Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 9/22 bl. 25-27
  • Goud—die geheimsinnige bekoring daarvan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Goud—die geheimsinnige bekoring daarvan
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Goud en die geskiedenis
  • ’n Geskiedenis vol bloedvergieting
  • 19de-eeuse goudstormlope
  • Skatte uit die see
  • Oorlogsgoud
  • Die blywende aantrekkingskrag van goud
    Ontwaak!—2005
  • Die goud wat berge versit het
    Ontwaak!—2001
  • Word koning Salomo se rykdom oordryf?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Soek na iets wat baie beter is as goud
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 9/22 bl. 25-27

Goud—die geheimsinnige bekoring daarvan

Goud—sedert die ou tyd is hierdie sagte, helder geel metaal weens sy ongewone eienskappe as waardevol beskou. Sy kleur, glans, smeebaarheid en vermoë om korrosie te weerstaan, maak dit ongewoon onder metale. Weens sy waarde in die gedagtes van diegene wat daarna gesoek het, het goud ’n geskiedenis wat anders is as dié van enige ander metaal.

“GOUD! Dis goud, sê ek vir jou! Goud!” Die ontdekking van goud het al die hart laat bons, die pols vinniger laat klop en die verbeelding aangegryp. Mense het op land, in riviere en stroompies en selfs duisende meters onder die grond daarna gesoek.

As kosbare juwele het goud as versiering gedien vir konings en koninginne. Dit het al trone en paleismure versier. Goue beelde, wat visse, voëls, diere en ander voorwerpe voorgestel het, is as gode aanbid. Die onstuitbare soektog na goud was net so verreikend soos die impak daarvan op die beskawing.

Goud en die geskiedenis

In eertydse Egipte het die farao’s hulle handelaars en leërs na verafgeleë lande gestuur op soek na goud, wat as die uitsluitlike eiendom van Egipte se gode en farao’s beskou is. Die graf van Toetankamen, wat in 1922 ontdek is, was vol kosbare, goue skatte. Selfs sy kis was van soliede goud gemaak.

Volgens party geskiedkundiges is Aleksander die Grote “aanvanklik na Asië gelok deur die beroemde goue skat van Persië”. Daar is berig dat duisende pakdiere deur sy leërs gebruik is om die goud waarop hy in Persië beslag gelê het na Griekeland toe terug te dra. Gevolglik het Griekeland ’n nasie geword wat ryk was aan goud.

Een geskiedskrywer skryf dat Rome se “keisers goud vryelik gebruik het om die lojaliteit van hulle amptenare te verseker en om hooggeplaastes van ander lande te beïnvloed. Hulle het hulle volk beïndruk en dikwels geïntimideer met die glorie van hulle rykdom, wat hulle vertoon het deur indrukwekkende goue ornamente ten toon te stel.” Die Romeine het met die verowering van Spanje en die verwerwing van Spaanse goudmyne baie goud bekom, sê een bron.

Die verhaal van goud sou egter nie volledig wees sonder om in die bloedige sy van sy geskiedenis te delf nie. Dit is ’n verhaal van verowering, wreedaardigheid, slawerny en die dood.

’n Geskiedenis vol bloedvergieting

Namate die beskawing vooruitgang gemaak het, het groter en kragtiger seilskepe uitgevaar om nuwe lande te ontdek, nuwe kolonies te vestig en na goud te soek. Dit het vir baie ontdekkingsreisigers, waaronder Christophorus Columbus (1451-1506) wat ’n baanbreker op die gebied van die seevaart was, ’n obsessie geword om goud te vind.

Die lewens van die inboorlinge was vir Columbus min werd wanneer hy na goud gesoek het. Columbus het vir die koning en koningin van Spanje, wat sy ekspedisies gefinansier het, sy ondervindinge op een eiland in sy logboek neergeskryf en gesê: “Om hier te heers, moet ’n mens net gevestig raak en gesag oor die inboorlinge uitoefen, wat enigiets sal doen wat hulle beveel word om te doen. . . . Die Indiane . . . is weerloos, en daarom is hulle gereed om bevele te ontvang en aan die werk gesit te word.” Columbus het geglo dat hy God se seën het. Die goue skatte sou Spanje help om sy heilige oorloë te finansier. ‘Mag God in sy barmhartigheid my help om goud te vind’, het hy eenkeer gesê nadat hy ’n goue masker as geskenk ontvang het.

Die Spaanse veroweraars wat net ná Columbus die see bevaar het op soek na goud is deur koning Ferdinand van Spanje dié bevel gegee: “Bring vir my goud! Kry dit, indien moontlik, op ’n menslike manier. Maar bring dit vir my, ongeag hoe julle dit in die hande kry.” Die wrede ontdekkingsreisigers het duisende van die inboorlinge vermoor wat hulle in Mexiko en in Sentraal- en Suid-Amerika teëgekom het. Die goud wat deur die veroweraars na Spanje toe teruggeneem is, was met baie bloed bevlek.

Toe het die seerowers gekom, wat nie onder die vlag van enige land gevaar het nie. In die oop see het hulle die Spaanse galjoene geplunder wat vol goud en ander kosbare skatte gelaai was. Die galjoene, wat dikwels minder ammunisie en manskappe gehad het, was nie opgewasse teen die goed gewapende seerowers nie. In die 17de en 18de eeu was seerowery die plaag van die see, veral in Wes-Indië en langs die Amerikaanse kus.

19de-eeuse goudstormlope

In 1848 was daar ’n groot goudvonds in die Sacramentovallei, in Kalifornië. Die nuus het gou versprei en ’n voortdurende stroom nedersetters het hulle daarheen gehaas om hulle kleims af te pen. Teen die volgende jaar is Kalifornië oorval deur tienduisende fortuinsoekers wat uit alle wêrelddele gekom het. Kalifornië se bevolking het van ongeveer 26-000 in 1848 toegeneem tot ongeveer 380 000 in 1860. Boere het hulle landerye verlaat, matrose het gedros en soldate het uit die leër weggeloop—net om hulle fortuin op die goudvelde te gaan soek. Party is beskryf as “bloeddorstige skurke”. Saam met hierdie mengelmoes van mense het ’n vlaag van misdaad en geweld gekom. Diegene wat verstrik geraak het in die goudkoors, maar nie bereid was om daarvoor te werk nie, het hulle tot roof gewend en poskoetse en treine geplunder.

In 1851, net ná die goudstormloop in Kalifornië, het die nuus versprei dat groot afsettings goud in Australië ontdek is. “Die goudopbrengs was waarlik fantasties”, was die berig. Australië het ’n ruk lank die grootste goudprodusent in die wêreld geword. Party wat na Kalifornië toe getrek het, het weldra hulle sakke gepak en op Australië toegesak. Die bevolking van Australië het die hoogte ingeskiet—van 400 000 in 1850 tot meer as 1100 000 in 1860. Boerdery en ander werk het feitlik tot stilstand gekom terwyl baie hulle soontoe gehaas het om hulle fortuin op die goudvelde te vind.

Teen die einde van die 19de eeu het die mal stormloop om goud te vind na die Yukon-gebied en Alaska verskuif, nadat goud in daardie gebiede ontdek is. Duisende mense het na die Verre Noorde gegaan, na die Klondike-gebied en Alaska, en die bitter koue getrotseer om hulle kleims af te pen in grond wat ryk was aan goud.

Skatte uit die see

In die 20ste eeu, met die ontwikkeling van diepseeduik, het goudsoekers hulle aandag op die seebodem toegespits. Daar het hulle in die wrakke van skepe gesoek na skatte uit die see—goue juwele en ander artefakte wat eeue gelede gemaak is.

Op 20 September 1638 het die Spaanse galjoen Concepción in die Stille Oseaan, naby die kus van Saipan, gesink nadat dit weens strawwe weer op die rotse geloop het. Dit het ’n vrag goud en ander skatte gehad wat vandag tienmiljoene rand werd is. Die meeste van die 400 mense aan boord het gesterf. Duikers het 32 goue kettings, wat elk ongeveer 1,5 meter lank is en ’n hele paar kilogram weeg, uit die wrak gehaal. Die duikers het altesaam 1300 goue artikels opgebring—kettings, kruise, knope, borsspelde, ringe en gespes.

Ander wrakke is ook gevind. In 1980 het duikers naby die kus van Florida, in die Verenigde State, die wrak van die 17de eeuse Spaanse galjoen die Santa Margarita opgespoor. Teen die einde van die volgende jaar het duikers meer as 53 kilogram ongemunte goud sowel as ander goue artefakte teruggevind.

Oorlogsgoud

Ná die kapitulasie van die Duitse regering in 1945 het die Geallieerde troepe ’n verbasende ontdekking in die Kaiseroda-soutmyne in Turinge, Duitsland, gedoen. Volgens The Atlanta Journal “het die myne ’n verstommende $2,1 miljard [R10,5 miljard] se ongemunte goud, kunswerke, munte en effekte opgelewer”. Daar is ook sakke vol goud en silwer gevind wat uit slagoffers van die Slagting se tande gehaal is en al gedeeltelik gesmelt is. Hierdie ontsaglike hoeveelheid weggesteekte goud het die Nazi-krygshere gehelp om ’n uitgerekte oorlog te finansier. Na raming is daar al R12,5 miljard se goud aan ongeveer tien lande teruggegee wat vroeër deur Hitler beset is, berig die Journal. Omdat daar oor die algemeen geglo word dat nie al die versteekte Nazi-goud reeds gevind is nie, duur die soektog voort.

Goud het beslis baie waarde. Maar die Bybel sê dat goud, soos ander materiële rykdom, nie die lewe kan gee aan diegene wat daarna soek nie (Psalm 49:7-9; Sefanja 1:18). ’n Bybelspreuk sê: “Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud” (Spreuke 16:16). Ware wysheid kom van die Skepper, Jehovah God, en word in sy Woord, die Bybel, gevind. Iemand wat sulke wysheid soek, kan deur ’n studie van God se Woord leer van God se wette, beginsels en vermanings en dit dan in sy lewe toepas. Die wysheid wat só verkry word, is baie begeerliker as al die goud wat nog ooit deur die mens ontdek is. Sulke wysheid kan nou tot ’n beter lewe lei en in die toekoms die ewige lewe beteken.—Spreuke 3:13-18.

[Venster op bladsy 27]

’n Paar feite in verband met goud

• Goud is die smeebaarste en bewerkbaarste van alle metale. Dit kan tot ’n dikte van een tienduisendste van ’n millimeter geslaan word. ’n Ons goud kan uitgehamer word dat dit ’n oppervlak van ongeveer 17 vierkante meter kan beslaan. Een ons goud kan tot ’n lengte van 70 kilometer gerek word.

• Omdat suiwer goud so sag is, word dit gewoonlik met ander metale gemeng om dit harder te maak sodat dit gebruik kan word om juwele en ander artikels te maak. Die inhoud van goudlegerings word in 24stes uitgedruk, wat karate genoem word; ’n 12-karaat-goudlegering is dus 50 persent goud, 18-karaat goud is 75 persent goud en 24-karaat goud is suiwer goud.

• Die vernaamste goudproduserende lande is Suid-Afrika en die Verenigde State.

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Aleksander die Grote: The Walters Art Gallery, Baltimore

[Prente op bladsy 26]

Skildery wat die aankoms uitbeeld van Christophorus Columbus in die Bahamas in 1492 op soek na goue skatte

[Erkenning]

Met vergunning van: Museo Naval, Madrid (Spain); en met die vriendelike toestemming van: Don Manuel González López

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel