Die Engelse Hervorming—’n tyd van verandering
“Dít was ’n wêreld wat te midde van verandering en hersiening gelewe het.”
DIT is hoe J. J. Scarisbrick 16de-eeuse Engeland in sy biografie Henry VIII beskryf. Godsdiensomwenteling in Europa het daartoe bygedra dat party gemeen het dat die ortodokse godsdiens hervorming nodig gehad het.
Martin Luther se omstrede leerstellings het in Engeland ondersteuning gekry. En van die laat 14de eeu af het die Lollarde, ywerige predikers en voorstanders van die Bybel, volhard en hulle leerstellings regdeur Engeland versprei.
Teen 1526 het eksemplare van William Tyndale se Engelse vertaling van die Griekse Geskrifte Engeland bereik, ten spyte van die pogings van magtige vyande om die verspreiding daarvan te keer. Tradisionele Katolieke leerstellings soos die vaevuur, transsubstansiasie en die priesterlike selibaat is aan die kaak gestel as leerstellings wat nie deur die Bybel gesteun word nie.
Maar dit was ’n krisis in die koning se huishoudelike sake wat die Engelse Hervorming aangeblaas het. Hendrik VIII wou van sy Katolieke vrou Katharina van Aragon skei omdat hy ’n manlike troonopvolger wou hê. Al ses die kinders wat Katharina vir Hendrik gebaar het, is doodgebore of het as babas gesterf, behalwe een, ’n dogter met die naam Maria. Daarbenewens het Hendrik aangetrokke gevoel tot die jong, lewenslustige Anna Boleyn en was hy van voorneme om met haar te trou.
Hendrik se bekwame en invloedryke bondgenoot, kardinaal Thomas Wolsey, het die Hervorming onwetend bevorder. Sedert die begin van Hendrik se bewind in 1509 het Wolsey geleidelik al hoe meer mag en rykdom verkry. Uiteindelik het net die koning meer invloed as hy gehad. Maar Wolsey was ongewild omdat hy baasspelerig was en belasting verhoog het. Daarbenewens het hy blykbaar gemeen dat hy nie aan die wette van sy eie kerk onderhewig was nie, aangesien hy twee buite-egtelike kinders gehad het.
Edelmanne het saamgesweer om Wolsey se ondergang te bewerkstellig, wat bekragtig is toe hy nie daarin kon slaag om die egskeiding te verkry wat Hendrik so graag wou hê nie. Wolsey het in 1530 gesterf nadat hy van sy ampte onthef is en net voordat hy voor die koning moes verskyn op aanklagte van hoogverraad.
In Engeland het mense al hoe meer gekant geraak teen die invloed van die geestelikes. Die geskiedkundige Scarisbrick het geskryf dat daar “aangevoer [is] dat die Kerk radikale suiwering nodig gehad het, dat die gemeenskap nie meer hierdie onekonomiese las kon dra nie, hierdie ontsaglike instelling wat soveel mannekrag in beslag geneem het, soveel rykdom opgegaar het, soveel geneem en so min teruggegee het . . . en dat die vloei van Engelse geld na Rome toe . . . [Engeland se] ekonomie benadeel het”.
Die Cromwell-era
Uiteindelik is Hendrik se huweliksprobleme “opgelos” met die hulp van sy hoofraadgewer Thomas Cromwell en die nuwe Aartsbiskop van Kantelberg, Thomas Cranmer. Die Engelse kerk het van die kerk van Rome af weggebreek, en die koning het die hoof van die Engelse kerk geword. Cranmer het Hendrik se huwelik met Katharina in 1533 nietig verklaar. Teen dié tyd was Hendrik reeds met Anna Boleyn getroud, wat swanger was. Hierdie bevryding van pouslike gesag het diepgaande gevolge gehad.
Cromwell is onbeperkte gesag oor die kerk gegee en was slegs ondergeskik aan die koning. Die kloosters is geleidelik gesloop en die eiendom is aan die kroon oorhandig, wat ’n broodnodige inkomste voorsien het. Daarbenewens het Cromwell ’n baie belangrike rol gespeel in die druk en verspreiding van die Bybel in Engels, soos A. G. Dickens in sy boek The English Reformation opmerk: “Die politieke inisiatief, die beplanning vir die publikasie, die finansiering, die druk om die Engelse Kerk te verplig om die Groot Bybel te gebruik, het alles van die afgevaardigde van die koning, Thomas Cromwell, gekom.”
Namate die Bybel toegankliker geword het vir die publiek, het dit ’n diepgaande uitwerking op mense se beskouing van ortodokse godsdiens gehad. Dickens sê: “Die ongekunstelde eenvoud wat die lewe van Jesus Christus en dié van die apostels gekenmerk het, vorm ’n skrille kontras met die ontsaglike wetlike en dwangstelsel, die groot rykdom en luisterryke argitektoniese prestasies van die latere Middeleeuse en Renaissancistiese Kerk.”
Hendrik het belangstelling getoon in sekere godsdienshervormings, maar sy beleide het dikwels eerder voortgespruit uit wat polities voordelig was as uit sterk godsdiensoortuiging. Hy was deeglik bewus van die twee vyandelike faksies in die hof, diegene wat hervorming voorgestaan het en diegene wat die tradisionele godsdiens wou behou, die konserwatiewes. Om die oorhand te behou, het hy die een groep behendig teen die ander uitgespeel.
Teen 1540 is die goue era van hervorming tydelik onderbreek deur die ondergang van Cromwell. Sy konserwatiewe vyande het Hendrik daarvan oortuig dat hy ’n verraaier sowel as ’n ketter is, en hy is sonder ’n verhoor tereggestel.
Dit het gelyk of die konserwatiewes ’n tyd lank die oorhand gehad het. Maar hulle kon nie die hervorming keer wat reeds wortelgeskiet het nie. Die Hervorming het nietemin nie sy belofte nagekom nie. Protestantse Hervormers het nie daarin geslaag om baie van die valse leerstellings van mense en tradisies wat die Rooms-Katolieke geloof besoedel het met wortel en tak uit te roei nie.
Toe Hendrik in 1543 met sy sesde en laaste vrou, Catherine Parr, getroud is, het diegene wat hervorming voorgestaan het moed geskep. Sy het groot belangstelling getoon in die nuwe godsdiensleerstellings. Maar die konserwatiewes was nie bereid om tou op te gooi sonder om weerstand te bied nie. Hulle konkelry en hofintriges sou die nuwe koningin verwikkel in ’n desperate stryd om haar lewe te behou. Dit sal in ’n toekomstige nommer van die Ontwaak! bespreek word.
[Prent op bladsy 26]
Hendrik VIII en Anna Boleyn
[Prent op bladsy 26]
Katharina van Aragon
[Prent op bladsy 26]
William Tyndale
[Prent op bladsy 26]
Thomas Cromwell
[Prent op bladsy 26]
Thomas Cranmer
[Prent op bladsy 26]
Thomas Wolsey
[Foto-erkenning op bladsy 27]
Thomas Wolsey: Uit die boek The Story of Liberty, 1878; wapen, agtergrondontwerp en koning Hendrik VIII saam met Anna Boleyn: Uit die boek The Library of Historic Characters and Famous Events, Vol. VII, 1895; Katharina van Aragon, Thomas Cranmer en Thomas Cromwell: Uit die boek Heroes of the Reformation, 1904