Jongmense vra . . .
Waarom kan ek nie konsentreer nie?
“Soms gebeur dit net. Ek sit en luister nog by ’n gemeentelike vergadering en dan begin my gedagtes skielik dwaal. Tien minute later besef ek eers weer waar ek is.”—Jesse.
“LET OP!” Hoor jy dikwels jou onderwysers of ouers daardie woorde sê? Indien wel, sukkel jy moontlik om jou aandag by iets te bepaal. Gevolglik ly jou punte dalk daaronder. En jy vind moontlik dat ander ’n negatiewe beskouing van jou het en jou ignoreer omdat hulle dink dat jy hoog in die takke of eenvoudig net onbeskof is.
Nog belangriker, as ’n mens sukkel om te konsentreer, kan dit ’n negatiewe invloed op jou geestelikheid hê. Die Bybel beveel immers self: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister” (Lukas 8:18). Trouens, Christene word beveel om “meer as die gewone aandag [te] skenk” aan geestelike sake (Hebreërs 2:1). En as dit vir jou moeilik is om te konsentreer, is dit dalk vir jou moeilik om aan hierdie raad gehoor te gee.
Wat is moontlik die probleem? In party gevalle is ’n gebrek aan konsentrasie miskien die gevolg van ’n fisiese probleem. Party navorsers meen byvoorbeeld dat aandagtekortsteurnis te doen het met ’n abnormale werking van die brein se senuoordragstofstelsels.a Party jongmense het probleme waarvan hulle nie bewus is nie, soos gehoor- of gesigsverlies. Dit kan ook ’n mens se konsentrasievermoë belemmer. Navorsers het bevind dat jongmense oor die algemeen meer sukkel om te konsentreer as volwassenes. Onoplettendheid is dus algemeen onder jongmense, hoewel dit selde die gevolg van ’n mediese steurnis is.
Jou veranderende denkpatrone
As dit vir jou moeilik is om te konsentreer, ondervind jy heel waarskynlik maar net groeipyne. Die apostel Paulus het geskryf: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer; maar noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê” (1 Korintiërs 13:11). Ja, namate jy volwassenheid nader, verander jou denkpatrone. Volgens die boek Adolescent Development “word nuwe begripsvermoëns . . . in die vroeë adolessensie verkry”. Jy ontwikkel die vermoë om abstrakte gedagtes en begrippe te verstaan en te ontleed. Jy begin om ’n dieper begrip van sedes, sedelike norme en ander algemene sake te hê. Jy begin om oor jou toekoms as ’n volwassene te dink.
Die probleem? Met al hierdie nuwe gedagtes, idees en begrippe wat in jou brein maal, kan jou aandag baie maklik afgelei word. Jy dink nie meer op die eenvoudige, basiese vlak van ’n kind nie. Nou dwing jou brein jou om wat jy sien en hoor te ontleed en te bevraagteken. Iets wat ’n onderwyser of ’n dosent sê, kan jou op ’n verbeeldingsvlug stuur. Maar tensy jy leer om jou dwalende gedagtes te beheer, kan jy waardevolle inligting laat verbygaan. Die Bybel sê, interessant genoeg, dat die regverdige man Isak tyd stil deurgebring het om te peins (Genesis 24:63). As jy miskien elke dag ’n tydjie opsy sit om te ontspan, te peins en dinge in jou gedagtes uit te pluis, sal dit jou moontlik help om op ander tye beter te konsentreer.
Emosies en hormone
Jou emosies kan ook veroorsaak dat jou aandag afgelei word. Jy probeer konsentreer op wat jy lees of waarna jy luister, maar jy vind dat jy aan ander dinge dink. Jou gevoelens wissel tussen verveeldheid en opgewondenheid, bedruktheid en opgewektheid. Wel, ontspan! Jy is nie besig om mal te word nie. Na alle waarskynlikheid is dit bloot jou hormone wat jou opkeil. Jy ondervind die veranderinge van puberteit.
Kathy McCoy en Charles Wibbelsman skryf: “Gedurende die adolessensiejare ervaar ’n mens ’n warboel emosies . . . Hierdie buierigheid is, in sekere mate, deel van adolessensie. Dit het deels te doen met die druk van al die veranderinge wat jy op die oomblik ondergaan.” Daarbenewens nader jy “die bloei van die jeug”—die tyd wanneer geslagsdrange op hulle sterkste is (1 Korintiërs 7:36). Die skryfster Ruth Bell sê: “Die liggaamsveranderinge tydens puberteit veroorsaak dikwels sterker geslagsdrange. Jy vind dalk dat jy meer oor seks dink, makliker seksueel gestimuleer word en by tye selfs behep raak met seks.”b
Jesse, wat in die begin aangehaal is, ondervind ’n probleem met gedagtes wat afdwaal, iets wat so algemeen onder tieners is: “Soms dink ek aan meisies of aan die een of ander bekommernis wat ek het of aan wat ek later gaan doen.” Die storm van emosies sal uiteindelik bedaar. Intussen moet jy werk aan selfdissipline. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf” (1 Korintiërs 9:27). Hoe meer jy leer om jou emosies te beheers, hoe meer sal jy kan konsentreer.
Jou slaapgewoontes
Jou groeiende liggaam het genoeg slaap nodig om jou te help om fisies te ontwikkel en om jou brein in staat te stel om die talle nuwe begrippe en emosies uit te pluis waarmee jy daagliks te doen het. Maar baie tieners het so ’n besige rooster dat hulle min tyd het om te slaap. ’n Neuroloog sê: “Die liggaam sal nie die ure se slaap vergeet wat ’n mens dit skuld nie. Inteendeel, dit sal altyd onthou en skielik ’n rekening stuur wat tot uiting kan kom in vergeetagtigheid, konsentrasieprobleme en ’n trae verstand.”
Party navorsers meen dat ’n mens jou konsentrasievermoë grootliks kan verbeter deur elke nag net ’n uur of wat langer te slaap. Dit is waar dat die Bybel luiheid en liefde vir slaap veroordeel (Spreuke 20:13). Maar dit maak beslis sin om genoeg rus te kry om doeltreffend te funksioneer.—Prediker 4:6.
Dieet en konsentrasie
Nog ’n probleem is moontlik dieet. Tieners is lief vir vetterige en soet kos. Navorsers sê dat gemorskos, hoewel dit dalk baie lekker smaak, blykbaar verstandelike skerpheid laat afneem. Studies toon eweneens dat verstandelike vermoëns afneem ná ’n maaltyd van koolhidrate, soos brood, ontbytgraan, rys of pasta. Dit kan wees omdat koolhidrate die chemikalie wat serotonien genoem word in die brein laat toeneem en ’n mens lomerig laat voel. Party voedingkundiges stel dus voor dat jy proteïenryke voedsel eet voor enige bedrywigheid wat verstandelike wakkerheid verg.
Die TV- en rekenaargeslag
Opvoedkundiges meen al jare lank dat TV en sy vinnig opeenvolgende beelde die konsentrasieperiode van jongmense verkort, en nou gee party ook die rekenaar die skuld. Hoewel deskundiges nog baie debatteer oor presies hoe hierdie moderne tegnologie jongmense raak, kan dit beslis nie gesond wees om ’n buitensporige hoeveelheid tyd aan TV-kykery of rekenaarspeletjies te bestee nie. ’n Jeugdige erken: “Met dinge soos videospeletjies, rekenaars en die Internet word ons as kinders daaraan gewoond gemaak om wat ons wil hê vinnig te kry.”
Die probleem is dat baie dinge in die lewe net deur moeite, volharding en geduld verkry word. (Vergelyk Hebreërs 6:12; Jakobus 5:7.) Moet dus nooit aanneem dat dinge vinnig moet beweeg en vermaaklik moet wees om waarde te hê nie. Hoewel dit vermaaklik kan wees om TV te kyk en rekenaarspeletjies te speel, kan jy gerus ook verf, teken of leer om ’n musiekinstrument te bespeel. Sulke vaardighede kan jou konsentrasievermoë verbeter.
Is daar ander maniere waarop jy jou konsentrasievermoë kan ontwikkel? Ja, daar is beslis, en ’n toekomstige artikel sal ’n paar van hulle ondersoek.
[Voetnote]
a Sien die Ontwaak! van 22 November 1994, bladsye 3-12; 22 Junie 1996, bladsye 11-13, en 22 Februarie 1997, bladsye 5-10.
b Sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek ophou om heeltyd aan die ander geslag te dink?” in ons nommer van 8 Augustus 1994.
[Lokteks op bladsy 20]
Navorsers sê dat gemorskos blykbaar verstandelike skerpheid laat afneem
[Lokteks op bladsy 20]
“Soms dink ek aan meisies of aan die een of ander bekommernis wat ek het”
[Prent op bladsy 19]
Vind jy dit dikwels moeilik om in die klas op te let?