Smokkelary—Europa se plaag van die negentigerjare
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND
’n Snelboot jaag van die Noord-Afrikaanse kus na Gibraltar; ’n kampeerwa vertrek vanuit Pole en ry weswaarts; ’n Bulgaarse vragmotor is op pad na Noord-Europa; ’n vliegtuig vlieg van Moskou na München. Wat het hierdie vervoermiddele in gemeen? Elkeen is al vir smokkelary gebruik.
SMOKKELARY is die geheime vervoer van goedere in of uit ’n land of streek om die owerhede te vermy omdat die goedere verbied word of om belasting te ontduik. Smokkelary word reeds sedert die 14de eeu in Europa beoefen. Hierdie onwettige bedrywigheid was so algemeen dat die volksoorleweringe van baie lande nou avontuurverhale insluit van smokkelaars, waarvan party gewilde helde geword het.
Smokkelary is onwettig en meestal skadelik—hoewel dit soms iets goeds bevorder het. In die 16de eeu is afskrifte van William Tyndale se vertaling van dele van die Bybel byvoorbeeld in Engeland ingesmokkel, waar dit verbied was. Ook toe Duitse magte Frankryk in 1940 beset het, was smokkelaars—met hulle persoonlike ondervinding in die gebruik van die straatjies en stegies van Normandië—“die beste logistici in die [Franse] weerstandsbeweging”, berig die GEO.
Nou, 50 jaar later, floreer smokkelary—maar dit is meer ’n plaag as wat dit ’n seën is. Europa het, soos die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung dit noem, “’n paradys vir smokkelaars” geword. Wat het hiertoe gelei?
Om maar een ding te noem, die Europese Unie het uitgebrei, met die aantal lidstate wat binne 40 jaar van 6 tot 15 toegeneem het.a Die verslapping van visum-beperkings het internasionale reise baie makliker gemaak. ’n Europese inwoner het gesê: “Dertig jaar gelede het amptenare jou papiere by elke grens nagegaan. Deesdae kan jy oor dieselfde grense ry sonder om eers stil te hou.”
Daarbenewens het Oos-Europa sy grense oopgestel. Party grense, soos die een wat voorheen tussen die twee dele van Duitsland bestaan het, bestaan nie meer nie. Dit alles beteken dat handel tussen lande baie makliker is. Maar dit is ook makliker om te smokkel. En georganiseerde misdaad het reg gestaan om munt te slaan uit die nuwe situasie. Misdadigerbendes spesialiseer in ’n verskeidenheid smokkelware.
Kunsskatte op bestelling gesmokkel
Voordat Oos-Europa sy grense oopgestel het, was kunsskatte in Rusland jare lank buite die bereik van Westerse versamelaars. Maar nou word sulke skatte “geplunder deur ’n ongewone vennootskap tussen Wes-Europese kunsgalerye en moorddadige Russiese smokkelbendes”, berig The European. Trouens, “die polisie glo dat die smokkelary van gesteelde kunsskatte [in Europa] die derde winsgewendste kriminele bedrywigheid is naas dwelmsmokkelary en die onwettige wapenhandel”.
In Rusland en elders is dit ’n reusebedryf om met kunswerke te smokkel. In Italië is kunswerke ter waarde van meer as R2,5 miljard binne twee jaar gesteel. Sestig persent van Europa se gesteelde kunswerke beland in Londen, waar kopers gevind word. Om die waarheid te sê, baie items word selfs “op bestelling gesteel vir ’n gewetenlose privaat versamelaar”. Dit is geen wonder dat ’n skrale 15 persent teruggevind word nie.
Gifstowwe—smokkelary met ’n verskil
In die geval van kuns word misdadigers betaal om artikels in ’n land in te smokkel, maar in die geval van ander goedere word hulle weer betaal om dit uit te smokkel. Een voorbeeld is giftige afvalstowwe. Waarom doen hulle die moeite om giftige afvalstowwe uit ’n land uit te smokkel? Omdat dit in talle lande baie duur geword het om wettiglik van giftige afvalstowwe ontslae te raak. Dít, tesame met die moontlikheid van strenger maatreëls vir omgewingsbeheer, maak dit ’n aanloklike proposisie om smokkelaars te betaal om in die buiteland van giftige nywerheidsafval ontslae te raak.
Waar beland hierdie stowwe op die ou end? Ondersoeke deur die Duitse Federale Misdaadburo toon dat bendes giftige afvalstowwe—soos ou motorbatterye, oplosmiddels, verf, plaagdoders en giftige metale—uit die Weste smokkel en dit in lande soos Pole, Roemenië en die voormalige Sowjetunie stort. Hierdie stowwe sal die gesondheid van daardie lande se bevolking nog baie jare bedreig.
Smokkelsigarette
Ander groepe misdadigers spesialiseer daarin om met sigarette te smokkel. Die sigarette is al byvoorbeeld met snelbote van Noord-Afrika na die Iberiese Skiereiland of met motors van Pole na Duitsland vervoer. Ontsaglike bedrae geld is daarby betrokke. Die onwettige handel in onbelaste sigarette kos Duitsland ongeveer eenmiljard mark (R3,4 miljard) per jaar in verlore inkomste aan belasting.
Volgens Die Welt bied sowat 10 000 verkoopsmanne smokkelsigarette teen ’n laer prys op die strate van Berlyn te koop aan.
Handel in mense
Nog ’n spesialiteit van georganiseerde misdaad—een wat besonder gemeen is—is die handel in mense. Die prys vir iemand om in Wes-Europa ingesmokkel te word—moontlik in ’n vragmotor soos die een wat aan die begin van die artikel gemeld is—is buitensporig. Trouens, die Internasionale Sentrum vir Migrasiebeleidsontwikkeling, in Wene, skat dat hierdie handel in mense jaarliks meer as R5,6 miljard oplewer.
Aangesien die meeste onwettige immigrante uit arm lande kom, kan min van hulle die smokkelaars vooruit betaal. Nadat hulle in Europa aangekom het, word hulle dus gedwing om die skuld terug te betaal deur vir die smokkelaars en hulle misdadigerbendes te werk. Die arme immigrante word gevolglik vasgevang in die kettings van hedendaagse slawerny, waar hulle voortdurend onderwerp word aan uitbuiting, dwang, berowing en verkragting. Party werk op die ou end vir wat Die Welt beskryf as die sigaretmafia; ander word prostitute.
Wat dit die immigrante se nuwe land kos, word nie net op grond van verlore belasting bereken nie. Mededingende bendes meet kragte in bende-oorloë wat die Süddeutsche Zeitung as “ondenkbaar wreed” beskryf. Die syfers spreek vanself: In wat voorheen Oos-Duitsland was, het bendes in vier jaar 74 moorde gepleeg.
Skrikwekkendste van almal
“Van al die onvoorsiene gevolge van die Sowjetunie se ineenstorting”, het ’n nuustydskrif geskryf, “is die swarthandel in kernmateriaal seker die skrikwekkendste.” Radioaktiewe stowwe is vermoedelik uit Rusland in Duitsland ingesmokkel, wat hierdie onheilspellende lekkasie dus “die wêreld se probleem en veral Duitsland se probleem” maak.
Beskou byvoorbeeld die vlug uit Moskou wat aan die begin van die artikel gemeld is. Toe dit in München aankom, is daar gevind dat een van die passasiers plutonium, ’n radioaktiewe stof, in sy aktetas dra. Aangesien plutonium uiters giftig is en kanker kan veroorsaak, kon die besmetting vir München en sy inwoners verwoestend gewees het.
Vroeg in 1996 is ’n Russiese fisikus in hegtenis geneem en aangekla weens die feit dat hy meer as ’n kilogram radioaktiewe stof na die buiteland gesmokkel het wat, volgens die Süddeutsche Zeitung, glo “geskik was vir die bou van ’n kernbom”. Westerse nasies is tereg besorg. By ’n spitsberaad in Moskou het politici uit vername nywerheidslande op ’n plan besluit om te probeer “verhinder dat materiaal vir kernwapens uit die voormalige Sowjetunie na terroriste of ‘skelm state’ gesmokkel word”, het The Times van Londen geskryf.
Met sulke gevare in gedagte vra baie mense hulle af: Kan internasionale ooreenkomste smokkelary voorkom? Is regerings, al is hulle eerlik en al het hulle goeie bedoelings, daartoe in staat om georganiseerde misdaad aan bande te lê? Sal smokkelary, die plaag van die negentigerjare, selfs ’n groter epidemie in die nuwe millennium word? Of bestaan daar rede om te hoop dat smokkelary binnekort tot ’n einde gaan kom?
Smokkelary—’n bedryf sonder ’n toekoms
Daar bestaan grondige redes om te glo dat smokkelary binnekort iets van die verlede gaan wees. Dit is omdat die toestande wat smokkelary moontlik maak en, vir sommige mense, aanloklik maak, uit die weg geruim gaan word. Watter soort toestande?
Eerstens het die onderdrukkende en onregverdige ekonomiese stelsels van vandag ’n onredelike verdeling van rykdom tot gevolg gehad. Terwyl mense in sekere lande welvarend is, lewe mense net oor die grens dalk in armoede of ly hulle moontlik gebrek. Dít is die toestande wat smokkelary winsgewend maak. Maar ons Skepper het in die Heilige Skrif belowe dat hy binnekort ’n stelsel van dinge gaan inlui waarin ‘regverdigheid sal woon’. Onderdrukkende en onregverdige ekonomiese stelsels sal verdwyn.—2 Petrus 3:13.
Daarbenewens sal landsgrense verwyder word, want onder die regering van die hemelse Koning, Jesus Christus, sal die mensdom een gemeenskap word. Met so ’n internasionale broederskap wat die hele aarde bewoon, sal daar nie meer onwettige immigrante wees nie. En aangesien niemand meer oorlog sal voer nie, sal die gevaar van radioaktiewe besmetting weens kernoorlog nie bestaan nie. In die nuwe stelsel van dinge sal die mensdom leer om respek vir die omgewing te hê.—Psalm 46:9, 10.
Die vernaamste dryfvere in hedendaagse smokkelary is hebsug, oneerlikheid en ’n gebrek aan liefde vir ander. Die feit dat baie mense vandag sulke eienskappe openbaar, is ’n teken dat ons in die tyd lewe wat die Bybel as “die laaste dae” beskryf (2 Timoteus 3:1-5). Die regverdige nuwe stelsel wat Jehovah tot stand gaan bring, is op hande. Ons almal het rede om die toekoms met vertroue tegemoet te gaan, nie vertroue in menseregerings of ekonomiese stelsels nie, maar in Jehovah se nuwe stelsel.
[Voetnoot]
a Die lidlande van die Europese Unie is België, Brittanje, Denemarke, Duitsland, Finland, Frankryk, Griekeland, Ierland, Italië, Luxemburg, Nederland, Oostenryk, Portugal, Spanje en Swede.
[Venster op bladsy 13]
Ander dinge waarmee daar gesmokkel word
Skaars diere: ’n Man is gevang terwyl hy skaars skilpaaie van Serwië na Duitsland vervoer het. Hy het erken dat hy 3000 van hierdie diere binne vyf jaar in- en uitgesmokkel het en ’n halfmiljoen mark (R1515 000) verdien het. Dit is hoofsaaklik professionele misdadigers wat in skaars diere handel, en hierdie bedryf word al hoe groter. “Die swartmark floreer”, het ’n doeanebeampte gesê. “Party versamelaars betaal enorme bedrae geld.”
Nagemaakte produkte met bekende handelsname: Binne ’n halfjaar het doeanebeamptes by die Frankfurt-lughawe, in Duitsland, beslag gelê op meer as 50 000 artikels wat welbekende handelsname gehad het. Die artikels—soos horlosies, rekenaarsagteware, sportartikels en sonbrille—was almal namaaksels.
Motors: ’n Vername huurmotormaatskappy in Europa het ’n toename van 130 persent in motordiefstal gedurende ’n tydperk van vyf jaar gerapporteer. Een koerant beskryf die metodes wat “hedendaagse struikrowers” gebruik. Hulle huur motors, rapporteer dat dit gesteel is en smokkel die motors dan uit die land uit.
Edelmetale: Kobalt, nikkel, koper, rutenium en germanium is almal beskikbaar—teen goeie pryse—in Estland, wat een van die vernaamste sentrums van smokkelary in die wêreld geword het.
Petrol en diesel: Smokkelaars wat bote gebruik om petrol en diesel oor die Donau-rivier tussen Roemenië en Serwië te smokkel, kon tot R12 600 vir ’n nag se werk verdien. In hierdie streek is die gemiddelde maandelikse loon ongeveer R400!