hulle morele ondersteuning te gee. Ek het al by vorige geleenthede alleen deur die afgeleë bosveld gereis, en Linda het dit moedig aanvaar. Maar hierdie keer het sy my gesmeek om ’n jong plaaslike Getuie, Lloyd Likhwide, saam te neem. Ek het uiteindelik ingestem en by myself gedink: ‘As dit haar gelukkig maak, sal ek dit maar doen.’
Daar is vir ons gesê dat ons ’n sekere rivier met ’n pont voor 6:00 nm. moes oorsteek wanneer ’n aandklokreëling in werking getree het. Ons het ons bes gedoen om betyds te wees, maar ons is deur die slegte paaie vertraag. Ons het eers later uitgevind dat ’n bevel gegee is om enigiemand te skiet wat ná ses aan ons kant van die rivier gevind is. Terwyl ons na die rivier toe aangery gekom het, het ons gesien dat die pont reeds aan die oorkant van die rivier was. Broer Likhwide het soontoe geroep en gevra dat hulle ons moet kom haal. Die pont het gekom, maar ’n soldaat daarop het geskreeu: “Ek moet die wit man skiet!”
Ek het eers gedink dat dit net ’n leë dreigement is, maar terwyl die pont nader gekom het, het die soldaat my beveel om voor die ligte van die voertuig te staan. Dit was toe dat my swart vriend voor my kom staan het en die soldaat gesmeek het om hom in plaas van my te skiet. Wel, die soldaat is blykbaar getref deur sy bereidwilligheid om vir my te sterf, en hy het sy geweer laat sak. Ek het aan Jesus se woorde gedink: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand ten behoewe van sy vriende van sy siel afstand doen” (Johannes 15:13). Hoe bly was ek tog dat ek na Linda se raad geluister het en daardie liewe broer saamgeneem het!
Die volgende dag was die pad terug na Blantyre versper deur jong manne wat daarop aangedring het om broer Likhwide se partylidmaatskapskaart te sien. Daar was net een ding om te doen—om deur die skare te kom, en vinnig! Ek het die motor vinnig in rat gesit en dit het vorentoe gespring, wat hulle genoeg laat skrik het sodat ons kon wegkom. As die skare broer Likhwide in die hande gekry het, sou dit waarskynlik sy dood beteken het. Toe ons by die takkantoor aankom, was ons al twee in ’n geskokte toestand, maar dankbaar teenoor Jehovah vir Sy beskerming.
Weens hulle geloof gevange geneem
Ons werk in Malawi is in Oktober 1967 amptelik verbied. Toe was daar ongeveer 18000 Getuies in die land. Twee weke later het ons uitgevind dat 3000 Getuies in Lilongwe, die hoofstad, gevange geneem is. Ons het besluit om daardie nag soontoe te ry, ’n afstand van 300 kilometer, om hulle ten minste morele ondersteuning te gee. Ons het die Land Rover vol Wagtoringpublikasies gelaai en, met Jehovah se hulp, deur die baie padversperrings gegaan sonder dat ons motor deursoek is. Onderweg het ons by die een gemeente na die ander bokse tydige geestelike voedsel afgelaai.
Die volgende oggend het ons na die tronk toe gegaan. Wat ’n gesig! Dit het die hele nag deur gereën, en ons Christenbroers en -susters is buite in ’n omheinde kamp aangehou. Hulle was sopnat, en party het hulle komberse oor die heining gehang sodat dit droog kon word. Ons het daarin geslaag om deur die heining met ’n paar van hulle te praat.
Hulle hofsaak is twaalfuur gehou, en ’n aantal voorgewende Getuies het in die getuiebank verskyn. Ons het oogkontak met hulle probeer maak, maar hulle gesigte het uitdrukkingloos gebly. Tot ons ontsteltenis het almal wat in die getuiebank verskyn het hulle geloof verloën! Ek het egter uitgevind dat die plaaslike Getuies nie een van dié wat ontken het dat hulle Jehovah se Getuies is, geken het nie. Dit was blykbaar ’n poging om die ware Getuies te ontmoedig.
Intussen het ’n bevel gekom dat ons gedeporteer moet word. Daar is op ons takkantoor in Blantyre beslag gelê, en die sendelinge is 24 uur gegee om die land te verlaat. Dit was baie vreemd toe ’n polisieman die hek vir ons oopmaak toe ons teruggaan huis toe! Die volgende middag het ’n polisiebeampte gekom en ons, half spyt, gearresteer en lughawe toe geneem.
Ons het Malawi op 8 November 1967 verlaat in die wete dat ’n kwaai toets vir ons Christenbroers daar voorgelê het. Ons hart het na hulle uitgegaan. Tientalle het hulle lewe verloor; honderde is wreed gemartel en duisende het hulle werk, huis en besittings verloor. Nietemin het byna almal hulle onkreukbaarheid gehandhaaf.
Nuwe toewysings
Ten spyte van die ontberinge het dit nooit by ons opgekom om die sendingwerk te verlaat nie. Ons het eerder ’n nuwe toewysing aanvaar—in Kenia, ’n land met ’n verskeidenheid natuurtonele en mense. Linda was gefassineer deur die Masai. Op dié stadium was daar nie een Masai wat ’n Getuie van Jehovah was nie. Maar toe het Linda Dorcas, ’n Masai-vrou, ontmoet en die Bybel met haar begin studeer.
Dorcas het geweet dat sy haar huwelik moes wettig as sy God wou behaag. Die vader van haar twee kinders het geweier, en Dorcas het dus haar twee kinders op haar eie probeer onderhou. Die man was baie kwaad vir die Getuies, maar hy was ongelukkig omdat hy van sy gesin geskei is. Uiteindelik het hy, op Dorcas se aansporing, die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hy het sy lewe verander, ’n Getuie geword en met Dorcas getrou. Sy het ’n pionier geword, en haar man en hulle oudste seun is nou gemeentelike ouer manne.
Die werk van Jehovah se Getuies is skielik in 1973 in Kenia verbied, en ons moes die land verlaat. Net ’n paar maande later is die verbod opgehef. Maar teen daardie tyd het ons ons derde toewysing gekry—na Kongo (Brazzaville). Ons het in April 1974 daar aangekom. Bykans drie jaar later is ons as sendelinge valslik daarvan beskuldig dat ons spioene is, en ons werk is verbied. Boonop het gevegte in Brazzaville uitgebreek nadat die president van die land vermoor is. Al die ander sendelinge is na ander lande toe gestuur, maar ons is gevra om so lank as moontlik daar te bly. Ons het weke lank bed toe gegaan sonder dat ons geweet het of ons weer die volgende oggend sou wakker word. Maar ons het goed geslaap omdat ons die vertroue gehad het dat Jehovah ons sou beskerm. Daardie paar maande, alleen by die takkantoor, was seker die geloofbeproewendste en geloofversterkendste tyd wat ons ooit gedurende ons sendingdiens ondervind het.
In April 1977 moes ons Brazzaville verlaat. Toe het ons ’n groot verrassing gekry—ons toewysing was om ’n nuwe takkantoor in Iran te gaan open. Ons eerste uitdaging was om Farsi, die Persiese taal, te probeer aanleer. Terwyl ons die nuwe taal geleer het, kon ons net die heel eenvoudigste kommentare by gemeentelike vergaderinge gee, die soort kommentare wat klein kindertjies gee! In 1978 het ’n revolusie in Iran begin. Ons het deur die ergste gevegte daar gebly, maar in Julie 1980 is al die sendelinge gedeporteer.
Ons vyfde toewysing het ons weer na die middel van Afrika toe geneem, na Zaïre, wat nou die Demokratiese Republiek van die Kongo is. Ons het 15 jaar lank in Zaïre gedien, waar die werk ook ’n tyd lank verbied was. Toe ons daar aangekom het, was daar ongeveer 22000 bedrywige Getuies in daardie land—nou is daar meer as 100 000!
Terug huis toe!
Op 12 Augustus 1993 is die verbod op die werk van Jehovah se Getuies in Malawi opgehef. Twee jaar later is ek en Linda teruggestuur na waar ons begin het—Malawi, die pragtige, vriendelike land wat as Die Warm Hart van Afrika bekend staan. Sedert Januarie 1996 verskaf dit ons groot vreugde om onder Malawi se gelukkige en vredeliewende mense te werk. Dit is vir ons ’n kosbare voorreg om weer eens saam met ons getroue Malawiese broers te dien, waarvan baie drie dekades van vervolging verduur het. Ons broers in Afrika is vir ons ’n groot aansporing, en ons is baie lief vir hulle. Die woorde van Paulus is beslis in hulle geval vervul: “Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:22). Die byna 41000 Getuies in Malawi het nou die vryheid om die predikingswerk in die openbaar te doen en om groot byeenkomste te hou.
Ons het al ons toewysings baie geniet. Ek en Linda het geleer dat enige ondervinding, ongeag hoe moeilik, van ons beter mense kan maak, mits ons vashou aan “die vreugde van Jehovah” (Nehemia 8:10, NW). Dit was vir my soms moeilik om aan te pas wanneer ons ons toewysings moes verlaat. Maar Linda se aanpasbaarheid—en veral haar sterk geloof in Jehovah—het my gehelp en my die seëning van “’n goeie vrou” laat waardeer.—Spreuke 18:22.
Wat ’n gelukkige en opwindende lewe het ons tog gelei! Ons het Jehovah al oor en oor vir sy beskermende hand bedank (Romeine 8:31). Dit is nou meer as vier dekades sedert ek daardie toespraak oor die seëninge van die voltydse bediening gehou het. Ons is bly dat ons ‘Jehovah beproef het en sy goedheid gesmaak het’ (Psalm 34:9; Maleagi 3:10). Ons is daarvan oortuig dat dit die allerbeste lewenswyse is ‘om nie langer vir onsself te lewe nie’.
[Kaart/Prent op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Lande waarin ons gedien het
Iran
Republiek van Kongo
Demokratiese Republiek van die Kongo
Kenia
Malawi
[Prent op bladsy 21]
Op pad na Malawi toe, via Kaapstad
[Prent op bladsy 23]
Toe ons gearresteer is en uit Malawi gedeporteer is
[Prent op bladsy 25]
Dorcas, ’n Masai, saam met haar man