Wie is die ouer? Wie is die kind?
’N SIELKUNDIGE in Kalifornië, VSA, betreur die mate waarin ouerlike gesag in onlangse jare ondermyn is. “In my kantoor”, skryf sy, “het ek tallose gesprekke tussen ouers en kinders aangehoor wat gevoer is asof dit tussen twee grootmense is, nie tussen ’n kind en ’n ouer nie. Onderhandelinge wat by ons grootste korporasies sal pas, word gevoer oor enigiets van slaaptyd tot sakgeld tot huislike pligte. Soms is dit moeilik om te weet wie die ouer en wie die kind is.”
Die Bybel gee aan ouers gebalanseerde raad. Dit waarsku hulle teen die gevaar om so streng te wees dat hulle hulle kind irriteer, wat die kind miskien terneergedruk en mismoedig kan maak (Kolossense 3:21). Maar dit waarsku ouers ook teen die ander uiterste—om te permissief te wees, om van hulle gesag afstand te doen. Spreuke 29:15 sê: “’n Seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” ’n Ander Bybelspreuk sê: “As ’n mens sy slaaf van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar” (Spreuke 29:21). Alhoewel hierdie teks van ’n slaaf praat, is die beginsel ook op kinders van toepassing.
Ouers wat nie vir hulle kinders die nodige leiding en dissipline gee nie, betaal uiteindelik duur daarvoor—met ’n huisgesin wat buite beheer is. Hoeveel beter is dit tog nie om die Bybel se raad toe te pas nie! Dit vereis weliswaar inspanning om dit te doen, maar dit kan lewenslange voordele meebring. Die Bybel sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”—Spreuke 22:6.