Die groot wit voël keer terug
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
MET ’n stok in die hand het die mans vertrek om die pragtige wit voëls dood te slaan, een vir een. Die voëls was albatrosse. Die mans: Hanemon Tamaoki en sy trawante. Die plek: Torisjima, ’n eiland ongeveer 600 kilometer suid van Tokio. Die jaar was 1887.
Tamaoki het dit jare lank beplan. Daar was ’n groot vraag na sagte vere vir matrasse in sy tuisland sowel as oorsee, en Torisjima was ’n afgeleë eiland, en die enigste eilandbewoners was die duisende albatrosse wat gereeld daar kom broei het. Onder hulle was die kortstertalbatros waarin Tamaoki veral belanggestel het. Dit was die grootste seevoël van die Noordelike Halfrond. Stel jou net voor hoeveel vere ’n mollige lyf bedek het wat omtrent agt kilogram geweeg en ’n vlerkspan van meer as 2,5 meter gehad het! Hierdie voël was boonop mak en het glad nie probeer vlug nie, selfs al het gevaar gedreig.
Tamaoki het tot 300 werkers na die eiland gebring sodat hulle kon help om die voëls dood te maak en te pluk. Hulle het ’n dorpie en ’n klein spoorwegstelsel gebou om die dooie voëls te vervoer. Die onderneming was so winsgewend dat Tamaoki gou baie ryk geword het—ten koste van nagenoeg vyfmiljoen voëls. Die verwoesting was so groot dat sommige die vulkaniese uitbarsting op die eiland in 1902, wat die dorpie en al sy inwoners uitgewis het, beskou het as ’n “vloek omdat die albatrosse doodgemaak is”. Ten spyte hiervan het mans weer die volgende jaar gegaan om die voëls te soek wat oorgebly het.
Byna 1500 kilometer daarvandaan in die Oos-Chinese See op ’n groep verlate, rotsagtige eilande tussen Taiwan en Okinawa het ’n man met die naam Tatsoesjiro Koga dieselfde winsgewende onderneming bedryf. Soos Tamaoki het Koga ook gevind dat sy voorraad voëls vinnig verdwyn. Hy het die eiland uiteindelik in 1900 verlaat—maar nie voordat hy ongeveer eenmiljoen albatrosse uitgeroei het nie.
’n Tragiese gevolg van hebsug
Daardie grootskaalse uitroeiing van die voëls was ’n tragedie met verskriklike gevolge. Drie van die verskillende albatrossoorte kom in die noordelike deel van die Stille Oseaan voor, met die hoofbroeiplekke op die eilande wat deur Tamaoki en Koga geplunder is. Een van hulle, die kortstertalbatros (Diomedea albatrus), het klaarblyklik geen ander bekende broeiplek in die wêreld gehad nie.
Die albatros is eens met ontsag bejeën deur matrose op die oop see. Legendes en oorleweringe van die see beeld dit uit as die voorloper van winde en mistige weer. Maar dit is alles behalwe ’n legende dat hierdie groot wit voël se buitengewoon lang vlerke hom in staat gestel het om binne net ’n paar dae oor ’n oseaan te vlieg terwyl hy die grootste deel van die vlug sweef met vlerke wat byna glad nie beweeg nie. Sy vermoë om te sweef en lang tye oor die see te bly is ongeëwenaard.
Hoewel die albatros grasieus in die lug kan sweef, beweeg hy maar stadig en lomp op land. Sy lang vlerke en taamlik mollige lyf keer dat hy vinnig kan opstyg. Dít, en die feit dat hy nie geleer het om vir mense bang te wees nie, het die voël ’n maklike prooi gemaak. Daarom het mense hom name gegee soos gooney bird of malmok.a
Onverantwoordelike mense wat aangestook is deur die wete dat dooie albatrosse geld oplewer, het lustig met die uitwissing voortgegaan. ’n Opname het getoon dat daar teen 1933 minder as 600 voëls op Torisjima was. Uit desperaatheid het die Japannese regering mense verbied om na die eiland te gaan. Maar gewetenlose mans het hulle na die eiland gehaas om soveel voëls moontlik dood te maak voordat die verbod in werking getree het. Teen 1935 was daar volgens ’n deskundige net 50 voëls oor. Uiteindelik moes die kortstertalbatros as uitgestorwe geklassifiseer word. Wat ’n tragiese gevolg van menslike hebsug! Maar daar het ’n groot verrassing op mense gewag.
Die terugkeer begin
Een aand in Januarie 1951 het ’n man wat op die rotse van Torisjima rondgeklim het vir ’n onverwagse gesnater geskrik. Hy het reg voor ’n albatros gestaan! Die kortstertalbatros het op die een of ander manier bly voortbestaan en het weer op Torisjima gebroei. Maar hierdie keer het die voëls hulle neste op skuins gebiede gebou wat byna onbereikbaar vir mense was. En dit het gelyk of hulle nou versigtig was vir mense. Hoe bly moes natuurliefhebbers tog nie gewees het nie!
Die Japannese regering het vinnig opgetree. Hulle het pampasgras geplant om die grond stabieler te maak vir die neste, en hulle het mense verbied om na Torisjima te gaan. Die albatros is tot nasionale skat verklaar en het ’n internasionaal beskermde voël geword.
Sedert 1976 bestudeer Hirosji Hasegawa, van die Toho-universiteit in Japan, die voëls al, en hy besoek die eiland nou drie maal per jaar om hulle waar te neem. Hy het vir Ontwaak! gesê dat hy die voëls elke jaar met ’n ander kleur ring merk en dat hy sodoende uitgevind het dat die kortstertalbatros net een keer elke drie of vier jaar na hulle geboorteplek terugkeer om te broei. Hulle broei vir die eerste keer wanneer hulle ses jaar oud is en lê elke keer net een eier. Gevolglik neem dit lank vir hulle getalle om toe te neem, selfs al word hulle gemiddeld 20 jaar oud. Net 90 van die 176 eiers wat gedurende die winter van 1996/97 op Torisjima gelê is, het uitgebroei.
Wat doen albatrosse die res van die tyd? Hasegawa sê dat daar min hieroor bekend is. Hulle vermy beslis die land en mense. Volg albatrosse skepe, en gaan sit hulle daarop? Volgens Hasegawa is dit bloot ’n legende met geen bewyse om dit te steun nie. Hy is heeltemal seker, sê hy, dat “Japannese albatrosse nie op skepe gaan sit nie”. Maar elders in die wêreld, voeg hy by, “sal sommige voëls dalk ’n kort rukkie op skepe bly as hulle gevoer word”. Die meeste van die tyd doen hulle dit waarin hulle uitblink—sweef op gunstige lugstrome en swerf oor die uitgestrekte oseaan. Wanneer hulle moeg is, slaap hulle drywend op die see. Hulle eet pylinkvis, vlieënde visse, krappe en garnale. Die voëls wat deur Hasegawa gering is, word gereeld in die Bering-see en die Golf van Alaska opgemerk. En in 1985 was voëlkykers in Kalifornië nogal opgewonde omdat ’n kortstertalbatros daar langs die kus gesien is—die eerste keer in byna ’n eeu.
Wat van die toekoms?
Die positiewe sy van die saak is dat kortstertalbatrosse voortdurend meer word. Hasegawa het geskat dat daar verlede Mei “meer as 900 [was], met inbegrip van die kuikens”. Hy het bygevoeg: “Teen die jaar 2000 behoort daar meer as 1000 voëls net op Torisjima te wees, met meer as 100 kuikens wat elke jaar uitbroei.” Dit was ook opwindend om te sien dat hulle in 1988 weer ná 88 jaar in die Oos-Chinese See broei. Die voëls het ’n rotsagtige buitepos in omstrede gebied gekies, wat hulle ’n rukkie teen die mens se inmenging behoort te beskerm.
Die onregte van honderd jaar gelede word geleidelik reggestel. Maar is dit werklik so? Wanneer navorsers die voëls vang om hulle te ring, vind hulle dikwels dat die voëls paniekbevange raak en opgooi. Uit hulle maag kom stukkies plastiek, weggooisigaretaanstekers en ander afval wat mense onverskillig in hulle voedingsgebied, die oseaan, stort.
Sal menslike dwaasheid die groot wit voël nogmaals tot die randjie van uitwissing dryf?
[Voetnoot]
a ‘“Gooney” was oorspronklik “goney”, die Ou-Engelse woord vir ’n onnosele persoon. “Malmok” kom van die Nederlandse woord “mallemok”, wat onnosele meeu beteken’ (Birds of the World, deur Oliver L. Austin jr.). In Japannees het die benaming ahodori, wat “dom voël” beteken, die ou naam vervang wat “groot wit voël” beteken.
[Prent op bladsy 16]
Torisjima, tuiste van die kortstertalbatros
[Prent op bladsy 16, 17]
Die lang, smal vlerke van die albatros maak hom die wêreld se heel beste swewer
[Prent op bladsy 17]
Kortstertalbatrosse het weer na Torisjima teruggekeer