Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 9/8 bl. 24-25
  • Kaba—’n elegante klerestyl van Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kaba—’n elegante klerestyl van Afrika
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kaba kom in die mode
  • Modes—Altyd aan die verander
    Ontwaak!—2003
  • Mode—die antieke Griekse styl
    Ontwaak!—1995
  • Verheerlik jy God deur jou kleredrag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Beskeidenheid in kleredrag en persoonsversorging
    Ons Koninkryksbediening—2002
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 9/8 bl. 24-25

Kaba—’n elegante klerestyl van Afrika

Deur Ontwaak!-medewerker In Ghana

KABA—dit is feitlik oral in Ghana en in naburige Wes-Afrikalande te sien. Dit word by verskeie geleenthede gedra—van begrafnisse tot vreugdevolle Christelike samekomste. En kaba is beskikbaar in verskillende style en kleure.

Presies wat is kaba? Dit is ’n gewilde soort vrouedrag. Die naam verwys na ’n kledingstuk wat van die nek tot by die middel strek. Dit word egter nie alleen gedra nie. ’n Stuk materiaal van twee meter, wat hier algemeen bekend staan as wasdruk, of java-druk, na gelang van die gehalte, word daarmee saam gedra. Hierdie kledingstuk, wat om die middel gedraai word en tot by die enkels hang, word asetam genoem. Die uitrusting is eers volledig wanneer daar nog ’n stuk materiaal van twee meter omgesit word wat nguso genoem word. Die nguso is veeldoelig en kan ook gebruik word as ’n bypassende hooftooisel of om ’n baba op jou rug vas te maak.

Kaba is uniek aan Afrika, maar het verskillende name regoor die vasteland. Liberiërs noem dit lappa-klere. In Benin is dit genwu. Sierra-Leonese noem dit docket en lappa. Tog was kaba nie so lank gelede nie onbekend in Afrikalande. Hier in Ghana was die dansenkran-styl byvoorbeeld gewild onder Akan-sprekende vroue. Dit het uit twee aparte stukke lap bestaan, soms met dieselfde patroon daarop. Die een stuk is om die middel gedraai en met ’n gordel vasgemaak. Die tweede stuk, wat gewoonlik groter is, is oor die linkerskouer gedra, oor die bors en rug. ’n Unieke haarstyl, wat ook dansenkran genoem word, is gewoonlik saam met hierdie klere gedra.

Maar toe mense naaimasjiene begin gebruik het, het sommige Afrikavroue klere begin maak wat soos die Westerse bloes lyk. Die gedagte was om soos die Westerse vroue die skouers te bedek. Volgens een verhaal het party dit moeilik gevind om die Engelse uitdrukking “cover the shoulders” (die skouers bedek) uit te spreek. Die woord “cover” (bedek) het dus kaba geword.

Kaba kom in die mode

Vroue dra nog steeds kaba, van kantoorwerkers tot vroue op die platteland. Trouens, dit het selfs ’n uitvoerartikel geword! Dit het egter eers onlangs so gewild geraak.

Een rede hiervoor is dat nie alle vroue gehou het van die style waarin kaba om en by 40 jaar gelede gedra is nie. ’n Twee-en-sestigjarige afgetrede maatskaplike werkster met die naam Agnes het aan Ontwaak! gesê dat van daardie ou style “belaglik” was. Vir ander vroue het dit te veel geduld en kunstigheid geverg om kaba, met sy asetam en nguso, reg aan te trek. Elizabeth, wat ’n klerefabriek bestuur, onthou: “As jong meisies was dit vir ons moeilik om die kuns te bemeester om die asetam en nguso te dra. Ek kon dit nooit regkry nie”, het sy erken.

Klasseverskil het ook ’n rol gespeel om hierdie klerestyl minder gewild te maak. Die 65-jarige Serwah het aan Ontwaak! vertel dat baie mense tot onlangs toe nog gevoel het dat Westerse klerestyle vir die opgevoedes was, terwyl kaba vir die onopgevoedes bedoel was.

’n Nuwe kultuurbewustheid het egter gemaak dat talle Afrikavroue met nuwe oë na kaba kyk. Modeontwerpers het die uitrusting ook ’n aansienlike hupstoot gegee. Hulle het byvoorbeeld ’n nuwe kledingstuk ontwerp wat ’n slit genoem word. Dit lyk soos ’n romp, maar hang tot by die enkels en het die probleem opgelos wat sommige vroue gehad het om die asetam en nguso reg aan te trek. Tentoonstellings en modevertonings het ook ’n groot rol gespeel om die kaba as hoogmode te bevorder.

Soos dit die geval is met mode in baie lande, lê sommige van die nuutste style natuurlik baie klem op sensualiteit. Volgens Clara, wat 69 jaar oud is, lyk dit of sulke onthullende klere “die oorspronklike doel van kaba” verdraai, naamlik “om selfs die skouers te bedek”. Christenvroue hou dus die raad van die apostel Paulus in gedagte: “So ook wil ek hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand.”—1 Timoteus 2:9; 1 Korintiërs 10:29.

Vir vroue wat ’n wyse keuse maak, kan kaba ’n elegante en praktiese klerestyl wees. En hoewel talle tradisionele klerestyle uit Afrika nie meer in die mode is nie, het kaba tot dusver daarin geslaag om voort te bestaan as ’n styl wat die kultuur en omgewing van Afrika op ’n aantreklike en elegante manier weerspieël.

[Prent op bladsy 24]

Die “nguso”, hier gebruik as ’n hooftooisel

[Prent op bladsy 25]

Die “nguso” word gebruik om ’n kind te dra

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel