Die enigste bevredigende verduideliking
GENESIS is die enigste bron bekend aan die mens wat ’n logiese, samehangende geskiedenis voorsien van dinge tot by die begin. Sonder daardie feitelike geskiedenis van die eerste man en vrou sou ons net die verdigsels of sinnebeeldige verduidelikings van die mens se begin gehad het wat in die skeppingsverhale van heidense nasies gevind word.
Die boek Genesis was klaarblyklik ’n deel van die een oorspronklike geskrif (die Tora), en Moses het dit moontlik in die jaar 1513 v.G.J. in die woestyn Sinai voltooi. Ná Genesis 1:1, 2 (wat betrekking het op die skepping van die hemele en die aarde) dek die boek klaarblyklik ’n tydperk van duisende jare waartydens die aarde voorberei is sodat dit deur die mens bewoon kon word, en daarna dek dit die tydperk van die mens se skepping af tot die jaar 1657 v.G.J., toe Josef gesterf het.
Die beswaar wat vroeër deur party skeptici geopper is dat mense in Moses se dag nie geweet het hoe om te skryf nie, word vandag oor die algemeen afgemaak. In sy boek New Discoveries in Babylonia About Genesis wys P. J. Wiseman daarop dat argeologiese navorsing afdoende bewys lewer dat “die skryfkuns begin het in die vroegste geskiedkundige tydperk wat aan die mens bekend is”. Feitlik alle hedendaagse geleerdes erken dat skrif lank voor Moses se tyd (in die tweede millennium v.G.J.) bestaan het.
Uitdrukkings soos die een in Exodus 17:14: “Skrywe dit as ’n aandenking in ’n boek”, bevestig die feit dat skrif in Moses se dag algemeen in gebruik was. (Ons kursiveer.) Adam moes die vermoë gehad het om ’n soort skrif uit te dink, aangesien God hom, as ’n volmaakte man, ’n taal gegee het, met die vermoë om dit volmaak te gebruik, in so ’n mate dat hy selfs kon dig.—Genesis 2:19, 23.
Al die inligting wat die boek Genesis bevat, het betrekking op gebeure wat voor Moses se geboorte plaasgevind het. Hy kon dit regstreeks deur Goddelike openbaring ontvang het. Dit is duidelik dat iemand die inligting omtrent die gebeure voor die mens se skepping op daardie manier moes ontvang het, of dit nou Moses of iemand voor hom was.—Genesis 1:1-27; 2:7, 8.
Hierdie inligting en die oorblywende besonderhede kon egter deur middel van mondelinge oorlewering aan Moses oorgedra gewees het. Omdat mense van daardie tyd lank gelewe het, kon die inligting van Adam na Moses deur middel van net vyf menslike skakels, naamlik Metusalag, Sem, Isak, Levi en Amram, oorgedra gewees het. ’n Derde moontlikheid is dat Moses baie van die inligting vir Genesis verkry het uit geskrifte of dokumente wat reeds bestaan het.
Heidense skeppingsverhale
As ’n mens die boek Genesis met die heidense skeppingsverslae vergelyk, toon dit duidelik dat die Bybelverslag verhewe is. Die vernaamste Babiloniese mite sê byvoorbeeld dat die god Mardoek, die hoofgod van Babilon, die godin Tiamat doodgemaak het, haar liggaam toe geneem het en “haar soos ’n skulpvis in twee dele verdeel het: Die helfte van haar het hy gebruik om die hemelruim te maak.” So het die aarde en sy hemelruim ontstaan. Wat die skepping van menselewe betref, sê hierdie mite dat die gode die god Kingoe gevang het en “hom sy straf opgelê en sy bloed(vate) stukkend gesny het. Uit sy bloed het hulle die mensdom gemaak.”—Ancient Near Eastern Texts.
Egiptiese skeppingsmites behels eweneens die bedrywighede van verskeie gode, maar hulle verskil oor watter stad se god (dié van Memfis of dié van Tebe) die skepping voortgebring het. Een Egiptiese mite sê dat die songod Ra die mensdom uit sy trane geskep het. Griekse mites stem met dié van die Babiloniërs ooreen. Antieke Chinese verslae is meestal kalenders en chronologiese berekeninge of verslae wat bloot van plaaslike of tydelike belang was.
Nie een van hierdie antieke bronne voorsien ons van die geskiedenis, geslagsregisters en chronologie wat die boek Genesis verskaf nie. Die geskrifte van die eertydse nasies in die algemeen toon onsekerheid en verwarring oor wie hulle volkstigters was. Die duidelike en breedvoerige manier waarop Israel se vroeë geskiedenis aangebied word, is opvallend anders. Dit is in werklikheid wat ons behoort te verwag, met die oog op God se voorneme met sy volk.
Die Bybel sê vir ons dat die nasie Israel regstreeks deur God regeer is en dat hy handelinge met hulle voorvaders gehad het, veral met Abraham, Isak en Jakob. Toe het hy Moses op ’n baie spesiale manier gebruik en deur hom die Wet aan Israel gegee wat hulle as ’n nasie gevestig het. Israel se geskiedenis is nie net tot Israel se voordeel opgeteken nie, maar ook tot voordeel van almal wat van die weë en handelinge van die ware God sal leer en hom sal dien.
Wilhelm Möller beantwoord diegene wat baie dele van Genesis as fabels of volksoorleweringe verwerp deur in The International Standard Bible Encyclopaedia te sê: “Ek dink nie dat dit aanvaarbaar gemaak kan word dat fabels en mites in enige ras met verloop van tyd al hoe meer as werklike feite aanvaar is, sodat ons dalk nou bereid moet wees om die verhale van die Nibelungenlied of Rooikappie as geskiedkundige feite te aanvaar nie. Maar dit moes, volgens die kritici, die geval met Israel gewees het.”
Hy wys verder daarop dat die profete die verslag van die vernietiging van Sodom en Gomorra as juis aanvaar het en dat hulle Abraham, Isak, Jakob en Josef as werklike persone aanvaar het (Jesaja 1:9; 29:22; Amos 4:11; Miga 7:20). Daarbenewens word Abraham op baie plekke in die Christelike Griekse Geskrifte gemeld, selfs Jesus Christus maak melding van hom in Matteus 22:32, in die bespreking oor die opstanding. As Abraham, Isak en Jakob nie werklik gelewe het nie, sou Jesus ’n ander illustrasie gebruik het.—Matteus 22:31-33.
Waarde van die boek
Genesis vertel ons hoe die heelal ontstaan het. Op ’n saaklike manier beskryf dit die wonders van die skepping, sonder dat dit toelaat dat die hoofdoel van die boek daardeur oorskadu word. Dit is dus nie soos die heidense skeppingsverhale wat hierdie wonders die hoofsaak maak en dan onsinnighede en duidelike onwaarhede gebruik om krag daaraan te verleen nie. Genesis vertel van die skeppingsdaad en toon wat God se voorneme was toe hy die mens geskep het, die verhouding van die mens met God en die verhouding van die mens tot die diere. Dit gee ons die rede waarom mense sterf, asook die rede vir die probleme wat die mensdom ondervind en die hoop op verlossing.
Dit wys daarop dat alle mense van een mens Adam afstam, wat gesondig het en die lewe vir sy nageslag verloor het; dit help ons daardeur om te verstaan hoe die losprysofferande van een mens, Jesus Christus, vir die sondes van die mensdom versoening kon doen. Genesis stel ons in staat om te sien hoe die geskil oor die regmatigheid van God se soewereiniteit deur die simboliese slang, Satan die Duiwel, geopper is. Dit bied die vaste hoop op die vernietiging van Satan en op verligting vir die mensdom. Dit vertel van die oorsprong van Babilon en dus van valse godsdiens in sy geheel op die aarde ná die Vloed; sodoende help dit om Babilon die Grote in die boek Openbaring te identifiseer.
Jesus het gesê dat enigiemand wat God dien Hom met gees en waarheid moet aanbid (Johannes 4:24). Die Genesisverslag openbaar die waarheid oor die mens se begin en oor God se handelinge met hom. Aangesien alles wat in Genesis opgeteken is waar is en nie mities nie, kan ons die waarheid oor die mens se geskiedenis weet. Ons kan sien dat mense tot die tyd van die Vloed beslis die waarheid oor die Bybelse verslag van Eden geweet het, aangesien die tuin daar was en gerubs daar was met die vlammende swaard by die poort van die tuin.—Genesis 3:24.
Maar diegene wat hulle eie begeertes wou volg, het die feite voor hulle oë geïgnoreer. Noag het God egter gedien volgens die manier waarop die mens oorspronklik geskep is om hom te dien, volgens ware geskiedenis. Hoewel Nimrod mense ná die Vloed in opstand teen God gebring het by die Toring van Babel, het die aartsvaders deur die lyn van Sem op die regte lewensweg bly wandel. Toe God se tyd aangebreek het om Israel in ’n nasie te organiseer en hulle die Wet te gee, was dit nie vir hulle iets heeltemal onbekends, ’n revolusionêre verandering in hulle lewenswyse nie.
Nee, want in die patriargale gemeenskap het hulle baie van die dinge gedoen wat in die Wet gevind word. Soos M’Clintock en Strong se Cyclopaedia sê: “Hierdie teokrasie kon nie deel van die geskiedenis geword het sonder voorbereidingswerk nie. Die feite wat tot die instelling van die teokrasie gelei het, word in die verslae van Genesis vervat.”
Noodsaaklik vir Christene
Die teokrasie wat in die boek Genesis beskryf word, het die weg vir die Messias en vir die instelling van die Christelike godsdiens berei. Toe Jesus Christus gekom het, kon diegene wat na die beste van hulle vermoë volgens die Wet gelewe het hom gou identifiseer. Hy het nie skielik verskyn en aangekondig dat hy ’n groot verlosser en leier sonder enige agtergrond of geskiedkundige bewyse is nie.
Die agtergrond wat van Genesis af voorsien is, het opregtes van hart in staat gestel om hom te herken en te volg. Derhalwe kon ’n sterk organisasie van Joodse Christene as ’n kern gevestig word, wat voorbereid was om ’n oortuigende evangelie aan die nasies oor te dra. Die voorvaders van die heidense nasies het hulle van die waarheid af weggelei. Hulle was “vervreemd van die staat Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbonde van die belofte, en . . . het geen hoop gehad nie en was sonder God in die wêreld” (Efesiërs 2:12). Hulle moes derhalwe die beginsels van God van die begin af leer voordat hulle Christene kon word.
Genesis voorsien dus ’n waardevolle grondslag om al die ander boeke van die Bybel te verstaan en is noodsaaklik vir die Christelike godsdiens. Dit laat die tema van die Bybel na vore kom, naamlik die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die uiteindelike vervulling van sy voorneme vir die aarde, deur middel van sy Koninkryk onder die beloofde Saad. Buiten die heel eerste en grondslagvormende profesie in Genesis 3:15 bevat Genesis talle ander profesieë, waarvan baie sedert die samestelling daarvan vervul is. En dit voorsien die enigste bevredigende verduideliking van die mens se begin.