Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 9/8 bl. 31
  • Winterkoninkie—klein voëltjie, sterk stem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Winterkoninkie—klein voëltjie, sterk stem
  • Ontwaak!—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • Herken jy daardie liedjie?
    Ontwaak!—1999
  • “Die pragtigste woudbewoner”
    Ontwaak!—2000
  • Die kliploerie—’n Juweel van die Amasonewoud
    Ontwaak!—1998
  • Getroue ouers wat saamwerk
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 9/8 bl. 31

Winterkoninkie—klein voëltjie, sterk stem

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

DIE stroom se walle staan vol sleutelblomme, en ná die los bui het die nat plantegroei soos juwele geskitter in die sonstrale wat tussen die bome deur geval het. Ek het op ’n boomstomp gaan sit en gekyk hoe twee klein voëltjies heen en weer vlieg na ’n kol dooie adelaarsvaring wat oor ’n rots bokant die stroom hang.

My nuuskierigheid het die oorhand gekry, en ek het opgestaan om ondersoek in te stel. Ek het gevind wat ek vermoed het—’n winterkoninkie se nes, pragtig gebou van geweefde mos en netjies tussen die hangende stukke adelaarsvaring versteek. Die lewendige winterkoninkie is maar net tien sentimeter lank van die punt van sy snawel tot by sy stert en word algemeen as een van die kleinste voëltjies in Brittanje beskou.a Daarom is ’n afbeelding daarvan in 1937 vir die eerste keer op die oortjie gedruk, wat destyds Brittanje se kleinste muntstuk was.

Die winterkoninkie is welbekend in Europa, Eurasië en die Verenigde State. In Brittanje is hulle die algemeenste en die volopste broeivoëls. Hulle pragtige, trillende sang is al met dié van die nagtegaal vergelyk, en dit is so kragtig dat dit byna ’n kilometer ver gehoor kan word! Maar strawwe winters eis hulle tol en het al tot 75 persent van die winterkoninkiebevolking uitgewis. Op sulke tye verkies winterkoninkies dikwels om saans saam te bondel om warm te bly. Meer as 60 winterkoninkies is eenkeer in ’n neskassie gevind, almal styf teen mekaar saamgebondel.

In April bou die mannetjie ’n verskeidenheid goed gekamoefleerde, koepelvormige neste. Nadat die mannetjie die neste klaar gebou het, wys hy almal vir sy maat. Sy sal dan een kies en dit met vere uitvoer. Teen die einde van April sal sy reeds vyf of ses wit eiers met rooibruin spikkels gelê het. Die wyfie broei 14 dae lank alleen op die eiers, en die kuikens verlaat die nes ten minste twee weke daarna.

Twee broeisels is normaal gedurende die somer, en terwyl die wyfie op die tweede broeisel eiers sit, sal die mannetjie vir die kuikens van die eerste broeisel sorg en hulle soms na een van sy ander neste neem. As dit ’n goeie somer is, met ’n oorvloed insekte wat as kos beskikbaar is, sal die mannetjie ’n tweede maat neem en haar in nog een van sy ander neste laat broei.

Waar ek op die boomstomp gesit het, kon ek die hitte van die Mei-son voel terwyl ek die twee winterkoninkies dophou wat heen en weer vlieg. Ek het hulle rooibruin vere en gestreepte vlerke gesien toe hulle op ’n takkie naby my gaan sit het. Maar toe hulle my in hulle gebied gewaar, het hulle met hulle stertjies in die lug hulle trillende alarmroep begin maak. Dit was die teken dat ek stilletjies moes wegglip.

[Voetnoot]

a Europa se kleinste voëltjies, die goudhaantjie, wat nie ’n trekvoël is nie en gewoonlik die gouekuifkoninkie genoem word, sowel as die vuurgoudhaantjie wat daar oorwinter, is ongeveer ’n halwe sentimeter korter, maar word selde gesien.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel