Die Bybelse beskouing
Jou kleredrag en persoonsversorging—Is dit vir God van belang?
“Soos die inhoudsopgawe sê wat die inhoud van die boek is, . . . net so gee die uiterlike voorkoms en klere, van ’n man of vrou, ons ’n idee van die gees.”—Engelse dramaturg Philip Massinger.
IN DIE derde eeu G.J. het die kerkskrywer Titus Klemens ’n lang lys reëls in verband met kleredrag en persoonsversorging opgestel. Ornamente en weelderige of kleurvolle kledingstowwe is verbied. Vroue is nie toegelaat om hulle hare te kleur of om “hulle gesigte te besmeer met die verloklike liste van sluheid”, dit wil sê “hulle gesig te grimeer” nie. Mans is opdrag gegee om die hare op hulle kop te skeer omdat “’n borselkop . . . wys dat ’n man ernstig is”, maar die hare op die ken moes onaangeraak bly, want dit “verleen waardigheid en vaderlike gesag aan die gesig”.a
Eeue later het die Protestantse leier Johannes Calvyn wette uitgevaardig wat die kleur en soort klere wat sy volgelinge mag dra in besonderhede omskryf het. Juwele en kant is afgekeur, en ’n vrou kon in die tronk gesit word as haar kapsel “hoër as die aanvaarde norm” was.
Sulke buitensporige beskouings wat deur die jare heen deur godsdiensleiers voorgestaan is, het talle opregte mense laat wonder: Is wat ek dra werklik vir God van belang? Keur hy sekere modes of die gebruik van grimering af? Wat leer die Bybel?
’n Persoonlike saak
Dit is interessant dat Jesus vir sy dissipels die woorde in Johannes 8:31, 32 gesê het: “As julle in my woord bly, . . . sal [julle] die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Ja, die waarhede wat Jesus mense geleer het, was bedoel om hulle vry te maak van die onderdrukkende laste wat deur tradisie en valse leerstellings geskep is. Dit was bedoel om diegene wat “swoeg en swaar belaai is” te verkwik (Matteus 11:28). Nie Jesus of sy Vader, Jehovah God, het enige begeerte om mense se lewe in so ’n mate te beheer dat individue nie meer die inisiatief kan neem of self oor persoonlike sake kan redeneer nie. Jehovah wil hê dat hulle volwasse mense moet word “wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Hebreërs 5:14.
Die Bybel bevat dus geen uitvoerige wette ten opsigte van kleredrag en persoonsversorging of die gebruik van grimering nie, buiten ’n paar spesifieke voorskrifte vir kleredrag wat deur die Mosaïese Wet aan die Jode opgelê is en bedoel was om hulle te help om afgeskeie van die omliggende nasies en hulle onsedelike invloed te bly (Numeri 15:38-41; Deuteronomium 22:5). In die Christelike reëling is kleredrag en persoonsversorging basies ’n kwessie van persoonlike smaak.
Dit beteken egter nie dat God glad nie belangstel in wat ons dra of dat enigiets toelaatbaar is nie. Inteendeel, die Bybel bevat redelike riglyne wat God se beskouing oor kleredrag en persoonsversorging weerspieël.
“Met beskeidenheid en gesonde verstand”
Die apostel Paulus het geskryf dat Christenvroue “hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met vorme van haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie”. Petrus het eweneens “uiterlike haarvlegtery en . . . die omhang van goue sierade of die dra van boklere” afgeraai.—1 Timoteus 2:9; 1 Petrus 3:3.
Gee Petrus en Paulus te kenne dat Christenvroue en -mans nie hulle voorkoms moet verbeter nie? Glad nie! Trouens, die Bybel praat van getroue mans en vroue wat juwele of skoonheidsmiddele en parfuum gebruik het. Voor Ester se oudiënsie met koning Ahasveros het sy intensiewe skoonheidsbehandeling ondergaan waarby geparfumeerde olies en massering betrokke was. En Josef was geklee in fyn linneklere en ’n goue ketting om sy hals.—Genesis 41:42; Exodus 32:2, 3; Ester 2:7, 12, 15.
Die frase “gesonde verstand” wat deur Paulus gebruik is, help ons om die vermaning te verstaan. Die oorspronklike Griekse woord beteken om besadig te wees en selfbeheersing te hê. Dit impliseer dat ’n mens ’n beskeie beskouing van jouself het en nie onnodig aandag trek nie. Ander Bybelvertalings gee hierdie woord weer as “oordeelkundig”, “verstandig”, “verfynd” of “met selfbeheersing”. Hierdie eienskap is ’n belangrike vereiste vir Christen- ouer manne.—1 Timoteus 3:2.
As die Skrif dus vir ons sê dat ons kleredrag en persoonsversorging beskeie en goed versorg moet wees, moedig dit ons aan om uitspattige style te vermy wat ander aanstoot sal gee en ons reputasie asook dié van die Christengemeente sal skend. Diegene wat bely dat hulle God vereer, moet eerder gesond van verstand wees en die klem lê op “die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees”, as om deur uiterlike versiering die aandag op hulle voorkoms te vestig. Dít is wat volgens Petrus “in die oë van God van groot waarde is”.—1 Petrus 3:4.
Christene is ‘’n teaterskouspel vir die wêreld’. Hulle moet bewus wees van die indruk wat hulle ander gee, veral in die lig van die opdrag wat hulle het om die goeie nuus te verkondig (1 Korintiërs 4:9; Matteus 24:14). Hulle wil derhalwe nie hê dat enigiets, met inbegrip van hulle voorkoms, ander se aandag daarvan aftrek om na daardie lewensbelangrike boodskap te luister nie.—2 Korintiërs 4:2.
Hoewel style grootliks van plek tot plek wissel, bied die Bybel duidelike, redelike riglyne wat mense in staat stel om verstandig te kies. Solank mense by hierdie beginsels bly, laat God almal vryelik en liefdevol toe om persoonlike smaak in hulle kleredrag en persoonsversorging uit te druk.
[Voetnoot]
a ’n Poging is aangewend om hierdie verbooie te steun deur die Skrif te verdraai. Hoewel die Bybel glad nie so iets sê nie, het die invloedryke teoloog Tertullianus geleer dat vroue “soos Eva treurend en berouvol” moet loop, aangesien ’n vrou die oorsaak is “van die eerste sonde en die skuld dra . . . van die menslike verdoemenis”. Trouens, hy het daarop aangedring dat ’n vrou wat natuurlike skoonheid besit selfs sover moet gaan om haar skoonheid te verberg.—Vergelyk Romeine 5:12-14; 1 Timoteus 2:13, 14.