Wanneer die wetenskap praat—Hoe luister jy?
NUWE siektes sowel as bekende siektes wat terugkeer, is ’n uitdaging vir die wetenskap. Mense wat desperaat is om gesond te word, luister wanneer die wetenskap praat. Vrees vir die dood laat baie mense gretig die nuutste wondermiddel probeer, en daar word dikwels maar min aandag aan die langtermyngevolge gegee.
In baie gevalle het die wetenskap mense wat ly, gehelp om ’n beter lewensgehalte te geniet. Iets noemenswaardigs is chirurgiese prosedures wat die gebruik van bloedoortappings, met al sy gevare, uitskakel. Die wetenskap en tegnologie het aan die mensdom die mag gegee om dinge te doen wat die verbeelding oortref. Wat vroeër wetenskapsfiksie was, is nou ’n alledaagse werklikheid. Nogtans is die wetenskap in sy geheel nie onbaatsugtig en deur die mensdom se knellende behoeftes aangedryf nie.
Wie is dit wat praat?
Die wetenskap word meestal deur finansiële gewin aangedryf en deur invloedryke drukgroepe gesteun, soos vroeër getoon is. Voordat jy dus gevolgtrekkings maak of opgewonde raak oor die een of ander nuwe wetenskaplike ontdekking, vra jou af: ‘Wie is dit nou eintlik wat praat?’ Leer om die geheime oogmerke te herken. Almal weet dat die nuusmedia van sensasie hou. Sommige lede van die pers sal omtrent enigiets doen om hulle koerant te verkoop. En selfs party van die toonaangewender tydskrifte laat af en toe ’n mate van sensasionele beriggewing toe.
Dit gebeur dikwels dat die wetenskap en die nuusmedia ’n liefde-haat-verhouding het. Die media kan die wetenskap in ’n goeie lig stel, maar aan die ander kant “probeer wetenskaplikes dikwels nuusdekking beheer deur te weier om onderhoude toe te staan tensy hulle die artikel kan nasien en korrigeer voordat dit gepubliseer word. Verslaggewers, wat bang is dat wetenskaplikes met gevestigde belange hulle artikels sal sensor, is gewoonlik teësinnig om dit vir wetenskaplikes te wys, alhoewel hulle dikwels die akkuraatheid van besonderhede deur hulle laat bevestig.” Dít is die woorde van Dorothy Nelkin in haar boek Selling Science.
Sy haal dan voorbeelde aan om haar stelling te staaf: “Nuusberigte oor die jongste vooruitgang in die wetenskap wek gewoonlik die verwagtings van radelose mense. . . . Pasiënte gaan gewapend met die jongste uitgawe [van ’n gewilde tydskrif] na hulle dokter se spreekkamer en dring aan op die nuutste behandeling.” Dan is daar die voorbeeld, wat Dorothy Nelkin aanhaal, van die verslaggewer wat die voorsitter van die Internasionale Taakmag vir Gesondheid en Mannekrag gevra het “of hy dink dat toordokters in Afrika medikasie op bekwame wyse kan toedien”. Hy het geantwoord dat hulle “waarskynlik kan, aangesien hulle hoogs geloofwaardig in die oë van die bevolking is”. Maar wat was die koerantopskrif die daaropvolgende dag? Dit het gelui: “VN-deskundige vra meer toordokters aan”!
Ongelukkig is dit blykbaar ’n hedendaagse neiging dat al hoe meer mense op koerante en tydskrifte staatmaak om hulle oor die huidige wetenskaplike verwikkelinge in te lig, sê Dorothy Nelkin. En vir baie, wat nie daarvan hou om te lees of wat dalk nie so goed kan lees nie, word televisie die hoofbron van inligting.
Handhaaf ’n gebalanseerde beskouing van die wetenskap
Ten spyte van die suksesse van die wetenskap wat die mensdom tot voordeel strek, moet ons onthou dat wetenskaplikes net mense is. Hulle is nie immuun teen versoekings en korrupsie nie. Hulle beweegredes is nie altyd edel nie. Dit is wel so dat die wetenskap sy regmatige plek in die samelewing het, maar dit is nie ’n onfeilbare lig wat ons lei in ’n wêreld wat al hoe donkerder word nie.
Die tydskrif Speculations in Science and Technology sê: “Die geskiedenis van die wetenskap toon dat die leiers van die wetenskap, hoe verhewe hulle ook al . . . lyk, steeds feilbaar is.” Trouens, sommige is meer as net feilbaar.
Om die redes wat in hierdie artikels aangegee is, sal dit onverstandig vir ’n Christen wees om by wetenskaplike geskille betrokke te raak of om wetenskaplike teorieë voor te staan wat nog nie bewys is nie. Sommige kan byvoorbeeld behep raak met vrees vir elektromagnetisme. Dan kan hulle, met die beste bedoelings, ander begin aanspoor om van hulle mikrogolfoonde, elektriese komberse, ensovoorts ontslae te raak. Dit staan elkeen natuurlik vry om sy eie keuse te maak sonder dat ander hom kritiseer. Maar diegene wat iets anders as ons verkies, is op dieselfde bedagsaamheid geregtig. Dit is derhalwe verstandig om nie sensasionele beriggewing te versprei nie. Talle bewerings moet nog waar of vals bewys word. As sommige van hierdie bewerings uiteindelik ongegrond of selfs verkeerd bevind word, sal diegene wat sulke bewerings voorgestaan het, nie net dwaas lyk nie, maar ander dalk per ongeluk skade berokken het.
Versigtigheid is belangrik
Hoe moet ’n Christen reageer op wetenskaplike verslae waaroor die media sensasie wek? Vind eerstens uit of daar enige vooroordeel is. Wat is die beweegrede vir die artikel of nuusberig? Tweedens moet jy die hele artikel lees. Die sensasionele opskrif stem dalk nie ooreen met die artikel self nie. Derdens, en die belangrikste, moet jy die reputasie van die beriggewers nagaan. Praat hulle die waarheid? Het hulle enige geheime oogmerke?—Romeine 3:4.
Daar kan gesê word dat dit wetenskaplikes se eie skuld is as sommige mense skepties teenoor hulle staan. Die geloofwaardigheid van party wetenskaplikes as onpartydige soekers na die waarheid is reeds ernstig geskend. Die wetenskap het opwindende vistas van kennis van ons wêreld en die heelal moontlik gemaak. Maar sommige voorspellings van ’n beter, nuwe wêreld wat op die wetenskap gegrond is, wek vrees en besorgdheid in plaas van hoop.
Party deskundiges laat onheilspellende waarskuwings hoor oor moontlike rampe in die toekoms. Die Nobelpryswenner vir vrede, die Britse fisikus Joseph Rotblat, het sy kommer só uitgedruk: “Wat my bekommer, is dat ander vooruitgang in die wetenskap dalk tot ander maniere van massavernietiging sal lei, maniere wat miskien selfs toegankliker as kernwapens sal wees. Genetiese manipulasie is ’n hoogs waarskynlike gebied, weens hierdie verskriklike ontwikkelings wat [in dié veld] plaasvind.” Professor Ben Selinger van die Australiese Nasionale Universiteit het gepraat van die probleme wat hy kan voorsien: “Na my mening sal die volgende krisis heel moontlik op die gebied van genetiese manipulasie plaasvind, maar ek weet nie wat, hoe of wanneer nie.”
Daarenteen is die Bybel, die Woord van God, ’n onfeilbare en betroubare ‘lig vir ons pad’ na ’n veilige toekoms van vrede, goeie gesondheid en wêreldeenheid op ’n gereinigde aarde onder die heerskappy van God se Koninkryk.—Psalm 119:105; Openbaring 11:18; 21:1-4.
[Venster op bladsy 11]
“Die Oorheersende Mag Van Die Mite”
In die laaste jare het sommige wetenskaplikes ernstige bedenkinge geopper oor die lewensvatbaarheid van die evolusieteorie, soos Charles Darwin dit uiteengesit het. Dit is veral die geval met molekulêre bioloë.
Michael Denton, ’n navorser in biologie, het in sy boek Evolution: A Theory in Crisis geskryf: “Die feit dat die Darwiniese teorie tot ’n onmiskenbare grondwaarheid verhef is, het tot gevolg gehad dat die werklike probleme en besware waarmee Darwin in die Origin geworstel het nou totaal versluier is. Belangrike vraagstukke soos die ontbrekende skakels of die probleem om jou voor te stel hoe oorgangslewensvorme gelyk het, word feitlik nooit bespreek nie, en die skepping van selfs die ingewikkeldste aanpassings word sonder ’n greintjie twyfel aan natuurlike teeltkeuse toegeskryf.”
Hy gaan voort: “Die oorheersende mag van die mite het ’n algemene illusie geskep dat die evolusieteorie honderd jaar gelede so goed as bewys was . . . Niks kan verder van die waarheid wees nie.”—Bladsy 77.
“As daar bewys kan word dat daar ’n komplekse orgaan bestaan wat hoegenaamd nie gevorm kon gewees het deur talle, opeenvolgende, geringe veranderinge nie, sal my hele teorie heeltemal in duie stort.”—Origin of Species, Charles Darwin, bladsy 154.
“Namate die aantal onverklaarbare, uiters komplekse biologiese stelsels toeneem,a kan ons met alle sekerheid sê dat daar aan Darwin se maatstaf vir mislukking voldoen is” (Darwin’s Black Box—The Biochemical Challenge to Evolution, Michael J. Behe, bladsye 39-40). Met ander woorde, onlangse bevindings op die gebied van molekulêre biologie laat ernstige bedenkinge oor Darwin se teorie ontstaan.
“Die resultaat van al [die] pogings om die sel te ondersoek—om lewe op molekulêre vlak te ondersoek—is ’n luide, helder, deurdringende uitroep vir ‘ontwerp!’ Die resultaat is so duidelik en so betekenisvol dat dit as een van die grootste prestasies in die geskiedenis van die wetenskap beskou moet word. Die ontdekking ding mee met dié van Newton en Einstein, Lavoisier en Schrödinger, Pasteur en Darwin. Erkenning van die feit dat lewe intelligent ontwerp is, is net so belangrik as om te erken dat die aarde om die son draai.”—Darwin’s Black Box, bladsye 232-3.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 Mei 1997, bladsye 3-17, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir ’n breedvoerige bespreking van evolusie en molekulêre biologie.
[Prente op bladsy 10]
Christene vermy wyslik geskille oor moontlike lewe op ander planete of die vermeende gevolge van elektromagnetisme
[Erkenning]
NASA photo/JPL
NASA photo/JPL