Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 5/8 bl. 14-15
  • “Die liefde faal nooit nie”—Wat van jou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die liefde faal nooit nie”—Wat van jou?
  • Ontwaak!—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • Liefde (Agape)—Wat dit nie is nie en wat dit wel is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Die grootste hiervan is die liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 5/8 bl. 14-15

“Die liefde faal nooit nie”—Wat van jou?

WAT is liefde? Regoor die wêreld is daar spreekwoorde wat die waarde van ware liefde beklemtoon. ’n Zulu-spreekwoord sê: “Die liefde kies nie die grashalm uit waarop dit val nie.” In die Filippyne sê die mense: “Die liefde is die sout van die lewe.” ’n Libanese spreekwoord lui: “Die liefde sien foute oor en haat vergroot tekortkominge.” Die Ierse gesegde kom hiermee ooreen: “Die liefde verberg lelikheid.” Die Walliesers sê: “Die liefde is sterker as ’n reus.” Die Noorweërs sê: “Dit wat jy liefhet, is altyd mooi.” ’n Brit sal moontlik sê: “’n Greintjie liefde is meer werd as ’n pond reëls.” In Spanje bestaan die gesegde: “Ware liefde duur tot die dood toe voort.”

Ware liefde word ongetwyfeld oral waardeer. Die liefde wat werklik ’n verskil in die lewe kan maak, is deur die Bybelskrywer Paulus beskryf: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit verheug hom nie oor onregverdigheid nie, maar verheug hom met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie.”—1 Korintiërs 13:4-8.

Ja, “die liefde faal nooit nie”. Die liefde genees. Die liefde verenig. Liefde word nie net deur woorde betoon nie, maar deur onselfsugtige dade. Die liefde het ’n edel beweegrede. Paulus het dus ook geskryf: “As ek al my besittings gee om ander te voed, en as ek my liggaam oorgee sodat ek kan roem, maar nie liefde het nie, baat dit my glad nie.” As ons opofferings maak of geskenke gee net om deur ander gesien te word, is dit uit God se standpunt tevergeefs.—1 Korintiërs 13:3.

Jesus het dit só gestel: “Wanneer jy . . . barmhartigheidsgawes gee, moet jy nie ’n trompet voor jou blaas net soos die huigelaars . . . doen, sodat hulle deur die mense verheerlik kan word nie. Voorwaar ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning. Maar jy, wanneer jy barmhartigheidsgawes gee, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie.” Ja, die liefde spog of praat nie groot nie.—Matteus 6:2, 3.

Ongeveinsde liefde soek nie sy eie gewin nie. Ware liefde maak ’n persoon se geselskap verkwikkend (Matteus 11:28-30). Die volgende anonieme aanhaling sal ons dalk laat nadink oor die soort liefde wat ons vir ander het: “Regverdigheid sonder liefde maak ons hardvogtig. Geloof sonder liefde maak ons fanaties. Mag sonder liefde maak ons wreed. Pligsgevoel sonder liefde maak ons nors. Ordelikheid sonder liefde maak ons kleingeestig.”

Mense wat net volgens reëls lewe, kan in die slagyster van liefdeloosheid trap. Hoe opbouend kan ons almal tog wees as ons Paulus se raad toepas: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kolossense 3:12-14.

[Prent op bladsy 15]

Ware Christene beoefen liefde soos Jesus dit geleer het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel