Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 9/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Elektriese motors en die omgewing
  • Versigtig: Kolobuskruising
  • Waarskuwing: Telefone kan gevaarlik wees
  • Tabak se strategie
  • Millennium-malligheid
  • Aardbewings onvoorspelbaar
  • Plante eet plofstowwe
  • Gevaarlike dansery
  • Motorongelukke—Is jy veilig?
    Ontwaak!—2002
  • Sigarette—Wys jy dit van die hand?
    Ontwaak!—1996
  • Padwoede—Hoe kan jy dit die hoof bied?
    Ontwaak!—1997
  • Plante versus besoedeling
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 9/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Elektriese motors en die omgewing

Die Duitse Motormaatskappy het ’n studie gedoen om uit te vind of batteryaangedrewe motors beter vir die omgewing is as motors wat deur ’n binnebrandenjin aangedryf word. Volgens die koerant Süddeutsche Zeitung het die studie 100 bestuurders ingesluit wat 1,3 miljoen kilometer tussen 1992 en 1996 gery het. Daar is bevind dat elektriese motors verskeie voordele het, ten spyte van die korter afstand wat hulle aflê: Hulle het stil geloop en geen direkte uitlaatgasse veroorsaak waar hulle gebruik is nie. Maar hierdie voordele word dalk deur een groot probleem oortref. Die herlaaiing van die batterye verbruik meer primêre energie as wat verbruik word deur voertuie wat deur fossielbrandstowwe aangedryf word—van 1,5 tot 4 keer soveel, na gelang van hoeveel dit gebruik word—en daardie energie moet êrens opgewek word. Na gelang van hoe die energie opgewek word, is dit moontlik dat “skade aan die omgewing groter is as wat gewone motors veroorsaak”, sê die koerant.

Versigtig: Kolobuskruising

Die Diani-woud, naby die kus van suidelike Kenia, is een van die min plekke in Oos-Afrika waar die kolobusaap nog floreer. Die probleem waarvoor die diere te staan kom, is hoe om die besige pad langs die strand veilig oor te steek. Volgens een skatting word daar elke maand ten minste 12 ape deur motors op die pad doodgery, berig Swara, die tydskrif van die Oos-Afrikaanse Natuurlewe-vereniging. ’n Groep besorgde Diani-inwoners het besluit om op te tree om die slagting te verminder. Buiten dat hulle bestuurders vermaan om versigtiger te wees, het hulle onlangs ’n toubrug hoog bo die pad gebou. Die inwoners, wat aangemoedig is deur waarnemings van ape wat die brug gebruik, beplan om nog brûe te bou.

Waarskuwing: Telefone kan gevaarlik wees

Dit is te sê, as jy dit gebruik terwyl jy bestuur. ’n Studie wat in die New England Journal of Medicine gepubliseer is, sê dat bestuurders wat motorfone gebruik se kanse om in ongelukke betrokke te raak vier keer groter is as bestuurders wat net op die pad konsentreer. As ’n mens ’n telefoon gebruik terwyl jy bestuur, kan dit net so gevaarlik wees as om te bestuur met ’n bloedalkoholvlak van 0,1 persent. En bestuurders met luidsprekertelefone het nie beter gevaar as diegene wat hulle hande gebruik het om die telefoon vas te hou nie. Die navorsers wys gou daarop dat dit nie die telefone is wat vir die ongelukke verantwoordelik is nie, maar dat hulle slegs daarmee gepaardgaan, soos wanneer ’n argument ontstaan en iemand se aandag afgetrek word. Bowendien het 39 persent van die bestuurders wat in ongelukke betrokke was hulle motorfone daarna gebruik om hulp te ontbied. Daar word voorgestel dat diegene met motorfone alle onnodige oproepe moet vermy terwyl hulle bestuur en dat hulle hulle gesprekke kort moet hou. Party lande, soos Brasilië, Israel en Switserland, het reeds wette wat bestuurders verbied om sellulêre telefone te gebruik.

Tabak se strategie

“Al ooit gewonder waarom die tabakbedryf nie sy groot politieke mag gebruik om die Kongres te oorreed om die waarskuwings wat op alle sigaretadvertensies en -pakkies [in die Verenigde State] moet verskyn ligter te stel of te verwyder nie?” vra The Christian Century. “Die antwoord is eenvoudig: daardie waarskuwing oor die gevare van rokery beskerm die tabakbedryf teen geregtelike stappe. As jy op die ouderdom van 12 begin rook en jy dan op 45 aan longkanker sterf, en jy besluit dat jy die maatskappy wil dagvaar wat jou verslaaf laat raak het, het die bedryf ’n maklike antwoord: ‘Ons het jou gewaarsku dat rokery gesondheidsgevare inhou.’” Een van die nuutste bemarkingsmetodes is om sigaarrokery aan te moedig deur bekoorlike aktrises of modelle te kry om die produk aan te beveel. Maar sigare veroorsaak meer besoedeling as sigarette en hou groot gesondheidsgevare in. “Sigaarrokery is vir ’n vrou van geen nut nie, maar sal eerder haar kanse vergroot om ’n lewensgevaarlike siekte op te doen en haar van die krag en stamina beroof wat sy nodig het om sukses in die lewe te behaal”, sê dr. Neil Schachter, van die stad New York se Mount Sinai- Mediese Sentrum.

Millennium-malligheid

“Die 20ste eeu wat as die eeu van algehele oorlog begin het en die atoomeeu geword het, lyk of dit as die eeu van vermaak gaan eindig”, sê die tydskrif Newsweek. “Hotelle regoor die wêreld is reeds vol bespreek” vir feesvieringe op Oujaarsaand 1999. Maar ’n geskil het ontstaan oor presies waar die millennium gaan aanbreek. “Die moeilikheid het begin in die nasie van Kiribati”, sê U.S.News & World Report. “Die internasionale datumlyn het vantevore deur die reeks eilande geloop: Wanneer dit Sondag was in oostelike Kiribati, was dit Maandag in westelike Kiribati.” Die nasie het die probleem opgelos deur te sê dat die datumlyn van 1 Januarie 1995 af om Caroline, hulle eiland wat die verste oos lê, sou gaan. Dit sou beteken dat Kiribati die eerste landmassa sou wees wat die begin van ’n nuwe dag sien. Maar ander lande soos Tonga en Nieu-Seeland wou die status hê om “eerste” te wees. Volgens die Koninklike Greenwich-sterrewag is die vraag akademies. “Aangesien die son van die September-nagewening tot die Maart-nagewening af op die Suidpool skyn, breek die millennium eerste oor die onderkant van die aarde aan”, sê die verslag. Die sterrewag voeg egter by dat dit eers op 1 Januarie 2001 sal wees—nie in die jaar 2000 nie.

Aardbewings onvoorspelbaar

Onlangs het ’n internasionale groep aardbewingdeskundiges in Londen bymekaargekom om die wetenskaplike voorspelbaarheid van aardbewings te bespreek. Hulle gevolgtrekking? “Talle aardwetenskaplikes dink al meer as 100 jaar lank dat [groot aardbewings] uiteraard deur waarneembare en uitkenbare voortekens voorafgegaan moet word wat gebruik kan word as die grondslag om waarskuwings uit te stuur”, skryf dr. Robert Geller, van die Universiteit van Tokio, in die publikasie Eos. ’n Fundamentele verandering van denke is eerder nodig, aangesien “dit lyk asof die voorkoms van individuele aardbewings inherent onvoorspelbaar is”. Hoewel noukeurige voorspellings nie moontlik is nie, kan wetenskaplikes die waarskynlikheid en moontlike omvang van aardbewings skat vir gebiede wat omvattende seismiese verslae het. ’n Nuwe kaart wat deur die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames gemaak is, toon byvoorbeeld waar groot skuddings gedurende die volgende 50 jaar in die vasteland van die Verenigde State kan plaasvind. Volgens hierdie inligting sê regeringsagentskappe dat meer as 70 persent van Kalifornië se bevolking in gebiede woon wat moontlik in gevaar is.

Plante eet plofstowwe

Suikerbeetplante en ’n soort waterplant het die vermoë om plofstowwe uit grond en water in ou ammunisieterreine te haal en dit dan veilig af te breek, berig die tydskrif New Scientist. Wetenskaplikes van die Rice-universiteit, in Houston, Texas, het TNT vir kanniedood en waterduisendblaar, ’n gewone waterplant, gevoer. Binne ’n week was daar geen spoor van die plofstof in hulle weefsel oor nie, en toe die plante gebrand is, het dit nie ’n ontploffing veroorsaak nie. Terselfdertyd het navorsers van die Universiteit van Maryland ontdek dat gewone suikerbeetselle en -ekstrakte nitrogliserien kan absorbeer en oplos. Albei groepe wetenskaplikes het die plante gesteriliseer om te bewys dat die plante geen hulp van mikro-organismes gekry het nie. “Op die oomblik is dit gewoonlik te gevaarlik en duur om ou ammunisieterreine te herwin sodat daar op hulle gebou kan word, maar dit kan verander as plante wat goedkoop gekweek kan word, gebruik word om die plofstowwe uit die grond en water te haal en dit veilig af te breek”, sê die artikel. Daar is ’n dringende behoefte daaraan, want “die bestaande gebruik om ammunisieafval in die see te stort, word geleidelik beëindig”.

Gevaarlike dansery

Party soorte baldanse het van ’n beskaafde kuns verander “na ’n uiters mededingende sport waartydens ’n fortuin gemaak word”, berig The Times van Londen. Botsings wat plaasvind wanneer dansers vinnig beweeg en hoog skop en wat mededingende dansers dan per ongeluk beseer, word ’n gevaar op die dansvloer. Wat nog erger is, is dat gevaarlike dansery moedswillig met “koelbloedige opset” gedoen word, volgens Harry Smith-Hampshire, ’n vername dansbeoordelaar. Volgens The Times openbaar deelnemers aan danskompetisies “die maniere van die voetbalstadion en bokskryt”. Met die vooruitsig dat baldans binnekort Olimpiese erkenning gaan verkry, het beroepsafrigters en beoordelaars ’n amptelike “gedragskode” opgestel om die sport te beheer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel