Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 10/15 bl. 17-22
  • Liefde (Agape)—Wat dit nie is nie en wat dit wel is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Liefde (Agape)—Wat dit nie is nie en wat dit wel is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dinge wat die liefde nie is nie
  • Ander dinge wat die liefde nie is nie
  • Dinge wat die liefde wel is
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Die grootste hiervan is die liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Die liefde faal nooit nie”—Wat van jou?
    Ontwaak!—1998
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 10/15 bl. 17-22

Liefde (Agape)—Wat dit nie is nie en wat dit wel is

“Voeg by julle . . . broederlike geneentheid liefde.”—2 PETRUS 1:5, 7, NW.

1. (a) Aan watter eienskap gee die Bybel die voorkeur? (b) Watter vier Griekse woorde word dikwels as “liefde” vertaal, en van watter een praat 1 Johannes 4:8?

AS DAAR een eienskap of deug is waaraan God se Woord, die Bybel, voorkeur gee, is dit liefde. In Grieks, die oorspronklike taal van die Christelike Geskrifte, is daar vier woorde wat dikwels as “liefde” vertaal word. Die liefde waarin ons nou belangstel, is nie eʹros (’n woord wat nie in die Christelike Griekse Geskrifte aangetref word nie), wat op seksuele aantrekkingskrag gegrond is nie; dit is ook nie stor·geʹ, ’n gevoel wat op bloedverwantskap gegrond is nie; dit is ook nie phi·liʹa, hartlike, vriendskaplike liefde wat op wedersydse agting gegrond is en in die voorgaande artikel bespreek is, nie. Dit is eerder a·gaʹpe—die liefde wat op beginsel gegrond is en wat blykbaar sinoniem met onselfsugtigheid is—die liefde waarvan die apostel Johannes gepraat het toe hy gesê het: “God is liefde.”—1 Johannes 4:8.

2. Wat is al tereg oor liefde (a·gaʹpe) gesê?

2 Oor hierdie liefde (a·gaʹpe) sê professor William Barclay in sy New Testament Words: “Agapē het met die verstand te doen: dit is nie bloot ’n emosie wat ongevraagd in ons hart opkom [soos in die geval van phi·liʹa] nie; dit is ’n beginsel waarvolgens ons doelbewus lewe. Agapē het hoofsaaklik met die wil te doen. Dit is ’n verowering, ’n oorwinning en ’n prestasie. Niemand het ooit van nature sy vyande lief nie. As ’n mens jou vyande wil liefhê, moet jy al jou natuurlike neigings en emosies oorwin. Hierdie agapē . . . is in werklikheid die krag om die onbeminlikes, die mense van wie ons nie hou nie, lief te hê.”

3. Hoe het Jesus Christus en Paulus liefde beklemtoon?

3 Ja, onder die dinge wat die ware aanbidding van Jehovah God van alle ander vorme van aanbidding onderskei, is die klem wat dit op hierdie soort liefde lê. Jesus Christus het tereg gesê wat die twee grootste gebooie is: “Die eerste . . . is: . . . Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. . . . En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie” (Markus 12:29–31). Die apostel Paulus het in 1 Korinthiërs hoofstuk 13 dieselfde klem op liefde gelê. Nadat hy beklemtoon het dat liefde die onontbeerlikste eienskap is, het hy met hierdie woorde afgesluit: “Nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Korinthiërs 13:13). Jesus het tereg gesê dat liefde die vernaamste kenmerk van sy volgelinge sal wees.—Johannes 13:35.

Dinge wat die liefde nie is nie

4. Hoeveel negatiewe en hoeveel positiewe aspekte van die liefde noem Paulus in 1 Korinthiërs 13:4-8?

4 Daar is al gesê dat dit makliker is om te sê wat liefde nie is nie as om te sê wat dit wel is. Daar steek iets agter, want in sy hoofstuk oor die liefde, 1 Korinthiërs 13, in verse 4 tot 8, noem die apostel Paulus nege dinge wat die liefde nie is nie en sewe dinge wat dit wel is.

5. Hoe word ‘jaloesie’ gedefinieer, en hoe word dit in ’n positiewe sin in die Skrif gebruik?

5 Die eerste ding wat Paulus sê die liefde nie is nie, is dat dit “nie jaloers” is nie. Dit verg ’n bietjie verduideliking omdat jaloesie uit positiewe en negatiewe aspekte bestaan. ’n Woordeboek definieer “jaloers” as “wat nie wedywering kan verdra nie” en as “wat uitsluitlike toegewydheid vereis”. In hierdie verband het Moses in Exodus 34:14 gesê: “Jy mag jou nie neerbuig voor ’n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy.” In Exodus 20:5 sê Jehovah: “Ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis” (NW). Die apostel Paulus het in ’n soortgelyke trant geskryf: “Ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid.”—2 Korinthiërs 11:2.

6. Watter skriftuurlike voorbeelde toon waarom die liefde nie jaloers is nie?

6 ‘Jaloesie’ het egter oor die algemeen ’n slegte betekenis, en daarom word dit in Galasiërs 5:20 saam met die werke van die vlees genoem. Ja, sulke jaloesie is selfsugtig en verwek haat, en haat is die teenoorgestelde van liefde. Jaloesie het veroorsaak dat Kain Abel só gehaat het dat hy hom vermoor het, en dit het veroorsaak dat Josef se tien halfbroers hom só gehaat het dat hulle hom wou doodmaak. Die liefde misgun ander nie uit jaloesie hulle besittings of voordele, soos koning Agab Nabot uit jaloesie sy wingerd misgun het nie.—1 Konings 21:1–19.

7. (a) Watter gebeurtenis toon dat Jehovah nie van grootpratery hou nie? (b) Waarom praat die liefde nie eers onnadenkend groot nie?

7 Paulus sê vervolgens vir ons die liefde “praat nie groot nie”. Grootpratery verraai ’n gebrek aan liefde omdat dit daartoe lei dat jy jou bo ander verhef. Jehovah hou nie van grootpraters nie, soos gesien kan word uit die wyse waarop hy koning Nebukadnesar verneder het toe hy grootgepraat het (Daniël 4:30–35). Grootpratery word dikwels onnadenkend gedoen, omdat ’n mens te ingenome met jou prestasies of besittings is. Party is dalk geneig om oor hulle sukses in die Christelike bediening te spog. Ander is soos die ouere man wat sy vriende eenvoudig móés bel om hulle te vertel dat hy ’n nuwe motor ter waarde van byna R150 000 gekoop het. Al hierdie dinge is liefdeloos omdat dit die grootprater bo diegene verhef wat na hom luister.

8. (a) Hoe voel Jehovah oor diegene wat opgeblase is? (b) Waarom tree die liefde nie so op nie?

8 Dan word daar vir ons gesê die liefde “is nie opgeblase nie”. Iemand wat opgeblase, of hoogmoedig, is, verhef hom liefdeloos bo ander. So ’n gesindheid is uiters onverstandig, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jakobus 4:6). Die liefde tree net die teenoorgestelde op; dit laat ’n mens ander hoër ag as jouself. Paulus het in Filippense 2:2, 3 geskryf: “Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug [“twisgierigheid”, NW] of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.” So ’n gesindheid laat ander op hulle gemak voel, terwyl die hoogmoedige mens ander vanweë sy twisgierigheid ongemaklik laat voel.

9. Waarom handel die liefde nie onwelvoeglik nie?

9 Paulus sê verder die liefde “handel nie onwelvoeglik nie”. Die woordeboek definieer “onwelvoeglik” as “uiters onbetaamlik of wat indruis teen maniere of sedes”. Iemand wat onwelvoeglik (liefdeloos) handel, neem nie ander se gevoelens in ag nie. Baie Bybelvertalings gee die Grieks as “onmanierlik” weer. So iemand spot met dit wat as gepas of betaamlik beskou word. Liefdevolle bedagsaamheid teenoor ander sal beslis behels dat ’n mens alles sal vermy wat onmanierlik of onbetaamlik is, dinge wat aanstoot gee of dalk selfs skokkend is.

Ander dinge wat die liefde nie is nie

10. Hoe soek die liefde nie sy eie belang nie?

10 Daar word vervolgens vir ons gesê die liefde “soek nie sy eie belang nie”, dit wil sê wanneer ons eie belange en dié van ander ter sake is. Die apostel sê op ’n ander plek: “Niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit” (Efesiërs 5:29). Maar wanneer ons belange sowel as dié van iemand anders ter sake is en daar geen ander Bybelbeginsels by betrokke is nie, moet ons doen wat Abraham met Lot gedoen het en liefdevol aan die ander persoon die voorkeur gee.—Genesis 13:8-11.

11. Wat beteken dit dat die liefde nie verbitterd raak nie?

11 Die liefde neem ook nie gou aanstoot nie. Paulus sê dus vir ons die liefde “word nie verbitterd nie”. Dit is nie liggeraak nie. Dit lê selfbeheersing aan die dag. Veral egpare moet hierdie raad ter harte neem deur daarteen te waak dat hulle ongeduldig hulle stem verhef of op mekaar skreeu. Daar is omstandighede wanneer dit maklik is om verbitterd te raak, en daarom het Paulus dit nodig geag om Timotheüs te vermaan: “’n Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra”—ja, hy raak nie verbitterd nie—“hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys.”—2 Timotheüs 2:24, 25.

12. (a) Hoe reken die liefde die kwaad nie toe nie? (b) Waarom is dit onverstandig om die kwaad toe te reken?

12 Paulus noem nog dinge wat die liefde nie is nie en vermaan ons: “Die liefde . . . reken die kwaad nie toe nie.” Dit beteken nie dat die liefde kwaad ignoreer nie. Jesus het getoon hoe ons sake moet hanteer wanneer iemand ons baie seergemaak het (Mattheüs 18:15–17). Maar liefde laat nie toe dat ons gegrief bly, dat ons ’n wrok koester nie. Om die kwaad nie toe te reken nie, beteken dat jy vergewensgesind moet wees en van die saak moet vergeet sodra dit op ’n skriftuurlike wyse opgelos is. Ja, moenie jou kwel of jou ongelukkig maak deur oor ’n onreg te tob en die kwaad toe te reken nie!

13. Wat beteken dit om nie bly te wees oor die ongeregtigheid nie, en waarom doen die liefde dit nie?

13 Daar word verder vir ons gesê die liefde “is nie bly oor die ongeregtigheid nie”. Die wêreld is bly oor die ongeregtigheid, soos gesien kan word aan die gewildheid van gewelddadige en pornografiese lektuur, rolprente en TV-programme. Al hierdie blydskap is selfsugtig omdat dit nie God se regverdige beginsels of die welstand van ander in ag neem nie. Al hierdie selfsugtige blydskap beteken dat ’n mens in die vlees saai en mettertyd uit die vlees verderf sal maai.—Galasiërs 6:8.

14. Waarom kan daar met vertroue gesê word dat die liefde nooit vergaan nie?

14 Dan is daar die laaste ding wat die liefde nie doen nie: “Die liefde vergaan nimmermeer.” Vir eers, die liefde vergaan of eindig nooit nie omdat God liefde is en hy “vir ewig Koning is” (1 Timotheüs 1:17, NAV). In Romeine 8:38, 39 word ons die versekering gegee dat Jehovah se liefde vir ons nooit sal vergaan nie: “Ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” Die liefde vergaan ook nooit nie in die sin dat dit nooit ontoereikend is nie. Die liefde kan enigiets, enige uitdaging, die hoof bied.

Dinge wat die liefde wel is

15. Waarom noem Paulus lankmoedigheid eerste onder die positiewe aspekte van die liefde?

15 Paulus kom nou by die positiewe aspek—die dinge wat die liefde wel is, en hy begin so: “Die liefde is lankmoedig.” Daar is al gesê dat daar geen Christenbroederskap kan wees sonder lankmoedigheid nie, dit wil sê as ons mekaar nie geduldig verdra nie. Dit is so omdat ons almal onvolmaak is, en ons onvolmaakthede en tekortkominge is vir ander ’n beproewing. Dit is geen wonder dat die apostel Paulus hierdie aspek van wat die liefde wel is eerste noem nie!

16. Hoe kan gesinslede vriendelikheid teenoor mekaar betoon?

16 Paulus sê dat die liefde ook “vriendelik” is. Dit wil sê, die liefde is behulpsaam, bedagsaam en neem ander in ag. Vriendelikheid word in groot en klein dinge aan die dag gelê. Die barmhartige Samaritaan het beslis vriendelikheid betoon teenoor die man wat deur rowers aangeval is (Lukas 10:30–37). Die liefde sê graag “asseblief”. Om te sê: “Gee die brood aan”, is ’n bevel. As dit deur “asseblief” gevolg word, word dit ’n versoek. Mans is vriendelik teenoor hulle vrou as hulle ag slaan op die raad in 1 Petrus 3:7: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.” Vrouens is vriendelik teenoor hulle man as hulle “diep respek” vir hom het (Efesiërs 5:33, NW). Vaders is vriendelik teenoor hulle kinders as hulle die raad in Efesiërs 6:4 volg: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en die geestesregulering van Jehovah groot te maak.”—NW.

17. Wat is twee maniere waarop die liefde bly is saam met die waarheid?

17 Die liefde is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar “is bly saam met die waarheid”. Liefde en waarheid gaan hand aan hand—God is liefde en hy is terselfdertyd “die God van waarheid” (Psalm 31:5, NW). Die liefde is bly dat waarheid oor valsheid seëvier en dit blootlê; dit dra vandag deels by tot die groot toename in die getal aanbidders van Jehovah. Maar aangesien waarheid teenoor ongeregtigheid gestel word, kan dit ook die gedagte oordra dat die liefde bly is saam met die geregtigheid. Die liefde is bly dat geregtigheid seëvier, soos Jehovah se aanbidders beveel word om bly te wees wanneer Babilon die Grote tot ’n val kom.—Openbaring 18:20.

18. In watter sin bedek die liefde alles?

18 Paulus sê ook vir ons die liefde “bedek alles”. Dit “beswadder” nie ’n broer, soos die goddelose geneig is om te doen nie (Psalm 50:20, NAV; Spreuke 10:12; 17:9). Ja, die gedagte hier is dieselfde as in 1 Petrus 4:8: “Die liefde sal ’n menigte sondes bedek.” Lojaliteit sal ’n mens natuurlik daarvan weerhou om ernstige sondes teen Jehovah en die Christengemeente te bedek.

19. Hoe glo die liefde alles?

19 Die liefde “glo alles”. Die liefde is positief, nie negatief nie. Dit beteken nie dat die liefde goedgelowig is nie. Die liefde sal nie sommer sensasionele uitlatings glo nie. Maar as ’n mens geloof in God wil opbou, moet jy die begeerte hê om te glo. Die liefde is dus nie skepties, onnodig krities, nie. Dit weerstaan nie gelowigheid soos die ateïs, wat dogmaties sê dat daar nie ’n God is nie, en dit is ook nie soos die agnostikus nie, wat dogmaties beweer dat dit eenvoudig onmoontlik is om te weet waar ons vandaan kom, waarom ons hier is en wat in die toekoms gaan gebeur nie. God se Woord gee ons sekerheid wat al hierdie dinge betref. Die liefde glo ook geredelik omdat dit kan vertrou en nie onnodig agterdogtig is nie.

20. Hoe hou die liefde verband met hoop?

20 Die liefde “hoop alles”, sê die apostel Paulus verder vir ons. Aangesien die liefde positief en nie negatief is nie, het dit ’n vaste hoop op alles wat in God se Woord belowe word. Daar word vir ons gesê: ‘Hy wat ploeg, moet op hoop ploeg; en hy wat dors, moet op hoop dors om wat hy hoop, deelagtig te word’ (1 Korinthiërs 9:10). Net soos die liefde kan vertrou, kan dit ook hoop, en dit hoop altyd op die beste.

21. Watter skriftuurlike versekering is daar dat die liefde alles verdra?

21 Die liefde “verdra alles”, word ons ten laaste verseker. Ons kan sien dat dit die geval is uit wat die apostel Paulus vir ons in 1 Korinthiërs 10:13 sê: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” Die liefde sal daartoe bydra dat ons, soos ons in Hebreërs 12:2, 3 daaraan herinner word, na die baie voorbeelde in die Skrif kyk van God se knegte wat beproewinge moes verdra, waarvan Jesus Christus die vernaamste is.

22. Watter uitnemende eienskap moet altyd vir ons as kinders van God belangrik wees om aan die dag te lê?

22 Liefde (a·gaʹpe) is waarlik die uitnemendste eienskap wat ons as Christene, Jehovah se Getuies, moet aankweek, ten opsigte van wat dit nie is nie asook ten opsigte van wat dit wel is. As kinders van God moet dit altyd vir ons belangrik wees om hierdie vrug van God se gees aan die dag te lê. As ons dit doen, is ons navolgers van God, want, onthou, “God is liefde”.

Onthou jy?

◻ Hoe toon Jesus Christus en Paulus die uitnemendheid van liefde?

◻ In watter sin is die liefde nie jaloers nie?

◻ Hoe “bedek” die liefde alles?

◻ Waarom kan daar gesê word dat die liefde nooit vergaan nie?

◻ Op watter twee maniere is die liefde bly saam met die waarheid?

[Venster op bladsy 21]

LIEFDE (AGAPE)

Wat dit nie is nie Wat dit wel is

1. Is nie jaloers nie 1. Lankmoedig

2. Praat nie groot nie 2. Vriendelik

3. Is nie opgeblase nie 3. Is bly saam met die waarheid

4. Handel nie onwelvoeglik nie 4. Bedek alles

5. Soek nie sy eie belang nie 5. Glo alles

6. Word nie verbitterd nie 6. Hoop alles

7. Reken die kwaad nie toe nie 7. Verdra alles

8. Is nie bly oor die

ongeregtigheid nie

9. Vergaan nimmermeer

[Prente op bladsy 18]

Jehovah het Nebukadnesar verneder omdat hy grootgepraat het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel